Stiaan maak seker sy hare is netjies en trek sy baadjie aan. Hy glo nie daaraan om werk met plesier te meng nie, maar Deirdre het hom so mooi gevra om saam met haar na die kunsuitstalling te gaan, hy kon dit nie oor sy hart kry om te weier nie. Hy verwens egter sy ontvangsdame wat blykbaar nie eens besef sy het die protokol oortree met haar uitnodiging nie.
Deirdre is nuut op die dorp en voel seker vreemd, soos hy ook, maar hy is regtig nie lus vir die storie nie en hoop net nie daar is reperkussies nie. Hy sal maar kyk of hy dit kan kortknip. Hy is boonop moeg. Dit was ’n rowwe week. Veral op emosionele vlak.
Die afgelope paar maande het hy ’n lae profiel gehandhaaf. Eers probeer sien hoe dinge hier inmekaar steek. Te sien wie hy kan vertrou en wie nié. Dawid Benade is een van diegene wat hy kan vertrou, het hy agtergekom. ’n Standvastige man in ’n goeie huwelik. Dis hoekom hy die vriendskap op subtiele maniere aangewakker het, veral op die gholfbaan.
Sy halsoorkop besluit om hierheen te kom agter daardie vervloekte vrou aan, om die inligting uit haar te forseer indien nodig, was dalk nie so ’n slegte een nie. Benewens die dinge wat in De Koppe aangaan, is dit ’n rustige dorp met oorwegend goeie mense. Soos Dawid. Soos Deirdre wat vir hom goud werd is as ontvangsdame. Solank sy net nie muisneste oor hom kry nie. Dit sal nie deug nie.
Stiaan kyk op sy polshorlosie. Dis te vroeg om Deirdre te gaan oplaai, maar daar is net mooi genoeg tyd om te gaan uitvind of sy vermoedens reg is. Tot dusver het hy nie geweet hoe hy die saak moet benader nie, nou gee die uitnodiging wat Woensdag aan hom gerig is hom die perfekte verskoning en invalshoek.
Dis tyd om die monster in die oë te staar. Letterlik en figuurlik. Tyd dat hierdie ding tot ’n einde kom sodat hy rus vir sy gemoed kan kry. Kan probeer konsentreer op die toekoms, eerder as die verlede.
“Een aand tuis en sonder mense, dis al wat ek vra, Heleen.” Dawid vroetel met die knoop van sy das en probeer in die spieël sien wat hy verkeerd gedoen het. Hy is al klaar ergerlik omdat hy in die gastebadkamer moes gaan stort aangesien Heleen, soos altyd, wie weet hoe lank in die bad lê.
“Dis ’n belangrike sosiale gebeurtenis, Dawid. Buitendien gaan ’n persentasie van die opbrengs na die Mandela Kinderfonds. Dis tog vir ’n goeie doel.” Agter hom kom Heleen met ’n oorredende glimlag uit die badkamer gestap. Sy het net ’n handdoek om die lyf en haar asblonde hare hang nat tot op haar skouers.
“En nou? Ek dag die ding begin halfses? Jy gaan mos laat wees?”
“Halfsewe, professor Verstrooid. Buitendien, Runa het so mooi gevra. My selfs gebel om seker te maak ons het die uitnodiging gekry.”
“Runa misbruik haar vriende en hulle gades gruwelik. Ons het al klaar nie genoeg mure vir al die skilderye nie. Ek koop nie nog nie.” Dawid pluk die das los. “En Runa weet maar alte goed hoe ’n waardevolle klant jy is. Moenie sentimenteel raak oor kunsagente en galeryeienaars nie. Ook maar net smouse. Hoe ver Runa reg is oor die beleggingswaarde van die goed, is ook maar ’n bietjie te bevraagteken. En watse geneuk is dit met dasse?” Heleen se vriendskap met Runa is vir hom onverklaarbaar. Nes haar vriendskap met daardie sekskat wat aërobiese klasse by die gym aanbied. Dis vandat die Gail-vrou daar begin het dat Heleen daagliks by die gym boer en ook kort-kort De Koppe toe gaan.
Hy hoop nou net nie sy kry ’n bevlieging dat hulle sy pa se ou maar gerieflike dubbelverdieping moet verruil vir een van daardie jappie-monsters wat deel uitmaak van die De Koppe-ontwikkeling nie. Hy hoop veral Stiaan Sonnekus het daardie vroumens verkeerd verstaan, dat hy die voorval waarvan hy Dawid vanoggend op die gholfbaan vertel het, verkeerd gelees het.
Gawe ou, die Stiaan. En tog is daar iets aan hom wat Dawid hinder. ’n Onderlangse broeierigheid. En dis al asof Stiaan mens nooit heeltemal vas in die oë kyk nie.
