Vier begrafnisse en 'n troue. Pat Stamatélos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pat Stamatélos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703393
Скачать книгу
ek weet. Ek is so jammer.”

      “Was daar dan nie een mens met verstánd in die kar om –”

      “Ma, nie nou nie,” val Cheryl haar sagkens in die rede, raak aan haar ma se arm.

      Sparky laat sy kop in skaamte hang. “Hoe gaan dit met Bowie?” vra hy sag.

      “Hy het ’n paar skraapplekke op sy voorkop, lip en hand. En hy ly aan harsingskudding. Die dokter is nie bekommerd nie, maar hulle wil hom oornag hou vir observasie, in Intensief. Rose lyk gehawend, maar sy’s in beheer van haarself. En Enver?”

      “Hulle is besig om steke in sy arm te sit. In die omstandighede gaan dit goed met ons almal. Hulle het klaar na Puck gekyk, en soos die res van ons ly hy natuurlik ook aan skok. Waar is Ashwin?”

      “Ná julle weg is, het hy na ’n vriend se huis gegaan. Ek kan hom nie in die hande kry nie, maar het ’n boodskap op sy sel gelos. Sparky, luister, ons gaan gou huis toe om vir Rose droë klere te gaan haal. Sy gaan vanaand hier bly, maar ek dink die res van julle moet by my kom oorslaap.”

      Sparky knik sy kop, lyk pap.

      Violet en Trevor sit oorkant hulle en wil die besonderhede van die ongeluk van voor af hoor. Dulcie reël dat ’n verpleegster Enver laat weet hulle gaan huis toe, en dat Rose by Bowie in Intensief sit.

      “Ek en Trevor gaan nog ’n rukkie bly,” sê Violet toe almal groet.

      Sparky se motor is weggesleep, en die vier van hulle klim in Dulcie se klein Merc. Dit reën steeds. Dulcie kyk in haar truspieëltjie. Puck en Sparky hou mekaar vas, praat saggies en mooi met mekaar.

      “Wanneer kom Bowie huis toe, Granddad?”

      “Jy sal Bowie in die oggend sien, vir Mamsie ook,” paai Sparky en druk die klein koppie teen sy bors vas.

      Terwyl Sparky en Puck by Sparky se huis droë klere aantrek, pak Dulcie ’n paar stukkies klere in vir Enver, Rose en Bowie. Terug by Chesterlaan laai sy die drie stuks af.

      “Maak vir hulle iets warms om te drink,” blaf sy bevele vir Cheryl deur die karvenster. “En sit vir Puck in ’n lekker warm bad.”

      Op pad terug hospitaal toe val dit haar by dat sy glad nie weet hoe dit met Fanny gaan nie. Iemand het gesê ’n ambulans het haar na Leratong geneem, die plaaslike staatshospitaal.

      In die gang voor Intensief staan Trevor en Violet en wag. “Enver is binne,” sê Trevor.

      Dulcie gaan in en is geskok om te sien hoe Enver lyk. Sy gesig is asvaal, geswel en vol rooi krapmerke. Daar is ’n groot pleister oor sy voorkop en sy arm en hand is verbind.

      “Jammer, Enver, ek het in julle kaste gekrap. In die sak is daar klere en goed vir julle.” Dulcie sit die sak aan die voetenent van die bed neer. “Weet jy of Fanny baie seer gekry het?”

      Hy skud sy kop. “Tannie Dulcie, ek weet nie. Ek kon nie verder as my eie seun se bloed sien nie, ek is jammer. Dit was alles so deurmekaar met mense wat saamdrom, die reën wat neerstort. Ek dink sy het moontlik baie seer gekry.”

      Vir ’n paar oomblikke staan Dulcie hom en aanstaar. Sy kop hang. Nie net lyk hy gewond nie, maar ook radeloos en bewoë.

      Sy gaan uit om ’n oproep te maak. Die suster het vir haar Leratong se telefoonnommer gegee.

      “Sparky se huishulp was ook in die kar,” verduidelik sy vir Violet en Trevor terwyl sy skakel.

      “Ek hoop iemand antwoord,” sê Trevor.

      ’n Koue stem aan die ander kant groet. Dulcie vra na Fanny Mabaso.

      “Daar is geen Fanny Mabaso in die hospitaal nie,” sê die stem.

      “Sy is seker ’n uur of so gelede ingebring, hulle was in ’n ongeluk betrokke.”

      Geen Fanny Mabaso.

