Labirint. Chanette Paul. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chanette Paul
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Триллеры
Год издания: 0
isbn: 9780795800450
Скачать книгу
Tassies.”

      “Sal moet doen.”

      Vasti kom terug, gee vir Runa een van die twee bottels Tassies wat sy met hierdie besoek in gedagte aangeskaf het en stap dan na die antwoordmasjien. Sy draai die bandjie terug. “Luister bietjie hier.” Sy skakel die masjien aan. Die geruis en toe die laggie.

      “En dit?” Runa frons, teug aan haar sigaret en druk dit dan dood in die asbak. “Wanneer het dit gebeur?”

      “Net voor jy gekom het, maar dis nou al die derde keer.”

      “Ek sê jou mos, daardie Dolf is so mal soos ’n donnerse haas. Jy moet hom laat opsluit, Vasti. Wat te erg is, is te erg.” Sy draai die prop hardhandig oop.

      “Ek weet nie of dit hy is nie, Runa. Maar daar was ’n ander oproep ook. Ek het die boodskap in ’n oomblik van woede uitgevee, maar dit was definitief hy. Hy het my dus weer opgespoor, maar ek gaan waaragtig nie weer vlug nie. Ek kan nie vir die res van my lewe van adres verander nie.” Vasti verras haarself met haar uitspraak. Sy het dit gedink, maar noudat sy dit hardop uitspreek, klink dit dapperder as wat sy voel.

      Runa skink die wyn in die glase wat reeds dof is van die vetterige vingermerke. “Maar as die ander nie Dolf is nie, wie dan?”

      Vasti trek haar skouers op en vat die glas by Runa. “Ek weet nie.” Sy begin die buitekant van die glas met ’n papierservet skoonvryf. “Ek weet regtig nie.”

      “Wie ken jou nuwe landlynnommer?” Runa steek nog ’n sigaret aan. “En by the way, ek soek hom ook.” Sy stoot haar sigaretboksie nader en haal ’n pen uit haar sak.

      “Dawid en die sielkundige het dit op hulle vorms. O, en Eben.” Vasti krabbel die nommer op die boksie neer.

      “En wie de hel is Eben, as ek mag vra?” Runa sluk fronsend aan die wyn.

      “My nuwe leerling. Ek moes hom die nommer gee sodat hy kan bel as hy sy klasse wil kanselleer. Maar dit was ná die eerste lag-oproep.” Vasti wonder of dit ’n goeie idee was om nog ’n bottel wyn oop te maak. Runa is geneig om maklik vertoorn te raak ná die derde glas.

      “Dis platteland, Vasti. Hy kon ’n pêl van ’n pêl se pa wat by Telkom werk gevra het wat die nommer van sy nuwe bure is nog voor jy dit vir hom gegee het.”

      “Hoekom my dan daarvoor vra?”

      “Who knows?” Runa strek haar bene voor haar uit. “Anyway, van wanneer af het jy privaat leerlinge? Jy het nog altyd net in groepe klasgegee en beslis nie van jou huis af nie.”

      “Van vanmiddag af, en hy is die buurkind. Dit maak net sin. En die geldjie sal help. Dit behoort darem daardie einste telefoonrekening te kan betaal. Maar die kind is ook baie talentvol. Miskien kan jy nog eendag sy goed smous.” Hoekom is sy op die verdediging?

      Runa knik. “Ek soek altyd nuwe talent. Maar daardie lag-oproepe hinder my steeds.” Sy grinnik. “Tensy dit jou shrink is wat jou toets. Of dalk maller wil maak sodat jy langer by hom boer.”

      “Dit betwyfel ek ten sterkste.” Vasti tol haar glas in die rondte. “Ek gaan in elk geval nie weer na hom toe nie.”

      Runa frons. “Hoekom nie?”

      Vasti trek haar skouers op. “Dis duur en ek kan nie die nut daarvan insien nie. Ek moet my situasie self verwerk. Ek kan nie heeltyd op mense leun nie. Dis al erg genoeg dat ek jou, en Nicholl ook, betrek by my probleme. Terloops, hy’t kom inloer.”

      “Hmm, Nicholl het gesê hy gaan ’n draai hier maak. Het jy hom vertel van die oproepe?”

      Vasti knik.

      Runa kyk haar peinsend aan. “Vasti, ek dink regtig jy moet teruggaan shrink toe. Ek en Nicholl kan jou net tot op ’n punt help. En jy het hulp nodig. Hulp wat ons jou nie kan gee nie.” Sy vermorsel die sigaret in die asbak.

      Vasti lag effens senuweeagtig. “Gits, Runa, jy laat dit klink asof ek op die punt staan om gesertifiseer te word.”

