Die wêreld van Charlie Oeng. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624080534
Скачать книгу
liewenheersogies.” Dis wat Pa my vertel, want as ons soms haastig met die bakkie dorp toe ry, staan sy daar teen die spoor, papegaaivere in die hand. Jy kan sulke dae maar vir haar toet om haar op te laai dorp toe, sy maak of sy jou nie hoor nie. Sy wag vir die trein.

      “Die Angola is ons eie Transkaroo, hy stop vir niks nie, nie eens ’n koedoe nie,” sê Pa. “Maar hy stop vir Liewenheersogies. Die trein moet kwart oor twaalf teen die dorpsperron lê, jy kan maar jou horlosie stel op sy aankoms, dis soos Greenwich Mean Time.”

      Van ver af sien die treindrywer die stippeltjie op die vlakte teen die spoor staan. Die Angola begin dan al briek trap sodat hy ondanks die gewig van sy waens tot stilstand kan kom by ouma Ogies. ’n Myl lank vat dit vir hom om te gaan staan. Hy huil soos hy briek. Ons hoor dit in die kombuis wanneer die spore droog is, wat maar gewoonlik die geval is. “Ouma Ogies gaan al weer noord,” sê die kok dan.

      “Hy laai haar op, die treindrywer laat die lokomotief een van daai lang fluite gee, en hy neem nogals ’n goeie drie myl om weer spoed op te tel,” sê Pa.

      “Gaan sy dorp toe, Pa?” Want ek weet sy gaan nie altyd hof toe nie.

      Pa skud sy kop.

      “Partykeer laai die Angola haar anderkant Beroda af. Weer op die kale vlakte. Dan gaan sy Renosterveld toe. Ouma Ogies kan nie sonder haar Renosterveld lewe nie.” Pa vee oor sy mond. Hy’t sy pinkiering aan. Dis ’n strafsaak wat hom kwel en hy moet die middag in die hof wees. “Naby Spekboomberg klim sy af,” sê hy, asof dit ’n verduideliking is.

      “Hoekom stop die trein net vir ouma Ogies?”

      “Simpatieke treindrywers uit die Baai.” Pa kyk by die bakkie se venster uit. “Kyk hoe staan die Collets se mielies. Sondagmiddag kom die blouape weer hier maai.”

      “Nee,” sê Ma toe ek haar later uitvra. “Sy word nie sommer enige plek afgelaai nie. Die mense is net skaam om te sê waar sy afklim. Want so ’n begeerte is te veel van ’n skande vir hierdie dorpie.”

      Dis geheimsinnige woorde wat Ma gebruik. Ek dink lank daaroor na. Wat skande is, weet ek presies. Maar die woord begeerte skryf ek op ’n klein stukkie papier neer, rol dit op en hou dit in my pennehouer, by die uitveër, die potlood, die inkpen en die passer.

      Op ’n dag, terwyl die nuwe Latynjuffrou, juffrou Latsky, by haar tafel sit en lees en ons met ’n klasopdrag besig is, skryf ek die woord op ’n stukkie papier neer en stap vorentoe na haar. Ingedagte sit sy, ek sien dis gedigte voor haar. Ek skuif die papiertjie by haar arm verby, verby die witvleisies van die binnearm, en sy sit roerloos daarna en kyk.

      “Wat beteken dit, Juffrou?”

      Want ek weet dit beteken vir ouma Ogies veel meer as die gewone.

      * * *

      Die Renosterveld lê daar by Spekboomberg, so ’n stuk grond wat van die spoor se kant oopwaaier in plate waar kleinwild wei, want dis ’n bewaringsbewuste boer (voordat “bewaring” ’n spoggerige Karoowoord geword het) wat daar boer. Die veld begin mettertyd klim en word ’n hoogte, en nog hoër, ’n berg, ’n klont gestolde klip, sy klowe ruig oorgroei, en van sy kranse af kan jy ver uitkyk oor die vlaktes.

      Dit word die Renosterveld genoem, want volgens oorlewering het renosters in die ou dae daardie berg beskerm. Dit was ’n plek wat mense vermy het, want hierdie halfblinde diere het ’n reuksin wat jou ver al optel, terwyl jy nog afstap van die trein by die halte daar naby. Dan staan daai kwaai bul al nader. Hoeka het hy sy piskolle in al die uithoeke gemaak; dis sý wêreld hierdie.

      Maar gedeel met ouma Ogies se gesin. Destyds het my oupa nog op Slootplaas geboer, Ma was nog ’n dogtertjie in die slaapkamer wat later myne sou word, en Pa ’n skoolseun in die lemoenwêreld Baai se kant toe.

      Dit was die tyd toe ouma Ogies se pa keelvol geraak het vir my oupa en hy sy gesin gevat het en hier op die Renosterveld kom oorlê het. Vir ouma Ogies, so het ek destyds gehoor, was dit ’n wonderlike nuwe speelveld. Haar pa het haar smiddae die berg ingeneem om kruie te gaan pluk. Gesondmaakgoed, elke plantjie het hy geken en, in sy eie woorde, die klowe het hom behaag. Vir ouma Ogies was dit in die eerste plek ’n tyd waarin haar pa vry gevoel het en tydsaam saam met haar deur die veld “gevroetel het” en “met die tyd saam medisyne geoes het”.

