Blikkies word gelukgewens. Trompie slaan hom só hard op die rug dat sy kougom by sy mond uitskiet. Die seun kyk verlangend daarna.
“Daai stuk is al gaar gekou en dis waaroor ek met jou wil praat, Trompie. Kan ek nie bietjie van my tannie se geld kry vir bietjie kougom nie?” vra Blikkies.
Hulle begin hieroor argumenteer. Trompie meen elke sent wat hulle drie kry, behoort vir Rooie se fiets gespaar te word. Blikkies hou vol dat ’n paar sent nie ’n groot verskil kan maak nie. Toe klein Dawie voorstel dat hulle elkeen iets moet neem om mee lekkers te koop, kan Trompie die versoeking nie meer weerstaan nie en hy stem in.
Hulle gaan na Trompie se kamer toe waar hy die nodige veranderinge in sy sakboekie maak en uitwerk hoeveel hulle nou nog vir die deposito kortkom.
“Nie sleg nie, glad nie sleg nie,” mompel Trompie toe hy die geld vir die soveelste keer tel.
Die seuns het nou weer moed en die volgende paar dae doen hulle by verskeie van die dorp se inwoners werkies – natuurlik teen ’n fooi.
Een van die groot kruidenierswinkels se werkers raak siek en Trompie, Blikkies en Dawie help ’n hele dag lank daar en lewer boonop bestellings af. Hulle wil graag die volgende dag weer gaan werk, maar word nie gevra nie. Die bestuurder het besluit die drie is te duur – hulle het op die een dag meer lekkers opgeëet as wat hulle verdien het.
Die oom van die tuindienste sê hy sal hulle betaal vir elke streepsak kraalmis wat hulle vir hom bring.
Die missoekery is nie ’n sukses nie. Trompie sê hy hou van werk, maar dit moet skoon werk wees. Die seuns gaan soek traag buite die dorp na kraalmis. Toe hulle eintlik ’n sak vol het, bestook Dawie die ander twee met die miskoeke. Hulle laat natuurlik nie op hulle wag nie en gooi terug. Naderhand word hulle moeg om gebukkend rond te hardloop en ammunisie te soek en gebruik toe sommer die ammunisie in die streepsak.
Vuil en met ’n leë sak is hulle later weer terug dorp toe. Hulle het baie pret gehad, maar uit ’n finansiële oogpunt beskou, was die oggend nie ’n sukses nie.
Nadat Trompie gebad het – hy moes, want sy huismense het hul neuse opgetrek toe hy by die huis inkom – gaan hy na sy kamer toe en tel weer die kontant in die blikkie. Hy het besluit om die geld nie in die bank te sit nie. Hy hou daarvan om dit elke dag te tel – en wanneer hulle genoeg het om die fiets te gaan haal, sal hy dit nie eers by die bank hoef te gaan trek nie.
Trompie blaai deur die sakboekie waarin al die finansiële transaksies neergeskryf is.
Hy wens daar is nog iets wat hy kan skryf. Hy is mos ’n slim ou en hy voel nou lus om te skryf. Skielik besef hy die sakboekie het nog nie ’n titel nie!
Hy lek die potloodpunt en skryf dan sorgvuldig in drukletters op die buiteblad. Toe hy uiteindelik klaar is, trek hy groot strepe onder die letters. Die seun sit tevrede agteroor en lees:
SAKE OMTRENT ROOIE SE ROOI FIETS
Hy bewonder sy werk. Hy wens net hy het nog geldbedrae om in te skryf.
Skielik hoor hy ’n gefluit – die Boksombende se sein. Trompie hardloop venster toe. Rooie kom deur die tuin aangestap. As sy vriende vir Trompie kom kuier, spring hulle gewoonlik deur sy kamervenster.
“Hallo,” sê Rooie toe hy op die bed kom sit.
“Haai,” sê Trompie. “Help jy jou pa dan nie vandag nie?”
“Nee, hy’t gesê ek kan so bietjie rus.”
Rooie speel hierdie vakansie nie veel by sy drie maats nie. Sy pa het hom amper elke dag in die skoenmakerswinkel nodig.
Trompie ken vir Rooie. Hy kan sien sy maat brand om vir hom iets te vertel.
