Die wêreld van Charlie Oeng. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624080534
Скачать книгу
hy’t die swart predikante soms verbied om voet op ons plaas te sit, en mevrou Mtuze se man was een van hulle. Gelukkig het eerwaarde Mtuze meestal noord van die dorp gewerk, ánderkant toe, daar na Spekboomberg en Post Chalmers en die Renosterveld se geweste.

      Pa was jonk en hy het haar gehelp waar hy kon. Dis vaag waaroor die eerste sakie gehandel het, maar dit had destyds al ’n politieke kleurtjie. Die senior vennote het laat begaan. ’n Binnensmondse waarskuwinkie aan Pa was genoeg: nie te veel hiervan nie.

      * * *

      Die tyd waarin my verhaal afspeel, was egter nie ’n tyd vir klein dingetjies nie, en so gebeur dit dat Witkant, wat daar staan en ginnegaap aan die kant van die gebou waar Veiligheid hul karre parkeer, se oë vernou toe mevrou Mtuze een oggend oorkant die straat by die barbierpaal huiwer, haar rok regtrek, en by die deur net langs die barbier s’n ingaan. Dis die deur wat lei na trappe wat jou opneem na Pa se praktyk.

      Witkant glip in by Veiligheid se deur skuins oorkant die barbierpaal. Ek kan my voorstel hoe hy daar insluip en hoe wakker sy oë vir als daar binne is. Hy trek sy asem diep in toe die koelte van die gang hom tref. Behalwe die mense wat hier werk, kom min ander mense ooit vrywillig hier by die toonnaeltrekkers. Daar is natuurlik ook ’n agterdeur, weet hy, wat uitlei op ’n klein agterplasie, en daarvandaan ’n steeg straat toe. Jy kan ook met ’n kar of vangwa daar in, daar is ’n groot swaaideur. En hy dag, as jy van daai kant af ingebring word, is jou doppie geklink en gaan jy vir seker elektrisiteit vreet en sing soos ’n kanarie, my broer.

      Hy suiker af in die gang en val in by ’n oopplanvertrek waar aanvanklike papierwerk gedoen word. Hier verder af in die gang is die offisiere se kantore, met daar heel aan die einde die grootbaas se kantoor, daar by die opgerolde brandslang teen die muur wat vir hom altyd nes ’n slapende luislang lyk. Die plekke waar dit lekker rof gaan, is agter klankvaste deure, jy moet daarvoor weer af met die trap, jy wil eerder nie dáár in nie. Daar, het hy al vir Koekepan vertel, gaan dit steun en been.

      Witkant leun oor die toonbank wat hier lei na die oopplankantoor, waar mans agter tafels en lessenaars rondsit. Sommige is aan die bel. Moue is opgerol. Hulle bly hier bo teen die bult agter grasperke, jy sien hulle Saterdagmiddag by die rugby met hul seuntjies en Sondagoggend op die Moederkerk se trappe, skoonma inkluis by die gesinnetjie. Maar o wee, dag Witkant, ek is ’n weesdas met ’n kwaai stiefvader, kanti madoda, as die nag kom, brand hul oë soos sweisvlammetjies. Dan wil jy nie ’n activist wees nie. Dan wil jy eerder agter jou vrou se rug slaap. Ithemba liyaphilisa. Net die hoop gaan jou aan die lewe hou!

      “Mama Mtuze is nou net hier oorkant verby die barbierpaal trap-op na die Scales of Justice.”

      Hy staan daar en praat met niemand in besonder nie. Een of twee kyk op. Dis die jonge, die outjie vars uit Johannesburg, wat antwoord: “Tarkastad het haar seun eergisternag opgetel in ’n padblokkade. So hoor ek. Hulle werk nog met hom.”

      Ek sien hom daar staan en saggies fluit. “Boetie!” Hy skud sy kop. Half verveeld staan hy daar, ’n beteuterde gatkruiper en laeorde-informant; sê maar ’n impimpi. Maar die woord impimpi neem hom gans te ernstig op. Vir die meeste mense is hy maar net die Chinaman se meeloper. Hoogstens is hy dalk vermaaklik. En tog, en tóg: daar is dae dat jy jou ore kan spits vir sy sêgoed, dan sit hy sy vinger akkuraat op iets.

      Maar teen ’n fooitjie. Dit kan klein wees, die fooitjie, en dit word deur dasregtrekkery en spoggerigheid gevolg (“job well done”, hy stap bakarm af straat toe), maar vir sy selfrespek moet hy ’n ietsie verdien.

      Onder die peperboom by Bantoesake help hy vir ’n bietjie twak of sigarette vir mense briewe skrywe, op so ’n plank wat hy daar onder die afdak bêre, en die pen is altyd sigbaar in sy baadjiesak.

      Hy luister mooi na die sagte fluistering van sy kliënt, wat die een of ander reeds verlore stryd teen Bantoe-administrasie stry. Hy luister mooi, vra vragies in Xhosa, klik sy tong simpatiek, krap agter sy oor, trek sy das reg, en begin skrywe, in Afrikaans.

