Labirint. Chanette Paul. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chanette Paul
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Триллеры
Год издания: 0
isbn: 9780795800450
Скачать книгу
gebloos, want in Dolf se oë was daar spot asook iets anders. Iets wat sy toe nog nie herken het nie. Eers toe hy haar ná die dans probeer opvry het, het sy besef hy het nietemin verwag dit sou meer as ’n enkele vriendskaplike date wees. Dat hy in die eerste plek sy dienste aangebied het omdat hy gehoor het sy is maklik. En toe sy weier om opgevry te word, het dit hom eerder aangespoor as afgeskrik. Dit wat hy nie kan kry nie, het sy later uitgevind, het Dolf veel meer geboei as dit wat hom vrywillig aangebied is.

      Hoeveel hiervan wil sy bieg as sy na Sonnekus toe gaan? Sien sy regtig kans om alles weer op te rakel? Dit met ’n wildvreemde te deel? Sy draai op haar sy. Sy sal môre besluit.

      Stiaan word natgesweet wakker uit ’n nagmerrie. Hy voel outomaties langs hom in die dubbelbed na sy vrou se liggaam. Die lakens is koud en ongekreukel aan haar kant. Dan onthou hy.

      Hy onthou Lillian se kompakte figuurtjie, haar lang swart hare en die koepels van haar wenkbroue. Hy onthou haar uitbundige lag en die blinkwit van haar tande. Hy onthou die glimlag om die lippe wat, soos haar naels, altyd bloedrooi geverf was.

      Stiaan voel die pyn fisiek deur hom ruk en wonder of dit ooit sal beter word.

      Hoe durf hy ander mense probeer help om hulle lewe in orde te kry as hy dit self nie regkry nie? Hoe durf hy vir ’n kliënt sê hy kan haar help as sy bereid is om hard daaraan te werk? En intussen kan hy homself nie eens help nie. Net so min as wat hy sy vrou en dogter kon help. En net so min as wat hy sy dooie makkers daar by die Calueque-damwal kon help.

      Ledemate het wydversprei gelê. Die liggaamlose kop van sy beste vriend reg langs hom. Met sy verpletterde been vasgepen, het Stiaan net aan die gil gegaan totdat iemand uiteindelik ’n naald in sy arm gedruk en die verskriklike werklikheid om hom verdwyn het. Maar dit was net tydelik.

      Hoe het hy durf dink dat hy daarna ’n normale lewe kan lei? Kan trou en ’n gelukkige huwelik geniet? Lillian het hom jare lank ondersteun. Tot sy uiteindelik troos gaan soek het wat hy haar nie kon bied nie. En die “troos” wat sy gekry het, het haar vernietig. Sy kon nie met haar skuldgevoelens en die gevolge van haar daad saamleef nie.

      Voor sy geestesoog sien hy weer die geelbleek kleur van haar blas vel toe hy in die badkamer op haar afgekom het. Die verskriklike rooi van die bloed teen die wit van die bad. So baie bloed uit sulke skraal polse.

      In teenstelling met Liezl. Nie ’n druppel bloed nie, maar ook vir ewig onbereikbaar.

      Haar ontrouheid sou hy Lillian dalk nog kon vergewe het, maar nie haar selfmoord en veral nie dat sy Liezl met haar saamgeneem het nie. Nee, dit kan hy nie vergewe nie. Nie vir Lillian nie, maar veral nie daardie vervloekte vrou wat die oorsaak van alles was nie. Sou sy weet met hoe ’n fel haat sy gehaat word? Kon sy dit nie aanvoel toe sy by sy spreekkamer opgedaag het nie? En toe rig sy nog daardie godskreiende uitnodiging ook.

      Dit gun hom egter ’n voet in die deur, die geleentheid om haar vir inligting te melk. Al is hy amper seker sy vermoede is reg. Sy nuutste “kliënt” sal dit kan bevestig, maar daardie gesprek kan nie in sy spreekkamer plaasvind nie. Daarvoor het hulle ’n private tête-à-tête nodig.

      Sonnekus is so ’n optimistiese naam, het Vasti de Leeuw gesê. Daaraan het hy nie eens gedink toe hy sy ma se nooiensvan begin gebruik en van Pretoria af hierheen getrek het om agter die waarheid te kom nie.

      Dawid word wakker toe Heleen opstaan en badkamer toe stap. Hy luister na haar slaapdom bewegings in die donker, voel na ’n rukkie hoe die bed weer aan haar kant sak en luister hoe haar asemhaling feitlik onmiddellik weer egalig voortgaan waar sy opgehou het toe die natuur geroep het.

      Hy draai om op sy ander sy en maak sy oë toe. Hy het rus nodig hierdie komende naweek. Die praktyk eis sy tol. Hopelik het Heleen nie weer ’n menigte mense oorgenooi nie. Hy sal graag ’n bietjie alleentyd met haar wil spandeer. Hulle het nooit meer tyd om net te sit en gesels nie. Sy is deesdae amper ’n vreemdeling vir hom. Voortdurend op pad êrens heen. Deesdae veral na daardie simpel gym toe.

