Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
Christen kan nie sê: Ek is ’n goeie Christen nie; hy weet dat die ideaal hom te skande sal maak.

      “Die intellektueel kan nie sê: Ek is ’n intellektueel nie; hy kan alleen sê: Ek hoop dat ek dit kan wees.”[21]

      ’n Paar kenmerke van intellektueel in hierdie betekenis is die volgende: Dis iemand wat homself die tug oplê om elke saak op meriete te beskou, sy mening nooit verder te laat strek as bewese feite nie, sy eie mening telkens jaloers-krities te ondersoek, probeer vasstel of sy teenstanders nie dalk gelyk het nie en nie bang is vir die waarheid nie.[22]

      Die intellektuele wat in taalbewegings die voortou neem, is hierdie soort mense. Maar hulle kan net slaag as hulle ook intellektueel in die sosiologiese opsig is.

      Oor “intellektueel” in hierdie betekenis skryf Van Wyk Louw: “In Marxistiese geskrifte – en waarskynlik ook in die algemene sosiologie – word ons term ‘intellektueel’ dikwels met hierdie betekenis gebruik (‘breinwerkers’ wat ’n bietjie naas of buite die produksieproses in enger sin staan). Die ‘intelligentsia’ word dan as ’n klein, nie-magtige groep gesien, wat wel nog betekenis het omdat hy invloed op die openbare mening kan uitoefen (dus ‘propagandawaarde’ het; Stalin is dit glo nog wat sy skrywers ‘opinie-ingenieurs’ genoem het …).”[23]

      Tog is dit lewensbelangrik vir ’n taalbeweging dat hy leiers “met propagandawaarde” het, d.w.s. mense wat doeltreffend en met die juiste aanslag propaganda vir die taal kan maak. Dis wat Van Wyk Louw eintlik self ook in ’n ander artikel impliseer. As daar ooit ’n miljoen Afrikaners is wat ernstig sou meen dat hulle as volk nie nodig is nie, “dan is dit klaar; dan sal ons opstreef deur ’n paar eeue, net so onherroeplik versand soos wanneer ons militêr oorrompel of deur massa-immigrasie toegeploeg word.

      “‘’n Miljoen?’, sê jy: ‘Nooit!’

      “En ek sê vir jou: daar is geen miljoen nodig wat dit dink nie. As daar duisend is wat intelligent genoeg is om te dink, en die gawe het om te skryf …, dan sal hulle maklik die miljoen vind om te volg. Een man wat kan dink en skryf, is maklik ’n duisend mense se leier.”[24]

      ’n Taalbeweging kan net slaag as hy intellektuele in albei die Van Wyk Louw-betekenisse het: mense wat omvattend kan dink en mense wat in staat is om die bevolking taalbewus te maak, planne van optrede kan uitdink, taalgetrouheid kan skep.

      As die intellektuele wegval, kan ’n beweging klaaglik misluk.

      ’n Goeie voorbeeld bied die taalhandhawingspogings van die Duits-Amerikaners. Ná 1830 was daar ’n “Deutsche Reform”-beweging in die staat Pennsilvanië wat hom beywer het vir Duits in die howe, op skool en in sekere staatsdiensbetrekkings. Die veldtog het ’n mate van sukses gehad. So sou die staat ná 1862 alle amptelike kennisgewings in agt distrikte ook in die Duitse koerante publiseer. Die Duitse pers het gefloreer, die Lutherse Kerk het Duits kragtig bevorder en ’n persvereniging het tweetalige skole en Duitse Sondagskole opgerig.

      Maar die dood in 1876 van die eintlike leier van die beweging, S.K. Brobst, het die hele beweging laat versand. ’n Taalgemeenskap is werklik besonder kwesbaar as die dood van net een intellektuele leier hom as nasionale entiteit in ’n bestaanskrisis dompel.

      ’n Gebrek aan intellektuele het veroorsaak dat die Duitsers nie ernstig geprobeer het om van Pennsilvaniese Duits ’n skryftaal te maak nie. In die laaste deel van die negentiende eeu is boeke daarin gepubliseer. Daar was ’n groot kans om Pennsilvaniese Duits pleks van Engels die opvolger van Hoogduits te maak in die joernalistiek, skryf Heinz Kloss. “That this was not altogether out of the question is shown by contemporaneous developments in South Africa where, beginning in the 1870’s, literary Dutch was replaced not by English but by a vernacular which today we call Afrikaans.”[25]

      Dis intellektuele leiers met ’n historiese bewussyn en taalgetrouheid wat die belang van die behoud van die taal kan insien en die beweging aan die gang moet sit. Dikwels is dié leiers oorlopers wat “bekeerd” geraak het, of kinders van oorlopers na die mededingende taalgroep. Die predikante en professore wat die Finse nasionale bewussyn laat ontwaak het, kom uit die Sweedse taalgemeenskap. Selfs onder latere Finse ekstremiste was daar mense wat oorspronklik Sweeds was. In Boheme was baie Tsjeggiese nasionaliste van geheel of gedeeltelik Duitse afkoms en in die Duitse taal en kultuur opgevoed. Conscience wat die Vlaminge van hul taalagterstand bewus help maak het, was van Franse afkoms. Émile de Laveleye, ’n wêreldbekende Belgiese professor aan die Universiteit van Luik, was die Vlaminge simpatiekgesind en het hul stryd meer bekendheid in Europa gegee as wat ’n Vlaming self sou kon doen.[26]

