“Westonaria?” vra Enver laggend. “Haai-haai, dis my tuisdorp daai!”
Rose bloos.
“Daar is baie misdaad in wit areas, Rose, vernaamlik Roxy. Dit het ons eers uitgevind ná ons die huis gekoop het,” erken Cheryl.
“Maar julle het ses voet hoë heinings om die huis, julle het slotte aan die hekke . . .” Rose lyk verbyster.
“En ’n alarm,” sê Ashwin, “én waghonde.”
“Ja, ons is glad nie veilig nie,” sê sy suster.
“Moenie jou ore aan hulle uitleen nie, Rose,” sê Dulcie oor haar skouer.
Rose spring op en volg haar buitentoe, die kinders loop agterna.
Aan die ander kant van die hek staan Shorty Present. Sy wring haar hande, vroetel met haar kopdoek, wring weer haar hande. Daar is ’n skielike opswiep van stof en blare, die son nou versteek agter donker wolke. Dulcie trek haar oë op skrefies om die vrou beter te sien.
Sy glimlag toegeeflik vir die ou girl. Shorty werk vir haar buurvrou mevrou Louw van oorkant die straat, ’n weduwee van in die tagtig. Mevrou Louw het ’n snaaksigheid wat, volgens Cheryl, grens aan malheid.
Op hulle eerste dag in Roxy het mevrou Louw Dulcie se deurklokkie gelui. Hulle het dadelik aanklank by mekaar gevind.
“Welkom, my naam is Louwkie, ek bly in die hoekhuis,” het die klein gryskopvroutjie gesê, ’n lag in haar stem. In haar ortopediese skoene het sy niks hoër as ’n outydse tiekie op ’n koerant gestaan nie. In haar hande het sy ’n sjokoladekoek vasgehou. Dulcie was skoon ontroer.
“My dogter Lana het dit van die ooste gebring,” het Louwkie gesê.
Twee weke later was dit tertjies wat haar dogter van die ooste gebring het. China, Japan, Korea, Viëtnam? het Dulcie gewonder.
“Nee, man! Die Oos-Rand.” Louwkie het haar verkneukel in die misverstand. Hulle het saam tee gedrink en lekker gesels.
Dulcie kyk besorg na die klein vroutjie voor haar. “Wat’s fout, Shorty?”
“Dis Louwkie. Sy lyk vir my siek. Ek ken die dokter se telefounnommer, maar Louwkie se foun werk met ’n kode. En haar sel het nie airtime nie.”
Vir ’n oomblik is Dulcie te geskok om ’n woord te uiter. Al is Louwkie oor die tagtig, lyk sy steeds springlewendig. Sy doen haar eie inkopies, bestuur nog haar motor, kook self en sien om na haar hond en voëls.
“Natuurlik kan jy my foon gebruik, Shorty. Ek kry gou die sleutel vir die hek.”
Dulcie draf die trappe op na die voordeur, Rose op haar hakke, seuns wat aan die hek bly hang.
“Gaan jy haar laat inkom?” vra Rose die ene ritteltit.
“Ek reken so, Rose. Die hek is ver, die telefoondraad is nie lank genoeg om by te kom nie,” sê Dulcie geïrriteerd. Sy kry skaam toe sy besef Rose en die kinders kon nie ’n woord van die gesprek by die hek verstaan nie.
“What she say?” vra Puck.
“What she say?” vra sy eggo.
“Sy vra hulp, haar werkgewer is siek.”
Twee minute later gesels Shorty met Louwkie se dokter. Hy belowe hy sal binne ’n uur daar wees.
Dulcie skryf haar selnommer en huisnommer neer en gee dit vir Shorty. “Jy kan my enige tyd bel as dit nodig is, Shorty, dag of nag.”
Maar Shorty wil om die dood nie hê Dulcie moet oorloop na Louwkie toe nie.
“Wie gaan vanaand na haar kyk?” vra Dulcie vies.
“Sy’t rus nodig, dis al,” sê Shorty ferm. “Louwkie en Oubaas wil nie mense om hulle hê as hulle siek is nie.”
Dulcie moet ’n glimlag keer. Ja-right, Louwkie en Oubaas, dink sy toe sy staan en kyk hoe die ou vrou oor die straat waggel.
