Dit sou soveel beter gewees het as hy Vasti net kon verfoei. As sy minagting gesuiwer was van hierdie diep verlange na ’n lewe wat kon gewees het.
Runa het hom op hoogte gehou van Vasti se handel en wandel. Hy het dus geweet hoe Verster haar lewe versuur het, ook ná hy haar daardie keer by die stasie gaan haal en na Leon de Leeuw toe geneem het. En tog was hy toe sy Maandag by hom opdaag tot in sy siel geskok. Hy kon sien haar sondes het haar ingehaal. Maar agter die donker kringe onder haar oë, die swaarkry wat uit haar hele wese gespreek het, sou hy ook blind gewees het om nie raak te sien dat sy nou mooier as ooit is nie. ’n Deurleefde, volwasse mooi.
Heleen kreun in haar slaap. Dawid draai weer op sy sy. Hy probeer doelbewus sy gedagtes leeg maak. As hy nou weer aan die verlede gaan lê en dink, slaap hy nie ’n snars verder nie en daar is tog geen jota of titteltjie wat hy daaraan kan verander nie.
Hy sal Vasti Maandag bel en net hoor hoe dit gaan. Die antidepressante behoort teen daardie tyd hulle werk te begin doen, al sal sy nog nie ’n noemenswaardige verskil voel nie. Hy het tog simpatie met haar, al weet hy sy het haar al die moeilikheid en ellende self op die hals gehaal. Hy verlekker hom nie daarin nie. Hy kan haar net nie vergewe dat sy iets wat mooi en suiwer was só vermink het dat die letsel nou nog in sy binneste sit nie. ’n Letsel waarmee Heleen nou moet saamleef.
Want ná Vasti se verraad kon hy nog nooit weer ’n vrou vertrou nie. Selfs nie vir Heleen nie. Al was Heleen ’n maagd op hulle huweliksnag. Al stel Heleen nie vreeslik belang in seks nie. Hy probeer daarteen stry, maar die agterdog bly. Veral oor daardie een naweek toe hy in Johannesburg was vir ’n konferensie en Heleen nie die landlyn geantwoord het nadat sy hom verseker het sy is by die huis nie.
Onlangs het hy by hulle buurman op Vogelbaai gehoor sy was by hulle strandhuis saam met ’n vriendin, maar hy het nog nie kans gehad om haar te vra waarom sy vir hom gejok het nie.
Net toe hy voel hy begin weer wegraak, wonder Dawid of die R. Verster wat ’n afspraak gemaak het om hom Vrydagmiddag te sien, familie is van die vark wat sy lewe so van koers af gegooi het. Maar nee, seker nie. Verster is ’n algemene van.
En hy moet nog eers deur Donderdag kom voor hy hom oor Vrydag kan bekommer. Die enigste rede waarom die afspraak hom opgeval het, was omdat die pasiënt baie puntenerig was oor die tyd. Sy ontvangsdame het eers met Dawid bevestig of dit in orde is, want dit moes drieuur wees en dit moes Vrydag wees. En dis vervlaks ongerieflik omdat sy ontvangsdame Vrydae al tweeuur loop. Maar hy het ingestem. Dis in elk geval eerder die reël as die uit-sondering dat hy nog tot lank ná twee pasiënte sien omdat hulle dikwels tussenin gedruk word.
Hy moet waaragtig ’n vennoot kry.
8
Vrydag 30 Maart
Dolf swets hardop toe hy oor ’n boomwortel struikel. Dis ook so donners donker hier op die oewer. Koud ook. Hoekom dit nou juis die beste sou wees om tot net voor middernag te wag en van die rivierkant af te kom, weet die hel alleen. Miskien oor die halwe maan. En daar is nie wolke nie. Die plantegroei op die wal sorg darem vir cover.
En dit is so dat die mense op die vakansieplaas nie eens sal agterkom hy is weg nie. Die chalet is te moer en gone weg van die huis en die ander chalets af. En môre groet hy die stupid eienaars ewe how-do-you-do, betaal kontant en niemand weet van beter nie. ’n Vals naam, kontantbetaling en ’n pruik en snor sal daarvoor sorg.
Uiteindelik sal hy ’n nuwe lewe kan begin. Een sonder die spook van die enigste vrou wat hom as volwasse man dom en minderwaardig kon laat voel. Aan homself kon laat twyfel. Sonder dat sy dit eens besef het. Maar nou is dit verby.
Selfs in die bietjie maanlig kan hy sien die huis is skaars meer as ’n krot. Sy verdien dit. Sy verdien elke ding wat in haar lewe skeef loop. En hy is gelukkig nie al een wat dit besef nie.
