Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
van die Engelssprekendes was voorspelbaar: “French is being stuffed down our throats.”) [49]

      ’n Bekommernis in enige bedreigde taalgemeenskap is die verlies van sprekers onder kinders as gevolg van gemengde huwelike of onder kinders wat deur gedenasionaliseerde ouers in die mededingende taal grootgemaak of na andertalige skole gestuur word.

      ’n Simpatieke owerheid kan op twee maniere help. Die eerste is deur te sorg dat die taal hoë funksies kry of behou. “Vir die beswil van die kinders” hou dan in dat kinders uit sulke twyfel-gesinne darem nog die taal aanleer, want dis noodsaaklik vir ’n betrekking in die staatsdiens of ander dienste.

      Daar is ook ’n tweede metode wat ’n mens in die regte perspektief moet sien. Die een of ander vorm van isolasie maak die behoud van klein tale makliker, maar lei dikwels tot kulturele en sosiale agterlikheid. Die massamedia en nuwe verkeersmiddele maak afsondering in elk geval onmoontlik.

      ’n Mate van afsonderlikheid is egter waardevol. Die bevolking van Québec in Kanada is oorwegend Frans en Montréal is ná Parys die grootste Franstalige stad ter wêreld. Engels is die oorheersende taal van Noord-Amerika (en Kanada) en die Engelssprekende minderheid in Québec is ekonomies toonaangewend. Heelwat Franse kinders wat Engels geleer het ter wille van hul werk of bevordering, raak verlore vir Frans.

      Frans sou waarskynlik nog groter verliese gely het as die bevolking nie ’n informele beleid van “parallelle bestaan” gevolg het nie. Frans- en Engelssprekende Kanadese bly in afsonderlike buurte, woon verskillende kerke en skole by en organiseer hul sosiale lewe uitsluitend binne hul eie taalgroep.[50]

      Dit het tot gevolg dat die meeste kinders eentalig-Frans bly totdat hulle op skool Engels moet leer. Hoe verder hulle vorder, hoe tweetaliger word hulle. Sodra mense ophou werk (vroue wat trou en kinders grootmaak) neem die kennis van die tweede taal af. Op dié manier bly Frans die moedertaal van die volgende geslag.

      Ouers maak hul kinders nie tweetalig groot en stel hulle so aan taalverskuiwing bloot nie. “If we make the assumption that most people will not really master a second tongue unless it is learned at a relatively early age, then second language-learning is less of a threat to the mother tongue than might otherwise be the case, since the English and French languages are able to hold their own as the first language of children, and since much of the bilingualism in Canada does not occur in the very early ages, or as a result of informal social contacts,” skryf Lieberson.[51]

      Die twee euwels van óf volkome isolasie óf algehele blootstelling aan die tweede taal (met ’n versterking van die moontlikheid om taalverskuiwing te bewerkstellig) vermy die Frans-Kanadese met die verstandige beleid van afsonderlike skole en die uitstel van die aanleer van die tweede taal so lank as moontlik.

      Sommige regerings maak ’n mate van afsonderlikheid in skole verpligtend. In Québec en Brussel was daar wette wat van ouers vereis het dat hulle hul kinders na moedertaalskole stuur. Vir sulke wetgewing is daar goeie opvoedkundige, maar ook taalideologiese gronde. Kinders gaan soms deur onderwys in andertalige skole verlore vir ’n taal. Uiteraard is sulke maatreëls nie gewild nie. Die mededingende taalgemeenskap sien daarmee ’n begeerlike buit verdwyn en steun ontroue sprekers wat hulle op “die demokratiese regte van die ouer” beroep.

      4.2.3.1 TAALIMPERIALISME BY KLEIN TALE

      Nasionalisme kan soms oorgaan tot chauvinisme; die stryd om te behou wat jy het, kan by taalbewegings soms tot taalimperialisme voer.

      Een nogal berugte geval is dié van Magjaars. In die agttiende eeu het dit soms gelyk asof dié taal aan die uitsterf is. Toe keiser Josef II van Oostenryk-Hongarye probeer om Duits die taal van die hele ryk te maak (en ’n paar ander hervorminge aanpak), het opstande orals uitgebreek. Gevolglik het Magjaars in 1839 ’n amptelike taal van Hongarye geword. In 1843 is dit as die enigste skooltaal toegelaat. Ná die Oostenryks-Hongaarse oorlog teen Pruise is die ryk in twee dele verdeel: “Ryk Oostenryk” en “Koninkryk Hongarye”.

      Toe die Hongare baas word in hul eie land, het hulle hardhandiger as die Duitssprekende Oostenrykers geregeer en die wette veronagsaam wat die gelykheid van die tale moes waarborg. Slowaakse, Serwo-Kroatiese en Roemeense kinders moes noodgedwonge Magjaars leer.

