Dawid het haar, in die kort rukkie wat hulle uitgegaan het, met die grootste respek behandel, maar by Vasti was daar uit die staanspoor geen twyfel dat Dolf ’n ervare en entoesiastiese vryer was nie. Sy het net nie gedink hy sou so onstuitbaar wees nie.
Ondanks die meesleurende gevoelens wat so met haar ma se boodskap gebots het, het sy geweet sy was daardie spesifieke dag nie gereed om enduit te gaan met dit waarheen Dolf – en gedeeltelik haar lyf – op pad was nie. Miskien het sy vermoed Dolf is nie die regte man nie. Miskien het sy heimlik besef die verliefdheid wat sy gedink het sy voel, het geen dieper wortels nie. Miskien het Dawid nog in haar hart gespook.
Sy kon nie juis om hulp roep nie, al het die PUK-kampus gewemel van die koshuisstudente. Hoe verduidelik jy immers waarom jy saam met jou ou in die benoude donkerte van die buitegeboutjie is? En die storie het juis op die kampus rondgelê dat sy ’n maklike meisie is. ’n Storie wat sy tot vandag toe nie kan verklaar nie.
Ironies genoeg het haar pa haar gedwing om Potch toe te gaan omdat dit volgens hom nie so ’n verderflike plek is soos Stellenbosch nie. By die PU vir CHO, het hy geglo, sal die Doppers haar in toom hou soos hy dit op die plaas gedoen het. Maar Leon de Leeuw het die wil wat ’n weg sal vind, onderskat. Net jammer dit was nie haar wil wat die weg gevind het nie. Daardie eer kom Dolf toe.
Dis asof die reuk van stof en besems, van petrol en ou lappe meteens weer in haar neus opslaan, asof sy weer hoor hoe haar pleidooie teen die sinkplafon vasslaan. Oor en oor: “Asseblief, Dolf, moenie! Nie nou nie. Ek is nie gereed hiervoor nie. Nee!” Dis asof sy weer die ruheid waarmee hy haar vasgepen het, ervaar; kort daarna die skerp pyn voel en die souterigheid van onwillekeurige trane op haar lippe proe.
Vasti kruis haar bene en roer haar skouers fatalisties. Daar is niks wat sy daaraan kan doen dat dit is hoe sy seks die eerste keer ervaar het nie. Dat iets wat klaarblyklik spesiaal moes gewees het, toe uiteindelik afstootlik, morsig en donners seer was.
Oorsaak: Nalatige inligtingsverskaffing. Gevolg: Jy besef niks is heilig nie. Ook nie jou eie liggaam nie. Nie eens vir die man wat jy “liefhet” met die soort desperaatheid wat net ’n oorgewig, ongewilde meisie wat in haar vorige liefde verlaat is, verstaan nie.
Vasti kom agter sy kou aan die agterkant van die pen, onthou dan dat dit nie hare is nie. Wonder hoeveel speeksel van ander mense aan die pen kleef. En kieme. Vreemde organismes. Virusse. Kan vigs deur ou speeksel oorgedra word? Die gedagtes kom en gaan, toer dan weer die verlede in.
Die verlies van haar maagdelikheid was vernederend, maar nie haar hoofkwelling nie. Sy het haar doodbekommer oor die gevolge tot sy met haar maandstonde begenadig is. Toe eers kon sy kwaad word.
Dolf het gesê dit het gebeur omdat sy ’n cockteaser is, hom nie betyds gekeer het nie. Toe sy haar wip, het die rede verander na “omdat ek jou so liefhet”. Hy het haar belowe dit sal nie weer gebeur nie. Sy was so verdomp dom. Natuurlik het dit, dié keer in ’n geleende kar, weg van die kampus. Weer was dit haar skuld. En natuurlik omdat hy haar so liefhet.
Sy het uitgemaak. Hy het aanhoudend gebel. By haar gepleit vir nog ’n kans. Dolf kón pleit. Hy het blomme gestuur. Kaartjies. Haar uitgenooi vir etes in deftige restaurante wat sy geweet het hy nie kan bekostig nie. Hy het haar vertel hy is bekeer, dat hy die Here gevind het en nou weet dit was baie verkeerd van hom om sy liefde vir haar die oorhand te laat kry. Sy is die enigste mens wat hom nog ooit verstaan het. En hy verstaan haar. Hy weet hoe swaar sy al gekry het.
Met die grootste moeite het sy by haar besluit gebly, probeer verwerk dat Zoete Weide nie meer die De Leeuws se plaas is nie, dat haar pa ’n onrehabiliteerbare dronkgat geword het en haar verder toegelê op haar kuns en studies. Tot Dolf haar een Woensdagaand, amper ’n jaar later, in trane gebel het. Hy het slegte nuus gekry oor sy ma. Sal sy nie net ’n koppie koffie saam met hom gaan drink nie? Daar is niemand met wie hy kan praat nie. No strings attached.
