“Dit gaan pynlik wees,” herhaal die hoof, “omdat ek nog nooit vantevore in my loopbaan as skoolhoof nodig gehad het om ’n matriekseun te straf nie.”
Die matrieks laat sak hul koppe skaam. Trompie dink daaraan dat hy hierdie storie en die drie groot ouens se verleentheid eintlik nogal baie sou geniet het as dit nie was vir die aaklige gedagte dat hy ook gaan deurloop nie.
“Gert,” sê die skoolhoof, “ek wil die hele storie hoor.”
Gert vertel hoe hulle die nessie daar in die solderkamer wou gehad het en hoe hulle die blink gedagte gekry het om een van die graadagts te kry om dit vir hulle te gaan kry. Hy vertel hoe hulle deeglike voorsorg getref het teen ongelukke.
Hier val die hoof hom in die rede: “Het julle gedink aan die moontlikheid dat die tou kon breek of die knoop kon lostrek?”
Die seuns antwoord nie.
“Julle gedrag was uiters laakbaar,” sê die hoof, “veral vir matrieks. Ek duld nie sulke onverantwoordelikheid by kêrels van julle ouderdom nie.”
Die hoof aarsel ’n oomblik en dan sê hy ferm: “En as julle gereken het julle is te groot of te oud om deeglik gestraf te word, was julle verkeerd.
“Wil julle ’n pak slae hê of moet ek ’n ander straf bedink?”
“’n Pak slae,” mompel Gert.
“Julle kry elkeen vier van die beste!”
Dan draai hy na Trompie. “En jy?” vra hy kwaai. “Het jy iets te sê?”
Die seun wil vir die vale begin protesteer. Hy wil vertel hoe onskuldig hy daar in die gang af gestap het, hoe Gert hom toe geroep het, hoe hulle hom oorreed het om met die tou af te sak en hoe … maar hy besluit om niks te sê nie.
“Nee, Doktor,” sê Trompie gedwee. “Ek het niks te sê nie.”
“Jy moet ook gestraf word.”
“Ja, Doktor.” Trompie se stem is klein.
“Aangesien ek nie meer lyfstraf mag toedien nie, gaan ek jou ’n keuse gee. Jy gaan self besluit op ’n gepaste straf. Saterdagdetensie tot die einde van die kwartaal, ’n oproep na julle ouers of ’n deeglike loesing.”
Trompie dink hard. Al drie opsies klink maar vir hom goor. Miskien moet hy maar die pak vat. Dit is dan immers gou verby.
“So wat sê jy?” vra die hoof.
“Ek kies ’n deeglike loesing, Doktor,” mompel hy.
Die hoof staan op. Agter hom op ’n tafel lê daar ’n bamboeslat. Hy tel dit op en slaan ’n paar keer deur die lug om dit te toets. Trompie staar met groot oë na hom. Dit lyk of hierdie hoof sommer baie hard kan slaan! Die seun wonder hoeveel houe hy gaan kry. Die ander drie gaan elkeen vier kry, maar die hoof het nie gesê hoeveel hý te wagte moet wees nie. Miskien moes hy maar die detensie gevat het.
Gert maak effens keel skoon en toe sê hy: “Doktor, mag ek asseblief iets sê?”
“Ja, maar maak gou.”
“Ons drie besef ons was onverantwoordelik en ons moet daarvoor gestraf word, maar hierdie outjie …” Gert kyk na Trompie. Trompie staan nou met ’n sedige gesig. Dit lyk asof botter nie in sy mond kan smelt nie.
“Ja, Gert?” vra die hoof en sy stem klink nogal simpatiek.
“Hy is onskuldig, Doktor.”
“Hy het ingestem om met die tou afgelaat te word.”
“Ja, Doktor,” sê Gert vinnig, “maar hy het nie eintlik ’n keuse gehad nie. Hy was so verskrik tussen ons drie daarbo in die solderkamer dat hy tot feitlik enigiets sou ingestem het. Ons het hom boonop laat verstaan hy sal ’n bangbroek wees as hy dit nie doen nie. Ons het hom oorreed om dit te doen, soos enige drie matrieks ’n graadaggie kan ompraat om te doen wat hulle wil hê. Ons drie moet boet vir wat gebeur het, Doktor, maar Trompie is heeltemal onskuldig.”
Die hoof staan en dink. Hy speel met die lat tussen sy vingers. Hy meen Gert is reg. Dit is maklik vir ’n matriekseun om ’n outjie in graad agt te oorreed om iets te doen, veral as die matrikulant boonop nog die jonger seun se rugbyheld is.
Trompie se oë is strak op die lat gevestig, maar hy kyk op toe die hoof met hom praat.
“Ek sal jou dié keer laat gaan,” sê die hoof, “maar bewaar jou siel as jy weer hier kom oor jy jou wangedra het.”
“Ek sal sorg dat dit nooit gebeur nie, Doktor,” sê Trompie ernstig. “Dokter sal sien – ek belowe.”
Vir die eerste keer vandat die seuns by die kantoor ingekom het, speel daar ’n effense glimlag om die skoolhoof se mondhoeke.
“Jou naam is Trompie Toerien, nie waar nie?”
“Ja, Me-, ek bedoel Doktor,” sê hy. “Dis my naam – Trompie.”
“Nou goed, Trompie, ek hou jou dop. Onthou dit. Jy kan maar gaan.”
Met ’n “Dankie, Doktor,” is Trompie by die kantoor uit.
Hierdie insident maak die seun nog meer gewild in die skool. Almal ken hom nou. Elke kind en elke personeellid weet wie hy is en almal lag lekker wanneer hulle terugdink aan die koddige, astrante figuurtjie wat so daar teen die muur gehang het.
Toe die hoof daardie aand vir sy vrou van die petalje vertel, bars selfs hý ook uit van die lag.
“Die knaap is ’n lewenslustige klein karnallie en ek dink hy gaan eendag nog ’n groot aanwins vir ons skool wees.”
“Hoe so?”
“Wel, toe ek hom vra of hy enigiets te sê het voor ek hom straf, het hy net ’n oomblik geaarsel en toe sê hy hy het nie, al kon hy vir my gesê het die drie matrieks het hom gedwing om dit te doen.”
Die hoof glimlag nadenkend. “Ek het ’n vermoede ek en Trompie Toerien gaan nog goed oor die weg kom.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.