Vier begrafnisse en 'n troue. Pat Stamatélos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pat Stamatélos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703393
Скачать книгу
dankie tog,” sê Enver. “Lekker slaap, tannie Dulcie. Ek gaan sommer saam met Puck inkruip. Ek dink ons moet mekaar vanaand ’n bietjie vashou.” Hy soen vir Cheryl en Dulcie.

      “Wag, ek kry gou vir jou ’n slaappil, jy’t dit nodig,” sê Dulcie en staan op. Sy maak ’n glas vol water. “Dis in my slaapkamer, kom saam.”

      Sparky gaan sit met ’n sug en Nash pleit om opgetel te word. Cheryl skink vir hom een van haar ma se spesiale koffies, gooi die leë bottel weg.

      “Is alles nou alright, oom Sparky?”

      “Ja, wat, seker maar. Waar slaap ek?” vra hy moeg, krap die hond se ore. “Vir wat loop die hond al agter my aan?”

      Dulcie kom ingeloop, sit ’n slaappil voor Sparky neer. “Sluk, my swaer, jy’t dit ook nodig. Jy kan in dieselfde kamer as Enver slaap. As hy saam met Puck gaan inkruip, is die ander bed leeg.”

      Sparky sluk sy pil en sy spesiale koffie, sê die hond aan om te bly en staan op. Nash is op sy hakke.

      “Verstaan die hond nie die woord ‘bly’ nie, Dulcie?” vra hy.

      “Natuurlik. Hy gaan vanaand by jou bly.”

      “Kom, brak,” sê hy en slof aan slaapkamer toe.

      Cheryl kyk hoopvol na haar ma. “Kan ek ook ’n slaappil kry, Ma?”

      “Sekerlik, my pop. Een of twee Panado’s?”

      Met ’n regte slaappil om die skok ’n bietjie te verdoof en ’n tweede doppie brandewyn in het Dulcie doodgeslaap. Sy word wakker van Cheryl se aanraking en die kat wat op haar bors spring.

      “Wakker word, wakker word. Hier’s Ma se koffie. Die ander sukkel nog om op te staan. Ek gaan gou vir ons ’n lekker ontbyt saamflans, met Puck se hulp. Glo dit of nie, maar hy is besig om die tafel te dek.”

      “Dankie.” Dulcie knipper haar oë. Sy wys na die vensters. “Trek die gordyne toe, die son is skerp.”

      “Nee, Ma, daar’s nie son nie, dis die kop wat ’n bietjie dof is. Ek het die regmaker langs Ma se koffie gesit. Toe nou, drink. Rose het geskakel. Sy reken hulle behoort binne ’n uur of twee tuis te wees, sodra Bowie sy ontbyt klaar geëet het. Of ten minste sodra die dokter hom ontslaan.”

      “Dankie vir die koffie en die . . . uhm . . . Ek sal nou opstaan. Moenie dat Enver . . .”

      “Toemaar, toemaar, ek het vir hom gesê ek sal hospitaal toe gaan. Ek weet hy is nie in staat om te bestuur nie.”

      “Nee, ek bedoel . . . moenie dat hy buitentoe gaan nie. Die bure sal dink ons het baklei.”

      “Máá!”

      Dulcie verkyk haar aan die groepie mense om die ontbyttafel. Haar kombuis lyk soos ’n toevlugsoord vir hawelose en vernielde mans, met ’n weeskind en iemand se weglopervrou wat hulle bedien.

      Sparky lyk deemoediger as gisteraand, sy oë geswel en rooi. Sy wonder of dit van die ongeluk, brandewyn of huil is. Met Nash se boude op sy skoot en honde-oë wat liefderik in syne kyk, lyk hulle kompleet soos oubaas en oubaas se honne.

      Enver is ongeskeer en sy krapmerke lyk erger en meer geswel as die vorige aand. Hy leun swaar op die tafel met sy gesonde arm.

      Cheryl se hare is in rollers, haar gesig sonder grimering, haar lyf toegedraai in haar pa se ou check-kamerjas. Aan haar voete pronk ’n paar stokies, met ’n groottoon wat deur ’n gaatjie steek. Sy skep haastig vir hulle roereier en spek in.

      Dulcie maak die agterdeur oop vir die kermende China, wat reguit na Sparky loop en langs sy voete gaan lê.

      Wat ’n naweek, sug Dulcie innerlik, prop ’n vurk vol roereier in haar mond. Haar dogter wat ontbyt maak vir vyf mense. Nou toe nou, dís ’n nuutjie.

      Die weeskind is die enigste een vol lewe en woema. Hy wil sy (stief )ma en sy (stief )broer hê en hy wil hulle nóú hê.