Om te dink hy moes vroeër vanjaar by ’n vroumens intrek om ’n dak oor sy kop te hê, terwyl Vasti al die tyd in daardie grênd meenthuis by Hartbeespoortdam gebly het. In die twee jaar wat sy van sy radar verdwyn het, het sy behoorlik vooruit geboer. ’n Kelim op die vloer. Goeie meubels. En al daardie mooi breekgoed. Hy wou toe al klaarmaak wat hy weet hy moet klaarmaak as hy uiteindelik rus vir sy siel wil kry. Maar toe is sy nie daar nie. Sy humeur het die oorhand gekry. En toe sy wel opdaag, was hy reeds weer buitekant.
Dit was seker dom om daardie klip na haar te gooi, maar dit was van woede en frustrasie. Daarna moes hy vinnig gat skoonmaak. Soos dit is, het hy net-net weggekom toe die bure alarm gemaak het. Hulle moes die glas hoor breek het, maar was gelukkig te banggat om ondersoek in te stel.
Maar nou kan hy uiteindelik die bek van die rewolwer in die hoer se gesig druk. Egskeiding se moer, Vasti is syne en sal altyd syne wees. Hy het haar ingebreek. Hy het haar mak gemaak. Hy sou haar dalk nog laat staan het as sy haar bene toegehou het, maar die gedagte dat ’n ander man was waar hy was, kan hy nie verdra nie. Hy wil haar nie meer hê ná wat hy vandag van haar en daardie fokker gehoor het nie, maar fok weet, ’n ander man sal haar ook nie kry nie. Veral nie daardie doos nie.
“Dolf!” Die uitroep is sag en die stem bekend, maar hy ruk van die skrik. Verdomp! Sy hand gaan na die rewolwer wat hy in die holte van sy rug agter in sy broek gedruk het.
“Hierso,” kom die fluistering.
Hy stap op die geritsel af, koes toe hy amper teen ’n boomtak vasloop. “Wat de fok maak jy hier?” fluister hy ergerlik terug.
“Jou dom drol.”
Dolf kyk om. Hoe kan die stem nou skielik van agter hom kom? Die geluid was . . .
Iets beweeg deur die lug. Hy koes instinktief, maar nie vinnig genoeg nie. Die hou teen sy agterkop is so hard dat sy knieë knak. Die volgende hou tref hom reg teen die voorkop. Die derde een ontplof teen sy slaap.
“Vrek, vark,” hoor hy voor hy by die rivierwal afgestamp word. Die water vou yskoud oor hom. Sy asem ruk onwillekeurig in en hy sluk ’n mondvol stink water net voor iets in hom afskakel.
Saterdag 31 Maart
Dis vroegmiddag toe Vasti vir oulaas terugstaan van die skildery af. Sy bestudeer dit ’n laaste keer voor sy dit na die kamer neem wat nou as stoor dien en daarin toesluit. Sy bêre die sleutel onder ’n Delft-windmeultjie wat hol is van binne en op die gang se boekrak staan. Toe eers neem sy haar kwasse en palet deur na die kombuis om dit vir ’n verandering behoorlik skoon te maak.
Sy is tevrede met die werk wat sy uitgerig gekry het. Vandag sal sy nie aan ’n nuwe doek begin nie, al roer ’n nuwe gedagte reeds die webbe van haar onderbewuste. Dis in elk geval nou heeltemal te warm. Die koel nag het vanoggend omgeswaai in bergwindhitte. ’n Asemlose, suurstoflose hitte.
Die Chagall-afdruk in Stiaan Sonnekus se spreekkamer wil haar nie los nie. Icarus en Daedalus bly by haar spook. Die storie van Ariadne en Theseus ook.
Daar is ’n paar van haar eie bokse met boeke wat nog uitgepak moet word. Sy kan dit net sowel vanmiddag doen en klaarkry, haar boek oor mitologie miskien opspoor. En haar kunsboeke ook. Sy wil weer ’n bietjie kyk na Picasso se minotaurus-etse. Die internet kan mens net so ver help.
Dis wonderlik om weer ’n mate van energie te hê. Twee nagte se slaap sonder die oormaat drome wat haar in haar minder goeie tye teister, het haar goed gedoen. Sy het haar wel laas nag oor ’n mik geskrik toe sy hier om en by twaalfuur wakker geword het van die oewervoëls wat begin tekere gaan het. Nadat hulle bedaar het, het sy egter verstommend gou weer aan die slaap geraak. Was waarskynlik ’n slang of ’n ding.
Sy het nog nie weer ’n Dolf-oproep gekry nie; óf hy het besluit om die aftog te blaas en met sy lewe aan te gaan, óf hy is aan die planne maak. Die gebrek aan oproepe is vir haar amper nog meer senutergend as die oproepe self. Noudat sy weet hy het haar opgespoor, kan sy haar daarteen staal dat hy