Die wêreld van Charlie Oeng. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624080534
Скачать книгу

      Etienne van Heerden

      Die wêreld van Charlie Oeng

      ’n roman

      Tafelberg

      Vir Kaia

      “Hy wat met blinkende swaarde seëvier, is geen goeie generaal nie.”

      – Chia Lin

      Nota

      Die ses-en-dertig oud-Chinese krygstaktieke is opgeteken in ’n dokument sonder kopiereg. Die oorsprong daarvan is mities.

      Geen skrywer of ontstaansdatum is bekend nie. Die wyshede kom uit ’n verre verlede, uit die eeue.

      ’n Verweerde boekie word gevind in ’n verkoopstalletjie langs ’n pad in Sichuan, China, iewers in die eerste helfte van die een-en-twintigste eeu. Die teks is skynbaar gebaseer op ’n vroeëre werk uit óf die Qing-dinastie, óf selfs die laat-Ming-era. Wie weet?

      Gou-gou word Die ses-en-dertig krygstaktieke ná die herontdekking daarvan beroemd.

      Dis ’n teks sonder verantwoordelikheid. Waarom sê ek so? Wel, die gebruiklike Chinese militêre teks prys brawe dinge aan – eienskappe soos leierskap, militêre intelligensie, en die talent vir krygsmaneuvers. Kortom, die dinge wat van ’n goeie vegheer ’n leier op die slagveld maak. Iemand wat met Confuciaanse eer en waardigheid veg.

      Die ses-en-dertig krygstaktieke, daarenteen, is taktieke van misleiding. Van sielkundige oorlogvoering en spioenasie. Vals beskuldigings, dwaalspore en die weggooi van alles wat ’n krygsheld as eties sou beskou, vorm die murg van die ses-en-dertig taktieke waarop die ses-en-dertig hoofstukke van hierdie roman gebaseer is.

      Dis goeie raad oor hoe jy kan wen, tot elke prys.

      Tian Kilian

      Krygstaktiek 1

      “Offer die peerboom op as jy die perskeboom wil kry.”

      Stadig, soos jasmynblare in ’n beker tee, sak Hongkong uit my gemoed weg. Net die geur van die teehuis bly in my oor. Die stoom en die stip oë van die opgestopte kanaries. Hulle sit in hokke wat aan die plafon hang. Liggies roer die hokke in die lug van die waaiers. Roerloos die dooie voëltjies.

      Maar dis later, baie later. Nou eers terug:

      * * *

      Die vuurwerkvertoning op Slootplaas het ’n aanloop gehad, en almal was die dag verras toe Chinees deur die werfhek gestap kom, met ’n pendoring ’n sirkel op die werf trek, en doodluiters in sy rok en sandale daarin gaan hurk. Hy sit ’n ent weg van die opstal onder ’n doringboom.

      Hy dra sy strooihoed met die skerp puntjie bo-op. Gewoonlik dra hy in die velskuur ’n kadotjie (so noem Pa die hoedjie), maar wanneer hy van sy werkplek teenaan die dorp oor die rivier stap om ’n sak sout te gaan koop, sit hy sy puntjieshoed op.

      Ek het hom in my kinderjare baie so sien stap, met sy kruiwa met ’n sak sout op, en ’n rol bloudraad.

      Die mense het graag gesê dat hy maklikkies jou hond sal opvreet.

      Partykeer rus Chinees op die brug, by sy kruiwa. Hy kyk oor die reling na die water. Jy kan nie veel van sy gesig onder die strooihoed se breë rand sien nie. Jy merk net op dat sy gesig onder so gepunt is, nes sy hoed bo. Hy’s ’n mooi man, alhoewel jy dit nie sommer kan sien nie. Hy steek sy gesig onder sy hoed weg, sy lyf verberg hy onder vormlose klere van katoen. Hy wag in die skaduwees.

      Jy moet mooi kyk om hom te waardeer.

      “Hy’t ’n bokbaardjie,” sê Pa altyd. “Nes Jannie Smuts s’n.”

      “Bootchinees kyk na water onder die brug,” sê Ma graag wanneer ek en sy verby Chinees ry wat sy sak sout velskuur toe stoot. “Dis alte simbolies,” voeg sy dan ingedagte by, haar oë nougetrek teen haar Rembrandt van Rijn-filtersigaret.

      Sy en Pa het die spelwyse Oeng op ons dorp gevestig in plaas van die korrekte Ng. Wanneer Ma die velskuur moes gaan aandoen, het sy agterop die sigaretdosie waarop sy altyd haar taaklysies gemaak het, geskryf: Mister Oeng.

