Ter wille van Talita. Helena Christina Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Christina Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318367
Скачать книгу
Miskien was dit nodig, maar die een of ander tyd sal sy haar eie pyn weer moet hanteer, ook Stephan s’n.

      “Stap deur,” beduie Gunther.

      Die geur van vleis wat stadig in die oond gaar word, begroet hulle saam met ’n gelag en gesels uit die rigting van die televisiekamer. Gunther klop aan die kosyn om aandag te trek. “Hulle is hier.” Hy stoot Emma eerste na binne.

      Sy groet elkeen met ’n soen. Johan volg haar met handdrukke, vir Marta ’n kloppie op die skouer.

      Dis goed om die Swanepoels en Kosters gesellig saam te sien. Hetta en Ciska sit in hul rystoele langs mekaar ’n verflenterde plakboek en deurblaai. Oom Swanie lees ’n oopgevoude brief, sy bril op die punt van sy neus. Marta sit-lê op die bank asof sy tussen kussings geïnstalleer is. “Ek is so bly julle het gekom.”

      Die brandmerke van die ongeluk vertoon plooierig en die vel op haar voorkop en hande is roesrooi gevlek. “Die verbande is af,” sê sy en wys hoe sy haar vingers kan beweeg. “Ek doen oefeninge en borduurwerk maar waag dit nie om skottelgoed te was en potte te skuur nie.”

      Emma lig die plastiekhouer. “Koeksisters, ek vat dit gou kombuis toe.”

      “Ragel en Tienie is daar,” beduie Hetta. “Hulle sal nie omgee as jy inloer nie.”

      “Ek mag nie eens toesig hou nie,” kla Marta.

      “Dis omdat dit ’n verrassing moet wees,” keer Ciska.

      “Ek sit hier soos ’n koningin en hulle kook.”

      “Sy’t nog nie geleer om ander mense toe te laat om oor te neem en dinge vir haar te doen nie.”

      Johan verstom hom aan Hetta en Ciska wat so lank in onvrede geleef het en nou soos twee broeishenne oor Marta is.

      “Dominee het vandag mooi gepreek oor naasteliefde,” sê Hetta. “Hier kry ons dit nou van alle kante af in oorvloed.”

      Die plakboek wat sy en Ciska aan die deurblaai was, wil afgly en Ciska moet vinnig keer. Sy beduie na die stoel langs haar. “Dominee, ons wil jou iets wys.”

      Johan gaan sit tussen Ciska en oom Swanie. Gunther maak hom tuis op die bank langs Marta, sy arm om haar skouers.

      “Marta se pa het die plakboek gemaak van die ou skool.”

      “Van die skool se gloriedae toe ons nog sestig matrieks gehad het.”

      “Arend was my beste vriend.” Oom Swanie se hande bewe toe hy die brief vir Johan aangee. “Ek het vir hom geskryf toe hulle my as skoolhoof oor sy kop aangestel het. Kyk wat het hy hier by die aanhef neergepen.”

      Johan vat die twee dun velletjies papier. Die brief is duidelik meer as een keer deeglik gelees.

      “Lees vir ons voor.”

      Oom Arend skryf netjies en duidelik in ink. “Ek gun Gideon die pos van harte,” lees Johan. “Hy is ’n man met ’n visie vir die skool as geheel, ek nie. Hy het nie nodig om my te bedank omdat ek teruggestaan het nie, en toe kry ek die mooi brief. Hy hoef nie sleg te voel nie. Wat ek wil hê, is om kinders wiskunde en wetenskap te leer, nie meer tyd in die kantoor agter daardie groot lessenaar nie. Ek en Gideon sal vriende bly, ten spyte van …”

      Johan sluk die woord “Hetta”.

      “Dominee kan sê dis ek,” sê sy hard. “Ek was onregverdig en hardkoppig. Vandag kan ek nie wag om Arend in die hiernamaals te sien sodat ek hom om vergifnis kan vra nie.”

      “Ag, Hetta, as hy my kon vergewe, het hy jou eerste vergewe,” troos oom Swanie. “Arend was te lief vir jou om lank kwaad te bly. Nee, ek wil vir Dominee wys dat hy kan sien hoe onbelangrik dit vandag is. Hier sit ek, stokoud en Arend lankal oorlede. Destyds het meneer Stofberg van geskiedenis en liggaamsopvoeding ook aansoek gedoen en hy was so teleurgesteld toe hy uitval, hy het summier bedank en Transvaal toe getrek. Ek kry nou lag om te dink ons het eens op ’n tyd gewedywer vir die hoofskap en kyk hoe kwyn die skooltjie. Ek hoor hulle gaan volgende jaar ’n busdiens instel tussen ons en Graafwater sodat die seniors daar kan skoolgaan. Dag ons is klaar ’n laerskooltjie.”

