“En hoe gaan ons die skuld terugbetaal terwyl ons nog oom Jorrie se paaiemente ook moet afbetaal?” wil Blikkies weet.
“Moenie so oor alles kerm en kla nie,” sê Trompie kwaai. “Wil julle hê ons moet vir Rooie ’n fiets kry, of nie?”
Ja-nee, natuurlik wil hulle.
“Nou moet dan nie so baie teëpraat nie,” sê Trompie. “Ek weet mos van besigheid.”
Die drie stap by die bank in. Trompie trek sy kouse wat op sy skoene lê op. Blikkies en Dawie stryk hul hare ’n bietjie reg.
Die seuns loer oor die toonbank. Trompie maak keel skoon. Die kassier kyk verbaas na hulle. Trompie was nog maar min in sy lewe in die bank en die kassier het onlangs eers op Kwaggaberg begin werk.
“Wat kan ek vir julle doen?” Hy kyk agterdogtig na die drie vuil gesigte.
“Ek wil met my pa praat,” sê Trompie en hy probeer sy stem grof maak.
“Wie is jou pa?”
“Die bestuurder, natuurlik.”
“Is jy meneer Toerien se seun?”
“Ja, ek is Trompie.”
“Wag asseblief ’n oomblik.”
Die kassier beweeg na ’n deur langsaan en gaan daar in.
“Moenie so verskrik lyk nie,” fluister Trompie vir Dawie en Blikkies. “Maak of julle gewoond is aan banke.”
Trompie staan kastig ongeërg en rondkyk. Hy probeer soos ’n groot sakeman lyk.
“Julle kan maar ingaan,” sê die kassier. Trompie stap voor, dan Blikkies en dan Dawie.
Dawie loer oor sy skouer na die kassier. Die man kyk hulle vies agterna.
“Dankie, Oom,” sê Dawie en stap vinnig agter die ander twee aan.
Trompie klop aan die deur waarop daar “Bestuurder” staan.
“Kom binne,” hoor hy sy pa se stem. Die drie stap in. Hulle het hul pette in hul hande. Dawie maak die deur sag agter hom toe. Hy voel hoe die duur tapyt waarop hulle staan, sy voete kielie. Hy wens nou hy het vanoggend skoene aangetrek.
“Ja, Trompie?” vra meneer Toerien glimlaggend. Die drie seuns lyk tog te koddig hier in sy kantoor.
Trompie sluk een keer en dan sê hy: “Ons is hier om Pa amptelik te spreek.”
“So? Nou kom sit dan. Hierdie bank laat sy kliënte nooit staan nie.”
Die seuns gaan sit versigtig in die groot stoele voor die yslike lessenaar. Hulle sit op die punte van die stoele en lyk maar taamlik klein.
“Wat kan ek vir julle doen?” vra meneer Toerien. Sy oë vonkel en daar is ’n glimlag om sy mond.
“Ons wil geld leen,” sê Trompie manhaftig.
“Jy bedoel julle wil aansoek doen vir ’n lening?”
“Net so, Pa.”
“Wel, hoeveel bedra die voorgestelde lening?”
“Ekskuus, Pa?”
“Hoeveel wil julle hê?”
“Ons moet dit eers nog mooi uitwerk,” probeer Trompie die bedrag vaag hou. “Ons sal Pa môre kan sê hoeveel.”
“En wat is die doel van die lening?”
Die drie lyk dronkgeslaan. Meneer Toerien glimlag en sê: “Wat wil julle met die geld maak?”
“O,” sê Trompie, “hoekom sê Pa nie dis wat Pa wil weet nie? Ons wil vir Rooie ’n fiets koop.”
“So?”
“Ja, Pa,” Trompie kyk glimlaggend na sy twee vriende wat tjoepstil sit. Sy hele houding spreek van vertroue dat hy die nodige geld hier by die bank sal kry.
“En watter sekuritiet het julle?” vra die bankbestuurder.
