Die wêreld van Charlie Oeng. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624080534
Скачать книгу
en haar ver van haar huis gelos, want haar pa was bedonnerd en haar ma skuins Katoliek. Laataand het Mawela Twee gekom, ’n klippie op die huisie se dak gegooi en sy het buitentoe gekom en hy’t haar die donker Sloot ingelei en hy was so groot en sterk, sy het geen vrees gehad vir treinspringers of bandiete nie, daardie bergskeerder slaat hulle een hou, sy bors is mos vol berglug.

      Daar bring hy haar grond toe, sommer hier waar die Sloot nog vlak is, die volgende dae kon jy die merke in die sand sien. Dan op die rug, dan handeviervoet; dis ’n storie waaraan mense hulle later jare verlekker en elke keer raak die liefdesdans wilder, die blindheid raak siende, en die man met die naam Mawela, hy (of hulle) het ouma Ogies vir ewig ingelyf in die woord wat Ma so omsigtig laat val en wat die Latynjuffrou geïgnoreer het toe ek haar vra wat dit beteken: begeerte.

      Die hele plaas behalwe haar ouers het die gedoente dopgehou, maar almal was so jammer vir die blinde Liewenheersogies dat g’n mens haar oë oopgepraat het oor die feit dat sy by twee manne lê en nie soos sy dag by ene nie. Oupa het ook geweet, maar hy’t laat begaan. Pa sê altyd dis omdat hy ’n Sap was en ’n liberaal, maar Ma sê dis nie die rede nie, dis empatie. En terwyl die mense nog hinkepink of hulle Liewenheersogies se ouers moet vertel wat aan die gang is, word die laaste vag oor die skeertafel gegooi en begin die Bergsotho’s hul komberse oprol.

      Toe die skeerders vertrek, word Liewenheersogies twee keer driftig omhels. Sy dag dis Mawela wat haar groet en wegloop, en toe weer omdraai en terugkom en haar weer groet en wegloop. Al die tyd slaan almal dit gade. Die liefde het haar reuksin laat toeslaan, skinder hulle, sy wat altyd als kan uitruik, selfs windaf.

      Maar toe sy in die ander tyd kom, en die woede van haar pa losbars en haar ma die Katolieke tantetjie haar swanger dogter opneem na die nonne om als uit te pluis, toe praat die plaasmense met haar pa en toe is die storie uit. Sy was al ver swanger die dag toe hy haar konfronteer met Mawela die dubbele skeerder, en dit was die eerste keer dat sy hoor daar was twee van hulle.

      Daardie nag begin sy krampe kry en vroeg die oggend lê die dooie dingetjie op haar ouers se matras, die skandekind van Liewenheersogies. Die een met twee pa’s. Met net so ’n dolfynsnoetjie sonder oë, nes haar ma. Ja, dit was ’n dogtertjie, en sy is begrawe agter die huisie, langs die voetpaadjie op pad Sloot toe.

      En daar lê teenaan haar graffie nog twee groot grafte, styf teen mekaar. Liewenheersogies se pa het hulle laat grawe tesame met die dooie vroeggeborene se graf en sy dogter aan die hand geneem, die dag van die kind se begrafnis, tot by elk van die grafte. Hy’t by elkeen van die grafte vir haar ’n ronde rivierklip in haar hand gegee. “Gooi hom in.” Dan gooi sy die klip in. Dan na die tweede graf. “Gooi hom in.” Sy gooi hom in.

      “Gooi toe,” beveel hy die manne met die grawe. Twee klippe, twee grafte. En die derde graf, vir die dooie dolfyntjie, saam met Mawela begrawe. “Vergeet nou als,” sê hy en sit sy arm versoenend om Liewenheersogies se skouers toe hulle terugstap na hulle huisie.

      Die huisie het eenkant gestaan van die ander werkers se struise, want die Liewenheerse (Dawid en Fyntjie Liewenheer en hul dogter, Liewenheersogies) had iets spesiaals aan hulle, iets wat hulle uitgelig het bo baie ander mense. Dit het hulle gehad, ja. Daardie iets ekstra.

      * * *

      Wie kan ouma Ogies kwalik neem dat sy verontwaardig was?

      Skaars is Mawela en die dolfyntjie begrawe, of sy is op die Angola dorp toe, swart roubandjie om die arm, papegaaivere in die linkerhand, al vier, vyf van hulle.

      Sy stap op hof toe, waar die einste ou landdros wat Pa so opdraand gegee het later jare, toe nog ’n windverwaaide, oorlaaide en oorkonsensieuse jong staatsaanklaertjie was. Hy is vars van sy laaste eksamens nadat hy homself opgewerk het vanaf sy eerste possie as hofklerk iewers in die Noordweste, of die binneland, ek weet nie mooi nie. Ieder geval, hy is uit een van daardie landstreke wat ’n drag op die skouers plaas sodat mense wat daar gebore is en grootgeword het altyd swaarmoedig lyk.

