Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
heuning en vuur”, het hy geskryf. Die professor het in sy antwoord egter volgehou dat ware aristokrate net Spaans praat en Guarani gebruik teenoor bediendes en agterlike mense uit die platteland.

      Koerante en intellektuele val deesdae mense aan wat die taal beledig. Mense wat nie die noodsaak van ’n leeskennis van Guarani insien nie, is verraaiers of gringos, het een koerant geskryf. Sulke mense wil die land aan die vyand oorhandig.

      Die vereniging van Guarani-skrywers is een van die belangrikste groepe wat hom vir die taal beywer. Een lid het aan Joan Ruben vertel hoe hy self betrokke geraak het by ’n fabriek waarvan die eienaar nie ’n Paraguayaan was nie. Die vakbond het hom genooi om vergaderings by te woon, maar die fabriekseienaar het gevra dat die vakbondlede Spaans praat op die vergaderings waarop hy teenwoordig sou wees. Die skrywer het egter geëis dat Guarani die voertaal bly, omdat die vergaderings ter wille van die vakbondlede plaasvind en die eienaar maar net ’n genooide was. Die eienaar het toegegee en die vakbond het aangebied om hom ’n tolk te gee.

      Ten vierde het die Guarani-intellektuele nie net getrou aan die taal gebly nie, maar ook letterkundige werk van gehalte geskryf. ’n Paar hoogstaande digwerke het teen die einde van die negentiende eeu verskyn. Ten tyde van die Chaco-oorlog het toneelopvoerings in Guarani gewild geraak. Die opvoering van ’n toonaangewende dramaturg (Julio Correa) in 1933 het soveel mense gelok dat die polisie moes kom help om die saal se deure toe te kry.

      In die vyfde plek het Guarani die laaste klompie jare die steun van die regering gekry. Die regering steun die bedrywighede van die vereniging van Guarani-skrywers. Een van die nasionale radiostasies het tyd aangebied vir die vereniging om elke dag ’n taalprogram uit te saai.

      Ten slotte het Guarani behoue gebly omdat hy die “lae” funksies kon behou. Spaans het oor die algemeen offisiële status. Alle straatname is in Spaans en dit is die taal van die wetgewing en regspraak. In landelike gebiede word Guarani wel nie-amptelik gebruik. Spaans is ook die skooltaal en tot onlangs die enigste taal wat in die klaskamers en op die skoolterrein toegelaat is. Nie-amptelik vind Guarani-onderwysers dit raadsaam om Guarani in laerskole te gebruik omdat leerlinge nog nie Spaans ken nie. Die leerlinge word aangemoedig om Spaans so gou as moontlik te leer. Militêre personeel gebruik Spaans, maar basiese onderrig is in Guarani. Die hooftaal oor die radio is Spaans, en dis ook die vernaamste rolprenttaal. Advertensies is in Spaans.

      Dit alles maak die posisie van Guarani tog delikaat. ’n Mens kan verwag dat, as die taal sy amptelike steun verloor, die betreklike mate van stabiliteit in die taalkontaksituasie versteur gaan word.

      Op die oomblik is die toestand tog taamlik stabiel. Die Paraguayane stel baie belang in hul nasionale tale, praat gedurig oor die gehalte van hul taalgebruik in albei tale en kritiseer die taalgebruik van landgenote. Teenoor albei tale bestaan daar positiewe gevoelens. Dié mense wat Spaans verkies, erken die belangrikheid van Guarani as nasionale taal. Dié wat hoofsaaklik Guarani gebruik, erken weer die waarde van die internasionale taal, Spaans. Tog is daar heelwat mense wat die kennis van Guarani verkleineer en Spaans hoogag. Iemand het dit in ’n onderhoud verbasend gevind dat die werk van ’n sekere digter goed is selfs hoewel dit in Guarani is.

      3 DIE “HERLEWING” VAN HEBREEUS[16]

      O who can foretell the future, who can let me know,

      whether I am not the last of those who sing of Zion,

      and ye the last who are able to read my song?

      Hierdie woorde van die Hebreeuse digter Judah Leib Gordon (1830-1892) in ’n gedig oor die agteruitgang van Hebreeus laat ’n mens onwillekeurig dink aan Ronan Hunon se klaagdig oor die agteruitgang van Bretons, aangehaal aan die begin van hoofstuk 2.

      Maar Hebreeus het nie ondergegaan nie. Dis vandag die amptelike taal van Israel en ’n taal wat in alle opsigte floreer. “’n Moderne wonderwerk,” noem sommige dit.

      Wat het Hebreeus se “herlewing”, die woord waarmee die geskiedenis van Hebreeus sedert 1880 oor die algemeen gekarakteriseer word, dan moontlik gemaak?

      Ten eerste moet ons onthou dat Hebreeus nooit werklik gesterf het nie, nie in die opsigte dat mense nooit meer die taal gebruik het nie.

