Sy’t skaars die water gedrink of hier kom die eerste vraag. Die priester steier. “God kan ook skuldig wees?”
“Maar, my dogter?” vra hy toe hy sy wind terug het.
“Ek sê, Vader, ek sê: God dra ook skuld.”
“Maar my dogter, jy moet oppas om nie lasterlik teen ons Vader te wees nie.”
“Kyk wat het Hy oor my gebring.”
“Het jy nie self saam met daardie Mawela na die Sloot geloop nie?” Sy skrik, sy’t nie besef hy ken óók die detail nie. “Het jy nie self daar by hom gaan lê nie?”
Sy skud haar kop. “God het sy eie seun se dood bestier.”
“Maar, kind!”
“God het sy seun laat hang net omdat God ’n plan gehad het.”
“Dis die raadsplan van God, Liewenheersogies, dit spyt my, maar mag God jou vergewe.”
“God het ’n plan gesoek om ons vir altyd in die skuld by Hom te maak, toe maak Hy Satan.”
“My kind!”
“Ek kla God aan.”
“Jy mág nie!” Nou is hy driftig. Hy skop met sy sandaal in die stof.
“Waar’s my oë?” Sy’s histeries nou, dit lyk soos ’n dolfyn wat proesend uit die water opkom en in die moeilikheid is, heen en weer swaai die gesig. “Waar’s my oë?” Sy gil. Sy het albei wysvingers in haar oogdammetjies. Hy vrees sy druk haar vingers deur die vel.
“Hier hoort twee oë, een vir elke Mawela.”
Krygstaktiek 5
“Steel die vuurmaakhout onder die pot uit.”
Toe Charlie Ng nog ’n Amsterdamse skoolkind was – die maer Chinesie heel agter in die klas – begin hy skilder. Waterverf is sy medium. Die kanale. Die Amstel daar by die Magere Brug. Die water van Het Ij. Lig wat silwer en soms dynserig skyn. Teen die moeilike saak van water skilder, loop hy hom vroeg vas. Hy skilder nie net mét water nie, hy wil water, die medium sélf, skilder. Hy’s lief vir weerkaatsings op die water van bote en kaaie en figure wat op kaaie staan. En hy’s lief vir die geur van waterverf, dit slaan anders in die neus op as wiskunde of die geskiedenis van Willem van Oranje.
Hy was knap met die kwas. Hy sit die kwas op die papier neer en uit vloei die skildery. Hy hoef nie twee maal te dink nie.
Dit was ouma Voetjies – Shie Ng – wat uiteindelik driftig haar opbindvoetjie teen sy waterverfskildery gekap het. Sy was ’n oorblyfsel uit die ou dae en een van die min ou tantes wat in Amsterdam oor was wie se voetjies destyds as kind opgebind is. Haar linkervoetjie was haar kwaadvoetjie – hóm kap sy teen die vloer wanneer iets haar irriteer. Wanneer sy die regtervoet se hakkie teen die vloer kap, is dit gewoonlik wanneer iemand ’n grappie uit die Hongkong-dae of die opiumoorloë vertel, of uit die tyd toe hul voorvader ’n stoker was vir Lloyd-redery en in ’n bunker saam met al die ander werkers geslaap het, daar op die kaai, in beddens wat nes die laaie van ’n klerekas lyk.
Ouma Voetjies was nou iets in die vyftig. Van geesdriftig lewe (buitendien had sy drie mans “onder haar regime”, soos die mense sê), het sy voortydig bejaard geword. Skielik, eendag, toe die spieël haar begin verraai, het die karakterskoonheid verdwyn en ander dinge moes noodgedwonge bykom. Móói kan sy nie meer as mag aanwend nie. Nou moet dit dan maar sluheid wees. Intelligensie. Taktiek. ’n Beslistheid, wat altyd maar daar was.
Sy was die familiegeheue, en by begrafnisse of troues het almal gewag dat sy haar binnekoms maak. Stadig, met ’n opgeskote kleinseun aan weerskant, het sy met voetjies wat oor die vloer geskraap-skraap het soos sy gesleepdra is, ingehobbel gekom en almal moes wag tot sy haar sit gekry het waar sy hoort, heel voor.
Haar voetjies het sy dan skalks voor haar gevou en op belangrike momente, wanneer sy die ou manne van die familie se aandag wou hê, het sy haar bene oudergewoonte só en só gedraai, een enkel oor die ander, en die ou manne se oë (so het die jonger geslagte stilletjies agter hul hande gespot) het lustiglik na die voetjies gedraai.