      “Hoogedele heer,” is hoe hy elke brief begin.

      “Ek is ’n volwase Kosaman van 58 jarre en my pasboek sy is verlore.”

      “Hoogedele heer, op hierdie dag van Onse Here is ek ’n vol wase vrou uit my huis gagooi.”

      Nou, van anderkant die jare, hou ek hom dop. Hy krap hier by die toonbank in Veiligheid se kantoor met ’n vuurhoutjie in sy oor. “Waarvoor tel hulle toe die Mtuze-kwedien op?” Hy kyk skepties na die bolletjie geel oorwas op die vuurhoutjiepunt, en smeer dit aan sy broek af, bedink hom dadelik, skiet dit van die materiaal weg met duim en wysvinger.

      Weer die Johannesburger: “Hy’s té al in die rondte. Iewers kry hy geld. Dan hier, dan daar.”

      “Ja, hy’s ’n slim klonkie daai. Sy ma se oogappel.”

      “Sy kan maar haar oogappel by daardie slim prokureur gaan soek, sy gaan hom nie daar kry nie.” Daar is ’n gelag in die kantoor. “Oogappel is nou skoonveld.”

      Witkant lag lekker saam. Ja-nee, daai Mtuze-outjie is veels te spoggerig, dink hy. Solomon Mtuze werk by die elektrisiën as handlanger, altyd ’n treetjie agter die bot Hollander wat eintlik net nou en dan ’n woordjie Hollands met Koekepan wissel, en net as niemand anders naby is nie, net Witkant kan maar hoor. Jy kan Solomon ook privaat huur as fixer, na ure. Solomon se hande staan vir geen bedrading of kragboks of mouter verkeerd nie.

      Nou mymer Witkant by die toonbank, daar by die dag se vars Eastern Province Herald en Die Oosterlig. Die res van die dorp se koerante kom ’n dag of vier of dalk ’n week laat, want dis ver na die drukkerye in die stede toe, maar hier lê altyd vars koerante, sodat Veiligheid se manne daagliks op en wakker kan wees oor die kak wat die pers skryf, daardie kommunistiese klomp joernaliste.

      Hy blaai-blaai deur ’n koerant, sonder dat sy oog iets interessants vang.

      “Skededdel,” snou die ou sersant wat al jare hier sit hom toe toe hy by Witkant verbyloop.

      En Witkant skededdel. Hy moenie sy myle uitkuier nie. Die manne is besig, dink hy. Hulle slaan toe. Hulle samel in. Hulle volg op. Hulle luister af. Hy stap af straat toe en wonder wat die prokureur en mevrou Mtuze sit en gesels. Waar op aarde begin jy soek in hierdie vlaktes en in die berge en klowe, in die dorpies se lokasies, in die verre distrikte; waar op aarde begin jy soek na jou verlore seun en die familie se hoop?

      * * *

      Terwyl my ouers in versigtige dissidensie geleef het, was hulle tog eintlik as besigheidsmense (die plaas was geen egte boerdery nie, net ’n sentimentele voetspoor in Afrika) diep ingeweef in die dorp se bevoorregting (in wat deesdae hier in Suid-Afrika “witheid” genoem word).

      Die ongeletterdheid in die lokasies, soos die townships destyds genoem is, was vir Ma bloot ’n gegewe, nes die bruin bulte agter Lingelihle. Dit was deel van die geografie, van die orde van dinge. Pa se kort stormlopies die Struggle-sone in (ek dink nie die woord “Struggle” is in daardie jare al algemeen gebruik nie) was berekend – nie te veel nie, net genoeg om die gewete te sus. Sy kort lopies van weerstand teen die sisteem ook (ek onthou ’n paar los opmerkings wat hy gemaak het) geskied met ’n soort afkeer van die stylloosheid en slordigheid (“daardie liberals trek opsetlik verslons aan”) en armlastigheid van die weerstandspolitiek.

      Pa was ’n spoggerige kêrel.

      Maar sy ingesteldheid op die armes, soos hy altyd gesê het, op die “nie-geregtigdes”, het beteken dat die wit karretjies van Veiligheid soms stadig voor Ma se boekwinkel verbygery het. Daar was bo en behalwe arbeid min terreine waar wit en swart in die dorp bymekaargekom het. Die lokasie, wat bo die rivier se kranse gesit het, het by die wit sakegebied aangesluit met ’n strook wat ’n onsekere area van brandnetels, verspreide geboue en murasies was. Die Slams se winkeltjie was daar, asook die skut vir rondloperdiere. Die skut was ’n verflenterde kraal met afsonderlike kampies en enkele afdakke en deurgesaagde petrolkonkas vir waterkrippe. Daar was tussenin ook leë erwe waaruit swart gesinne weens die Groepsgebiedewet verskuif is. Dit was vir my as kind ’n opwindende gebied, weg van die skoon wit strate van die dorp. Dit is ook die buurt waar die sogenaamde armblankes in skakelhuisies woon, mense oor wie woorde soos