Ter wille van Talita. Helena Christina Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Christina Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318367
Скачать книгу
ook. Ons het verantwoordelikhede en die gemeente kan nie vir alles betaal nie.”

      “Ek voel sleg dat jy jou vir hulle ook moet afsloof.”

      “Dis platteland, dominee Van Velden. Hulle glo nog daaraan dat hulle twee vir die prys van een kry. My verpleegsterspos is klaar ’n toegewing. Predikantsvroue behoort mos nie uit te werk nie.”

      “Die kliniek kan nie sonder jou nie.”

      “Die provinsie sal wel iemand invoer as ek bedank. Intussen hou ons wat ons het en tel ons seëninge.”

      Emma steek haar hand uit om koffie te skink toe die voordeur­klokkie lui. “Eet klaar. Ek sal gaan oopmaak,” sê sy en spring op.

      Rosie, wat net sesuur inkom as hier gaste is, is nog nie aan diens nie, anders sou sy gegaan het.

      Johan skink sy koffie en spits sy ore. Dis Theuns wat homself aankondig. Sy maag keer om. Oorkant hom teen die muur hang sy versameling ou groepfoto’s van kerkrade en predikante. Hulle staar hom streng aan, netjies in swart pakke met wit dasse. Ja, daardie dae was swart nog swart en wit nog wit. Hoe sou hulle die geval van Theuns van den Heever hanteer het, of was dit toe die norm dat vaders hul gesag ten koste van hul kinders laat geld het? Johan se ouers was nie so nie. Hulle was goeie kerkmense maar nie bekrompe nie. Emma se ouers het haar nou wel in ’n rigting gedryf, maar sy is nie spyt dat sy vandag ’n opgeleide verpleegsuster is nie.

      Johan sit sy koffiekoppie neer toe Emma langs hom verskyn.

      “Dit is toe hy. Sterkte.”

      “Dankie.” Hy haal diep asem en stap studeerkamer toe. Dis sy domein hierdie en Theuns sal in sy spoor trap. Hy sal nogtans sy woorde moet tel. Theuns het al gedreig om sy eie huiskerk te begin en dit moet hy tot elke prys vermy.

      Here, wees ons asseblief genadig.

      Theuns sit op die punt van die stoel skuins voor die lessenaar. Hy spring regop toe Johan instap.

      “Môre, Dominee!” En hy steek sy hand uit.

      Johan groet gewillig. Ten minste sal dit vandag net twee keer gebeur – nou en netnou wanneer hulle afskeid neem.

      “Dag, Theuns. Is jy reisvaardig?” Sy joviale stem weerklink vals in sy eie ore.

      “Ja, Dominee, maar ek is bekommerd.”

      Johan maak hom agter die lessenaar tuis. Hy hou van die afstand. Dis veilig waar hy sit. “Hoe so, Theuns?”

      “Daar is redes hoekom ek en Edwina nie ons dogters in die kate­geseklas wou inskryf nie.”

      “Ek dag ons het dit deeglik uitgepluis?”

      “Ja, maar, Dominee, daar is nou ander dinge wat ek nie voorsien het nie.”

      “Soos wat?”

      “Die konsert.”

      Johan hou hom dom. “Konsert? Watter konsert?”

      “George sê dis ’n Kersspel en almal doen dit. Dis juis waar die euwels begin. Om ’n pop in ’n kastige krip te sit en te maak asof dit Jesus is en om Maria en Josef soos die Katolieke voor te stel, is sonde. Dis beeldeaanbidding. Die hele dorp se kinders gaan glo deelneem, tot die skool en almal. Hoe werk dit as hulle ander klere moet aantrek? Wie hou toesig? Ek weet wie se kinders is almal in die dorpskool. Ek sien hulle. Dis Herman Bezuidenhout se plaaswerkers se onopge­voede gebroedsels. Van daai seuns is vervloeks al twintig en hulle sit in graad elf. Hoe meng jy hulle met ons kinders? Dominee weet wat sewe jaar gelede hier op dié einste dorp aangegaan het – verkragting van en moord op skoolmeisies deur skoolseuns. Dink Dominee dit het verander? Hulle doen dit nog, helder oordag. Ek gaan nie my dogters se reinheid op die spel plaas nie en ek kan nie insien hoe Dominee die res van die kategeseskool wil blootstel nie, Dominee verstaan.”

      Johan se ore tuit. Theuns het sag begin, maar hoe verder hy gevorder het, hoe harder het hy gepraat – totdat hy skielik stoom verloor het.

