Vier begrafnisse en 'n troue. Pat Stamatélos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pat Stamatélos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703393
Скачать книгу
maar hy het ’n bietjie ontsteld gelyk.”

      “Nee, ek weet nie. Dad het niks gesê nie. Ma was baie verknog aan haar meubels.” Hy aarsel. “Maar Ma se meubels is regtig horingoud,” gee hy toe.

      Dulcie glimlag. Dis steeds Má se meubels.

      Sy sit haar hand om Enver se lyf en saam loop hulle die trappies op na die voordeur. Toe sy omkyk, sien sy die geparkeerde polisiemotor oorkant die straat staan.

      “Dankie tog, julle het gekom,” sê Sparky toe hulle inloop, duidelik verlig om hulle te sien.

      Twee polisiemanne sit in die sitkamer, en oorkant hulle sit ’n baie senuagtige Sparky op die punt van sy stoel. Agter hom staan Nash met sy voorpote op Sparky se rug, swaai sy stert vir Dulcie.

      Enver en die polisiemanne skud hand en gaan sit.

      “Verskoon my, ek wil net gaan kyk na –” begin Dulcie.

      “Puck slaap, Ma. Hy het omtrent omgekap toe hy die kussing sien,” sê Cheryl toe sy inkom. Sy kyk met afgryse na Enver. “Jy lyk omtrént verniel! Voel jy alright?”

      Hy wys met sy duim als is reg, skuif ver agtertoe in die gemakstoel.

      “Terloops, Sparky, ek het die hospitaal gebel om te hoor hoe dit met Fanny gaan. Sy is soort van oukei. Haar familie is by haar, maar nie haar ma nie. Bly sy en haar ma dan nie saam nie?” vra Dulcie.

      “Dankie, Dulcie, ek het ook gebel. Ja, sy en haar ma bly saam, maar haar ma is baie siekerig die laaste tyd.”

      Dulcie en Cheryl loop kombuis toe.

      “Ek het ’n dop nodig,” sê Dulcie en val behoorlik in ’n stoel. “As jy koffie maak, haal sommer die brandewynbottel van die boonste rak af, asseblief.”

      Cheryl skakel die ketel aan en trek die bottel nader.

      “Hoe het dit toe gegaan met Sparky onder kruisverhoor?” vra Dulcie bekommerd.

      “Nogal heel goed,” antwoord Cheryl terwyl sy ’n glas uithaal.

      “Los die glas, gooi sommer die laaste bietjie in die koffie.”

      Cheryl gee haar ma ’n kyk, gooi net die helfte van die laaste bietjie in die koppie.

      “Ma weet hoe oom Sparky is: óf langdradig óf vergeetagtig. Maar ek dink hy ly nog aan skok, want hy het al die polisie se vrae in drie-woord-sinne beantwoord!” Cheryl gee ’n laggie. “En wat meer is, hy het onthou om Fanny se familie te skakel, onmiddellik ná die ongeluk.”

      “My wêreld,” is al wat Dulcie aan kan dink om te sê, verbaas dat Sparky so kalm was. Sy voel skielik moeg en getap, dankbaar dat die ergste verby is.

      Sy dink terug aan die oproep, kort nadat Sparky-hulle weg is. “Ons is by die hospitaal,” het hy met ’n bewerige stem gesê. Dit het vir haar gevoel asof die twee mans weer op haar drumpel staan: Jammer, ons het slegte nuus. En Bennie in die intensiewesorgeenheid.

      Bennie het soos ’n dooie gelyk nog voor hy dood is. Sy hande was yskoud. ’n Buis was aan ’n ventilator gekoppel en sy het langs sy bed gesit en luister na die biep-biep-biep-geluide totdat sy wou mal word.

      Die volgende dag het hy ’n bietjie geroer en haar hoop het opgevlam.

      Die dag daarna het sy hart gaan staan, toe weer begin loop.

