Koos Bredell se kerk en die dorp wat daar rondom opgeskiet het, het floreer terwyl Leo de Leeuw se kleiner, minder spoggerige kerk sy lidmate en inwoners maar hinkepink bymekaargeroep het. Van die tweeling het die vet broer vetter geword, die maer sustertjie het maer gebly.
Of so was dit altyd. Tye het verander sedert haar pa haar dertien jaar gelede hier weggejaag het. Leeuwendrift het van ’n nederige vaal kuiken tot ’n bont verbeeldingsvoël ontwikkel. Dit het sy twee jaar gelede agtergekom toe sy laas hier was. Wie sou kon dink die versameling armgat-huisies met hulle groentetuine, en hier en daar ’n bedding met leeubekkies, jakobregoppe en stokrose, sou in ’n kunstenaarsdorp ontluik? Dat dit ’n bestemming sou word pleks van die gehuggie wat die reisiger laat moed skep bloot omdat Bredellsdorp nou naby is.
Haar pa was op sy laaste, maar dit het hom nie gekeer om gal te braak oor die “art farts” wat Leeuwendrift kom oorneem het nie, of om die jappies af te kraak wat Bredellsdorp se rykmansbuurt, De Koppe, betrek het nie.
“Spul idiote met vet beursies en leë breinselle. Kom kastig afskaal, maar ek hoor dis net jacuzzi’s en four-by-fours waar jy kyk. En dan praat ek nie eens van die hoerery wat glo daar aangaan nie,” het hy haar ingelig tussen teue suurstof wat hy moeisaam uit die silinder langs sy bed na sy verskrompelde longe probeer kanaliseer het.
Gelukkig hoef sy haar net by Leeuwendrift te bepaal. Wat by De Koppe aangaan, het met haar niks te doen nie. Vasti teken haar naam en sit die voltooide vorm op die ontvangstoonbank neer. Die ontvangsdame is in gesprek op die foon. Vasti is nie seker of dit nog dieselfde oproep is of ’n nuwe nie. Sy gaan sit weer, dié keer met die eerste van die vraelyste in die hand.
Antwoord asb. die vrae so eerlik moontlik. Alle inligting sal as streng vertroulik beskou word. So eerlik moontlik. Beteken dit sy kan maar ’n bietjie lieg ook? Haar oë tas die vrae af, haak dan vas by een. Omskryf kortliks u verhouding met u ouers.
Sy kyk na die paar reëls wat toegelaat is vir die antwoord. Die pen rol weer oor die skryfknobbel van haar middelvinger. Haar ma. Sagsinnig. Toegeeflik. Onderdanig. Die onseker buffer tussen Vasti en haar pa.
Verhouding met moeder goed tot haar oorlye toe ek dertien was, skryf sy op die eerste reël. Oorlye. Hoe formeel. En hoe oninsiggewend. ’n Woord soos oorlye laat mens nie vermoed die oorledene het op ’n snikhete Januariemiddag van ’n trekker afgeval en is toe in die koringland ingeploeg nie. Met haar man agter die stuur.
Vader veeleisend, streng, dominerend, skryf sy verder. ’n Control freak, dink sy, maar skryf dit nie. Ook nie dat hy hom ná sy vrou se dood aan drank oorgegee en verstommend vinnig daarin geslaag het om die familieplaas onder sy gat uit te suip nie. Verhouding met hom gespanne, maar het verbeter kort voor sy dood twee jaar gelede. Effens, sou sy kon byvoeg, en waarskynlik ook maar net omdat dit enkele dae voor sy dood was.
“Ek het jou onterf, maar nou het jy gekom,” was sy groet vanuit die bed in die skemer kamer wat na medisyne, oumenslyf en sweterige skoene geruik het. Haar ouma aan moederskant se huis was al wat oorgebly het nadat Zoete Weide in haar tweede jaar op universiteit onder die hamer gekom het, dus was dit nie ’n ramp om onterf te wees nie.
Van die prentjie wat Vasti vaagweg uit haar laerskooldae onthou, een van ’n stewige kliphuis onder die bloekombome, met sy mooi blomtuin en netjiese groentetuin waar meer son was, was daar min oor. Die huis is seker nog stewig, maar die res het vergaan. Eers danksy huurders, later danksy haar pa wat nie ’n vinger verroer het om verdere verval en verwaarlosing te voorkom nie.
Net die rivier, ’n klipgooi van die huis af, het stil, diep en onveranderd sy seisoenale gang bly gaan. Dieselfde rivier wat deur Zoete Weide sy kronkels en draaie maak en Bredellsdorp omseil voor dit net anderkant Vogelbaai in ’n strandmeer uitmond. Wanneer die jaarlikse vloede kom, spoel die duin tussen die strandmeer en die see weg. Soutwater stoot op en rivierwater stroom die see binne. ’n Nuwe siklus begin.