Natuurlik het sy daarvoor geval. Sy het pas mondig geword, maar was ondanks alles ’n baie jong een en twintig – naïef en goedgelowig. Sy het geweet hoe dit voel om niemand te hê om mee te kan praat nie, sy het ongelukkig toe nog nie geweet Dolf kan on cue snot en trane huil nie.
Vasti het hom onvoorwaardelik geglo toe hy sê sy ma is met kanker gediagnoseer. Hy moet onmiddellik huis toe gaan, het hy gesê, sy het nie lank om te leef nie. En hy sien nie kans om alleen te gaan nie. Vasti moet saam.
Sy kan nie, het sy verweer, sy het nog vraestelle oor om te skryf. Hy ook. Hulle was albei in hulle derde jaar. Sy het kuns geswot. Haar pa het gedink sy doen tale. Dolf was ingeskryf vir ’n onderwysdiploma. Vasti het gedink hy het eksamentoelating.
“My ma het my nodig, Vasti. As ek net dink aan al die opofferinge wat sy vir my gemaak het ná my vark van ’n pa soos ’n sleg ding weggeloop het. Asseblief, as jy enige medemenslikheid in jou het, sal jy saam met my gaan.”
Sy het soos ’n luis gevoel dat sy haar studies bo ’n man in nood en sy sterwende ma wou stel. Die uiteinde was dat hulle net ná haar vraestel die Vrydagoggend Daniëlsvlei toe sou ry en hy haar die Maandagoggend baie vroeg sou terugbring. Met trane in sy oë het hy haar bedank en gevra dat sy net nie sy ma moet laat agterkom Vasti weet sy is sterwend nie. Sy is so ’n trotse vrou.
As sy toe geweet het Dolf lieg oor sy ma se siekte, sou sy dalk vir die tannie gesê het wat die Sondagaand gebeur het, maar hoe sê jy vir ’n ma dat jy haar snikkende seun probeer troos het en toe misbruik is? Hoe laai ’n mens so iets op ’n “sterwende” af?
Dit kon Dolf min skeel toe sy die kalender weer eens benoud begin dophou het. Sy het nie geweet hy sien angstig daarna uit om ’n laaitie van sy eie te hê nie. Sodat hy ’n pa kan wees. Een wat vir sy kind sal omgee en hom nie sal weggooi soos sy pa met hom gedoen het nie.
Dat hy gedink het hy sou daartoe in staat wees om ’n goeie pa te wees, kan sy net toeskryf aan ’n verheerlikte siening van homself.
Ongelukkig het sy goeie rede gehad om bekommerd te wees.
2
“Ek sien jy het my gebel, Dawid? Jammer ek kon nie netnou die oproep neem nie, maar ek is nou tussen twee kliënte.”
“In die haak, Stiaan. Ek het ook nou ’n blaaskans.” Dawid wik en weeg of hy moet voortgaan, maar hy is werklik bekommerd oor Vasti. Hy het haar vanoggend skaars herken. Toe hy haar laas gesien het, was sy was so oorgewig dat dit aan obesiteit gegrens het. Vanoggend lyk sy amper uitgeteer.
“Dawid?” Stiaan klink effens ongeduldig.
“Vasti de Leeuw, die vrou oor wie ek jou vanoggend gebel het. Dit sal miskien goed wees as ek jou ’n bietjie agtergrond gee. Ek weet nie op hoeveel samewerking mens van haar kant af kan staatmaak nie. Sy was baie onwillig om na jou toe te gaan.”
“Ja?” Hy kan Stiaan amper hoor frons.
“Sy is neerslagtig, slaap sleg, kry hoofpyne. Geweldig baie gewig verloor. Sy het pas hierheen teruggetrek van die noorde af. Klink my sy is deur hel die afgelope jare.” En Dawid Benade het nie ’n vinger gelig om haar te help nie, haar net een keer na haar pa op Leeuwendrift geneem, maar daar het hy haar vir die soveelste keer in die steek gelaat toe haar pa haar wegjaag. Maar dit sê Dawid liewer nie.
“Van ’n gemeenskaplike vriendin hoor ek Vasti se eks stalk haar vandat sy hom sewe jaar gelede finaal verlaat het. Sy het hom glo vir die afgelope twee jaar sedert hulle egskeiding afgeskud, maar laas maand het hy haar weer opgespoor en haar meenthuis by Hartbeespoortdam verrinneweer. Wel, dit was vermoedelik hy. Daar was nie bewyse nie.
“En vanoggend daag sy by my spreekkamer op nadat ek haar laas met haar pa se begrafnis gesien het.” Hy huiwer. “Ek dink daar lê deel van haar probleem. Haar pa was ’n moeilike ou man. Sy plaas onder hom uitgesuip.”
“Sondes van die vaders.” Stiaan klik sy tong simpatiek. “Maar Dawid, ek is seker sy sal op haar tyd hieroor