      Johan tel sy pen op, tik liggies op die oop dagboek voor hom. “Goed, Theuns, wat wil jy eintlik sê?”

      “Ek sê nie, Dominee, ek waarsku – hier kom ’n ramp.”

      “Wil jy hê ons moet die konsert kanselleer?”

      “Dit sal die regte ding wees om te doen.”

      “Ons gaan baie kinders en grootmense teleurstel as ons dit doen.”

      “Dominee, ‘As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word’!”

      Theuns raak so opgesweep, sy gesig is vlamrooi, sy oë blits.

      “Theuns, broer,” probeer Johan hom kalmeer. “Jy haal korrek aan, maar dis uit konteks. Hierdie is ’n onskuldige kinderkonsert wat al jare deur die skool aangebied word en wat nou in samewerking met die kerke gedoen word om die hele gemeenskap te betrek. Dis dieselfde kinders wat jaar ná jaar die Kersspel by die skool opvoer en nog nooit het iets verkeerd geloop nie.”

      “Weet Dominee wat agter die skerms aangaan?”

      “Nee, miskien kan jy my inlig.”

      “Ek weet ook nie, maar ek kan my voorstel.”

      “Die skool staan op Christen-beginsels. Meneer Stals sit saam met jou op die kerkraad. Jy ken hom.”

      “Net in die kerkraad. Ek was nog nooit in sy huis nie, en ek stel ook nie belang in sy vriendskap nie. Dominee, skoolseuns wat onder sy toesig is, verkrag en vermoor en geen Christelike beginsels sal dit uit hulle kry nie!” Theuns skuif so gevaarlik nader aan die punt van die stoel, Johan verwag dat dit enige oomblik vooroor gaan kantel. “As Dominee met hierdie konsert wil voortgaan, sal ek my en Edwina se lidmaatskap aan Dominee se kerk ernstig moet heroorweeg. My dogters het in alle onskuld hulle name op die konsertlys geskryf, maar dit kom af. George het my beswaar op skrif en hy – oor hom sê ek liewer niks. As Dominee wil hê ek moet dit vir die kerkraad ook stel, doen ek dit.”

      Met dié spring Theuns so skielik op dat die stoel wel kantel en hy dit vinnig moet raakvat. Sy geronddans is so komies dat Johan sy lag moet inhou. Met sy gesig afgewend skuif hy sy boeke en penne reg voordat hy weer opkyk.

      “Broer, ek neem kennis van jou besware en ek sal dit oordink. Maar ek wil hê jy moet ook nadink oor wat ek nou vir jou gaan sê.” Johan het nie die vaagste benul nie. Wat sê jy vir iemand wat so negatief en onchristelik is? “Raak nou eers rustig. Moenie ontsteld op die pad gaan nie. Wat van ’n koppie koffie?”

      Theuns bewe soos ’n riet. “Dink Dominee kafeïen is wat ek nou nodig het?”

      Johan probeer sy vaderlike glimlag. “Jy is reg. Jy het eerder tyd nodig. Is jy klaar gepak?”

      “Die kar staan voor die deur. Ek wou my saak kom stel …”

      Lig, God se lig, sif deur die donker. Johan gryp dit aan en praat sonder dat hy na woorde moet soek. “Jy het gepraat,” sê hy. “En ek verstaan jou kommer. Wat ek wil voorstel is – probeer om jou in die plek van die kinders te plaas. Hulle is nie almal onopgevoed en ongedissiplineerd nie. Van daardie groot seuns sing in die koor. Juffrou Pool en Gunther Swanepoel is die afgelope weke besig om hulle af te rig. As jy terug is, wil ek hê jy moet saam met my na een van hulle oefensessies kom luister. Dis wonderlik wat hulle met die kinders regkry, glo vir my. Hulle doen hul bes en daar is toesig. Ons sal mos nou nie die kinders aan hulleself oorlaat nie.”

      “Ek het beginselbesware.”

      “Theuns, broer, ons doen hierdie Kersspel nie om mense te aanbid nie, maar om God te eer. Ek wil hê jy moet jou dogters se deelname heroorweeg. Dis soos om in die kerk te sing. Dis soos om jou hart te gee.”

      “Dominee, jy moenie op my gevoelens speel nie. Ek is nie ’n vroumens nie. Ek is priester en profeet en koning. Ek is hoof van my huis.”

      “Ek stry nie met jou nie. Ek respekteer jou. Al wat ek van jou vra, is dat jy my ook