Praat hy van haar huis, of van die Rand? En wat maak dit saak? Sy raak besig met glase en vadoek.
Sy fyn wenkbroue is ontevrede saamgetrek. “Ek voel om terug Diamantvelde toe te gaan. Ek moes in die eerste plek daar agtergebly het. Ek kon al ’n tweede Rhodes gewees het. As die sieklike seun van ’n predikant dit kon regkry …”
“Dan kan die seun van ’n wamaker ook?”
Die glasigheid wyk uit sy oë, woede dreig. Sy besef dat sy te ver gegaan het. “Dis ’n goeie plan. Vat my saam,” vlei en bedel sy tegelyk.
Sy bedoel dit. Wegkom. Net heeltemal weg, soos Frans. Die goud droog op, Eddie maak haar gek, en sy is bang vir Bert Starrenberg. Sy het eintlik so min ervaring.
Haar broer sluk die louerige sap met een asem weg. “Jammer, ek het iemand anders in gedagte.”
“Gerrie Viljoen? Jy sê dan sy stel nie belang nie.”
“Het jy al gehoor van aanhouer wen?” Hy tik-tik-tik met die leë glas op die tafel. Sy verstaan hoekom hy die naam Shakes gekry het.
Te laat dink sy daaraan dat sy die laaste lemmetjiesap moes gehou het, sy kon dit saam met gliserien vir haar hare gebruik het vir Bert se Nuwejaarsbal.
“Ek moet weg wees, Bert moet sy fiets kry.” Hy maak liggies keelskoon. “En jou boodskap. Hoekom is jy so wit? Voel jy siek?”
“Nee, ek kry net warm. Ek het vinnig geloop.”
“Jy is nie dalk …?” Sy blik dwaal na haar middeltjie.
“Natúúrlik nie, ek makeer niks.” Sy slaan dood neer as dit so moet wees. Maar nie voordat sy Eddie Macdonald met haar kaal hande verwurg het nie. Die kere wat hy haar nie dadelik wou laat gaan nie, wat hy nog klewerig wou talm.
Zaverius vat sy pet, staan hand in die sy daarmee terwyl hy die portrette op die tafel met ’n pinkienael rondstoot. “Ek sal dié een vat.”
Sy keer nie, moedig ook nie aan nie. Dis die een wat sy vir Mother wou stuur. Dis nie meer nodig nie. En dit roer haar tog dat haar broer ’n portret van haar wil hê.
Sy is so verwese, sy groet hom skaars. Met ’n arm om die stoeppilaartjie geslaan kyk sy hom agterna. Sy skouers is geboggel oor die ingevoerde fiets van Bert Starrenberg. Smal, mooi skouers, wat net aan hom behoort. ’n Vrou sal nie met haar kweskant daarteen kan skuil nie.
Sy voel veiliger toe hy weg is, maar ook eindeloos alleen en verlate. Sy onthou meteens die woorde waaroor sy twee maande gelede meewarig geglimlag het, woorde van ou Kruger: dat die goud nog sal opweeg teen riviere van trane.
’n Bygelowige vrees dat hy oor háár spesifieke lot gepraat het, pak haar beet. So erg sal dit tog nie word nie. Vir andere miskien, maar nie vir haar nie.
Dis net … Gestel nou maar net dis waar dat sy … O, wat het Zaverius besiel om sulke nonsens te praat?
Maar selfs al sou dit so wees – as Bert haar graag genoeg wil hê, moet hy haar vat soos sy is.
Sy skrik vir die verregaande, byna skandelike gedagte. Die vuil glas staan op die tafel. Sy het slordig geskink of Zaverius het slordig gedrink, dit maak ’n nat kring wat sy sommer met haar mou afvee.
Sy besluit verbete: as daar nog goud daarbuite iewers te vinde is, sal sy dit kry en vir haar toe-eien.
6
MEI 1898
Melktyd is Naas se grootste behae.
By die krale woel en wemel dit in die laaste sonlig wat rooi deur die misstof syfer. Die koeie bulk ongeduldig as hulle met vol uiers uit die veld kom, die honger kalwers antwoord uit die hok. Elke koei ken haar beurt, want hulle word in vaste volgorde gemelk. Elke kalf wat deur Kokka uitgelaat word, vat die draai fyn om sy ma sak te suip. Word hy weggedruk, suig hy met sy warm tongetjie sommer aan een van die kinders se gretige vingers. Want niks of niemand kan die kinders weghou wanneer Vadie saans melk nie. Hulle is die ene gretige gevreetjies.
Ignatius Prinsloo is ingenome met sy vyf kinders, sy liefkentjies. Hy verlustig hom daagliks in hulle warm gelag, hulle vuil handjies, die magies volgestop met kos. Soms speur hy onderlangs in Betta se gesig om te sien of sy dieselfde verwondering as hy voel omdat hulle soveel lewe en beweging in aansyn kon roep. Maar sy gaan so ongeërg haar gang asof hulle sommer uit die lug geval het.