      Nou hurk Chinees roerloos op die gruis. Ek, Pa en Ma, pas klaar met middagete, loer deur die eetkamervenster na hom. Roerloos sit hy daar. Dit lyk of hy met die pendoring sy tande sit en skoonmaak.

      “Dis Chinaman,” sê Pa verbaas, asof ons nie self kan sien nie. “Hoor hoe snuif ouma Ogies in die kombuis, sy’t hom al geruik. Ek hoor sy was vroegoggend al by Bobby Greenblatt, glo skoon ontstig.”

      Hier kom maar min mense onverwags op Slootplaas se werf aan. Karre toet by die werfhek sodat die honde eers vasgemaak kan word en iemand na die besoeker beduie: kom maar nader. Die swart predikant, eerwaarde Mtuze, klim daar voor die hek waarop staan Privaat Maak toe die hek Als ’t u Blieft van sy swart dikwielfiets af en roep: “Amen!” As niemand by die kombuisdeur verskyn nie, roep hy weer: “Amen!”

      “Daar’s daardie vader Amen al weer,” sê Pa dan. “Kom weer die volk opstook teen Verwoerd.”

      Wanneer die span skeerders in die skeerseisoen kom, bondel hulle in hul donker jasse en met musse op die kop by die hek saam. Hulle vra nie om nader te kom nie, maar maak eers vuur teen die werfhek, op die skoon pad. Hulle is Sotho’s en kom uit die berge. Honderde myle swerf hulle van plaas tot plaas om die merino’s met hul blink skêre skoon te skeer en hul verhale te vertel aan almal wat wil luister.

      Hulle hou hul hande oor die vlamme, want dis vroegoggend koud. Hulle daag altyd met dagbreek op. Met die rooi son in hul oë. Hulle dra komberse oor die skouers. Dis die Bergsotho’s se gewoonte.

      Eers wanneer Ma bekers koffie opstuur, sal hulle werf se kant toe begin kyk. Dan moet Pa opstap hek toe. “Hoe gaan dit met julle koning?” vra hy. Ek weet nooit of Pa met die skeerders spot of ernstig is nie. Want soms vra Pa ook die Xhosas uit oor Kaiser Matanzima, die Transkei se leier: “Hoe gaan dit met julle koning daar in Umtata?”

      Nou sê Pa, terwyl hy Chinees dophou: “Al die pad van die dorp af.”

      Ek kyk verwonderd. Chinees sit komieklik binne sy toorwiel op sy hurke, met sy knieë teen sy ore. Hy is maer, met hol wange en uitstaan-wangbene. Hy lyk soos iets uit ’n storieboek. “Die wiel beskerm Chinees,” sê die mense oor sy sirkel wat hy altyd so maak.

      “Die honde blaf nie eens vir hom nie,” sê Ma saggies. “Hulle lê en tjank op die voorstoep.” Sy vee oor haar gesig. “Wat staan daar by sy voete?”

      “Sy koffertjie, lyk dit my,” sê Pa. “Gee bietjie die verkyker aan.”

      Dit lê altyd daar op die sideboard, en ek bring dit na Pa. Met die verkyker voor sy oë sê hy: “So van naby en in die helder son lyk hy glad nie na ’n velsmous nie. Eerder ’n towenaar.”

      “Wie gaan uitstap na hom toe?” Ma kyk na Pa, na my.

      “Kan ons hom nie maar naderwink nie?”

      Ma kyk na my. “En wat doen ons dan met hom?” Sy vee haar hare weg van haar voorkop. “Ek wil nie die Chinaman in my sitkamer hê nie.”

      “Tian, gaan hoor wat hy wil hê,” beveel Pa.

      Ek draf buitentoe en oor die werf. Ek ervaar ’n mengsel van vrees en opwinding, en nuuskierigheid. Die grootste hiervan is die nuuskierigheid. “Hallo, Koekepan!”

      Chinees staan op, stof sy sitvlak af, en nou’s dit duidelik dis sy klein vierkantige koffertjie daar by hom. Die foksterriër, wat dit intussen gewaag het om die stoep te verlaat, grom, maar kom nie nader nie. Die boerboel is nêrens te siene nie. Dalk is dit die soutreuk, dink ek terwyl ek daar by Chinees staan. Die reuk van ou bloed en vet. Van werwelbene en angorawol.

      Vel. Die reuk van afgeslagtheid.

      Of dalk is dit die toorwiel.

      “Wat soek jy, Koekepan?” Dis wat die meeste mense Chinees noem.

      Stadig buk hy weer af. Hy kyk oor my skouer en ek besef Koekepan kan my ouers agter die eetkamervenster se gordyne sien deurskemer.

      Koekepan maak sy koffertjie oop, vroetel daarin terwyl hy die deksel so hou