Reeds met die deurwerk van die katalogus het ek en Ma bespiegel: Vir wiskunde, kies jy hierdie een. Vir geskiedenis, daardie ene.
“’n Tuisbedryf,” het Pa gespot.
Nege maande lank het my boeke op die rak op my gewag en het Ma my nooit na hulle laat kyk nie; ek kon elke ander boek in die winkel deurblaai, net nie hierdie boeke, wat myne was maar my nog nie toegekom het nie. “Wag tot die prysuitdeling. Werk hard tot dan.”
* * *
Pa se wêreld het gewemel van skurke en tsotsi’s, swendelaars en deelnemers aan dorpsvetes. Die karakters in sy verhaal was die aangehoudenes, die verkuldes, die bandiete en messtekers. Sy cliffhangers was die oomblikke voor ’n dramatiese betoog voor die landdros.
In Pa se wêreld het die tronkdeure swaar toegeslaan, die polisiebakkies met skreeuende bande om die hoek gejaag, die landdros se hamer die neulende getuies stil geklop.
Die polisiekantoor was ’n klipgeboutjie en daarnaas, onder die landsvlag en agter vier peperbome, was ’n groter gebou, ook van klip: die hof. Die tuine voor en rondom die hof was die sit- en rondlêplek vir wagtendes – op verhore, op borgaansoeke, op vrygelatenes, op die aflê van verklarings. Daar het hoë palmbome gestaan. Die wagtendes was altyd daar, en mens het die gevoel gekry dat hierdie proses nooit einde kry nie, dat dit ’n permanente en treurige geswoeg was: die stelsel teen die burgery, burgers teen mekaar, die letter van die wet teen die misdade van die mens. Jy moes tussen hierdie mense deur stap om in die hofgebou te kom. Deur die reuk van sweet en armoede en by tye ook die geur van ou fekalieë in ’n boudgleuf.
Die polisiewaens het haastig gekom en gegaan, met spoggerige jong konstabeltjies wat flink in- en uitspring. Saam met hulle hul kollegas, die bruin speurders. Hierdie manne se koppe was skoongeskeer en hulle het oogkontak met die ander bruin en swart mense om die hof vermy. Hulle’t blink dasse gedra, gepoetste skoene en sportbaadjies. Onder die wit mense was daar ’n onuitgesproke begrip: hulle is aan ons kant, aan die kant van reg en orde, maar eintlik, eintlik is hulle hul eie mense se uitverkopers.
Een vleuel van die gebou het aan die veiligheidspolisie behoort, en hulle karre – hulle het nie met polisievoertuie rondgery nie, maar private karre – het in ’n ry teen die noordelike kant van die klipgebou gestaan. Daardie sypaadjie is deur die wagtendes vermy, en dit was duidelik dat die manne van Veiligheid eintlik maar baas is van die plaas. Die ganse onrustige oosgrens-Karoo was hul jagveld.
Net Witkant die albino het soms daar by hulle karre onder die peperboom gestaan en kletspraatjies met die veiligheidspolisie gemaak. Soms is hy saam met hulle by hul kantore in. Vernaam het hy later uitgekom met ietsie in ’n bruinpapiersak, spoggerig, om die gebou geloop en sy weg tussen die wagtendes deur gebaan om iewers in ’n strafsaak in te sit en die verrigtinge van heel agter in die hofsaal te volg, sommer uit nuuskierigheid.
Pa het net een keer laat val: “Hy sit en wegkruip in die hof. Daar voel hy veilig.” Eers later het ek verneem dat die sangomas agter sy balle aan was, en in my verbeelding het ek sy afgesnyde vool en teelballe op ’n tafel sien lê.
Pa se kantoor was in die Volkskasgebou ’n ent weg, net bokant die barbier waar ons ons hare geskeer het en waar die sypaadjie permanent na Brylcreem geruik het. Ook die Odeon was daar, waar die John Wayne-cowboyflieks en Sean Connery se vroegste James Bond-flieks gedraai het. Ook ’n slag Zorba the Greek, wat ons drie keer gaan kyk het, Pa was gefassineerd.
In sy kantoor se twee wagkamers was stoele teen die mure uitgepak. In die wit wagkamer met ’n bordjie Blankes bo teen die kosyn, was twee tafeltjies met die Landbouweekblad, die Brandwag en die Panorama. In die ander wagkamer was daar ’n almanak teen die muur en ’n landkaart wat die tuislande in groen aangedui het. Hier was daar net regop eetkamerstoele.
Pa se lessenaar het ’n mooi glasblad gehad en daar het altyd ’n draadlosie met skuins lugdraadjie gestaan sodat hy om kwart oor een die nasionale nuus, die weervoorspelling en wolpryse kon luister. Daar was ’n John Deere-asbakkie vir sy sigarette en hy’t ’n goue sigaretaansteker gebruik, wat hy spoggerig kon hanteer.