      Om onbekende redes het die Jode ongeveer 200 n.C. opgehou om Hebreeus te praat nadat dit meer as dertien eeue lank hul taal was. Grieks en Aramees, twee internasionale tale van die streek, het die plek ingeneem van Hebreeus en ander tale van die omgewing, soos Fenicies, Edomities en moontlik ook Filistyns.

      Tog het die Jode van Palestina, Sirië en Irak in hul godsdiensbeoefening en -studies nog altyd die antieke en Hebreeuse tekste gebruik. Van die sesde eeu af het die gebruik van Hebreeus as geskrewe taal versprei na Joodse gemeenskappe in Europa, Asië en Noord-Afrika. Van 900 af tot met die herlewing van 1880 het alle Joodse gemeenskappe Hebreeus nie alleen gebruik as studie- en gebedstaal nie, maar vir boeke oor ander onderwerpe, regsdokumente en private briewe. Daar was ’n lewenskragtige Hebreeuse poësie, drama, verhaalprosa en filosofiese en wetenskaplike geskrifte.

      Jode kon by geleentheid ook Hebreeus praat. As Jode van verskillende lande bymekaar kom, moes hulle Hebreeus praat. Besoekende geleerdes het daarin gepreek, sommiges het dit op die Sabbat en feesdae gepraat en ander waar nie-Jode teenwoordig was. Toe godsdienstige Jode teen die einde van die negentiende eeu na Palestina verhuis, kon dit in die groter stede soos Jerusalem as ’n lingua franca tussen Jode van verskillende herkoms dien.

      Maar terselfdertyd het niemand in die hele periode Hebreeus in die huisgesin of private en openbare lewe gebruik nie, maar wel die taal van die land waaruit die spreker gekom het.

      Wat Hebreeus aan die lewe gehou en dus die herlewing van 1880 moontlik gemaak het, was die feit dat Hebreeus die taal was van ’n godsdiens waarvan die Jode, waar ook al ter wêreld, selde afstand gedoen het. Sonder die gehegtheid aan die godsdiens was die oplewing van 1880 onmoontlik.

      Soos reeds uit die kort uiteensetting blyk, was Hebreeus ook ’n literêre en wetenskaplike taal. In die Middeleeue was dit in ieder geval nie so vreemd dat ’n klassieke prestigetaal nie gepraat en ’n spreektaal met mondeling oorgelewerde letterkunde nie geskrýf is nie. (Ander sulke tale was Latyn in die Rooms-Katolieke lande, Grieks en Kerkslawies in die Ortodokse lande, klassieke Arabies in die Moslemlande en Sanskrit in Indië. Die enigste, maar belangrike verskil tussen Hebreeus en die ander klassieke tale was dat ongeletterdheid seldsaam was onder ten minste manlike Jode, terwyl dit algemeen was onder ander Middeleeuse volkere.)

      Hebreeus het mense soos ander klassieke tale geleer uit die primêre bronne soos die Bybel en die Rabbynse geskrifte. In die negentiende eeu het Bybelse Hebreeus gedien as medium vir alle soorte ernstige geskrifte, en sedert die middel van die negentiende eeu ook vir die opkomende Hebreeuse pers.

      Maar in die laat agttienvyftiger- en -sestigerjare het die Hebreeuse letterkunde ’n meer realistiese karakter gekry, en dit het vir die skrywers duidelik geword dat ’n mens kwalik die destydse Joodse lewe met ’n klein Bybelse woordeskat van ongeveer agtduisend woorde kan uitbeeld. Gordon het die paar versreëls op bl. 70 juis gedagtig aan hierdie tekortkominge geskryf.

      Vir ’n ander skrywer uit die tyd, Mendele Mokher Serafim (1835-1917), het die gebruik van Bybelse Hebreeus vir die denke en handelinge van die negentiende-eeuse ghetto-Jode so oneg gevoel dat hy Hebreeus eers laat staan en sosiale satire in Jiddisj begin skryf het. Dié taal het hom maklik daartoe geleen, maar Mendele het bly hunker na Hebreeus en ná 1886 die meeste van sy Jiddisje werke daarin vertaal. Dit was egter ’n heeltemal ander soort Hebreeus: ’n mengsel van Bybelse en Misjna-Hebreeus met ook nog ’n toevoegsel van Talmoed-Aramees.

      Feitlik alle skrywers het van toe af hierdie styl gebruik, waarskynlik omdat Misjna-Hebreeuse elemente, wat ook in Jiddisj teenwoordig was, Hebreeus nader aan die natuurlike spreektaal gebring het.

      Só het Hebreeus 15 000 tot 20 000 nuwe woorde bygekry, bowendien woorde wat ’n Hebreeuse skrywer tog geken het deur sy studie aan ’n tradisionele Talmoed-akademie. Baie woorde wat so tot beskikking van die skrywers gekom het, het betrekking op die alledaagse lewe van destyds gehad.

      Die skrywers was