      Ek onthou die Renosterveld deur die taal van ouma Ogies, wat selfs in haar woordeskat anders begin praat het wanneer die Renosterveld ter sprake kom. En deur haar stemtoon. Astrant, soos Ma ’n keer aan Pa gerapporteer het: “Die oumensie is heel cheeky. Ek hoor haar vandag vir Elsie in die kombuis sê: Eendag word die hele Karoo Renosterveld. Dan kan almal weer asemskep, en die duusmanne sal op hul pense skrywe.”

      “Ag, los maar,” sug Pa.

      * * *

      Wanneer ouma Ogies boekwinkel toe kom, staan sy vroegoggend by die waenhuis se deur. In haar hand het sy haar lunchie, soos sy dit noem – ’n trommeltjie met tuisgebakte en netjies gesnyde growwebrood met dik, wit vet daaroor gesmeer.

      Wanneer ek met my skoolkoffer tam en onwillig opdrentel waenhuis toe (want ek is op die ouderdom dat die eerste vreugdes van skoolgaan begin verdwyn) sien ek hoe sy vir my staan en luister soos ek aankom. Roerloos staan sy op die hoek van die waenhuis met haar rug teen die snykant van die bakstene.

      “Een oor na die noordweste, die ander oor na die suidooste,” sê Pa altyd – dis ouma Ogies op haar werfpos. Haar gelaat is glad, en die afwesigheid van oë en die gladheid van die vel weerskante van die neus, die manier waarop die voorkop met effense dammetjies die wange inloop, gee haar die aangesig van … nou ja, ’n dolfyn? ’n Diep, onderwaterse en onontdekte spesie. Dis seker maar die biologie waarmee ons toe op skool besig was wat my beïnvloed het, maar daardie dag het sy vir my vreemd en onwêrelds gelyk, en op haar hoede.

      In ruil vir kos uit die kombuis was die ooreenkoms dat sy wanneer nodig inkom boekwinkel toe. Haar agterste struis op die plaas was op daardie treurige stukkie vlakte aangedruk tussen die Sloot en die Scanlen-voor met ’n lusernlandjie aan die derde kant waarvan die grond brak was en die lusern in teenstelling met die landerye af rivier se kant toe nooit juis die mas opgekom het nie. Die vierde grens was geen grens nie: die vlakte.

      Wanneer ek terugdink, besef ek dat grootword vir ’n kind is om deur verskeie lae van bewus wees te styg. As jy heel klein is, is die wêreld kamervloer en bed en grond. Vir my later, die vlakte se bodem met sy bossies en klippe en goggatjies, die werf met sy gruisklippers en rotstuine en ou, verroeste spykers of miere of vlinders. Dan, stadig, lig jy jou oë en begin jy ’n groter wêreld sien. Jy kyk bietjie verder. Jy raak ooghoogte met meubels, boekrakke, die wit klawers van die klavier. Jy begin neerkyk op jou ouers se bed en oor die bad se rand wanneer jou pa in die water lê.

      Nog later kyk jy oor die kombuis se onderdeur, oor jou fietsie se stuurstang terwyl jy vinnig ry. Nou begin die dinge om jou beweeg, maar belangriker: jy kan jouself verplaas en die spoed waarmee jy deur die wêreld beweeg, self bepaal. Jy ontdek jy kan oor die leivoor spring en jy kan tot baie hoog in die moerbeiboom klim.

      Skielik sien jy volwassenes raak. Skielik eien jy hulle vir wat hulle is en begin die proses van wat mens seker mensekennis noem. Jy leer mense inskat. Jy gaan jou moeilike tienerjare binne, want nou maak die wêreld regtig oop om jou. Dit word onmeetlik groot en jou eie kragte roer – verrassend, ongetem, onvoorspelbaar. Jy moet jou inrig, jou kragte skik. Terugsnoei. As jy gelukkig is, konformeer jy nie te veel nie. Of dalk word jy een van daardie arme drommels, deel van die grys massa.

      Ek was daardie oggend iewers in een van hierdie fases en stadig aan ’t styg uit my verwysingswêreld: die kindertuin van geroeste plaasimplemente, die groen vierkant van die grasperk met die weerbarstige, ongeskikte lote kikoejoe wat die gruisjaart bly inrank aan die rante. Die klein dorpie van my kamer met sy uitgepakte speelgoedhuisies, -motortjies en -mense, die boeke met hul kleurryke verhale en onmoontlikhede wat my meer geboei het as die wêreld se moontlikhede.

      Stories was vir my altyd meer waarskynlik as die werklikheid.

      Daar staan sy en ek sien haar vir ’n oomblik soos ek haar nooit weer sou sien nie, soos wat ek haar nou slegs met moeite onthou.