“Waar kry julle sulke simpel fietse?” vra hy. “En wie gee julle die reg om hier oor die speelgrond te ry?”
Niemand antwoord nie.
Die kêrel kyk Trompie op en af en toe sê hy: “Jy, sproetgevreet, ek praat met jou!” Trompie voel ’n krieweling langs sy ruggraat af.
Die Grootkaptein antwoord nie.
“Is jy doof, dorpsjapie?”
Trompie weet dit nog nie, maar die koshuiskinders noem die ouens wat op die dorp woon altyd spottenderwys dorpsjapies. Die klomp seuns lag en staan nader.
Hulle kom staan in ’n kring om Trompie, Dawie, Blikkies en Rooie. Almal lag en maak smalende aanmerkings. Die kêrel wat die leier is, staan nóg nader. Hy is nou langs Dawie.
“Kan jy nie jou pet behoorlik op jou kop sit nie?” Hy klap Dawie se pet wat soos gewoonlik skeef op sy kop sit dat dit deur die lug trek. Die seuns skater soos hulle lag.
“Mooi so, Riet!” sê ’n paar. “Dit sal hulle leer!”
Klein Dawie is asvaal; die trane blink in sy oë. Hy kyk na Trompie. Trompie is ook maar valerig. Hy byt op sy onderlip. Hy is bly sy stem bewe nie toe hy sê: “Rooie, hou bietjie my fiets vas.”
Rooie vat die fiets. Die kinders is nou stil. Trompie haal sy leë boeksak stadig van sy rug af en gee dit vir Blikkies. Hy voel sy broekspype bewe. Hy hoop maar net niemand kom dit agter nie.
Trompie staan voor die kêrel wat Dawie se pet afgeklap het. Hy kyk die ou reguit in die oë. Dan sê hy: “Tel op sy pet. Dis nie ’n kuns om ’n ou wat kleiner as jy is se pet van sy kop af te klap nie.”
Riet se oë is op skrefies getrek.
“Moes ek joune dan afgeklap het?”
“Jy sal dit nie waag nie,” sê Trompie en sluk die knop in sy keel weg. “Jy’s te bang om dit te doen!” gaan hy moedig aan.
Die hoërskoolseuns kyk Trompie verbaas aan. Een sê: “Riet, die klein wintie sê jy’s ’n bangbroek.”
Riet aarsel net ’n oomblik. Dan klap hy Trompie se pet dat dit doer deur die lug trek.
“En toe – wie’s nou bang? Wat gaan jy daaraan doen?” Riet kom staan met gebalde vuiste voor Trompie.
En net daar word hy bevlieg!
Riet was gereed om Trompie te takel, maar hy het nooit verwag só ’n orkaan gaan hom tref nie. Die houe reën op hom neer.
“Mooi so, Trompie! Slaat hom!” skree die Boksombende opgewonde. Die ander seuns skree weer vir Riet om die dorpsjapie op sy plek te sit.
’n Wilde swaaihou tref Trompie op sy oog. Hy sien net sterretjies en steier effens terug. Hygend na asem staan die twee seuns mekaar en dophou.
Trompie dink daaraan dat hy sy ma gister belowe het hy sal hom goed gedra by die hoërskool en hard werk, en hier is hy sommer binne die eerste paar minute al in ’n geveg betrokke. Maar hy het mos nie hierna gesoek nie!
“Het … het jy genoeg gehad?” hyg Riet.
“Nee, het jy?”
“Moenie net so daar staan nie!” skree die klomp rondom die twee bakleiers. “Klim mekaar in!”
Trompie kners op sy tande. Hy weet onbewustelik hierdie bullebak gaan sy lewe op hoërskool ondraaglik maak as hy wat Trompie is hom nie nou hier voor almal behoorlik op sy plek sit nie.
Riet slaan na Trompie. Trompie koes onder sy arms in en skiet soos ’n pyl uit ’n boog vorentoe. Hy slaan aanhoudend … harde houe, seermaakhoue. Sy vuiste speel tamboer op Riet se ribbekas. Die groter seun probeer wegkom, maar hy kan nie. Trompie bly roekeloos aanval … Twee harde regters vang Riet op die krop van sy maag. Hy sak met ’n kreun op sy knieë neer. Sy wind is uit. Die kêrel hou sy maag vas en sukkel om asem te haal.
“Het jy nou genoeg gehad?” vra Trompie bars.
