Ter wille van Talita. Helena Christina Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Christina Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318367
Скачать книгу
geselskap nie, maar Emma se afgeremde gesiggie is genoeg om sy hart te vermurwe.

      “Hoe laat moet ons daar wees?” vra hy gelate.

      “Eenuur.”

      “Dit gee ons minder as ’n uur om ons reg te ruk.”

      “Al wat ek nodig het, is ’n koue stort.”

      Sy spring met ’n merkwaardige opwelling van energie van die bed af en stap reguit badkamer toe. Johan kyk haar agterna. Sy is op die rand van ’n ineenstorting, maar kry dit steeds reg om na almal se pype te dans. By die deur draai sy om. “Marta is een van my staat­makers. Ons kan nie wegbly nie.”

      “Ek weet.”

      Die badkamerdeur klap toe, die stortkrane gaan oop en die glasdeur skuif met ’n harde slag tot teen die storthokkie se staalraam.

      Marta, Hetta en Ragel was vanoggend in die kerk. Hulle het aan die Du Toitstraat-kant gesit. Ragel het Hetta in die rystoel ingestoot met Marta op krukke kort agterna. Hulle het aandagtig na die preek geluister, so het dit vir hom gelyk – die drie vroue wat elk hul eie rede gehad het om nie kerk toe te gaan nie en nou gereeld die oggenddienste bywoon. Die Here het sy doel met hulle, met almal, dit weet Johan ten spyte van sy eie twyfel. Ragel Naudé is hierheen gestuur om ander te genees en in die proses self genees te word. Sy is saam met Marta op pad na ’n nuwe lewe. Die tekens is daar. Sy het weggekyk van haarself en haar gewig by die dorp en die gemeente ingegooi. Sy lyk nie meer so verwese en maer nie en het lanklaas in sy studeerkamer kom huil. Dis goed, maar haar pad is nog lank, langer as Marta en Hetta s’n. Wanneer hy by hulle op huisbesoek is, sê sy dit gaan goed, maar sy kan hom nie bluf nie. Hetta en Marta se versorging is ’n tydelike uitkoms, ’n kapstok waaraan Ragel haar eie pyn kan ophang.

      Hy en Emma doen dit ook – troos ander terwyl hulle self troos soek.

      Johan gaan staan voor sy klerekas en haal jeans en ’n ligte somerhemp uit. Vir vanmiddag se ete sal hy probeer om Rentia op die agtergrond te skuif en op hulle te konsentreer – Ragel, Hetta en Marta.

      “As ons betyds is, kan ons drieuur tuis wees.” Dis Emma wat met ’n handdoek om haar kop gedraai by die badkamer uitkom. Sy lyk so op en wakker hy kan nie glo sy het netnou soos ’n klip geslaap nie. Dis haar redding, die vermoë wat sy het om kort slapies ten volle te benut. Power naps, noem die Engelse dit.

      “Gaan stort en maak gou!” jaag sy hom aan.

      Hy gryp sy klere en maak soos sy sê.

      Toe die water hom tref, tintel sy vel en klop sy hart vinniger. Dis verfrissend, maar koud. Hy sit sy hand op die warmwaterkraan en oorweeg dit, dan los hy dit voordat hy te lank staan en traag word van die stoom. Dis die soort gemaksug wat maak dat hy meer vra as wat hy elke dag nodig het. Vandag kry hy ’n gesonde stortbad en ’n goeie middag saam met vriende wat hom nie met strikvrae bestook soos Theuns van den Heever nie. Die vrae kan hy nog hanteer. Die manier hoe Theuns sy dogters dissiplineer, is ’n ander saak. Mense praat en verwag van hom as predikant om in te gryp. Hy het Theuns sover gekry om die tweetjies by die kategeseskool in te skryf, maar hy en George moet kort-kort walgooi oor die leerplan wat Theuns “die slegte invloed van buite” noem. Waar trek jy die streep? wonder Johan. Vandat Rentia hulle beskuldig dat hulle haar nie toelaat om vir haarself te dink nie, voel dit vir hom asof hy nie die reg het om Theuns en Edwina aan te spreek nie.

      Here, net U ken die antwoorde. Lei ons en ons kinders na die waarheid.

      Johan staan nog ’n rukkie met sy voorkop teen die koel teëlmuur voordat hy die krane toedraai, uitklim en vinnig afdroog. Hy kan die gevoel van onrus nie afskud nie – al sê hy vir homself, Rentia sal haar kalwerliefde ontgroei, Theuns sal sy besitlikheid onder beheer kry en die Here sal hul gemeente help om die jaar op ’n hoë noot af te sluit. Die kategesekinders is opgewonde oor die Kerskonsert. Hulle vat hande met die skool en die sendinggemeente. Die dorp gaan as eenheid die jaar in die Naam van die Here Jesus afsluit. Niks kan verkeerd loop nie.