“Dawid het laat weet Pa is siek en weier om hospitaal toe te gaan.” Sy het onwennig langs die bed bly staan. Gegril vir die bevlekte stoel langsaan. Gewonder hoekom Dawid so lank geneem het om haar in te lig. Al het hy geweet sy en haar pa het meer as ’n dekade nie met mekaar gepraat nie. Al was hy by toe haar pa haar soos ’n brandsiek hond weggejaag het. Al het sy en Dawid jare lank nie meer kontak gehad nie.
“Ek gaan g’n tussen ’n spul vreemdes lê en vrek nie. My eie bed is goed genoeg om in te slaap en dis goed genoeg om in dood te gaan ook.”
Sy kon nie ontken dat hy sterwend was nie. Al het Dawid haar nie gesê nie, sou sy dit kon aflei uit die ingesonke wange, die verkrimpte liggaam van ’n eens forse man. Maar veral in die wete wat uitgespel was in die oë wat so flets geword het. Oë wat kon intimideer, ’n vernietigende kyk kon gee, ’n mens aan die binnekant kon laat verdor tot die pateet wat Leon de Leeuw gedink het jy is, het oë geword wat bebliksemd erken: Die einde is in sig.
“Meneer Smit?” Vasti ruk terug tot die hede toe die ontvangsdame se stem die stilte verbreek. Die deur na die gang klik agter iemand toe. Sy het nie agtergekom ’n pasiënt het uit die spreekkamer gekom en plek gemaak het vir wie meneer Smit ook al mag wees nie.
“Meneer Smit?” herhaal die ontvangsdame. “U kan maar deurgaan.”
Die man met die vaal hare en geboë skouers kom stadig orent. Niks aan hom is merkwaardig nie. Hy het nie ’n skerp neus of ’n groot mond wat as onderskeidende kenmerk kan dien nie. Hy sal moeilik skilder.
Sy kyk terloops in die rigting van die ander man wat steeds sit, probeer vergeefs ’n naam vind vir die dofrooi kleur van sy hare wat styl om die bleek sproetbesaaide gesig hang. Sy lippe is effens vlesig onder die yl snor waarin die oranje pigment effens sterker aangemaak is. Vir hom wíl sy nie skilder nie.
Vasti trek halfpad deur ’n vraelys wat DASS21 gemerk is en waarop sy op ’n skaal van nul tot drie moet aandui hoe haar gemoedstoestand die afgelope week was, toe die vaalman uitkom.
“Meneer Dreyer?” kom die ontvangsdame se stem oomblikke later.
Die roesman knik en staan op. Sy klere sit sakkerig aan hom asof hy, soos sy, onlangs heelwat gewig verloor het. Is gewigsverlies ’n teken dat mens aan die mal word is?
Sy buig haar kop en lees die tiende punt: Ek het gevoel ek het niks om na uit te sien nie. Ingedagte omkring sy die hoogste telling. Sy kyk geïrriteerd na die verklaring van die telling: Is baie van toepassing of meeste van die tyd. Sy wens sy kon die omkringing Tipp-Ex. Selfs as sy dit doodkrap, sal dit verklap wat haar eerste, instinktiewe reaksie was.
Haar antwoord is waar wat die afgelope week betref, ja, maar net sedert die vandalisme. Nie in die twee jaar wat dit voorafgegaan het nie. Sy het juis weer begin moed kry, asem skep, haar ekwilibrium begin vind.
Maar in die jare voor sy Dolf afgeskud gekry het, voor sy Harties toe getrek het?
Sy kan nie onthou wanneer sy ophou uitsien het na wat die toekoms kan oplewer nie, maar sy weet waar die motoriese moment lê. Die een oomblik waar die skeiding gemaak is tussen wat was en wat daarna gekom het. Mens sou dink dit was die dag van haar ma se dood. Of dalk die dag toe sy gehoor het Zoete Weide gaan opgeveil word. Maar dit was nie.
Sy het dit nie destyds besef nie, maar dit was die dag toe Dolf haar eers opgevry en toe in ’n buitekamertjie op die kampus ingemaneuvreer het.
Haar ma het kort voor haar dood die biologiese proses van seks aan Vasti verduidelik. Dit was in die Desember van haar standerdvyfjaar. Detail was daar nie, net die broodnodigste fisiologiese werkinge. Dit het vir haar min sin gemaak. Veral omdat sy nie kon glo dat dit wat haar ma verduidelik het, tussen ma Truida en haar pa kon plaasvind nie.
Vasti kan nie eens onthou dat haar pa ooit haar ma se hand vasgehou of haar ’n drukkie gegee het nie. Groet was