Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
die bekendstes is Eliezer Ben-Yehuda (1858-1922), gebore in Litaue, toe deel van Tsaristiese Rusland. In 1879 het hy in ’n Hebreeuse blad in Wenen, Hashahar, moderne nasionalisme en die hervestiging van die Jode in Palestina voorgestel as ’n oplossing vir die moeilikhede waarmee die Jode al eeue lank te kampe gehad het. In Oktober 1881 het hy en sy vrou Devora in Jaffa aangekom. Nadat hulle die grond van die ou heilige land gesoen het, het hy vir sy vrou gesê dat hulle voortaan net Hebreeus sou praat. Devora het nie veel van die taal geweet nie, maar hulle het die eerste Hebreeussprekende gesin in die moderne tyd geword.

      Dit was in die tyd van die Russiese progoms en Perez Smolenskin (1842-1885), redakteur van Hashahar, het kort tevore aan Ben-Yehuda erken dat hy ongelyk gehad het deur te meen dat die Jode hul kulturele en geestelike identiteit as volk in verstrooiing kan behou. Hy het ’n voorstander geword van die idee dat daar ’n Joodse staat moet kom, en wel in die land van die vadere.

      Ben-Yehuda het hierdie idee verder gevoer. Die Jode sou nie kon oorleef sonder ’n nasionale staat nie, maar hulle sou ook nie ’n onderskeie volk kon wees sonder hul eie taal nie. Die taal van die sinagoge en die letterkundige tydskrifte moet ook die taal van die gesin, van die gewone geselskap met vriende en familie word. Verder moet Hebreeus, wat as leestaal in Joodse skole onderrig is, die enigste onderwysmedium vir alle vakke wees. Sy eie seun, gebore in 1882, het hy eentalig-Hebreeus grootgemaak, al moes hy sy vrou verbied om ’n tyd lank met die kind te praat (solank sy self nie Hebreeus behoorlik kon praat nie)!

      Ben-Yehuda was beslis nie die enigste Jood wat hierdie idees gehad het nie. Aaron Bar-Adon sê dat die volgende woorde van David Ben-Gurion oor baron Edmond de Rothschild ook op Ben-Yehuda van toepassing is: “Hy was nie die enigste, ook nie die eerste, wie se hart met hierdie visie vervul was nie. Baie en goeie mense het hom voorafgegaan en selfs hulle was nie eerste nie. Daar is nie ’n ‘eerste’ vir ’n nasionale visie wat ’n ‘ewigheidsnasie’ deur sy lang geskiedenis gevolg het nie. Maar hy was die eerste en enigste wat ’n groot, gedurfde, voortgesette en volgehoue daad gedoen het, hoewel nie sonder foute en tallose mislukkings nie.”[17]

      Ook immigrasie het Hebreeus versterk. Sommige Jode wat ná 1881 uit Tsaristiese Rusland gevlug het om vervolgings te ontkom, het na Palestina gegaan. Die stroom immigrante het daarna nooit opgehou nie en veral ná die totstandkoming van die staat Israel in Mei 1948 het ’n menigte die land ingekom. Binne dertig maande het die bevolking van 650 000 verdubbel.

      So baie andertalige immigrante kán natuurlik ’n gemengde seën vir ’n taalgemeenskap wees, want hulle kan die bestaande bevolking heeltemal verswelg.

      Die Joodse immigrante was egter getrou aan Hebreeus. Selfs toe hulle geen tuisland gehad het nie, het hul liefde vir Hebreeus gebly. Aaron Bar-Adon praat ’n paar keer van die “built-in love and admiration of the Jewish individual for the Hebrew language” en “the inherent love for the Hebrew language among the Jews”.[18] Die Oos-Europese immigrante wou bowendien alles anders hê as waaraan hulle gewoond was – en Jiddisj was deel van die stigma van Oos-Europa.

      Die taalgetrouheid blyk ook uit die volharding waarmee wetenskaplikes van Hebreeus ’n wetenskaptaal gemaak het. Die Hebreeuse universiteite gebruik dit tans as voertaal.

      Die laaste groot faktor wat Hebreeus weer as praattaal kon laat inslag vind, is die onderwys.

      Ten tyde van die eerste immigrasie van 1882 tot 1903 was dit byna alleen die onderwysers en die laerskoolleerlinge wat Hebreeus gebruik het. (Huisgesinne soos dié van Ben-Yehuda was seldsaam.) Die meeste navorsers is dit daaroor eens dat Hebreeus nie sonder die onderwysers sou oorleef het nie, al was dit dikwels ongekwalifiseerde onderwysers, mense wat onderling verskillende metodes en leerplanne gehad en die geskrewe Hebreeus op verskillende maniere uitgespreek het. Ook in die latere jare, soos ten tyde van die stigting van die staat, het skole, asook lesings vir volwassenes, baie tot die verbreiding van Hebreeus bygedra. ’n Israelse humoris, Ephraim Kishon, het ’n groot waarheid beetgehad toe hy gesê het Israel is ’n land waarin die ouers hul moedertaal by hul kinders leer.[19]