      ’n Derde voorwaarde vir ’n geslaagde taalstryd is ’n proses of reeks gebeurtenisse wat sterk genoeg is om die intellektuele te prikkel en die massa in beweging te bring. Dis te begrype dat taal- en nasionale bewegings in tye van groot sosiale en ekonomiese verandering kan bloei. Die industriële revolusie van die agttiende en negentiende eeu was ’n sterk prikkel tot die ontstaan en groei van die nasionalismes van Europa.

      Ekonomiese en daaruit spruitende demografiese veranderinge in Oos- en Midde-Europa het taalnasionalisme in dié wêrelddeel geprikkel. Vroeg in die negentiende eeu was Boekarest ’n Griekse dorp. Praag, Plzen (Pilsen) en Ljubljana het in 1848 nog Duitse meerderhede gehad. Dieselfde tyd was die belangrikste dorpe in Finland Sweeds, Riga en Tartu (Worpat) was Duits, die dorpe van Boelgarye hoofsaaklik Grieks en dié aan die Dalmatiese kus Italiaans. Solank nie veel mense uit die platteland na die stede getrek het nie, het die intrekkers die taal van die stede aangeneem. Oekrainers het in die dorpe gerussifiseer geraak, Slowake gemagjariseer en die Tsjegge van Boheme en Morawië verduits.

      Maar die toenemende industrialisering het al hoe meer mense aangetrek wat nie op die plase werk kon kry nie en in lande soos Oostenryk-Hongarye was geweldige volksverskuiwings die gevolg. In Oostenryk het sommige Duitse stede Slawiese meerderhede gekry. Dit het dikwels gebeur dat enkelinge (wat van die platteland afkomstig was) en hul nageslag twee of meer kere van taal en nasionaliteit verander het. Die Slowake van Bratislava/Poszony/Pressburg kan bewys dat net 16 persent van die bevolking van die stad in 1920 Magjaars was, terwyl die Hongare op grond van die 1910-sensus kon aanvoer dat 40 persent Magjaars was. In 1880 was 65 persent van die inwoners Duits.

      Sulke bevolkingsbewegings kan die taalsamestelling van die stad heeltemal verander. In die stede kon die intelligentsia met mekaar in aanraking kom en die kans vir kontak met die massa was eweneens groter, ook omdat daar koerante was.

      ’n Nasionalisme wat groei in ’n bevolking van plattelanders wat na die stad getrek het, het dikwels aanhangers van ’n stedelike anti-stad-ideologie. Dis ’n anti-stadkultuur in sy sentimente en verheerliking van die deugde van die platteland, maar dis gerig tot die stadsmens en is ’n poging om die waardes, maniere van optrede en opvattinge van die land vir die stedeling aanneemlik te maak. Daar was in die moderne nasionale bewegings meermale spanning tussen twee kante – die eise van die moderne tyd en die dag van môre teenoor die strewe om die erwe van die vaad’re vir die kinders erwe te hou.

      Ekonomiese en daaruit voortkomende demografiese prosesse is ’n belangrike prikkel vir nasionalisme, maar natuurlik nie die enigste nie. Nasionalisme is geen uitsluitend stedelike verskynsel nie. In Afrika was die stede nie die enigste bron van verset teen kolonialisme nie, ook die tradisionele landelike elite het deelgeneem.

      Dis miskien nodig om te beklemtoon dat die opkoms van nasionalisme op sigself nie waarborg dat verdrukte tale ook sal baat vind nie. Nasionalisme ontstaan as gevolg van ’n eksterne prikkel (die lot van armes in ’n ryk omgewing, of die verdrukking deur ’n oorheerser), maar die reaksie op die prikkel wissel van volk tot volk. Soms is dit slegs ’n strewe tot staatkundige en ekonomiese onafhanklikheid, maar party nasionalismes het ’n ryker inhoud. Die oogmerk is om die eie taal en kultuur te bevorder. Dit stel veel groter intellektuele eise as ’n gewone vryheidsbeweging. Dis net ’n taal- en kultuurbewuste nasionalisme wat ’n veronregte taal ten goede kan kom.

      Opsommenderwys: daar is drie onontbeerlike kragte in enige geslaagde taalbeweging, drie noodsaaklike voorwaardes: (a) ’n volk wat sy taal behou het, (b) taalgetroue intellektuele en (c) ’n stadsituasie, ekonomiese proses of ander nasionale prikkel wat die intellektuele en naderhand ook die massa tot