Die wêreld van Charlie Oeng. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624080534
Скачать книгу
terug, vou sy verfvingers in sy palm in. Sy’s die een, weet hy, wat die pindames geneem en sy naelstring deurgesny het. Teen daardie tyd was sy ma al koud, of so lui die verhaal wat al telkemale aan hom vertel is. En soos die bygeloof is, as die ma eers koud word voordat die naelstring geknip word, vloei geen bloed na die baba nie, maar al die ma se boosheid.

      “Kyk,” begin ouma Voetjies nadat sy haar koppie neergesit en gewag het dat die drie voor haar elk ’n eerste teug neem. “Kyk, die Ng’s het vir hulle ’n pad oopbaklei sedert die opiumoorloë tot nou.” Die kwaai lotusvoetjie kap op die vloer.

      “Tot hier.” Ouma Voetjies se beringde handjies beduie na die duur versierings en die portrette teen die mure. Haar gebaar omvat boonop die hele wyk, waar ’n spul goeie restaurante deesdae toegeswerm word deur nie net toeriste nie, maar ook Hollanders wat die smaaklikhede van Chinese kos aan die ontdek is. Die Hollanders se eie kos is mos maar óf te waterig, óf te vetterig, óf gewoon net te smaakloos.

      Sy sluit met haar gebaar die winkels en die wasserye en die fietswerkswinkels en die vuurwerkwinkel in, en selfs die pindamanne wat met hul ware soggens vroeg oor die stad uitgaan om op hoeke te gaan staan en smous.

      Sy sluit die tweede generasie in wat met Hollandse vrouens getrou het, en sy sluit die bedorwe kleinkinders in – slim, ambisieuse lewensgenieters. Dis soos sy hulle sien. Amsterdammers. ’n Nuwe geslag vir wie sy as selfopgelegde taak voortdurend terugrem die ou dinge in, sodat hulle die tradisies nie vergeet nie.

      “Elkeen van ons moet hard werk en geld inbring.” Sy kyk stip na Charlie. “Ons soek nie hofkunstenaars nie. Die keiser is lankal dood.” Die woorde laat Charlie se ouers verleë glimlag. Charlie kyk af. Sy hande is natgesweet en hy weet as hy sy vingers nou beweeg, gaan hulle verf afsmeer op die rugkant van sy hande. Dit voel of die verf in sy hande meer word, asof dit begin vervloei.

      Vinnig versit hy sy hande, onder sy bene in, weerskante.

      “Ons gaan nou na iets kyk,” kondig ouma Voetjies aan. “By die Oudezijdskolk.” Charlie se ouers kyk benoud na haar. Hoe gaan sy so ver kom? Dis met die trappe af tot by die voordeur, dan uit by die deur en regs met die opdraandjie op en dan reguit aan en weer regs en ’n goeie paar honderd meter se stap tot daar teen die reling.

      Hulle staan egter teen wil en dank op. Ouma Voetjies word deur Pang opgehelp. Sy staan onseker op haar voete totdat sy haar ewewig vind. Charlie kyk agter hom – sy handpalms en vingers het twee afdrukke op die wit kussings gemaak. Hy kyk verstom daarna. Ouma Voetjies draai weg, maar hy weet sy sal dit by haar terugkoms ontdek. Hy weet dat dit binne die familie om en om gedraai sal word, ook in die jare wat kom. Dit soos dit werk hier.

      Daardie kleurvlekke nes die vingerafdrukke van ’n misdadiger op ouma Voetjies se sykussings uit China, ingevoer deur haar ondernemende pa, die skatryk handelaar uit Hongkong.

      * * *

      Hulle stap moeisaam die straat op. Ouma Voetjies sukkel, maar praat oor die weer, die prys van eende en die probleme van die restaurateurs om goedkoop vars groente in hul kombuise te kry. Die swak kwaliteit rys waarop jy deesdae aangewese is. En die dom Hollanders wat met mes en vurk eet, heeltemal ongeskik. En in hul gulsigheid, by tye eg barbaars. Boonop bestel hulle net soetsuur, die domkoppe.

      Sy praat oor die verval van die buurt en die misdaad en die vreemde manne wat uit Hongkong opdaag en soos skimme rondbeweeg, nooit oogkontak maak nie en by geen enkele begrafnis of ander familiebyeenkoms opdaag nie.

      Toe hulle uiteindelik by die uitsigpunt kom wat ouma Voetjies vir haar sedeles uitgekies het, dring sy daarop aan dat hulle haar goed posisioneer. Hulle moet eers wag dat ’n groepie toeriste die kiekies neem wat hulle huis toe wil vat. Die Britte staan met hul arms uitgesprei oor die relings. Hulle let die lotusvoetjies skaars op, hulle is so gemoeid met glimlag vir die kamera. Ouma Voetjies wil ’n onbelemmerde uitsig op die water hê wat hier in ’n nou gleuf tussen donker geboue aan weerskante daarvan lê.