      “Ons dorp krimp,” sug Ciska.

      “Ek voel lus en trek terug Lambertsbaai toe, maar dan is die ouetehuis ons voorland en daarvoor sien ek nie kans nie.”

      “Wie gaan ons van groente voorsien as Oom-hulle trek?”

      “Seker Marta en Gunther,” sê die ou man.

      “Wag nou, Pa, Pa loop ons vooruit,” keer Gunther.

      Toe Marta bloos en sy en Gunther vir mekaar kyk, besef Johan hoekom hulle uitgenooi is. Hy vou die brief op en gee dit vir oom Swanie terug. Om die tweetjies nog verleentheid te spaar, wys hy na die plakboek. “Kan ek sien?”

      “Asseblief.”

      “Dit vertel die skool se hele geskiedenis.” Ciska maak die plakboek toe asof dit ’n antieke manuskrip is. “Miskien kan hulle dit in ’n glaskas bewaar, terwyl daar nog lewe is by die skool.”

      “Of by die kerk,” voeg Hetta by. “Die kerk sal tog nooit vergaan nie.”

      Johan belowe niks. Die kerk is nie ’n museum nie. Hy vat die plakboek versigtig en slaan die eerste bladsy oop. Oom Arend het ’n reënboog geteken – in al sewe kleure met wiskundeformules wat in Indiese ink-druppels onder die boog uitval. Aan die bokant staan in netjies gedrukte blokletters: My skool, my lewe.

      Die bladsye is genommer. Daar is ’n inhoudsopgawe op die agterkant van die eerste bladsy. Die foto’s op die teenblad is met outydse hoekies vasgeplak en het onderskrifte wat onderwysers en kinders se name met datums en plekke verbind. Johan lees hier en daar en blaai versigtig daardeur, heeltyd daarvan bewus dat die oumense hom dophou. Die koerantknipsels en programme wat by skoolkonserte en atletiekbyeenkomste pas, is vaal en dof. Hy kry ’n knop in die keel. Die dorp se ouer geslag is aan die verbygaan. Dis tyd vir ’n jonger een, maar hulle het hul eie planne. Hulle sal nie hier wil agterbly nie. Het hy dan nie self sy kinders op Malmesbury in die koshuis nie? Dit raak aanvaarbaar en nodig vir diegene wat kan om hul kinders weg te stuur. Niemand verwyt hom daaroor nie, of dalk praat hulle tog agter sy rug. Miskien is hulle verbaas dat hy en Emma al tien jaar hier uithou. Hy bloos liggies. “Uithou” is die verkeerde woord. Nee, hy moet positief wees ter wille van die oumense.

      “Ons moet by ’n tafel sit en dit stadig deurgaan, dan kan oom Swanie alles vir my verduidelik,” sê hy.

      “Hetta moet liewer.”

      “Ek vergeet te veel, doen jy dit.”

      Op daardie oomblik verskyn Emma en kondig aan dat die ete gereed is. “In die eetkamer, die tafel is spesiaal gedek.”

      Inderdaad. Die lang familietafel is feestelik getooi met fyn linne en blomme, kristalglase en silwer eetgerei uit die boonste rakke. Marta slaan haar hande saam. Haar oë blink.

      “Wie se mooi goed is dié?” wil Hetta weet.

      “Myne en Tienie s’n, maar vir vandag is dit Tante en Marta s’n.”

      Daar is naamplaatjies by die gedekte plekke. Elkeen neem plaas by sy eie. Die voorgereggie lyk na vis. “Kreef,” fluister Emma vir Johan.

      “Sal Dominee vir ons die seën vra?” verneem Gunther toe almal tot rus gekom het.

      “Met plesier. Mag ek weet wat die geleentheid behels?”

      “Ons vier die lewe.” Gunther steek sy hande weerskante toe uit. Almal vat hande.

      Johan dink ’n oomblik na. Die Here se genade is groot. Die Here se genade is wonderbaarlik groot.

      “Here, ons vier vandag Marta se herstel ná ’n ernstige motorongeluk. Dankie vir haar gespaarde lewe en vir die lewe van elkeen hier om die tafel. Dankie vir vrede en vriendskap, vir vergifnis en versoening. U ken ons swakhede en sterk punte, ons verliese en oorwinnings. Ons voorregte is te veel om op te noem. Dankie vir hierdie fees wat met liefde voorberei is. Dankie vir