      Runa bring ’n vars sigaret na haar lippe. “Dis seker nie só erg nie.” Die silwer sigaretaansteker se vlam vou om die sigaret se punt. Runa blaas die rook uit en die vlam dood. “Maar jy is deur baie dinge, Vasti. En dit wys. Jy het baie verander. Nie alles ten goede nie, hoewel ek graag meer wil hoor van jou dieet.”

      “Natuurlik het ek verander. Dolf het my oor ’n lang tydperk emosioneel verrinneweer. Ek het nie ’n sielkundige nodig om dit vir my uit te stippel nie, maar dis nie te sê ek het terapie nodig nie. Ek kon nog altyd cope. Soos ek vir Nicholl ook gesê het, Dolf sal nie vir ewig met sy speletjies aanhou nie. Jy weet self hoe gou hy met ’n ding verveeld raak. Dit verstom my reeds dat hy nou weer hiermee begin het, maar dit sal einde kry sodra hy iemand meer permanent in sy lewe het. En soos ek gesê het, dit klink asof hy saam met iemand woon.”

      Runa trek haar skouers op. “Maybe, maar jy’t ’n knou weg en ’n sielkundige is jou beste bet om binne die kortste moontlike tyd reg te kom.” Sy sug. “Ek is bekommerd oor jou, ou girl. Jy tree soms heeltemal irrasioneel op en jou oorversigtigheid grens aan paranoia.” Sy beduie na die toe deure en vensters. “Kyk hoe leef jy. Jy antwoord nie ’n foon nie, jy kruip weg agter tralies en ek wed jou jy wil beswyk elke keer as daar iemand aan die deur klop. Jou hande is permanent aan die bewe. Jy wil vir elke bakatel aan die tjank gaan. Jou skilderye lyk asof dit in ’n looney bin geverf is.”

      Sy skud haar kop. “Dis nie normaal nie, Vasti. Ek kan dit verstaan in die omstandighede, maar dis definitief nie normaal nie.”

      Vasti kyk Runa gebelg aan. “Wat probeer jy sê, Runa?”

      Runa sit haar glas halfgedrink op die koffietafel neer en kom orent. “Ek probeer sê, gaan sien hierdie Stiaan Watsenaam. Jy het dit nodiger as wat jy dink. Miskien sal jy dan weer kan begin goed verf wat geld maak. Nag, Vasti.” Sonder meer kry sy koers voordeur toe. Vasti hoor hoe sy dit oopsluit, wag vir die klik dat dit toegaan, maar dit gebeur nie.

      Sy spring op. Vanuit die gang kyk sy hoe Runa na haar motor toe stap, hoor sy die enjin aanskakel en wag tot die rooi liggies wegtrek voor sy na die deur toe hardloop en dit met angstige vingers sluit. Dis Suid-Afrika. Nie paranoia nie.

      Nicholl draai op sy rug en sit sy arms onder sy kop. Die tydskakelaar het so pas die tuinligte uitgedoof en dis meteens pikdonker in die kamer. Langs hom roer Gail onrustig in haar slaap, maar raak dan weer stil. Dis selde dat sy in sy bed bly. Sy verkies om alleen te slaap in haar suite aan die ander kant van die huis.

      Hy proe haar nog op sy tong. Sy was weer vanaand ’n donnerse tierwyfie. Aan die opgekropte energie in die perfek geoefende lyf kon hy agterkom sy gaan weer binnekort daarop aandring om “vriende” vir ’n naweek oor te nooi.

      Hy grinnik sonder vreugde in die donker. Die eerste keer toe Gail, destyds in Pretoria nog, voorgestel het dat hulle na ’n klub vir swingers gaan, was hy tot in sy siel geskok.

      Siel? Het hy nog so iets? Ego, ja, dié het hy. Hy het onmiddellik gewonder waar hy tekort skiet en tog het ’n vreemde opwinding hom beetgepak.

      “Waarom?” het hy nietemin gevra en na Gail gekyk waar sy teen die kussings lê. Haar roosbruin tepels het hom astrant aangekyk vanaf die soel, silikoon-verstewigde heuwels.

      “Excitement, my ding, dis al waaroor dit gaan,” het Gail se rasperstem deur die soet rookwolk gekom. Hy het haar twyfelagtig aangekyk, die zol by haar geneem en ’n diep, vinnige trek geneem. “My fok, Nicholl, sien jy kans om vir die volgende veertig jaar nooit weer met iemand anders seks te hê nie? Waar is jou sin vir avontuur? Dis tog soveel meer decent as om shady affairs te hê, agter varings in restaurante weg te kruip en in Formule 1-motels ’n haastige knippie in te kry.”

      Hy het effens geskrik. Angstig gewonder of Gail weet van die paar desperate middae toe hy aan homself probeer bewys het hy is wel ’n goeie lover – dat Gail net ’n nympho is en dit nie sy skuld is dat sy nooit sonder haar weird scenario’s ’n orgasme kan bereik nie.

      “Dink daaroor, my ding.” Sy het die zol uit sy vingers geneem,