Labirint. Chanette Paul. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chanette Paul
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Триллеры
Год издания: 0
isbn: 9780795800450
Скачать книгу
die teensin by die gedagte aan ’n ander man tussen Gail se gespiere dye in sy libido begin wegsypel het, kon hy insien dat hulle só ten minste kon seker wees daar is so min moontlik reperkussies. Al die betrokkenes het dieselfde doel. Geen jaloerse mans of vrouens kan probleme veroorsaak nie. Hulle ruil maats met mekaar se volle medewete en toestemming.

      Dis net vir die pret, vir seksuele afwisseling, dit het niks met hulle emosionele verhouding uit te waai nie, het hy homself uiteindelik oortuig. En dis veiliger so met Aids wat maar altyd ’n vlermuis-skaduwee gooi oor quickies en one-night stands.

      Natuurlik was dit nie so maklik nie. Hy was jaloers, het bly wonder wat die ander man aan haar doen. En sy aan hom. Ry Gail ook die vreemde man soos Ben-Hur sy strydwa? Kry hý Gail uiteindelik versadig?

      Sy eerste ervaring as swinger het egter ook ’n verslawende opwinding ingehou. Die skamerige vrou in die oordadige kamer van die klub het orgasme ná orgasme onder sy bekwame hande, sy lyf bereik. Sy het hom snikkend verseker dat sy nog nooit voorheen so volkome en by herhaling gekom het nie. Dit was in so ’n kontras met die veeleisende, immer sekshonger Gail, hy het soos ’n herrese Valentino gevoel.

      Die klub het ’n gereelde instelling in hulle lewens geword. En toe, op ’n dag, kyk hy op van sy stinkhoutlessenaar in sy deftige kantoor en sien ’n nuwe kliënt in die deur staan.

      Hy kon haar vir ’n paar oomblikke net aanstaar. Die koperbruin hare was windverwaai, haar oë groot, onseker en die diep goue kleur van antieke amber. Daar was ’n weerloosheid in haar houding, ’n kwesbaarheid, soos ’n hond wat dikwels geskop word. Hy kon sien sy staan op die punt om te vlug.

      Hy het op sy afspraaklys gekyk en toe weer na haar. “Mevrou Verster?”

      Sy het geknik.

      “Kom sit gerus,” het hy genooi en na die besoekerstoel aan die oorkant van sy lessenaar gewys.

      Sy het ’n oomblik gehuiwer, toe tog nader gestap en op die punt van die stoel gaan sit. Haar hande het mekaar op haar skoot opgesoek en inmekaar begin wring. “Runa het gesê jy kan my help. Jy sal my dalk onthou van Bredellsdorp af. Vasti de Leeuw. Op skool was jy ’n jaar voor ons. En ek en Runa was kamermaats op universiteit. ” Haar stem was effens hees. “Ek wil van my man skei.”

      Hy het haar vaagweg onthou, maar glad nie herken nie. Hy het net geknik en gewag dat sy verder gaan.

      “Ek is bang vir hom. Ek het nie baie geld nie.” Sy het hom vertel van haar jare van hel. Sy het deurgaans effens uitasemrig gepraat, asof sy hiperventileer.

      Sy lewe was nooit weer dieselfde nie. Sy kliënte het hom begin irriteer met hulle gekibbel oor nietighede. Sy sekretaresse se petite lyfie, so in kontras met die enorme, wriemelende borsmaat, vermoedelik sonder die hulp van silikoon, het hom nie meer gefassineer nie. Hy het geen behoefte meer aan swing gehad nie en wanneer Gail hom omgepraat het, het hy hom verbeel dat dit Vasti onder hom was. Vasti wat kermgeluidjies maak terwyl hy die vreemde vrou liefkoos.

      Gail se seksuele veeleisendheid, haar ooraktiewe libido, het hom meer as vantevore omgekrap, maar die ou minderwaardigheidsgevoel het verander in ’n grimmigheid jeens haar. Gail kon hom nie meer raak nie. Hy kon nee sê wanneer sy hom in die middel van ’n onthaal na die kleedkamers wou sleep en hy kon haar smalende houding daarna ignoreer.

      Hy kon aan Vasti dink. Aan haar aardse vroulikheid. Daar was iets aan haar . . . daardie rare onskuld, ’n varsheid wat ondanks al haar probleme nooit verwelk het nie. Hy kon aan Vasti dink en skoner, helderder voel.

      Ná sy van Bela-Bela af Nylstroom toe is, het hulle kontak verloor. ’n Jaar later het hy besef die lewe wat hy en Gail het, is leeg en vreugdeloos. Sy werk het hom ook nie meer vervul nie. Die stad het sy vyand geword. Boonop het die eiendomsontwikkeling waarby hy betrokke was onder verdagte omstandighede deur die mat geval, en kort daarna het die klub toegemaak en is hulle gewaarsku dat iemand van buite aan die snuffel is. Swing is dalk nie teen die wet nie, maar nie een van hulle kon die verleentheid bekostig wat sou volg as hulle seksuele bedrywighede op die lappe sou kom nie.