Vir Charlie Ng was dit onbegryplik dat (en dit hoor hy gefluister) die opgebinde voetjies van ’n Chinese vrou vir die manne van die ouer geslagte so aantreklik was. Voetjies! En dan was dit boonop welbekend dat ouma Voetjies se voetjies met ruim skeute eau de cologne besprinkel moes word, want met sulke voetjies word al die tone behalwe die groottoon kleintyd styf onder die voet ingebuig en vasgebind. Hulle vergroei en die voet verknot. Dit word gestuit in sy groei tot iets wat moeilik skoon gehou word.
Dalk omdat Charlie hierdie dinge weet, gooi ouma Voetjies die bose oog op hom. Jy sien tussen haar ooglede die swart pupille glinster. Jy sien die venyn en die trots van iemand wat as jong meisie en vrou in die fleur van haar lewe gewoond daaraan was om die mooiste in die buurt te wees. Sy is die een na wie die oë gedraai het wanneer sy ’n kamer binnekom. Nou sit die ydelheid nog vlak in die ou liggaam. Dis ’n gefrustreerde ydelheid. Diep binne-in haar is die bitter edelsteen van trots.
Sy is die een wat besluit om in te gryp toe dit bekend raak dat hy nie goed op skool presteer nie en net heeldag wil sit en waterverfskilderytjies maak of die boeke met kleurplate van ou Chinese hofkunstenaars by sy ryk oom, die restaurateur, wil deurblaai. Sy kondig aan dat sy hom en sy ouers in belang van die familie wil spreek.
Charlie moes hom die dag mooi aantrek. Sy ouers – sy pa Pang Ng en sy stiefma – het gesorg dat ook hulle mooi opgetof is en saam stap die drie af na ouma Voetjies se losieshuis. Die gebou is deur die jare opgegradeer sodat dit in daardie tyd nie meer slaapplek vir rou Chinese matrose is nie, maar ordentlike verblyf en goeie kos bied vir hoofsaaklik besoekende Chinese sakemanne.
Sy sit hulle en inwag in haar voorkamer. Om haar is Chinese lampe, gekerfde drake en syskerms. Die lig hier is gedemp en dis soos ’n museum. Haar pa het eenkeer ’n krat vol Chinese meubels en versierings uit Hongkong laat kom en hier is als nou nog, dekades later. ’n Uitgestalde geheue, en ’n verweer teen die Hollandse oog wat net Chinese matrose, Chinese boewe en Chinese armsaligheid sien. Wanneer sy enige van die jong mense in die familie wil bestraf omdat hul aksent te Amerikaans raak, of hulle te veel oor popmusiek praat of by die bioskoop rondhang, moet hulle hiernatoe kom vir ’n gesprek.
Sy sou veral in die jare sestig, lank na Charlie Ng se verdwyning, neul oor die wêreld van lang hare, Amsterdamse klubs en sixties-hemde. Vrye liefde en dwelms moet agtergelaat word en die jong mense moet hier kom sit, aan haar voete, met die dinge uit die ou dae wat bestraffend om hulle bondel.
So ’n besoek was die nagmerrie van enige van die vier-en-dertig kleinkinders van die uitgebreide Ng-familie, waarvan een en almal met alle mag uit die benouende paar strate in die omgewing van die Zeedijk wou wegkom.
Weg van hul ouers se alewige getjommel oor Hongkong en ou generaal Ng, wat krygsroem verwerf het en een van die geskiedenis se grootste krygsmanne was, altyd in eer op die slagveld.
Weg van hul ouers se eindelose stories oor die gesukkel van die vorige geslagte. Hoedat die Europeërs geglo het die Chinese is goeie stokers op skepe omdat hulle bestand is teen hitte. Hoedat, toe die Nederlandse vakbondwerkers op die kaaie staak en die Chinese ingebring word om die rederye se werk te doen, hulle oupas en ooms rondgeruk en pluk is deur woedende Hollandse dokwerkers. En daardie een geheimsinnige moord.
Weg van hul gevoel dat hulle nie meer Chinees is nie maar ook nie Hollands nie. Die jonges wou een en almal Amerika toe. New York. San Francisco!
* * *
Koponderstebo stap Charlie op hierdie dag in 1936 saam met sy ouers na ouma Voetjies se huis en met die trap op tot in die donker kamer met die swaar gordyne. Teen die mure hang geraamde portrette van trotse voorgeslagte. Charlie moet op die bank sit. Aan sy vingers kleef daar nog verf. Hy probeer dit ongesiens afvryf, met sy hande tussen sy knieë.
Al vier sit tjoepstil terwyl die tee voorgesit word. Die drietal is op hul hoede, want niks eetgoed word bedien nie – en dis ’n slegte teken. Die koppies stoom en ouma Voetjies