      Dat onderrig moontlik was, en later aangemoedig is, is toe te skryf aan die feit dat Hebreeus die draer was van die Joodse nasionalisme en ná 1948 ook die amptelike taal van Israel. Die staat het al die onderrigpogings gesteun, onder meer ’n kollege vir onderrig aan volwassenes. Israel volg origens ’n verligte taalbeleid en laat koerante en tydskrifte in die immigrantetale toe, verplig kennis van Hebreeus nie vir burgerskap nie en vereis dit selfs nie in staatsbetrekkings nie. Maar die onderwystaal is Hebreeus en veral as gevolg daarvan styg die persentasie Hebreeussprekendes in Israel steeds.

      Die spreekwoord dat die een se dood die ander se brood is, of miskien dat die een se brood die ander se dood is, geld ook vir tale.

      Die groei van Hebreeus val saam met die agteruitgang van Jiddisj.

      Jiddisj kwyn al sedert die negentiende eeu langsamerhand nadat die tsare die Jode vervolg het. Baie het uit Rusland na Wes-Europa en die VSA gevlug waar die jong geslag liewer die landstaal as Jiddisj aangeneem het.

      Die dood van miljoene Jode in Midde- en Oos-Europa in die Tweede Wêreldoorlog het die Jiddisje gemeenskap met die helfte verklein. Baie oorlewendes wou nie hê hul kinders moes Jiddisj leer nie. Die aantal sprekers neem vinnig af. In 1939 het twee miljoen Pole nog Jiddisj gebruik, in 1962 30 000 en tans hoogstens 10 000. Aan die begin van die eeu het 1 051 767 mense in die VSA Jiddisj gepraat; in 1960 was dit 503 605. Veral jongmense gebruik dit nie meer nie en navorsers praat reeds van ’n Jiddisje “taalkatastrofe”.

      4 KENMERKE VAN TAALBEWEGINGS

      Hoewel die drie behandelde gevalle toon dat daar basies dieselfde elemente in taalbewegings voorkom, weet ons nie ontsettend baie oor taalverskuiwing en taalbehoud nie. Die gesaghebbende Joshua Fishman sê: “We cannot currently formulate applicable regularities in our area of inquiry.”[20]

      Heinz Kloss het die pogings ondersoek wat aangewend is om Duits in die VSA te handhaaf, maar vasgestel hoe dubbelsinnig party faktore is. Verdrukking lei soms tot verset en die wil om ’n taal te behou, maar partykeer tot ’n algehele ineenstorting van alle doelbewuste pogings. (’n Voorbeeld van laasgenoemde is die mislukking van die pogings om Duits te handhaaf as gevolg van amptelike en nie-amptelike optrede tussen 1917 en 1923.)

      Al is enige beskouing oor taalhandhawing en taalbewegings onvolledig, is daar darem ’n paar dinge wat ’n mens daaroor kan sê. Vooraf ’n terminologiese kwessie.

      “Taalhandhawing” het in Afrikaans ongelukkig ’n negatiewe konnotasie gekry. Tog is dit ’n goeie ekwivalent vir die Amerikaanse “language maintenance” en daarom word dit hier ook gebruik. Dis nie heeltemal duidelik of daar ’n verskil is tussen “taalhandhawing” en “taalbeweging” nie. Taalhandhawingspogings is miskien beperkter in omvang. Taalbewegings soos die Vlaamse kan oor dekades strek en ’n volgehoue politieke, ekonomiese en kulturele beplanning en aanmoediging van taalgetrouheid vereis.

      4.1 VOORWAARDES VIR SUKSES

      ’n Taalbeweging kan net slaag as daar nog heelwat mense is wat die taal in hul huise gebruik. Daarom moet die leiers nie wag tot dit te laat is nie. Die Vlaamse beweging was betyds, want die Vlaminge het nog hul volkstaal gepraat. Pogings om Iers te bevorder was te laat. Baie Iere was reeds weg na Amerika en te veel van die agterblywendes het Engels aangeneem. Iers was ’n verpligte skoolvak, maar die omgangstaal het Engels gebly. Terwyl 50 persent van die bevolking van Ierland teen 1800 nog Iers gepraat het, was dit teen 1900 15 persent en tans minder as 5 persent.

      Wat van Hebreeus? Soos reeds gesê, het die Jode deur die eeue hul kennis van Hebreeus behou en dit as skryftaal gebruik in die tyd toe die taal “dood” was. Ook die godsdiens het die taal help bewaar. Daar was egter niks wat die gewone Ier aan sy ou taal gebonde kon hou nie.

      ’n Tweede noodsaaklike voorwaarde vir ’n taalbeweging is dat daar intellektuele moet wees wat die voortou neem en die massa handhawingsbewus maak.

      Miskien moet ons eers duidelikheid kry oor wat ’n intellektueel is.

      N.P. van Wyk Louw, die denker wat die helderste daaroor geskryf het,