Ter wille van Talita. Helena Christina Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Christina Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318367
Скачать книгу

      Ter wille van Talita

      Helena Hugo

      Lux Verbi

      Opgedra aan Gigi Strydom, vir jare se ondersteuning en aanmoediging.

      Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!”

       Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

      – Markus 5:41

      Een

      “Nou ja, dan gaan ek maar. Dominee-hulle sluit mos self – vanaand ook?”

      Die koster steek vas in die oop deur, sonlig soos ’n stralekrans om sy gryskop.

      “Ja, dankie, oom Ollie.”

      Die ou man lig sy hand. “Wederom, broers.”

      Johan wil glimlag. Altyd dieselfde groet. Oom Ollie het dit glo jare gelede op ’n ringsvergadering by die ouergarde-predikante gehoor en vir hom toegeëien. Toe Johan hier begin het, was die oom nog hoofouderling, ’n posisie wat hy elke ses jaar ter wille van die kerkorde aan iemand anders moes afstaan. Hy het nie omgegee nie, want die jaar daarna het die kerkraad hom weer ingestem. Vandat Theuns van den Heever egter voorgestel is en hom met ’n paar stemme verbygesteek het, kon hy nie weer sy dienstermyn terugwen nie. Theuns word jaar ná jaar op wonderbaarlike wyse herkies. Johan, wat Theuns nie geken het nie, was eers in sy skik. Sy nuwe hoofouderling was jonk, entoesiasties en meer as bereid om sy deel te doen. Ongelukkig het hy sy pligte later te ernstig begin opneem.

      “Ek het ’n probleem,” sê Theuns sodra oom Ollie sy rug draai.

      Johan loer by voorbaat na die gedrukte bladsye met preekaantekeninge. Theuns het die manier om sy preke te kritiseer en berge van molshope te maak.

      “Ons moet …” begin Theuns, maar word onderbreek.

      “En julle twee dametjies?” vra oom Ollie net buite die deur. “Wag julle vir Pappa?”

      “Môre, Oom. Ja, Oom.”

      Theuns kyk in die rigting van die oop deur – sy houding so gespanne asof die Bose self sy dogters probeer verlei.

      “Die sonnetjie bak. Kry julle nie warm nie? Wil julle nie daar onder die bome gaan wag nie?”

      Met dié spring Theuns so vinnig op dat hy in sy haas ’n stapeltjie silwergeld omstamp.

      “Talita! Danika! Ek het gesê julle wag waar ek julle kan sien!”

      Johan wil nog iets sê, maar die woorde bly in sy keel vassteek. Hy is moeg en wil huis toe gaan. ’n Argument met sy hoofouderling is nie ’n goeie ding om ’n Sondagoggend mee af te sluit nie.

      Oom Ollie is moedswillig. Hy loer weer om die kosyn. “Theuns, jong, dis warm hier.”

      “Hulle wag waar ek hulle kan sien!”

      “Nes jy wil. Ek loop voor ek myself vergeet.”

      Johan buk om ’n geldstuk wat op die vloer beland het, op te tel. Toe hy regop kom, is oom Ollie weg.

      “Ons is besig,” brom Theuns en gaan sit.

      “Hulle mag maar inkom,” sê Johan tentatief.

      “En my aandag aftrek? Ek’s in elk geval amper klaar.”

      Johan waag nie nog ’n woord nie. Theuns sal op geen manier beveel of betig word nie. Hy skuif die hopies geld so netjies reg jy kan dit met ’n liniaal meet. “Ons moet praat,” kom dit stug.

      Johan vermoed waaroor dit gaan. Theuns kan oom Ollie nie verdra nie.

      “Hy wil net help,” sê Johan.

      “Wie?”

      “Is dit oor oom Ollie?”

      Theuns kyk op. Hy lyk soos hy gewoonlik lyk as iets hom pla – nors, kwaad, ongelukkig, moeilik.

      “Oor hom ook. Hy’s by aftreeouderdom verby en daar’s mense wat sy salaris nodiger het as hy.”

      “Ek het dit op die agenda vir ons eerste vergadering Januarie volgende jaar.”

      “Dit beter daar bly, anders vat ek dit ring toe.”