      “Hulle is net moedswillig,” sê Trevor.

      Dulcie groet en bel vir Sparky. “Sparky, wat is Fanny se swart naam?”

      Stilte. Hy krap seker kop. Hoeveel mense ken hulle huishulp se van, laat staan nog hulle swart naam? dink Dulcie.

      “Fanny se ander naam is Mapule.”

      Dulcie skakel weer, word na die regte saal deurgeskakel.

      “Hoe gaan dit met Mapule Mabaso?” vra sy.

      ’n Aarseling, en toe: “Sy is stabiel.”

      Dulcie voel hoe haar hart in haar keel klop. Wat beteken dit?

      “Is jy familie?” vra die verpleegster.

      “Nee, ek is nie. Is daar iemand by haar?” vra Dulcie hoopvol.

      Sy hoor hoe die verpleegster na iemand roep. Rapporteer dan: haar dogters, suster, vriend en tannie sit langs haar bed.

      Dulcie sug van verligting. “En haar ma? Is sy ook daar?”

      Nee, geen ma nie.

      Dulcie gaan terug Intensief toe.

      “Gaan nou huis toe,” sê Rose vir Enver, en Dulcie stem saam. Hy lyk soos een wat deur ’n bul gekarnuffel is.

      “Ek is so jammer, ek hét probeer keer, maar . . .” Sy stem raak weg.

      “Ek weet, lovey,” sê Rose. “Dit kon soveel erger gewees het. Jy het goed gedoen, gaan nou huis toe. Bowie gaan meer ontsteld wees om jou te sien as om jou nie te sien nie. Jy lyk regtig baie erg. Ek sal jou môreoggend ’n luitjie gee.”

      Hulle groet, en Dulcie vat Enver se arm met die uitloop.

      “Moes jy nie ook maar in die hospitaal gebly het nie?” vra sy toe hulle kar toe sleepvoet. “Jy lyk glad nie vir my lekker nie.”

      “Hulle wou my die nag hou, tannie Dulcie, maar ek het aan Puck gedink. As hy môreoggend wakker word en sy hele gesin lê in die hospitaal . . .” Enver trek sy skouers op. “Buitendien kan die hospitaal niks meer vir my doen nie, ek het net rus nodig. Hulle het vir my pynpille gegee.”

      Die reën val nog in sagte grys vlae; die strate is steeds gevaarlik, nat en blink. Hulle ry stadig en in stilte huis toe. Die gebeure is nog te vars en te skrikwekkend om te verwerk of te bespreek.

      Dulcie wonder stilletjies of Sparky geld het vir ’n nuwe motor. Of hy iets van Hanna gaan erf behalwe die ou meubels.

      In Chesterlaan draai sy by haar oprit in en druk die knoppie vir die afstandbeheerde hekke. Nog ’n knoppie om hulle te laat toegaan. Nog ’n knoppie vir die garagedeur. Ligte gaan aan en sy parkeer die kar, sit ratslot, gorilla en alarm aan. Haar hande bewe.

      “Tannie Dulcie . . .” begin Enver hortend. “Ek kon my seun doodgemaak het . . .”

      “Maar hy is nie dood nie. Hy het harsingskudding en krapmerke en môre kom hy huis toe.” Sy klink nie vir haarself oortuigend nie.

      Enver sit vooroor gebuig, hartverskeurende snikke wat uit sy bors kom.

      Dulcie sit haar arms om hom. “Enver, luister nou mooi. Wees dankbaar julle het vinnig in ’n privaat hospitaal beland. En behalwe die paar krapmerke, steke, skok en blou kolle gaan dit goed met almal, Bowie inkluis.” Sy skep asem. “Maar as ek ooit weer hoor dat jy enige van die seuns in ’n kar sit sonder ’n gordel, dan . . .”

      “Ek weet, ek het nie gedink nie.”

      “Dan verwúrg ek jou, verstaan jy?”

      Hy knik sy kop, droog sy trane af en klim stadig uit die kar.

      “Weet jy wat ek vandag besef het, Enver?” Dulcie druk nog twee knoppies vir die sluit van motor en garagedeur. “Rose is die aangewese persoon om by jou te hê in ’n tyd van krisis. Sy was so koel soos ’n komkommer daar in Intensief. Jy is ’n gelukkige man om so ’n vrou te hê, hoor. Ons het almal iemand nodig op wie ons kan peil trek.”

      Enver trek sy tannie nader, vou haar