      Cheryl eet haar halwe stukkie roosterbrood, drink haar halwe koppie koffie en gaan maak ’n draai in die badkamer en slaapkamer. ’n Paar minute later is sy gereed, uitgevat in skinny jeans en ’n stywe toppie.

      Iemand lui die klokkie by die voorhekkie. Cheryl hardloop uit en hardloop terug.

      “Ma, ons buurman van oorkant die straat wil vir Ma sien.”

      Dulcie gee haar ’n waarskuwende skrefiesoog-kyk.

      “Nee, regtig, Ma, dis Thabo Maake. Lank. Kaalkop.”

      “Sê vir hom ek kom.” Sy neem haar koppie, vat nog ’n slukkie. Hy kan wag, besluit sy. Dis Sondag en dis vroeg.

      “Wil jy hê ek moet vir hom R50 gee om ontslae van hom te wees?” vra Sparky uit die bloute.

      Dulcie gaap hom aan, nie seker of hy ’n grap maak nie. Hanna is skaars dood en begrawe en hy begin al klaar geld rondgooi! Enver gee ’n sagte laggie, knipoog vir Dulcie.

      Sy klap Sparky moederlik op sy hand. “Jy leer vinnig, ou swaer. Ek is trots op jou.”

      Sy staan op, sleep haarself voordeur toe. Net toe sy die deur oopmaak en vir Thabo by die hek sien staan, onthou sy sy het nog haar japon aan. Nie ’n Roxy-japon nie, maar ’n Pep Stores-cum-Gumaville gown. Te kort, te verbleik, twee knope af. En te laat om weg te kruip.

      “Goeiemôre, mevrou Douglas!” roep Thabo Maake na haar.

      “Goeiemôre, meneer Maake. Verskoon dat ek nie hek toe kom nie, maar ek is nog nie aangetrek nie. Gister was ’n lang, treurige dag vir ons.”

      Sy buk af om die Sondagkoerant op te tel. Iets by die hek vang haar oog, iets wat blink. Dis meneer Maake se massiewe goue pinkiering. Nege karaat? Agttien karaat? Heel waarskynlik met ’n tikkie platinum.

      Haar blik flits oor sy ontwerperjeans, sy ontwerperbaadjie, ontwerperleerskoene, ontwerperhaarstyl, ontwerper-alles. Sy tree haastig terug, skaam vir haar gown, maak die deur toe sodat net haar kop uitsteek.

      Dit val haar by sy het nog nie hare gekam nie en sy trek haar kop terug, hou die deur op ’n skrefie. Hy het nie meer as ’n oog en ’n oor nodig nie, besluit sy.

      “Ja, ek weet van die begrafnis. Ek wou oorkom, maar ongelukkig moes ek werk,” maak hy verskoning.

      Hoera vir jou, aangesien jy glad nie vir Hanna geken het nie, dink sy. Sou jy jou vrou en kinders saamgebring het?

      “Het jy gehoor van ons buurvrou, mevrou Louw? Die dokter, ambulans en polisie was almal hier gisteraand. Ek het jou kom sê, maar hier was niemand nie.”

      Dulcie staan soos ’n soutpilaar. Aangesien die skrefie nie groot genoeg is vir nog ’n mond ook nie, probeer sy Thabo Maake deur telepatie aanmoedig om meer te vertel.

      “Sy is gevind . . . bla-bla-bla . . .” Sy stemtoon is nou baie sagter. “Sy is al sedert bla-bla-bla . . . dood en . . .”

      Dulcie ruk die deur oop, vlieg by die trappe af en gee die buurman ’n full frontal van haar Pep Stores gown. Hy kyk na haar sonder om ’n oog te knip.

      “Wát het jy gesê?” vra sy verskrik.

      “Die polisie reken mevrou Louw was al ’n paar dae dood voor die ou huishulp die dokter ingeroep het. Sy het elke dag kom werk sonder dat sy besef het die vrou is dood. Hulle het ’n lewensgrootte pop uitgedra, glo as ’n bewysstuk. Die plek het behoorlik gestink. Ons kon dit tot by die hek ruik.”

      Dulcie is verbyster. “Maar . . . ek het Louwkie Woensdag . . . nee, Dínsdag nog gesien. Presies wanneer is sy oorlede?”

      “Eish, as jy haar Dinsdag gesien het, is sy seker Woensdag dood. Dit was dié week so warm, die ousie moet mal wees om nie iets te kon ruik nie. Die polisie het gesê hulle kom vanoggend met jou praat om –”

      “Met mý?” gil Dulcie. “O, werklik?” korrigeer sy met ’n fluisterstem. “Nou ja, as jy my sal verskoon, meneer Maake, ek moet gaan aantrek.