      Theuns pluk die kerk se sakrekenaar nader. Dis twintig oor elf op die muurhorlosie. Hy en een van die diakens kon die geld getel het terwyl die kategese aan was, maar toe moes hy opsluit heeltyd met die hoof van die kategeseskool redeneer. Natuurlik, dink Johan, dis waar sy eintlike probleem lê. George van der Merwe het ook nie verniet sy finalejaar-kategeseklas kom onderbreek en hom laat uitstap om te sê dat hy hom dringend wil spreek nie – Dinsdagmiddag, as dit moontlik is, in verband met die Van den Heever-meisies. Hy wou nie sê hoekom nie, aangesien hy nie Johan se Sondag wou bederf nie. “Theuns sal dit vir jou doen,” het hy gesê en met ’n haastige groet weggestap.

      George is ’n goedgeaarde siel met ’n hart vir kinders en hy was duidelik hoogs ontsteld. Johan het ’n vermoede waaroor, maar hy sal nie die saak vooruitgaan nie. Hy kyk na Theuns wat tienrandnote oopvou en platstryk en soek in sy gedagtes na iets positiefs waarmee hy hom kan kalmeer. Dis die eerste Sondag van die laaste kwartaal. Die diens is goed bygewoon. Ongelukkig is die Bezuidenhouts en die Aucamps saam weg vir die naweek en die kollekte gevolglik aan die skraal kant. Niks positiefs daaraan nie. Johan wag vir Theuns om die gewone aanmerking oor suinigheid te maak. Hy doen dit nie.

      “Daai ouman het een seun,” sê hy. “Wat weet hy van meisiekinders, hoe jy hulle moet dophou?”

      “Hy’t gesien hulle kry warm.” Johan tel ’n plastieksakkie op en wys na die stapel vyfrandstukke. “Kan ek ingooi?”

      “Dankie, ja.” Theuns skryf die bedraggies onder mekaar neer. “Dis nog ver van somer.”

      Naby genoeg, wil Johan sê, en amper twaalfuur. Hy bedink hom, maak die sakkies vol en los dit vir Theuns om alles in die banksak te pak. Met die wegdraai, sien hy ’n beweging in die deuropening. Een van die meisietjies, die kleintjie – so lyk dit vir hom – loer na binne. Sy trek so baie na Rentia toe sy daardie ouderdom was. Hy wens Rentia is nog net so klein dat hy haar op sy skoot kan tel en vertel hoe lief hy haar het. Sê Theuns dit vir die dogtertjies wat hy so streng opvoed – dat hy hulle liefhet? Sal hy kan besef hoe vinnig hulle grootword en jou nie meer glo nie? Johan wil hom raadgee, waarsku dat hulle hul eie rigting gaan inslaan, maak nie saak hoe hard hul pa probeer om hulle terug te hou nie. Maar om Theuns nou aan te spreek, sal niks goeds afgee nie. Hy is so omgekrap, hy druk die sakrekenaar se knoppies onnodig hard.

      “Vloeksteense battery is verdomp pap! Jammer, Dominee.”

      “Dis ’n nuwe battery,” sê Johan.

      “Dit werk nie.” Theuns trek pen en papier nader en skryf.

      Johan raak nie aan die sakrekenaar nie. Hy gaan staan voor die aansteekbord en lees die gemeenteprogram. Die volgende hoogtepunt is die voorstelling van nuwe lidmate, daarna die Kersspel en Kersete, en dan die afsluitings – van kategese, Bybelstudies en aanddienste. Hy sien uit na die vakansie wat hy saam met sy gesin in die Strand se Voortrekkerpark wil deurbring. Hier is ook ’n see, maar te naby aan sy gemeentelede wat nie daaraan dink dat predikante ook rus nodig het nie. Theuns is een van hulle.

      Vergewe my, Here, maar dit raak by die dag moeiliker en ek is moeg.

      “Dominee kan kom teken.”

      Amper sug hy van verligting. Hy raak ’n slag aan die aansteekbord voordat Theuns hom weer beskuldig dat hy sy rug op hom draai om sy ongeduld te verbloem. “Volgende op die agenda is die voorstelling,” sê hy in ’n poging om gemoedelik te wees.

      Maar Theuns sing sy ou deuntjie: “Ons moes die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse leerreëls uit ons kop ken. Hulle kan deesdae net maak asof hulle glo.”

      Johan het dit al soveel keer gehoor, hy ignoreer dit, kyk vlugtig na die inskrywing in die boek, teken op drie verskillende plekke en oorhandig die pen. Theuns teken nie; hy skryf sy volle naam in vloeibare, golwende letters wat oor die kantlyne loop en byna op die tafel beland. Dit neem tyd en Johan moet