“Sekuriteit?” sê Trompie. “Watse ding is dit, Pa?”
“Dit is iets wat ’n mens by die bank deponeer wat van groter waarde is as die bedrag van die voorgestelde lening – verkieslik ’n polis of aandele.”
“Maggies, Pa,” sê Trompie, “watse besigheid is dit nou alles?”
“Dis die reëls waarvolgens die bank werk.”
“Maar ons het nie sulke goeters nie, Pa.”
“Dan is ek bevrees ek kan julle nie help nie.”
Daar is ’n klop aan die deur. Die kassier kom in en sê iemand wil die bankbestuurder spreek.
Die seuns staan op.
“Ek sê nog, Trompie,” sê meneer Toerien, “as julle geld soek, moet julle daarvoor werk.”
“Ja, Pa,” antwoord die seun gedwee.
Trompie, Dawie en Blikkies se eerste poging om ’n deposito vir Rooie se fiets te kry, het lelik misluk.
Die volgende paar dae swem die seuns nie baie in die kloof nie. Hulle is ook nie so sorgeloos soos gewoonlik nie en van kattekwaad doen is daar skaars sprake. Al waaraan hulle dink, is hoe om geld te maak.
Trompie en Dawie skenk hul sakgeld soos afgespreek vir die Rooie-fonds. Trompie teken dit sorgvuldig in sy sakboekie aan en bêre die kontant in ’n blikkie in sy kas se laai.
Een oggend sit Trompie weer op sy bed en kyk na die geldblikkie. Die tyd word min. Hy moet hard dink. Hy stut sy kakebeen op sy vuis, leun effens vooroor en kyk stip voor hom uit. Dis mos hoe daardie beeldjie, “Die Denker,” in sy pa se studeerkamer sit. Die seun het in die verlede al baie só gesit en dan ’n oplossing vir ’n moeilike probleem gekry.
Hy sit doodstil. Hy besluit om tot by drie te tel, dan sal hy begin dink. Hy tel drie. Nou dink hy. Hy loer effens skuins na die groot spieël in die klerekas om te sien hoe dit lyk as hy só sit en dink. Hy lyk beslis soos ’n slim man. Hy wikkel sy neus op en af. Dan glimlag hy breed. Ja-nee, hy is sowaar ’n aantreklike ou.
“Trompie!” roep sy ma.
“Ja, Ma,” sug hy en staan op. Hy sit die blikkie weer terug in die laai.
Sy ma is in die sitkamer. Die buurvrou, Katrien se ma, kuier by haar.
“Trompie, die tannie wil graag hê jy moet vir haar suster ’n brief na die ander kant van die dorp toe neem …”
“As jy nie omgee nie,” sê mevrou Gerritse. “Jy het mos ’n fiets. Ek sal vir jou ’n ietsie daarvoor gee.”
Die seun lyk nou glad nie meer so nors soos eers nie.
“Seker, Tannie, seker,” sê hy en vryf sy hande.
“Jy kan nie geld neem vir so iets nie, Trompie,” sê sy ma. Sy hart sak in sy skoene. Gelukkig sê mevrou Gerritse: “Nee, wag, ek wil vir hom ietsie gee, want hy spaar my baie moeite.”
Trompie vat die brief en die “ietsie” en maak dat hy vinnig by die huis uitkom voor sy ma kan lol dat hy die geld moet teruggee.
Hy gaan lewer die brief dadelik af en jaag dan vir die vale deur die dorp terug. Hy is haastig om in sy kamer te kom. Hy wil die tannie se “ietsie” by sy en Dawie se sakgeld in die blikkie gaan sit. Elke bietjie help.
Toe Trompie tuis aankom, sit Blikkies en Dawie op die grasperk vir hom en wag.
“Ek hoop julle werk ook so hard soos ek om Rooie se fiets te kry,” sê hy en wys vir hulle die geld wat mevrou Gerritse vir hom gegee het.
“Vertel hom, Blikkies!” sê Dawie opgewonde.
Blikkies