      Sy gaan klop by hom aan in sy kantoortjie een laatmiddag toe die hof al verdaag het en hy sy lêers vir die volgende dag se hofverrigtinge sit en rangskik. Vandag moet hy aan môre dink, en môre sal hy gepla wees deur wat hy vandag sou kon reggekry het in die hof as hy maar meer tyd gehad het om hom voor te berei. En as hy ook maar meer ervaring gehad het – dan sou hy daardie gladdebek-prokureurs kon ore aansit.

      By hierdie uitgeputte jong man van Justisie stap sy in. Stapels bruingrys lêers lê op sy lessenaar, en op ’n tafel teen die muur, en op die vloer. Hy het nou reeds die formaliteit en norse beleefdheid wat hom later jare sou kenmerk toe hy die dorp se hooflanddros was: “U is mos ’n Liewenheer?”

      “Ek sien ek is.”

      “Kan ek help?” Sy oë val op die roubandjie en die papegaaivere wat sy op die lessenaar voor haar neersit.

      Sy gaan sit, ongenooid. Sy is blind, hy laat begaan. Sy het iets aan haar, hy kan nie sy vinger daarop lê nie. Hy’t haar al sien stap op die dorp, haar hand liggies op haar pa se elmboog, die oubasie met die hoed styf op die kop, die onderbaadjie en die pyp tussen die tande. Soms is die ma by, ’n bekommerde, konserwatiewe tantetjie wat soetgebak na die nonne aandra, alewig.

      “Jy moet vervolg.”

      Hy skuif die landsvlaggie voor hom op die lessenaar só. “Ek kan nie vervolg as ek nie ’n saak het nie.”

      “Nou maak dan ’n saak, Aanklaer.”

      “Teen wie? Vir wat?”

      “Teen Mawela die Bergsotho.”

      “O, dit.” Die verhaal het sy ore ook bereik, want dis maar ’n klein dorpie. In daardie jare was dit selfs nog kleiner as nou. Waar het hy dit nou weer gehoor? Hy kan nie onthou nie. Seker by die sersant. Die two-timers, word die twee skeerders genoem wat die blinde dogter van die Liewenheers so dik genaai het dat die skille byna van haar oë afgeval het. Ja, so wreed is die dorpstories, en dis hoekom sy so woedend is.

      Hy sug. “Ek kan net met ’n saak voortgaan as die polisie dit na my bring.” Hy onthou ook die mense sê: “Haar dolfyntjie is weens haar dubbelnaaiery doodgebore. Dis hoekom. En dit ry haar sienderoë.”

      “Laat hulle die saak bring, dan.”

      “Wel, hulle het nog nie.”

      “Vra hulle.”

      “Nee, jy moet na die aanklagkantoor gaan. Daar is ’n prosedure. Daar moet jy ’n klag lê teen iemand. Jy moet ’n verklaring aflê. Dan ondersoek die polisie die saak.” Hy sug en skuif aan die lêers voor hom rond. “As hulle dink dis ’n saak wat sterk genoeg vir die hof is, bring hulle hom vir my. So werk dit, jy sien?”

      “Die klag is te belangrik vir daai konstabeltjies.”

      “Wie wil jy dan aankla?”

      Sy leun vorentoe. Intens is die gesig hier by syne. Agter die twee dammetjies roer die oog-ertjies, sien hy nou, heen en weer. Heen en weer, asof sy verskrik is.

      “God,” sê sy.

      * * *

      Dit het haar nêrens gebring nie. Al wat die staatsaanklaertjie kon sê voordat hy moeg oor sy oë gevryf het, was: “God kom nie in my hof nie.”

      Sy’t uitgestap en die papegaaivere skoon vergeet en sy kon die trane wat opdam nie uithuil nie. Sy’t by die gebou uitgestap en dis die enigste keer ooit dat mense gesien het dat sy nes ’n blinde stap wat die kluts kwyt is. Sy’t in mense vasgeloop en byna oor ’n baba geval wat daar rondgekruip het. Toe sy op ’n boomstam afpyl, het een van die speurders (die een wat Slangkop genoem word) haar aan die arm gevat en haar uitgelei straat toe, en toe is sy vort, na die priester.

      Die man bly in ’n agterplaas in ’n eenvoudige huisie. ’n Houtbankie staan onder ’n boom. Hy is ’n lang man, goed bekend met die Liewenheers, met ma Fyntjie se angstige boetedoenings en met die verhaal van Mawela. Hy dra ’n eetkamerstoel uit, regop rug. Hy beduie dat Liewenheersogies op die bankie kan sit. Daar’s ’n dun klapperhaarkussinkie, warm gebak deur die son wat hier val. Hy bring vir haar ’n glas water op ’n pierinkie. Sy hande is slank, voel sy aan,