Ter wille van Talita. Helena Christina Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Christina Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318367
Скачать книгу
opgehang het? Onthou jy hoe opgewonde julle destyds was en hoe julle geraai het watter soort lekkers julle gaan kry, watter verrassing?”

      Skielik lyk Theuns verbaas. Hy gaan sit weer op die stoel, stadig soos ’n ou man. “Hoe weet Dominee van die ou dae? Jy is nie van hier nie.”

      “Mense praat, mense vertel my van die goeie tye toe die dorp nog gegroei het en hier jongmense was wat matriek geskryf het en wiskunde en wetenskap by meneer Koster gekry het. Julle het gereeld konsert gehou en mevrou Swanepoel het saam met die koor gesing. Sy’t my vertel dat die onderwysers en kinders Kersaand deur die strate geloop en Kersliedere sing het. Sy onthou dat jy kon sing en toneelspeel, maar meer van rugby gehou het. Sy moes jou soebat om in die operette op te tree – en jy het op die ou end.”

      Theuns gluur hom wantrouig aan. “Wat weet Dominee nog van my?”

      “Net wat die Swanepoels my vertel het. Jou naam het toevallig ter sprake gekom toe ons deur meneer Koster se plakboek geblaai het. Kan jy die Kersliedere onthou?”

      Theuns kyk af. Hy vryf ’n slag met sy hande oor sy bobene. “Dit was anders, nie soos nou nie.”

      “Ons probeer dit terugbring. Help ons daarmee.”

      “Nie ten koste van my dogters nie.”

      “Gun jy hulle nie ook wat jy gehad het nie?”

      Theuns lyk gedaan. Hy steier orent. “Dit was nie altyd maanskyn en rose nie. Die Here weet, die lewe is nie maanskyn nie.”

      “Alles kan nie perfek wees nie.”

      “Ek gaan nou. Ek het ’n lang pad voor my.”

      “Oorweeg jou besluite deeglik. Dink, Theuns.”

      “Ek sal vir Dominee kom sê, as ek terug is.”

      “Bid daaroor.”

      Theuns antwoord nie. Hy kies koers deur toe. Johan loop agterna om die voordeur vir hom oop te maak. Hy het gistermiddag vir die eerste keer gehoor dat Theuns van den Heever ook by meneer en mevrou Swanepoel klas geloop het. Hy is so drie jaar jonger as Gunther en Gunther kon nie veel oor hom vertel nie, behalwe dat hy vinnig kon hardloop. Oom Maans en tant Alida se Kersboom was een van die ander mooi stories wat oom Swanie opgerakel het. Johan het ’n kans gewaag toe hy Theuns daaraan herinner het. Nee, die Here het die woorde in sy hart en in sy mond geplant – en dit het die regte snaar geraak.

      By die deur draai Theuns om en steek sy hand na Johan toe uit. “Tot siens, Dominee. Hou maar ’n ogie terwyl ek weg is. Edwina sukkel sonder my. Dis my werk wat my wegvat.”

      “Ry versigtig en kom veilig tuis.”

      Theuns se handdruk hou ’n rukkie langer aan as gewoonlik. Dit lyk amper asof hy nog iets wil sê.

      Hy laat los en stap kar toe sonder om om te kyk.

      Vyf

      “Ek het ’n gevoel ek moet vandag nog oorstap na Edwina. Ek wil nie agter Theuns se rug omgaan nie, maar sy sal nie hiernatoe kom nie en daar’s goed wat ek dringend moet uitvind. Ek het hom nie gevra of hy sy dogters verbied het om aan die Kersspel deel te neem nie, ook nie wat Edwina daarvan dink nie.”

      Emma het haar verpleegstersuniform aan, haar noodhulptassie byderhand. Sy is op pad na Ciska om haar voete te verbind. Daarna doen sy ’n voormiddagskof by die kliniek. Sy lyk asof sy die nuwe week moedig aanpak.

      “Weet Edwina dat Theuns hier was?” vra sy.

      Johan haal sy skouers op. “Ek is nie seker nie. Ek ry in elk geval eers Lambertsbaai toe na oom Maans. Herman het gevra. Hulle was gistermiddag soontoe en sy pa het hulle glad nie herken nie. Die ding dat Marta skielik verdwyn het, het die oumense sleg gevang. Oom Maans verstaan nie. Hy hou aan dat sy haarkapper oorlede is.”

      “Dis Maandag. Jy sal Edwina moet kans gee om wasgoed te was en haar kinders se skoolwerk aan die gang te kry. Ek kan bel en vra of haar migraine beter is en of sy wil rys kook vir Dinsdag se sopkombuis. Sy sal sê of sy reg is vir besoekers.”

