Vier begrafnisse en 'n troue. Pat Stamatélos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pat Stamatélos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703393
Скачать книгу

      “Ja . . . sekerlik. Tot siens.”

      Sy hardloop die trappe op, klap die deur toe en vlieg by die kombuis in.

      “Louwkie is dood! Hulle het haar gisteraand weggeneem. Meneer Maake sê sy is al sedert Woensdag dood. Kan jy dit glo!”

      Die hawelose mans staar haar aan. “Wat? Wie? Hoe?” vra hulle.

      Dulcie val in ’n stoel neer, voel hoe sy begin hiperventileer, probeer om stadiger asem te haal.

      “My buurvrou, mevrou Louw. Van oorkant die straat. Sy is Woensdag oorlede. Hulle het gister haar lyk in haar huis gekry.”

      Sy druk haar gesig in haar hande. Dís wat gebeur wanneer mens na ’n duur omgewing trek. Eers die begrafnis, dan die ongeluk, dan die polisie, dan wéér die polisie. Wat dink die bure van hulle?

      “Well, my dear,” sal meneer Whitey vir mevrou Whitey sê oor hulle Rice Krispies en Earl Grey, “don’t say I didn’t warn you. That’s what happens as soon as the other side moves in. Funerals and police cars, par for the course. We should have moved to Houghton.”

      Dulcie voel verpletter, selfs desperaat. Rose moet terugkom en op die stoep gaan staan. Sy moet verkieslik rustig sit en koerant lees en lyk asof sy daar hoort.

      Dulcie los die haweloses in die kombuis en gaan bad. Die kat klim deur die venster en sluit by haar aan deur op en af op die bad se rand te loop. Hulle kyk mekaar aan en die kat spin gelukkig.

      Cheryl het die weggooikatjie buite ’n Indiërwinkel opgetel en Fatima gedoop. Later het sy bevriend geraak met ’n meisie wat werklik Fatima heet en die kat het Fati geword. Dit was vyf jaar gelede.

      Fati maak haar tuis tussen die krane. Vir wat hou ’n kat jou altyd dop as jy bad? wonder Dulcie.

      En tog, op ’n perverse manier is sy dankbaar vir die katterige geselskap. En ten minste is Fati nie ’n mannetjieskat nie. Die ander kat, ook ’n wyfie, word eenvoudig Kat genoem. Dié kom omtrent nooit in die huis nie, maar slaap in die hondehok. Sy is mal oor die honde en die honde oor haar.

      Dulcie se selfoon lui. Dis Violet wat vra na Bowie.

      Toe Dudley wat wil weet hoe dit met die beseerdes gaan.

      Dulcie voel effens ontsenu by die gedagte dat die polisie met haar wil kom praat. Hoekom stel hulle belang om háár te ondervra? Wat op aarde weet sy wat hulle nie reeds weet nie? Mylord, Shorty moet net so mal soos Louwkie wees!

      Sy sit ’n lekseltjie Chanel Number 5 agter elke oor (die nagemaakte een vir R99,95), trek haar swart kantonderklere aan en glip die gebreide burgundy rok oor haar kop, die V van haar borste net-net sigbaar. Toe haar swart hoëhakskoene met krale om die enkels en oop tone (ook by Pep Stores gekoop). Sy wonder of die bure die Pep Stores-kwaliteit sal herken. Nee wat, besluit sy, tensy hulle ook daar koop.

      Sy bekyk haar gesig in die spieël. Goeie beenstruktuur, groot oë en ’n neus lank genoeg vir die Roxy-elite. Sy kan selfs saam met Rose op die stoep gaan sit.

      ’n Bietjie maskara, ’n tikkie poeier. Sy krap in haar handsak vir haar lipstiffie, kom weer op die hospitaal se brief af. Met ’n swiep van haar arm maak sy die onderste laai oop, gooi die brief in. “Bly,” sê sy, “en verdwyn.” Klap die laai hard toe.

      Cheryl bars by die kamer in. “Ma? Met wie praat Ma?”

      “Op of af?” vra Dulcie en bondel haar hare op haar kop, laat dit weer op haar skouers val. Dan besef sy Cheryl is veronderstel om by die hospitaal te wees.

      “Jy’s gou terug?”

      “Nee, ons het nog nie gegaan nie. Rose het gebel om te sê ons moet nog ’n uurtjie of wat wag, hulle wag nog vir die dokter om vir Bowie te ontslaan. Ek en Puck het net gou Checkers toe gegaan om vir hom ’n speelding te koop, om hom stil te hou.”