In die hoek aan ’n kapstok het die toga gehang, en sy baadjie en, skuinsweg, ’n swanky hoed.
Pa het hard gewerk en in die twee rye staalkabinette was honderde lêers. “Die hele dorp se skade en skandes is in daardie kabinette toegesluit,” het Ma altyd gesê. Dit was eintlik nie papiere en dokumente waardeur Pa elke dag sy weg gebaan het nie, het sy verduidelik, maar lewens.
Vrydagaande het hy klub toe gegaan. Dit was net vir mans, ’n pragtige ou huis onder palmbome iewers in die buurt naby die rivier, met breë stoepe en houtpanele binne, Morrisstoele en kelners. Vrydagnagte laat het hy huis toe gekom, vroliker as gewoonlik. Dan het hy na sigaarrook en whisky geruik, en hy’t dikwels vir Ma ’n botteltjie parfuum of ’n nuwe sakdoekie gebring op so ’n aand. Selfs eenkeer ’n stel oorbelle uit die Kaap.
Krygstaktiek 3
“Wend jou tot ’n lyk wanneer jy nuwe dinge wil doen.”
Miskien was dit weens Pa se voorliefde vir drama dat hy die enigste prokureur in die kontrei was wat ’n oor gehad het vir wat mense in daardie jare “politieke sake” genoem het. Daardie veiligheidspolisie in hul eenderse wit karretjies het lekker rof gespeel. Ek sê dit met huiwering, maar die term was: “Hulle’t kaffer gegaan.” Dit beteken hulle het uitbundig en met volle oorgawe hul rol gespeel.
Hierdie woorde en idiome vind jy deesdae nie meer in woordeboeke nie. Daarom kan jy nie juis teruggaan en vra wat beteken hierdie idioom presies nie. Dis asof hierdie woorde nooit daar was nie. En as die woorde verdwyn, só hoop mense skynbaar, verdwyn ook die houdings ágter die woorde uit die geskiedenis. En hul voorouers se wandade.
So word ’n nuwe verlede opgedroom en was die geskiedenis sy hande in onskuld. Maar ek, ek moet als in die oë kyk. As ek eerlik wil wees, moet ek ’n lem in die hand hê. Al laat dit my bloei.
Dit was die dae van die Koue Oorlog en ’n kommunis-agter-elke-bos. Die ANC was verban, so ook die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, en Nelson Mandela was bestem om vir baie jare in die tronk te bly. Pa moes versigtig wees. Hy kon sake aanvat van mense wat die veiligheidspolisie te lank sonder verhoor aangehou het, of mense wat elektrisiteit gevreet het (soos dit genoem is wanneer hulle met ’n masjientjie met ’n slinger nes ’n telefoon gemartel is), of mense wat net eenvoudig verdwyn het in die tyd nadat daardie karre snags ál om hul huis was en hulle al ’n slag of twee vir ondervraging nadergeklap is.
Ja, hy kon hierdie sake aanvat, maar hy moes dit laeprofiel hou. Die dorpenaars en plaasboere sou dink: Wie wil jou boedel toevertrou aan ’n man wat saamwerk met die magte wat die pilare wil omtrek sodat die hele huis instort? Moet hý jou testament vir jou weduwee voorlees? Nee a.
Buitendien, die ou landdros het geen geheim gemaak van sy ongeduld met hierdie dinge nie. As jy ’n kafferboetie-prokureur (’n alte gangbare term in daardie jare) wil word, moet jy geepad Oos-Londen of Baai toe. Moenie hier voor my kom staan met dáárdie toga oor jou skouers nie.
Dus het Pa dit rustig gehou. Een so ’n sakie op ’n slag. En hou dit sober. Bly weg van politieke taal en slagspreuke. Prosedeer eerder vanuit die oogpunt van huislike omstandighede: die eggenoot, die kinders, die gesin. Hou dit by gewone verontregting. Moenie ’n politieke vlag uithang nie. Wees katvoet by die klub Vrydagaande. Maak ’n grappie oor die toonnaeltrekkers.
* * *
Moeilike jare, daardie, toe mevrou Mtuze eendag by Pa instap. Sy was destyds toe Pa op die dorp begin praktiseer het, Pa se eerste kliënt. Dit was maar so, die senior vennote sê sommer met die intrapslag vir die dames by ontvangs: as hier swartes kom, keer hulle af na die nuwe jongeman. Die mees onervare nuweling kry die mins betalende sake. So het mevrou Mtuze baie jare terug al by Pa beland.
Haar man, die eerwaarde (Slootplaas