Met elke geboorte sit Naas betyds die perde in die kleinkampie om haastig vir ta’ Lammie te gaan haal as dit nodig word. Die nag van die geboorte, want dis mos meestal snags, slaap Naas in die vrykamer. Dis sy enigste nagte weg van Betta in die byna nege jaar.
Nie dat hy juis slaap nie, hy waak maar en dwaal rond. Die oomblik dat die kleintjie skree, skiet hy ’n vreugdeskoot af wat in die lug weergalm. Hy gaan in geheimenis die vlieserige moederkoek begrawe. Eenkeer, voor hy hom kan besin, druk hy sy vinger daarin en proe die vrugwater. Souterig. Hy trap die grond vas, trap op die dood. Want die nuwe lewe lê in Betta se arm.
Klein, rooi wurms, almal volmaak geskape. Hy merk ’n verskalf en ’n ooilam, vir elke kind ’n eie oormerk. Kokka – hy heet na oupa Klaas, maar het homself Kokka van Gogga begin noem – se merk is halfmaantjie van voor, Jacobet halfmaantjie van agter. Zoetjie is swaelstert, Liefie stompoor, Fransie winkelhaak.
Die wriemelaars swel spoedig uit tot sterk, gesonde babas wat vir Betta skoon oor is. Sy soog maar moeilik, en binne die eerste week moet die pypkan bygesit word. Maar hulle kry vars, gesonde koeimelk. Met Fransie was dit ’n storie, weens die runderpes wat alle vee opeis. Maar ’n boer maak ’n plan. Naas het ’n donkiemerrie wat in die melk was, by die agterdeur vasgemaak gehou. En is Fransie nie gesond nie!
Die aandwind is geniepsig vir vroeg Mei. Kort-kort dwarrel dit so sterk dat die melk tussen uier en emmer wegwaai. Die kraalreuk hang skerp in die lug. Die dogters se wange is rooi. By hulle bottergeel vlegsels laat dit hulle soos lappoppe lyk.
Betta versorg hulle waarlik goed, dis eenderse voorskootrokkies en dis altyd kappies in die son en selfs ferweelhandskoentjies, partykeer te fyntjies na Naas se sin.
Kokka beman die kalwerhok. “Uitjaag!” roep Vadie, en Kokka beur die populierhek oop teen die gedruk van hongerige kalwerlywe. Die kuns is om die regte een deur te laat en die ander voor te keer. Sy voete word pimpel en pers getrap.
Hoe het hy dit gemis tydens die pes, toe al hulle geliefde diere gevrek het. Aasvoëls het oor die plaas gesirkel. Vadie het die dooie diere weggesleep en verbrand. Daardie aaklige skroeireuk is nooit te vergete. Vadie het die krale ontsmet en nuwe, gesoute vee en perde aangeskaf. Nou is daar weer ’n gebulk, en melk ruis in die emmers. Mmeme loop baie maal met die emmer op haar kop om vars mis vir die vloere te haal. Die weiveld het ook gerus. Die beeste is blinkvet in skof en boud. Kokka is lief vir vee, dis sy hele lewe.
Vanaand voel Kokka se keel ’n bietjie dik. Sy ooms, Klint en Wynand, is vroemôre weg om vir Franna in Afrika te gaan kuier. Tot Karools is saam. Kokka is lief vir sy ooms. Wynand veral kan jou terg tot jy huil, soos as hy sê jou melktande sal suur word, of dreig om jou naeltjie los te skroef dat jou boude uitmekaarval. Maar hoe meer Wynand jou terg, hoe minder kan jy van hom wegbly.
Kokka en Janke het probeer planne uitdink om saam Afrika toe te gaan, maar die grootmense sal uitvind en hulle swaar straf. Janke is Kokka se lekkerste maat. Hy is Moedie se kleinboetie en woon in Pretoria.
As Janke hier kuier, sien Moedie hulle nooit met ’n oog nie. Maar arme Janke moet deesdae skoolgaan, terwyl Kokka en Jacobet sommer by Moedie les kry. Eintlik is Janke se lewe op die dorp nie so sleg nie. Hy kan heeldag by oom Ol-hulle en grootouma Gertruida kom. En dan, lekkerste van alles, het oupa Soois ’n winkel met flesse vol lekkergoed. Janke mag help om pakkies suiker en meel af te weeg.
“Vadie!” gil Jacobet skielik dringend. “Kom góú!”
Naas storm nader met die hokstok, menende dat ’n snoep kalf haar omgestamp of ’n stertkwas deur haar oog geswiep het.
“Ek kan mélk!” jubel Jacobet, haar linte flappend