“Wat is dit?” vra hy.
“Kyk, Trompie,” sê Rooie en skuif nader, “ek weet jy en Blikkies en Dawie probeer alles om geld in die hande te kry. Die hele dorp weet julle soek werk omdat julle vir iets spaar. Maar hulle weet nie julle wil vir my ’n fiets koop nie. Is mos so, nè?”
Trompie knik. “Ons het al ’n hele paar rand bymekaar gemaak.”
Rooie glimlag.
Dan vra hy: “Hou jy die geld hier by jou, Trompie?”
“Ja, ek is die … tesourier.”
Trompie se oë peul amper uit sy kop toe Rooie ’n noot uit sy sak haal en dit op die bed neergooi. Rooie se hele gesig straal.
“Het … het jy by ’n bank ingebreek?” vra Trompie uiteindelik.
Rooie lag lekker.
“Nee, man,” sê hy, “laat ek jou vertel wat gebeur het. Vanoggend vra my pa vir my: ‘Wil jy nog so graag ’n fiets hê, seun?’ Toe sê ek: ‘Ja, Pa.’ Toe gee hy vir my dié geld en sê: ‘Jy het my die vakansie mooi gehelp. Bêre die geld iewers en wie weet, miskien is daar eendag genoeg om vir jou ’n fiets te koop.’ So nou wil ek hê jy moet die geld hou.”
“Ou Rooie,” sê Trompie opgewonde, “dis nog net ’n paar dae, dan het jy daai fiets!” Maar hy vertel nie vir sy vriend hoeveel geld hulle al het nie, en ook nie dat hulle die fiets op skuld gaan koop nie. Hulle wil Rooie mos verras.
Wanneer Rooie daar weg is, sit Trompie die noot in die blikkie. Hy tel die geld versigtig. Dan maak hy die nodige veranderinge in sy sakboekie. Hulle is amper daar!
Die seun sit ernstig en dink. Waar gaan hulle die laaste bietjie geld vir die deposito kry? En hoe gaan hulle elke maand genoeg bymekaar skraap om die paaiemente af te betaal? Hy trek sy skouers op asof hy hierdie nare gedagtes wil afskud.
Hy hoor sy ma en pa in die tuin praat. Sy pa sê iets en Trompie sit skielik penregop en luister. Die seun glimlag van oor tot oor. Hy kyk na homself in die spieël en sê: “Nou weet ek. Ons gaan die laaste bietjie geld kry sonder om daarvoor te werk!”
Hy hardloop by sy kamer uit. Hy moet met sy pa in die tuin gaan gesels.
3
Kwaggaberg se fietsryers
Trompie se ma is weer in huis toe. Sy pa staan aan die onderpunt van die tuin en pyp rook. Hy kyk na al die kakiebos en onkruid wat hier groei.
Trompie gaan staan langs sy pa. Sy hande is in sy broeksakke. Sy hemp hang agter by sy broek uit. Sy kouse lê op sy skoene. Sy pet sit skeef op sy kop. Hy staan op sy voete en wieg, net soos sy pa altyd doen.
“Dit gaan harde werk wees om dit behoorlik skoon te maak,” sê meneer Toerien en wys na die onkruid.
“Ek het uit my kamer gehoor Pa sê Pa sal iemand betaal om dit te doen.”
“Ek sal moet. Dit gaan harde werk wees.”
Trompie maak keel skoon. “Sê nou die grond is môremiddag wanneer Pa van die werk af kom skoon? Sal Pa my dan daarvoor betaal?”
Meneer Toerien grinnik. “Sukkel julle seuns nog steeds om geld bymekaar te maak vir Rooie se fiets?”
“Ja, Pa,” sug Trompie. “Dit gaan maar swaar.”
“Jou bedoelings is goed, seun, maar jy en jou maats sal hierdie stuk grond nie so gou skoonkry nie. Dit gaan julle dae neem.”
“Ons sal dit gedoen kry, Pa. As ons nie môremiddag klaar is nie en die werk is nie ordentlik gedoen nie, hoef Pa ons nie te betaal nie.”
“Nou goed dan,” sê meneer Toerien. “Spring môre aan die werk. Dan kyk ons wat julle kan uitrig.”
Trompie