      Waarom kan hy nie moed skep nie?

      Die koue stort het hom ten minste verkwik en hy sien kans om ’n glimlag op te plak voordat hy uitstap. Emma sit voor die spieël en grimeer. Sy lyk blosend jonk in haar roospienk somerrok. “Nuwe rok?” vra hy.

      Sy kyk om en haar hare wip los op haar skouers. “Drie seisoene oud, maar ons kan maak of dit nuut is.”

      “Dis die eerste keer hierdie seisoen dat jy dit dra.”

      “Die derde keer!” Sy glip haar sandale aan. “Ons moet loop.”

      “Ons ry,” sê hy, “voor die hele dorp weet ons eet vanmiddag by Marta-hulle.”

      In die kombuis haal Emma ’n plastiekhouer met koeksisters uit die vrieskas. Hulle ry met die bakkie. “Asof niemand ons voertuig voor Marta se deur sal herken nie,” korswil sy.

      “Goed, ek was nie lus om in die hitte om die blok te loop nie.”

      Hy ry stadig by die Van den Heevers se huis verby. Die vensters en deure is toe. Dit staan diep in die erf, agter ’n grasperk beplant met palmbome wat Theuns van sy omswerwinge in die binneland af teruggebring het. Die huis se mure is donkergrys, die dak en vensterrame donkergroen, die posbus skelrooi – die enigste opvallende kleur.

      Emma kyk ook soontoe. “Theuns wil net altyd anders wees,” sê sy.

      “Moedswillig ook.”

      Johan keer homself voordat hy haar in besonderhede vertel hoe Theuns met sy dogtertjies aangaan.

      Daar staan ’n vreemde motor voor die Kosters se huis.

      “Tienie Brodie se Corolla,” sê Emma. “Dis gaaf sy’s ook hier.”

      Johan parkeer die bakkie agter Tienie se kar. Hy kyk vlugtig na Emma. Sy klap die sonskerm aan haar kant af en trek skewemond vir haar spieëlbeeld. Is sy regtig so opgewek of werk sy daaraan om haar in ’n goeie bui in te dwing?

      “Kan jy sien ek het gehuil?” vra sy skielik.

      Hy kyk in haar groot blou oë en sien nie net die vraag nie, maar ook drome en verlange wat dieper weggesteek is. Sy wou, soos Rentia wil, ’n voltydse kunstenaar word, maar haar ouers het haar vir BA(Cur) laat inskryf – ’n kursus wat sy cum laude geslaag het. En verpleging is vandag haar beroep wat sy blymoedig en tot opheffing van baie siekes navolg. Kuns is haar uitlaatklep vir frustrasies en uitputting.

      “Johan, wees eerlik.”

      “Jy’s perfek, niks verkeerd nie.”

      “Dan glo ek jou, dankie.”

      Die Kosters se voordeur gaan oop. Dis Gunther Swanepoel wat op die stoep staan en wag asof hy die huisbaas is. Johan spring uit en wil omloop om die bakkie se deur vir Emma oop te maak. Sy is te vinnig vir hom en staan al op die sypaadjie.

      “Kyk hoe mooi is Marta se tuin!” roep sy uit. Dit is. Vlammende oranjerooi rankrose klouter tussen geles, en pers flappe verras langs spikkelbont vuurlelies. “Ek was Dinsdag hier, toe het die rose net begin oopgaan. Gunther, is dit jou handewerk?”

      “Meer Ragel s’n. Sy is ’n ywerige tuinier.”

      “Sy sê weer dis jy.”

      “Emma, jy weet ons kan nie sonder Ragel nie.” Gunther hou die voordeur wyd oop. Dis nie nodig om weer te groet nie. Hy speel orrel in tannie Henriëtte se plek en hulle het mekaar vroeër by die kerk gesien. Toe het hy nie na die middagete verwys nie. Seker aangeneem Emma het gesê.

      Sy raak liggies aan die mandjies blomme wat aan die stoepbalke hang. “Dis nuut.”

      “Ragel se niggie het dit gebring. Sy’t met die ete kom help.”

      Johan wonder of Ragel se man ook saamgekom het. Hy vra liewer nie. Die afgelope weke was Stephan Naudé nogal skaars, tensy hy laataand gekom het en vroegoggend gegaan het. Die laaste keer toe Johan met hom gepraat het, het hy gekla omdat Ragel so voltyds besig is met Marta dat hulle nie kans kry om alleen te wees nie. Marta was so hulpeloos soos ’n baba ná haar ongeluk en gefrustreerd omdat sy