Sy droog die palet met ’n hand vol papierhanddoeke af en skud die kwasse uit voordat sy hulle punte weer met haar vingerpunte vorm. Sy maak hulle met die kwaspunte na bo in ’n leë koffiebottel staan om droog te word en skink vir haar van die wyn wat die vorige aand oorgebly het voordat sy na die sitkamer deurstap.
Al wat sy kan doen, is wag en sien wat gaan gebeur. Ten minste is daar nou nog ’n skildery klaar. Iets om agter te laat as Dolf haar van die gras af maak, veilig toegesluit sodat hy nie sy hande daarop kan lê nie.
Vasti bekyk die boekrak takserend, skuif die enkele kunsboeke wat reeds daarin is na die heel onderste rak om plek te maak en sleep een van die swaar kartondose nader. Sy gaan sit kruisbeen op die mat en begin die boeke volgens onderwerp in stapeltjies om haar pak. Daarna alfabetiseer sy die stapeltjies voordat die boeke staanplek in die boekrak kry en sy die volgende boks nadertrek.
Sy wil die laaste paar boeke in die rak in skuif toe daar ’n handvol foto’s uit een van hulle fladder. Vasti glimlag suur. Die boonste foto is in die helfte geskeur en toe met kleeflint aanmekaar vasgeplak. Die kleeflint het vergeel en hou die twee stukke foto met moeite bymekaar. Sy en Dawid lyk so verskriklik jonk op die foto, maar dit is darem ook al meer as twee dekades gelede geneem.
Net ’n maand of wat voordat hy onverwags met haar uitgemaak het. Sy was verward en seergemaak, veral toe sy agterkom hy glo die storie dat sy ’n maklike meisie is en sê haar daaroor af.
“Hoe kan ek ’n maklike meisie wees as ek nog ’n virgin is, Dawid!” het sy uitgeroep.
Hy het haar net met afkeer aangekyk en sy kop geskud. “Ek is nie ’n idioot nie, Vasti. Ek weet wat mens alles kan aanvang sonder dat jou maagdevlies iets oorkom.”
Sy het nie die vaagste benul gehad waarvan hy praat nie.
Die volgende jaar toe sy terug is universiteit toe, was Dolf daar om te troos. Vir ’n paar maande het hy daarin geslaag om sy blink kant vir haar te wys. Stadigaan het die ergste seer oor Dawid afgestomp geraak. Nooit weggegaan nie, net versag. Sy het gedink Dolf glo haar dat sy nie ’n maklike meisie is nie. Dolf het geluister wanneer sy oor Dawid gepraat het, haar vasgehou wanneer sy gehuil het. Geleidelik het sy uit die moeras van haar eerste liefdesteleurstelling geklim. Sy het nooit oor Dolf gevoel soos oor Dawid nie, maar sy het haar verbeel sy is verlief op hom. Het haar sy liefkosings laat welgeval, selfs begin geniet. En toe gebeur daardie aand in die buitegeboutjie op die kampus.
Vasti kyk na die res van die foto’s. Tipiese universiteitsfoto’s van haar en Dolf en haar en Runa, selfs een van Runa en Dolf saam. Dit is geneem op die eerste en enigste aand wat die drie van hulle ooit saam uitgegaan het. Sy het gedink sy kan só Runa se agterdog teen hom opklaar, maar die twee het van die begin af geen ooghare vir mekaar gehad nie.
“Sy is ’n bitch en vrek lelik boonop,” was Dolf se reaksie ná daardie aand. Hy het geweier dat Runa ooit weer saam met hulle uitgaan. Nie dat Runa in elk geval hoegenaamd wou nie.
Daarna moes Vasti byna daagliks hoor hoe die een die ander afkraak, soms met rede en soms daarsonder. Dolf is ’n vark en ’n liegbek. Runa is ’n teef. Dolf is ’n psigopaat. Runa het ’n gesplete persoonlikheid. Só kon hulle aan en aan gaan totdat Vasti dit nie meer kon hou nie en haar ore begin toedruk het wanneer die een oor die ander begin kla.
Vasti bekyk die foto van naderby. Runa en Dolf staan elkeen met ’n bier in die hand. Daar is nie ’n poging tot ’n glimlag by enigeen te bespeur nie – aggressie duidelik leesbaar uit albei se lyftaal. Vasti skud haar kop. As sy maar na Runa geluister het.
Die skril lui van die foon laat haar vervaard opkyk. Sy voel die angs warm om haar hart vou terwyl sy wag dat die persoon begin praat.
“Vasti? Runa hier. Is jy daar?”
Vasti spring op en gryp na die gehoorbuis. “Runa! Hallo.”
“Hi. Ek wil jou net aan die uitstalling herinner. Die opening is vanaand. Halfsewe vir seweuur. En ek vat nie nee vir ’n antwoord nie. Jy sál hier wees. Ek het spesiaal van jou nuwer goed prominensie gegee.”