      “Goed, bel jy en maak vir my ’n afspraak.”

      “Wat gaan aan met Theuns?”

      “Hy was Sondagoggend onredelik. Maar ek het vanoggend sy weerlose kant gesien. Iets het in sy lewe verkeerd geloop.”

      “Nie hier nie. Hier het hy, volgens alle getuies, gebalanseerd en gelukkig grootgeword.”

      “Dit kom van die tyd toe hy weg was, toe hy vir sy pa op Malmesbury gaan werk het. Wonder waar het hy en Edwina mekaar ontmoet.”

      “Sy praat van Somerset-Wes.”

      “Die verlede is hulle saak. Ongelukkig het dit ’n uitwerking op die hede en op die toekoms van die dogters. Ek moes gisteroggend gepraat het toe hy Danika aan haar vlegsel rondgeruk het.”

      “Jy soek al so lank na ’n rede om in te gryp, dis jammer jy het nie.”

      “Miskien gee die Kersspel my een. Hoe dit ook al sy, daai gesin het hulp nodig.”

      Emma raak liggies aan sy wang. “Moet ek vir Rosie vra om vir jou tee te maak?”

      “Nee, dankie – ek ry nou dadelik.”

      Sy soen hom tot siens. Hy kry die geur van haar parfuum, iets soos ’n mengsel van angeliere en varings – ’n vars, koel geur kenmerkend van niemand anders nie as Emma. “Lief vir jou,” sê sy.

      “En ek vir jou,” sê hy en hy bedoel, nes sy, elke woord. Hy weet dat sy hom liefhet en dat hulle saam die Here liefhet.

      In die bakkie op pad Lambertsbaai toe dink hy nie aan oom Maans nie, maar aan Theuns en Edwina. Saam lyk hulle soos twee wandelen­de lyke. Hulle praat skaars met mekaar en hou hulle hooghartig teen­oor ander mense. Die meisietjies tree op soos poppies wat in ’n glaskas woon en per geleentheid uitgehaal en afgestof word. Trouens, dit lyk asof die gesin hul verskyning vooraf repeteer en sorg dat hulle by die teks hou en toneel speel dat dit klap totdat hulle veilig terug is in hul donker huis, alles rondom hulle diggemaak. Kon Gerda Schoonraad dalk al daar ’n deur of twee oopkry, ’n kas, ’n laai? Hy vermoed sy weet meer van wat agter die skerms aangaan, maar sy is nie ’n vrou wat stories aandra nie en hy nie ’n predikant wat sy gemeentelede onderling met mekaar bespreek nie. Hy luister en hoor wat hulle sê, maar hy sal nie vis nie. Dis Emma wat hom dikwels die nodige skietgoed kom gee om die vrae te kan vra wat hom by die waarheid uitbring. Mense kan die sedigste gesigte opsit wanneer hulle hul predikant of sielkundige om die bos wil lei. Theuns van den Heever het hom aan die begin oortuig dat hy ’n reus in die geloof is, en hy is nie.

      Johan het vars lug nodig, gedagtes wat hom nie in die duisternis aftrek nie. Hy draai die bakkie se ruit af en laat die wind van die duineveld af deurwaai. Dit ruik na kruiebos en skoon grond. Links van hom lê die see vandag helderblou, die duine spierwit. Hy wens hy kan die bakkie in een van die inhamme parkeer en kyk hoe die golwe aanrol, ’n ruk lank alleen met sy Skepper verkeer – hier waar daar nie ’n mens in sig is nie en min ander verkeer.

      As jy nie konsentreer terwyl jy bestuur nie, kan jy jou lewe op die stil pad tussen die see en die duineveld verloor. Marta sê sy het te vinnig gery en weggekyk. Wat ’n bestiering van Bo dat Herman Bezuidenhout en klein Herman daardie middag ’n pap band moes omruil juis naby die plek waar sy haar Mazdatjie laat rol het. Sy kon vir ure alleen in daardie wrak vasgekeer gewees het. Sy kon haar doodgebloei het. Maar die Here het haar en die Bezuidenhouts met perfekte tydsberekening op een punt bymekaargebring. Was daardie ongeluk nodig?

      Johan draai die ruit weer op. Die veldgeure bly om hom hang en hy asem diep in. Hy glo die Here het ’n plan met alles, selfs met die slegte dinge wat Hy toelaat om te gebeur. Hy het Marta tot rus gebring. Hy het haar kans gegee om Hom van nader te leer ken. Johan het diep gesprekke met haar en Gunther gehad, ook met haar suster, Maria, en dié se predikantman toe hulle kom kuier het en by hulle in die pastorie tuisgegaan het. Maria het soggens vir Ragel gaan help om Marta te versorg