      Dit was Gail wat voorgestel het hulle begin elders van voor af. Hy het saamgestem, maar toe hy voorstel hulle trek Bredellsdorp toe, het sy hom uitgelag. Met haar gewone skerpsinnigheid het sy besef hy wil die Bredellsdorpers wys dat die mechanic se seun van destyds iets geword het – al was dit teen daardie tyd duidelik dat dit nie sy eie sukses sal wees waarmee hy kan spog nie. Maar Gail was gelukkig finansieel so sterk soos altyd.

      Dit het ’n rukkie geneem om haar te oorreed om selfs net te kom kyk. Maar sy het uiteindelik geswig voor sy geneul. Die eiendomsagent het hierdie enorme, superluukse huis teen die hoogste residensiële deel van De Koppe vir hulle gewys en Gail het onmiddellik die moontlikhede ingesien. Hulle sal vier couples op ’n slag kan nooi om oor te bly. Elkeen in sy eie privaat suite en elke suite met sy eie jacuzzi.

      In die afgelope jaar het dit al drie keer gebeur. Volgens Gail elke keer ’n reusesukses. Die eerste keer het hulle swinger-vriende van Pretoria hier gehad. Teen die tyd dat sy die tweede naweek gereël het, het Gail egter reeds eendersdenkendes in De Koppe geïdentifiseer. ’n Groepie wat, soos hulle, uit die stad uit hierheen getrek het en lankal reeds maats uitruil, maar dit nog nooit op die skaal gedoen het waarin Gail uitblink nie.

      Om van Gail te skei is nie ’n opsie nie. Hy het heeltemal te gewoond geraak aan die lewenstyl wat die miljoene wat sy by haar ryk ma en regter-pa geërf het, moontlik maak. En nadat die ontwikkeling skeef geloop het, is hy pennieloos. Hy het vrede gemaak dat dit nou maar eenmaal die soort lewe is wat hom beskore is. Ook aan homself erken hy het vasgevang geraak in die erotiese opwinding wat in die verbreking van taboes lê.

      Só het hy gedink tot hy vanoggend weer vir Vasti gesien het. ’n Skraal Vasti met die borste van ’n godin. Sonder silikoonhulp. Hy het weer onthou hoe goed sy hom laat voel het. Hoe haar dankbaarheid vir elke bietjie hulp wat hy verleen het hom soos ’n held laat voel het. Hoe sy hom destyds weer kon laat glo aan dinge soos liefde, opregtheid, vriendskap. En tog was sy donkerder sy, soos altyd, al weer by.

      Van daardie eerste dag af het hy Vasti begeer soos hy nog nooit enige ander vrou begeer het nie, met ’n allesoorweldigende drang wat nie net sy liggaam aangetas het nie maar ook sy ego, sy oordeelsvermoë, sy siel selfs. By tye ook sy verstand. En nou is dit erger as ooit.

      Vasti lê lank wakker. Miskien is Runa reg. Miskien ís sy besig om te gly ná al die jare van kumulatiewe spanning, angs en woede.

      Sy sal Stiaan Sonnekus ’n kans gee. Sy sal môre die vraelyste gaan faks en kyk wat hy volgende Woensdag te sê het. En as dit lyk asof hy enigsins hierdie hok waarin sy haar bevind se tralies kan oopbuig, sal sy hom vertel van die stadige uitmergeling van die afgelope twee en twintig jaar wat begin het op daardie vervloekte dag toe sy Dolf Verster ontmoet het.

      Al was hy nie onaantreklik nie, het sy nie van hom gehou toe sy hom die eerste keer gesien het nie. Sy het met die koshuistrap afgekom en hom sien staan waar hy met die eerstejaar op telefoondiens gesels. Hulle het afgespreek dat hy haar ’n halfuur vroeër kom haal sodat hulle eers koffie op die Bult kan gaan drink om die ys te breek.

      Wat sy verwag het van die soort ou wat sal reageer op hulle primaria se versoek aan sy koshuis se huiskomitee om dates te werf vir eerstejaars omdat hulle verplig is om die Donkiedans by te woon, weet sy nie. Nie die room van die oes nie, maar ook nie iemand soos Dolf nie. Iets aan sy houding het haar gepla. Sy kon net nie haar vinger daarop lê nie. Net toe sy oorweeg om weer stilletjies met die trap op te gaan, het hy opgekyk asof haar huiwering sy aandag getrek het. Teen haar beterwete is sy tog ondertoe.

      “Hallo, Vasti.” Sy oë was bruin en blink in die neonlig van die kil voorportaal. Sy het hom nie as wellusteling herken nie, hoofsaaklik omdat sy in daardie stadium in haar lewe nog nooit self wellus ervaar het nie. Verlangens, ja, vreemde gewaarwordings in haar liggaam en soms ’n behoefte om aan haarself te raak, maar ongebreidelde wellus nog nooit nie. Nie eens as Dawid haar soen nie.

      Sy het geknik. “Hallo, jy moet Dolf wees.”

      “Einste. Die volunteer.” Sy oë het oor haar gegly. “ ’n Gelukkige een, al verstaan ek jy gaan vas uit met ’n ou op Kovsies en het net ’n date