      Die verdrukking het ’n groepsbewustheid by die ander taalgemeenskappe laat ontstaan. Opstande van die Kroate is gewelddadig onderdruk. ’n Anti-Magjaarse gevoel is versterk omdat die nie-Magjaarssprekendes besef het dat Magjaars – ’n nie-Indo-Germaanse taal wat nêrens buite Hongarye bruikbaar is nie en ook nie ’n ou kultuurtaal is nie – eintlik geen nut vir hulle het nie. Slowaaks en Roemeens was ontwikkelde kultuurtale.

      Een van die groepe wat die meeste onder die magjarisering gely het, was die Slowake. Die Hongaarse owerheid het in 1875 ’n kultuurorganisasie (Slovenská Matica), wat die onderwys en letterkunde van die sowat 2 miljoen Slowake in Noordwes-Hongarye bevorder het, ontbind en ewe koel gesê daar is geen Slowaakse volk nie. In 1875 was daar nog 1 805 Slowaakse skole, maar in 1905 net 241. Teen die einde van die eeu was daar net een Slowaakse koerant in Hongarye.

      Ná die Eerste Wêreldoorlog het die Republiek Tsjeggo-Slowakye tot stand gekom. Die eintlike regeerders was die Tsjegge en Slowake, albei groepe slagoffers van diskriminasie van die verlede. Maar hulle het, pleks van die onreg van diskriminasie te onthou en te vermy, onverdraagsaam teen die Duitse en Hongaarse minderhede in die land opgetree. Die Tsjegge het soms andertaliges se spaarrekenings vasgepen, stadsrade se funksies opgehef, amptenare na willekeur ontslaan en verplaas, beslag gelê op eiendom, verenigings ontbind en verstellings aan die grense van kiesafdelings en stadsgebiede gemaak om Hongaarse en Duitse minderhede aan die grense administratief te kan tsjeggiseer. In die laat twintigerjare het die posisie verbeter.

      Die diskriminasie teen Duitsers het voortgeduur, maar daarvoor was daar ’n rede. Die hermilitarisering van die Rynland deur Hitler in Maart 1936 het die Tsjeggiese regering laat besluit om te herbewapen. Hulle het hul bestellings vir wapens geplaas by Tsjeggiese firmas wat net Tsjeggiese arbeiders in hul diens het. So het baie Duitsers werkloos geraak. Hierdie diskriminasie teen die Duitsers was naderhand weer ’n voorwendsel vir Hitler om die Sudeteland (’n deel van Boheme) in te palm.

      Die geskiedenis leer dat min taal-, volks- of rassegroepe bestand is teen die sonde van diskriminasie en veronregting van ander. Die verskil tussen groot en klein volkere is dat die kleintjies selde die kans kry om te sondig en dat hulle vanweë hul swakheid dit op kleiner skaal en vir korter tydperke kan doen as die grotes.

      4.2.3.2 DIE DOODLOOP VAN TAALBEWEGINGS

      “Gan teanga, gan tir” (“Geen taal, geen vaderland”) was eenmaal ’n Ierse leuse. As hy moet kies tussen die taal en vryheid, kies hy die taal, het Eamon de Valera, nasionale leier en gewese Ierse premier, aan vriende gesê. Nog ’n Ierse leier het gehoop: “Ireland … not free, but Gaelic as well; not Gaelic, merely, but free as well.”

      Maar dis twyfelagtig of hierdie ideale verwesenlik gaan word. Hoewel ’n mens seker nog nie met volkome sekerheid kan sê dat die Ierse beweging as taalbeweging doodgeloop het nie, is daar weinig kans dat die programme vir die herlewing van Iers aangeneem sal word. Baie Iere is onwillig om hul taal te leer.

      Daar is ’n ander taalbeweging wat gestagneer het, hoewel ook hy nog nie heeltemal dood is nie. Dis die byna uitsluitend taal- en letterkundige beweging om Provençaals, die vernaamste Oksitaanse dialek, tot kultuurtaal op te hef.

      In die dertiende eeu het Suid-Frankryk ’n skitterende kultuur gehad waarvan Provençaals die vernaamste draer was. In ’n kort tyd is goeie oorspronklike poësie geskryf, maar geen prosa van enige betekenis nie. Die geleerde taal het Latyn gebly, en later het Frans die plek daarvan ingeneem.

      Die negentiende eeu gee ’n soort Provençaalse renaissance te sien. Die skrywer wat hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik was, was Frédéric Mistral (1830-1914) wat gesê het hy wil in Provençaals skryf om die historiese bewussyn van sy volk te laat herleef. Hy en sy volgelinge het ’n beweging met die naam Félibrige gestig. Dit het egter ’n taamlik eng taal- en letterkundige karakter gehad en die meeste lede het hulle omtrent doodgeskrik toe ’n ander