      Wat hom laat dink hy moet tog onthou om weer haar kar na te gaan. Sy is baie nalatig wat die water en olie betref. Hy sal ook moet kyk hoe lyk die bande. Hy kan nie eens onthou wanneer laas hy daarna opgelet het nie. En Heleen is geneig om te jaag, terwyl sy nie ’n wafferse bestuurder is nie. Dit help ook nie hy kapittel haar daaroor nie. Sy beloof hand en mond, ry vir ’n ruk versigtiger en dan is dit maar weer sulke tyd.

      Miskien moet hy daaraan dink om vir haar ’n nuwe kar te koop. Die Jetta is al amper vyf jaar oud. Maar dit gaan weer ’n relletjie afgee. Heleen kan so sentimenteel oor ’n kar wees en sy is skrikkerig vir nuwe modelle met al die elektroniese goed.

      En noudat hy daaraan dink, sy eie kar het ook binnekort weer ’n diens nodig. Dawid sug. Hy sal daaraan moet dink om ’n vennoot te kry.

      Dit sal hom nie net meer tyd by die huis gee nie. Dit sal hom ook die geleentheid gee om meer tyd aan sy pasiënte af te staan. Hy haat dit wanneer die pasiënte net soos ’n worsmasjien ingeryg by sy spreekkamer kom en gaan. Hy moes byvoorbeeld lankal vir Vasti opgevolg het. Hy hoop Stiaan kan haar help.

      Dawid draai op sy rug. Hy het soveel gemengde gevoelens oor haar. Aan die een kant voel hy nog altyd half skuldig teenoor Vasti. Sou haar lewe dalk beter verloop het as hy destyds bereid was om haar te sê waar sy ’n aborsie kon laat doen?

      Dit was nog onwettig, maar was hy werklik so teë op die aborsie self? Of was dit jaloesie? Gebore uit die woede teenoor Vasti wat hom nou nog bybly sedert sy hom met Dolf Verster verneuk het.

      Die dag toe hy Vasti se hotdog uit haar hand geloop het, het hy gedink die gode glimlag vir hom. Sy het nie besef hoe mooi sy is nie, miskien omdat sy effens oorgewig was. Of miskien omdat dit nie ’n gewone soort mooi is nie. Beslis nie popmooi nie.

      Daar is vroue wat ’n man se beskermingsdrang losmaak. Daar is vroue wat die lendene roer. Vroue wat met hulle misterie boei. Vasti het al hierdie eienskappe beërwe en dan nog daardie leeuin-oë waarin wie sy is en wie jy kan wees as jy haar guns wen, geheimsinnig vasgevang is. En tog was sy salig onbewus daarvan.

      Sy het ook nie besef hoe skerpsinnig sy is nie. Haar gebrek aan ydelheid, maar veral haar onskuld het hom gefassineer. Daarom kon hy nie glo toe Dolf Verster hom op ’n dag bel en sê hy is jammer hy het in Dawid se slaai gekrap deur haar na die Donkiedans te vergesel nie. Vasti, het die vent gesê, het nagelaat om hom in te lig sy gaan eintlik vas uit. Hy sal van nou af uit Vasti se pad bly. Hy wou net dinge regstel. Man tot man.

      Dawid sou haar dalk die geleentheid gegun het om haar kant van die saak te stel, maar die doodskoot was toe Dolf groet met: “Jy is voorwaar ’n gelukkige man. Ek dink nie ek het al ooit so ’n great blow-job gehad nie.”

      Hy was te verpletter, te verneder om die saak met Vasti te bespreek. Hy het haar net gevra wie Dolf Verster is. Sy het verduidelik van die verpligte koshuisdans. Dat sy saam met ’n blind date gegaan het, maar dit vooraf duidelik gemaak het dat sy reeds vas uitgaan. Sy het so onskuldig geklink. Hy wou glo die vent het gelieg, maar die agterdog het bly sit. En sy agterdog was gegrond, het hy agtergekom toe hy met ’n ompad uitgevind het in watter koshuis Verster was en hom gebel het. Dolf was nie daar nie, maar sy kamermaat het die oproep namens hom geneem.

      Toe Dawid hom voorstel, het die vent dadelik geweet wie hy is. “Hei, ou maat, ek hoop nie jy wil moeilikheid maak vir my roomie nie. Ou Dolfie sou nooit met jou girl gelol het as hy geweet het sy sleep eintlik vas nie, maar ek verstaan sy is hot. Regtig hot. Die dikketjies is mos altyd die vrygewigste en ’n man is nie ’n klip nie. Jy kan die man nie kwalik neem nie, nè. Hy sê hy het al sy dae om uit haar pad te bly en ek hoor hy is nie al een nie. Dis eintlik ’n jammerte ek sleep self vas.”

      Hy het ter wille van die eindeksamens wat kort ná die dans begin het, tot die Desembervakansie gewag voor hy met haar uitgemaak het. Sy het regtig verdwaas gelyk toe hy net gesê het hy deel nie sy meisie met ander mans nie en hy het nie tyd vir maklike meisies nie. Vasti het onskuld gepleit, maar dit het veral nie oortuig toe sy net ’n paar maande nadat Dawid met haar uitgemaak het, met Dolf begin vas uitgaan het nie.

      Hy het nog nooit vantevore iemand gehaat nie, maar daardie dag het haat in hom posgevat. En deur die jare, hoe swaarder Vasti