      Die toneel maak daar ver in lig oop. Die donker geut loop daardie lig binne en daar word die water ’n roerlose silwer plaat wat die toring van die Oude Kerk weerkaats. Die water hier word die Oudezijdskolk genoem en dis ’n gewilde fotoneemplek vir toeriste.

      Die kombinasie van lig en donker, van water en lug en die lyne van die geboue wat van weerskante inleun en kleiner word in die verte en daar ver bo die blink streep water, die Oude Kerk verdubbel in sy eie helder spieëlbeeld.

      “Kyk,” sê ouma Voetjies, terwyl sy mank hang tussen Charlie Ng en sy Pa.

      Hulle kyk.

      “Terug.”

      Dis ’n moeilike weg terug, want hulle moet haar omtrent sleepdra en verbygangers kyk na die vreemde, hangende voetjies. Hulle draai met die verbystap om om te staar. Charlie voel selfbewus. Sy Hollands is swak. Hy voel altyd of hy met sy bek vol tande staan. Die Nederlandse kinders spot hom goedig oor sy aksent en verkeerde woordgebruik. Goedig, want hulle staan by tye verstom, al is dit net vir ’n korte oomblik, oor sy skouer en kyk na die skilderye wat hy maak.

      Hulle sukkel by die trap op. Charlie Ng spring vinnig. Voordat iemand kyk, het hy die kussings met die palmmerke omgekeer. Hulle sit weer. Tee word tydsaam voorgesit, hierdie slag met eetgoedjies. Dan praat ouma Voetjies.

      “Julle’t die mooi toneel gesien. Amsterdam op sy mooiste. Probeer die seun dit nadoen?”

      Nou praat sy met Charlie se ouers asof hy nie daar is nie. “Terwyl ons mense sukkel en ’n nuwe geslag op pad is om hulself te bekwaam.

      “Wat probeer hy naboots? En met watter sukses dink julle gaan hy dit herhaal wat reeds daar is? Die natuur het dit tog reeds reggekry?

      “Het die storie van Ma Liang en sy towerkwas na sy kop gegaan? Dink hy hy kan sy prente lewe gee?”

      Hulle het geen antwoord daarop nie. Charlie se pa kyk na hom en lig sy wenkbroue. Charlie skud sy kop waar hy met sy hande in sy broeksakke sit.

      Hulle mag gaan. In die ongesêde lê die teregwysing.

      * * *

      ’n Week later word ’n brief by die Ng’s afgelewer. Ouma Voetjies skryf kort en kripties. “Jul seun het my huis in my afwesigheid besoek en uit boosheid twee verfdrukke met sy oop hande op my kussings gelaat. Wanneer dit gebeur het, weet ek nie. Waarskynlik Saterdag terwyl ek by meneer Tong se begrafnis was. Soos gewoonlik was hý nie by die begrafnis nie.

      “Ons praat hier van duur en antieke kussings. Dis ’n kriminele daad van afdreiging. Hy gaan geen handelaar word, ooit nie. Voordat die bose kant van die triades hom in hul geledere opneem, moet hy met daardie hande wat so ydel is, begin werk. Meneer Sing het ’n posisie in sy fietswinkel vir ’n leerjonge. Hy sal daar gaan werk.”

      En dis dan die bevel, en die begin van Charlie se dae as werknemer van die fietswinkel.

      * * *

      Ouma Ogies stap partykeer op na die treinspoor wat ’n ent van ons opstal verbyloop, vat dan die trein en klim op die dorpstasie af. Sy stap op hof toe. Daar sit sy nes Witkant graag en sy luister. Pa meen sy ruik die grootste drama op die dag se hofrol uit en dan gaan sit sy in daardie hof. “Ouma Ogies volg haar neus, ’n wit kierie is nie eens nodig nie.”

      Maar as dit nie die dag die hof se beurt is nie, het sy haar ander gewoonte uitgeleef. In my geheue ry ons soggens skool toe en daar staan ouma Ogies ver anderkant die stasie teen die spoor dorp toe, op die kale vlakte. “In die middel van nêrens,” hoor ek nou nog Ma se stem. Ouma Ogies, vernoem na iets wat sy nie het nie, staan daar en blaai deur die oggend se geluide asof dit ’n boek is.

      Sy sit gewoonlik bedags in ons kombuis. Langs die Dover is ’n plekkie vir haar ingerig. Dis haar wintersitplek. In die somer sit sy daar by die tafel teen die kas, by die emmer reënwater wat vroegoggend getap word wanneer die tenk nog koel is en dan ingedra word. Daar sit sy, soms met haar vingers wat liggies rus op die emmer met die wit doilie daaroor, vir koelte.

      Waar haar oogballe moet wees, is net sulke inhammetjies. Dammetjies vel. “Ouma Ogies se groot probleem,” sê die mense, “is sy’t nêrens vir haar trane om heen te gaan nie.”