Heleen draai hom aan die skouer om en neem die das uit sy hande. “Bedaar. As die ander mans nie dasse aanhet nie, kan jy mos joune afhaal. Ek dink net dit gaan formelerig wees. En ek het nie gesê ons moet gaan om te koop nie. As ons egter iets sien wat ’n goeie belegging is . . . O, en terloops, ek gaan iets anders uitsoek in ruil vir daardie skildery van jou gewese meisie wat in die eetkamer hang. Runa het mos voorheen al vir my goed geruil. Sy sal nie omgee nie.”
“Maar jy het dit dan nou die dag eers gekry? En ek hou van die skildery. Dis anders as haar ander,” brom hy. Vasti mag wees wat sy wil, maar ’n goeie skilder, dié is sy. Al is hy nie mal oor die soetsappige goed wat sy die afgelope paar jaar doen nie. Hy kan egter nogal glo dié spesifieke skildery kan ’n belegging wees. Daar is niks sentimenteels aan nie. Inteendeel.
Heleen glimlag skalks en trek sy kop met die das nader. “Ek is jaloers elke keer as ek dit raaksien en onthou julle het uitgegaan.”
“Ons kom dan omtrent nooit in die eetkamer vandat ons die kuierkamer aangebou het nie. Ek het al gewonder of jy die skildery probeer wegsteek.”
“Dis die ander ding. Die tema is bietjie kontroversieel, dink jy nie so nie?” Hy glimlag teensinnig toe Heleen haar neus speels teen syne vryf en sy das met bekwame vingers knoop. “Ek sal iets anders kry waarvan ons albei hou.”
Dawid teug die sagte geur van haar parfuum in. “Jy ruik lekker.”
Heleen glimlag en gee die knoop ’n laaste plukkie. “So ja.”
“Ek kan aan veel beter dinge dink om te doen as om na kunsuitstallings te gaan,” mor hy en trek haar teen hom vas.
Sy leun teen hom. “Ons kan mos vroeg terugkom,” murmel sy teen sy nek. “Daar is juis ’n bottel sjampanje in die yskas.”
“Belofte?” Hy is verras. Heleen is nie baie entoesiasties oor die lyfliker sy van die huwelik nie. ’n Siniese deel van hom wonder of sy hom nie sag maak vir ’n groot aankoop nie.
Heleen kyk op en glimlag. “Belofte.”
“Ek gaan jou daarby hou.” Hulle lippe ontmoet, maar sy laat nie toe dat dit verder gaan as ’n sagtelipsoen nie. “Reg, ek gaan kyk of ek bietjie kan opvang met vandag se sportdinge aangesien ek nou so vroeg klaar is.”
“Ek hoop jy het jou tjekboek van die spreekkamer af saamgebring?”
Dawid kreun. “Heleen . . .”
“Net ingeval!” Sy pruil haar mond.
“Ons kan by die spreekkamer aangaan op pad uitstalling toe.”
Heleen kyk op haar horlosie. “Daar is nog heeltemal genoeg tyd vir jou om dit te gaan haal, maar ek moet nog my hare droogblaas en aantrek, en ek wil nie laat daar aankom nie. Eerder ’n bietjie vroeër sodat ek kan besluit waarvoor ek daardie skildery kan ruil voor die beste goed opgeraap word. Tensy jy jou kredietkaart wil gebruik.”
Hy trek vir haar skewegesig. Sy weet baie goed hy haat kredietkaarte. Veral nadat syne ’n ruk terug gesteel is en hy hom amper ’n hele gemors op die lyf geloop het. Gelukkig het hy gou agtergekom dis weg en dit dadelik gekanselleer.
“Pretty please?” Heleen kantel haar kop guitig.
Hy sug net gelate en knyp haar wang. Bye-bye, sportkanaal. Maar as Heleen by haar belofte hou, is dit dalk die moeite werd. Dawid tel sy motorsleutels op, verander dan van besluit en vat hare.
Hy kan sommer van die geleentheid gebruik maak om die water en olie te laat nagaan. O ja, en die bande. Wat mens nie alles vir ’n knippie sal doen nie.
Vasti kan haarself skop toe sy sien hoe laat dit geword het. Dit kom nou van draal wanneer jy dink jy het meer as genoeg tyd. Dis al net ná ses, en sy wou graag vroeg by die uitstalling wees sodat sy haar kan vergewis van waar Runa haar skilderye gehang het en watter sy gekies het. Sy wil nie hê die ouer skilderye moet langs die nuwes hang nie.
Sy is al by die verroeste hek toe sy besef sy het haar selfoon vergeet. Met ’n gefrustreerde uitroep ry sy na die grootpad, draai en ry weer oor die sinkplaat en slaggate terug. Nou gaan sy beslis laat wees.
Sy kry die selfoon in die kombuis langs die toebroodjie wat sy half geëet en toe van vergeet het. Sy gril haar morsdood toe sy twee brommers op die ham sien sit,