Vasti huiwer ’n oomblik. Sy haat dit om in die donker te ry en sy is nie lus vir ’n uitstalling, vir mense nie. Veral nie Bredellsdorp se mense nie. Maar Runa probeer haar nuwer werk akkommodeer. En sy is bereid om haar ernstiger werk te probeer verkoop, al is dit nie haar mark nie. Hoe kan sy nou nee sê? “Oukei,” gee sy bes. “Ek sal daar wees.”
Vasti kyk op haar horlosie nadat sy afgelui het. Gelukkig is daar nog hope tyd. Genoeg vir hare was ook. En sy moet iets eet voor sy gaan. Soos sy Runa ken, sal daar meer wyn as kaas wees. Kaas laat mense nie skilderye koop nie.
“Jy weet hoe ek oor sulke boring geleenthede voel, Nicholl. Buitendien, ek het ’n masseur bespreek en daarna kom ’n vrou vir my tarotkaarte lees. Gaan gerus alleen as jy so graag wil gaan. Moet net nie die patiodeur sluit nie en dit sal baie gaaf wees as jy my nie gedurende die massering steur nie.” Gail lê skuins teen die kussings van haar bed, haar een been opgetrek en soos altyd gemaklik met haar naaktheid.
Te danke aan ’n Japannese voorsaat, haar oumagrootjie as hy reg onthou, kom Oos en Wes ietwat onwennig in haar gelaatstrekke bymekaar. Daar is egter nie ’n geisja wat nie haar beste obi sal verruil vir Gail se lyf nie. En tog laat sy hom koud. Selfs die onthaarde skaamlippe.
“Runa het per foon bevestig dat ons kom.”
“Sy sal my nie mis nie, glo my.”
Nicholl haal sy skouers op. “Wel, ek kan nie nou kop uittrek nie.” Hy kyk op sy horlosie. Vyfuur. “Nou ja, laat ek aan die gang kom. Die uitnodiging sê halfsewe vir seweuur en ek wil nog so ’n bietjie yster pomp en kyk wat op die sportkanale aangaan.” Hy draai weg, maar Gail se stem roep hom tot stilstand.
“Dit maak my skoon jags om te dink jy doen soveel moeite net om Vasti de Leeuw te sien. Jou spiertjies vir haar wil tone.”
Hy kyk ergerlik oor sy skouer. Gail se mond trek ’n spottende boog.
“Hoekom bring jy haar nie een aand saam huis toe nie? Ons het lank laas ’n ménage à trois gereël.”
’n Versengende woede trek deur Nicholl. Hy swaai om en kyk Gail met skrefiesoë aan. “Jy hou jou hande en jou mond van Vasti af. Moenie eens haar naam noem nie, jy besoedel haar net.”
Gail lig haar wenkbroue. “Touchy, touchy!” Sy leun vorentoe. “Onthou net, niemand wat met Dolf Verster getroud was, kan meer die maagd Maria wees nie. Dit behoort jy so goed soos ek te weet.”
Nicholl voel ineens moeg en oud. Lewensat. “Vasti weet nou nog nie van Dolf se manewales nie en sy sou nooit meegedoen het nie.”
“Nee, jy wou haar mos die wete spaar hoe haar eksman sy vrye tyd bestee. Maar hoe seker kan jy daarvan wees sy het nie meegedoen toe hy nog nie haar eks was nie?”
“Ek is seker, Gail. Vasti is nie die tipe vrou wat sal swing nie.” Hy draai weer weg. Hy wil in sy eie suite kom. Wegkom van Gail en die reuk van seks wat nog in die vertrek hang. “En ek wil nie Vasti de Leeuw verder met jou bespreek nie.”
Gail lag kras. “Sy is miskien te heilig om in klubs te swing, maar moenie dink sy het nie rondgeloop nie. Jou Vasti is net so min onbesoedel as ek, my dier.”
Nicholl verstar op die drumpel van die kamerdeur. “Wat bedoel jy?”
Die bed kraak toe Gail opstaan en haar selfoon van die bedkassie af optel. “Jy wil dan nie vir Vasti de Leeuw met my bespreek en haar só besoedel nie?” Die glasdeur wat na die glasbeskutte patio lei, knars effens toe sy dit oopskuif. “Vind maar self uit, my klong.” Die deur gly toe en verdof haar spottende laggie.
Oomblikke later hoor hy die jacuzzi, verskuil agter boomvarings en waaierpalms, se spuite aan die gang kom.
Nicholl kners op sy tande. As Gail maar weet hoe gatvol hy vir haar is. As hy net nie al sy geld in daardie laaste eiendomsontwikkeling verloor het nie, het hy haar waaragtig geskei. Maar sy sal hom sonder ’n pennie die wêreld instuur. Nee, hy kan skei nie eens oorweeg nie.