Hoofstuk 4
4
Die seuntjie in die groot, hoë bed lyk jammerlik. Hy lê met ’n pleister op sy voorkop, sy gekoekte hare teen sy kop geplak. ’n Bietjie droë bloed op sy lip, sy hand verbind.
Sparky se kar was in ’n botsing betrokke toe hulle Fanny huis toe geneem het. Bowie het die slegste daarvan afgekom. Wel, miskien is Fanny se beserings erger; niemand weet werklik hoe dit met haar gaan nie.
Dulcie vryf bemoedigend oor Rose se blaaie, voel die reëndeurdrenkte materiaal onder haar vingers. Daar is nou niks oor van die blonde bom van vroeër vandag nie. Haar lang hare hang pap en nat om haar gesig, haar wange vol maskara-smeersels, haar borste ingedoke soos sy oor Bowie buig.
“Bowie?” fluister-vra sy vir die soveelste maal. “Mamsie is hier, my skat.”
Dulcie hoor dat Rose sukkel om haar trane te keer. Sy sluk self hard, sien hoe die trane in Cheryl se verskrikte oë opwel.
’n Saalsuster bring vir hulle ’n groot handdoek. Dulcie hang dit oor Rose, vryf saggies oor haar skouers en hare.
“As jy gaan oornag, moet ek en Cheryl liewer huis toe gaan om vir jou droë klere te gaan haal. Sal jy regkom vir ’n uurtjie terwyl ons weg is? Enver sal jou wel kom opsoek sodra hulle met hom klaar is in Ongevalle.”
“Ja, dankie, tannie Dulcie. Bowie slaap in elk geval.”
Dankie vir privaat hospitale, dink Dulcie. Sy en Cheryl hang behoorlik aan mekaar vir emosionele ondersteuning. Hulle val Ongevalle binne, op soek na Enver, Sparky en Puck.
Net buite die trauma-eenheid kry hulle oupa en kleinseun. Hulle sit styf teenmekaar op ’n bankie. Toe Puck hulle sien, spring hy op en hardloop na hulle toe.
“Tannie Dulcie! Waar’s Mamsie? Waar’s Bowie?” vra hy betraand.
Sy druk hom teen haar vas, verseker hom dit gaan goed met sy ma en kleinboet. Dan lei sy hom terug na sy oupa toe.
“Jy’s sopnat,” sê sy vir Sparky.
“Iemand het vir ons ’n sambreel gegee, maar dit het so hard gereën.”
Sparky skuif op en die vrouens neem plek in.
Violet en Trevor kom in die gang af gehardloop.
“Ons het dadelik gekom!” roep sy nog voor sy by hulle is. Sy druk Dulcie styf teen haar vas.
“Dankie, Violet,” sê Dulcie, vee trane af. “Ek het nie geweet of hulle erg beseer is nie . . . of ek ondersteuning gaan nodig hê nie . . . jy weet.”
“Als reg. Hoe gaan dit met almal? Sparky, hoe gaan dit met jou?”
“Net goed geskrik, en bewerig. Dis net my knieë, ek het hulle heel waarskynlik teen iets gestamp . . . Weet nie wat of waar nie, alles het so vinnig gebeur.”
Eers snaakse knieë, nou pynlike knieë, dink Dulcie.
“Hoe gaan dit met jou, my liefiekind?” vra sy vir Puck.
“My skouer is seer, tannie,” sê hy met ’n bewerige stemmetjie.
Dulcie druk hom effentjies, vryf oor sy skouers.
“Wat presies het gebeur, Sparky?” vra Trevor.
“Ek gaan nog ’n kaartjie kry omdat die kar so vol was,” sug hy. “Hulle gaan sê dis mý skuld.”
Sonder sy swart baadjie of das lyk Sparky nat en bedremmeld. Selfs sy grys borselkophare lê plat, asof dit oorgee.
“Nee, Sparky, dit was nié jou skuld nie,” keer Dulcie. “Kry die idee dadelik uit jou kop uit. Die polisieman het gesê die bestuurder van die ander motor was smoordronk.”
“Hy was dronk, alright. Hy het behoorlik oor die stopstraat gevlieg. Ek het bestuur, Enver in die passasiersitplek. Rose, Fanny