Riet knik. Ja, dit was meer as genoeg.
Trompie staan met sy vuiste gereed om verder te baklei. Toe Riet se asemhaling reëlmatiger kom, sê hy streng: “Tel Dawie se pet op en gee dit vir hom – en dan myne.”
Die kêrel kyk na Trompie. Hy het nie ’n keuse nie. Hy sal moet doen wat hierdie nuwe outjie vir hom sê. Riet kom kreunend regop, gaan tel die twee pette op en gee hulle vir Dawie en Trompie terug.
Die seuns in die kring kyk met ontsag in hul oë na Trompie.
Dawie, Blikkies en Rooie staan trots langs hom. Hulle glimlag breed. Hy is mos hul vriend.
Trompie kyk na Riet. Die seun hou nog steeds sy maag vas. Trompie steek sy hand uit en sê: “Ek’s bereid om alles te vergeet – en maats te wees.”
Riet aarsel net ’n oomblik. Dan vat hy Trompie se hand en mompel: “Ek ook. Wat’s jou naam?”
“Trompie – Trompie Toerien.”
Baie seuns het hierdie naam al gehoor. Een ou sê: “Trompie het al in ’n regte kryt geboks.”
Die klok lui vir die skool om te begin. Die leerders laat spaander oor die terrein. Riet wys vir Trompie-hulle waar om hul fietse neer te sit.
In die groot saal laat die onderwysers al die nuwe leerders teen die muur staan. Die ou leerders staan in rye. Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie staan gemaklik teen die muur en rus. Net voor hulle staan die ry graadneges, met onder andere Riet en sy trawante. Hulle kyk elke slag na Trompie en sy maats – en glimlag dan vriendelik. Trompie voel die geveg was die moeite werd. Hy wens net hy het eers kans gehad om homself ’n bietjie netjies te maak. Hy hou nie van die geamuseerde manier waarop een van die onderwysers na hom kyk nie.
Sy kouse lê op sy skoene. Sy hemp hang agter by sy broek uit. Sy hare is nog meer deurmekaar as gewoonlik – en hy kan voel sy een oog swel kwaai en is seker aan die blou word. Maar daar is niks wat hy nou daaraan kan doen nie. Hy probeer maar ongeërg staan en rondkyk en so intelligent as moontlik lyk.
Die skoolhoof, die dominee en ’n paar skoolkomiteelede sit op die verhoog saam met die personeellede.
Ná ’n paar toesprake sing almal ’n gesangeversie en dan sluit die dominee die verrigtinge met ’n gebed af. Die hoof staan weer op en sê die leerders moet na hul klaskamers toe gaan. Die nuwelinge moet teen die mure bly staan waar hulle is.
Terwyl die hoof praat, kyk die dominee na die kinders teen die muur. Hy gewaar Trompie en sy drie maats en glimlag toe hy sien in watter gehawende toestand Trompie is. Die meneertjie was seker al weer in die moeilikheid. Dominee onthou nog hoe die vier rakkers eenkeer sy bobbejaan in die pastorie se tuin kom gaps het. En nou is hulle sowaar al op hoërskool. Hy hou van hulle. Hulle is vier lewendige seuns, miskien stout, ja, maar nooit lelik stout nie.
Toe die kinders almal na hul klasse toe is en die dominee en die skoolkomiteelede ook weg is, kom praat die hoof met die nuwelinge.
Die seuns en meisies staan nou in rye voor hom. Hulle is almal in graad agt. Trompie kruip effens agter Rooie weg. Hy kyk ook nie veel op nie. Hy wil tog nie hê die hoof moet sy blouoog sien nie.
Die skoolhoof verwelkom hulle in ’n vriendelike stem. Hy vertel vir hulle van die skool se trotse tradisies en sê hulle moet die skool se naam altyd hoog hou. Hy verseker hulle dit is iets om op trots te wees – die feit dat jy ’n leerder aan die Hoërskool Kwaggaberg is.
Hy sê hulle moet nooit skroom om enige probleme met die personeellede te bespreek nie en: “Hoewel ek die hoof is en julle my Doktor noem, wil ek nie hê julle moet my vermy en vir my bang wees nie. Ek is wel baie besig, maar my eerste plig is teenoor julle, ons leerders. As julle probleme het, is julle welkom om dit met my te kom bespreek. Ek sal altyd met ’n simpatieke oor luister.” Dan voeg hy glimlaggend by: “Dit is beter