      “O ja, ek wou nog vir hulle iets gekoop het, gister al,” val dit Dulcie by.

      Cheryl bekyk haar ma van haar kroontjie tot haar toontjie. “Wow, Ma, Ma lyk . . . sexy. Vir wie nogal?”

      “Wel, nie eintlik vir enigiemand nie. Ek het net gedink aangesien almal so . . . verwese en beseer lyk, kan ek net sowel op my beste lyk.”

      “Hmm, ek hoor Ma. Onthou, die bure loer.”

      “Regtig?”

      “Regtig. Daar’s ’n polisiekar voor die huis en twee manne in die sitkamer. Hulle vra na Ma. En die bure hang by die vensters uit.”

      “Régtig?”

      “Nee, ek speel sommer. Komáán, die polisie wag.”

      Dulcie staan nog met haar hande in haar hare.

      Cheryl kyk haar stip aan. “Laat dit hang,” sê sy.

      Hoofstuk 5

      5

      Shorty voel oorstuurs. Dis Sondag, die dag ná al die gebeure by Chesterlaan nommer 199, Roxy. Eers het die dokter gekom, toe die poelies, die undertakers, die bure en al die nuuskieriges wat voor die huis saamdrom. Sommer so, sonder invitation, soos Louwkie sou gesê het. Party het by die hek gestaan asof hulle daar hoort.

      Die poelies het goed uit Louwkie en Oubaas se kamer uitgedra. Hulle het selfs vir Oubaas uitgedra. Al het dit onverwags koel geword en begin reën, het die poelies nogtans elke venster in die plek oopgemaak. Sy het haar hart in haar hande gehou toe sy sien hoe hulle toilet spray oral rondspuit.

      Louwkie sou nie daarvan gehou het nie, maar sy het nie vrae gevra nie, dit was nie haar plek om die poelies uit te vra nie. Sy het eenkant gestaan en alles en almal in stilte aangekyk.

      Nou sit sy in die vaal kantoortjie by die poeliesstasie.

      Die man agter die lessenaar oorkant haar rol sy oë. Sy self knip nie ’n oog nie, want sy bang hom niks. In die oggend as hy opstaan, stink sy asem nes hare. Dan gaan hy na die kleinhuisie en maak sy shitz nes sy. Hy voel die koue, sy voel die koue, hy voel pyn, sy voel pyn. Daar is geen verskil nie.

      Dis net sy taal wat anders is.

      “Begin by die begin,” sê die man in uniform.

      Hy praat Engels, sy’s nie onnosel nie, maar hy praat met so ’n dik aksent, dis moeilik om hom te verstaan. Hy druk ’n knoppie op ’n masjientjie wat dadelik saggies begin gons. Shorty snork onderlangs, sy bang ook nie masjiene nie.

      Sy mompel iets, kyk in die verte, verby mense se koppe, deur die venster. Van wanneer af werk die poelies op Sondae? wonder sy.

      “Ouma, jy moet hard praat,” sê die man. “Ek kan jou nie mooi hoor nie.”

      Shorty pers haar lippe saam. “Is jy doof?”

      Die mans lag.

      Sy sit en kyk hoe hy met die masjientjie vroetel, benige vingers wat trek en druk en uiteindelik afskakel. Hy staan op, gaan praat met iemand in ’n taal wat sy herken, van lank gelede.

      Haar ma was ’n bruin vrou van Kimberley se geweste, haar pa ’n Zulu van Shayamoya. Hulle het aan die rand van ’n suikerrietplantasie gebly, met groen weivelde so ver as die oog kan sien. Sy en ’n ouer nefie moes na die skape en koeie omsien en het uitgelate deur groen valleie en oor heuwels met lang gras gehardloop.

      Haar boetie is jonk oorlede en haar pa is kort daarna vort, op soek na groot geld in Egoli. Sy was net nege jaar oud. Haar pa het nooit teruggekom nie.

      Op haar tiende verjaarsdag het haar ma gesê: “Vandag verlaat ons dié plek vir ewig. En van vandag af, Shorty, is jou van nie meer Tshabalala nie, maar Present. Jou pa het vergeet dat hy ’n dogter het.”

      Haar ma het nooit weer ’n woord Zulu gepraat nie. Maar wanneer die donkerte in haar kop wegtrek, het Shorty haar pa se stories onthou, en ’n familie wat om die vuurtjie sit.

      ’n Ander man kom sit oorkant haar. Hy is ’n jong boykie, mooi gesig, mooi vel. Heel waarskynlik deur sy ma geborsvoed