      Teen die einde het sy nie meer die verskil tussen dag en nag geken nie; die een het eenvoudig in die ander gesmelt. As hulle ’n bord kos voor haar neersit en dit ontbyt noem, het sy geweet dis ’n nuwe dag. Met aandete het sy geweet dis die einde van die dag.

      Op die tiende dag het hulle huisdokter en die spesialis haar voorgekeer toe sy terugkom ná ’n stort en skoon klere se aantrek, die enigste rede waarom sy nog huis toe gegaan het.

      Bennie is breindood, het hulle gesê. Daar is geen punt daarin om die masjiene aan die gang te hou nie, dit verleng net die familie se smart.

      Die besluit was hare, en sy op glibberige terrein. Medies gesproke het sy nie eens die verskil tussen parasetamol en aspirien geken nie. Nou moes sy die jawoord gee om iemand se lewe te neem, of nee sê en hulle eie smart verleng.

      Tog het sy geweet: die enigste manier om uit te vind of Bennie sal oorleef, is om die knoppie te druk. Toe die tyd aanbreek, het Ashwin hom in sy kamer toegesluit. Cheryl het in die motor vir haar gesit en wag.

      Sy het na haar lewensmaat, haar geliefde gesit en kyk terwyl die vonk van sy lewe stadig geblus word. Hulle was skaars veertien jaar oud toe hulle vir mekaar begin loer het. Hulle het op negentien getrou. Ná baie miskrame is Ashwin gebore, en twee jaar later Cheryl.

      Toe die finale besluit geneem word, was daar nie ’n greintjie baklei in Bennie se pap liggaam oor nie. Sy het haar rug gedraai op die stil masjiene en die stil man, en aanhou loop. In die motor het Cheryl haar ma in haar arms toegevou, en later het hulle die nuus aan Ashwin deur sy toe deur oorgedra.

      Dulcie sluk aan die knop in haar keel.

      “Arme oom Sparky,” sê Cheryl terwyl sy die kookwater in die twee koppies gooi. “Hy het so pas vir tannie Hanna begrawe en het amper sy hele familie ook begrawe. Dit was so hittete.”

      “Wat ’n skok, vir ons almal. Gaan jy vir die klomp in die sitkamer ook koffie maak?” vra Dulcie.

      “Hulle het al gehad, ek sal net vir Enver koffie maak.”

      “Ai, hoekom moes dit nou juis vandag gebeur, op Hanna se begrafnis?”

      “Kan Ma glo, die dronkie in die ander motor het nie eens ’n krapmerk nie. Gelukkig is hy nou agter tralies.”

      “Dis waar hy hoort. Waar presies het die ongeluk gebeur?”

      “Oom Sparky sê dit was by die eerste stopstraat net voor mens by Mohlakeng indraai.”

      “Mylord, dis nou ’n plek om iets oor te kom!” Dulcie vat ’n teug van haar koffie, proe die brandewyn en sug behaaglik. “Is hulle enigsins geteister of lastig geval?”

      Cheryl gee haar ma net ’n kyk. Sy ignoreer die vraag en Dulcie ignoreer haar stilte.

      Cheryl vat Enver se koffie binnetoe en kom sit oorkant haar ma. “Oom Sparky het gesê binne sekondes was dit ’n miernes van mense. Selfs taxi’s het gestop om te sien wat aangaan.”

      “Ag nee! Is enigiets gesteel?” vra Dulcie verskrik.

      “Ma, hou op om so negatief teenoor mense te wees! Niemand is geteister nie, niks gesteel nie. Om die waarheid te sê, oom Sparky vertel die mense van Mohlakeng was van groot hulp vir hulle. Iemand het ’n sambreel oor die kinders gehou terwyl die man self papnat geword het. Iemand anders het Enver uit die motor gehelp en sy bloed afgevee. ’n Vrou het vir Bowie gepaai terwyl sy ’n plastiekreënjas oor hom hou.”

      “Dis Suid-Afrika, mens verwag die ergste,” verdedig Dulcie.

      “Nee, Ma, dis nie waar nie. In tye van krisis snel mense mekaar te hulp. Ma wéét dit.”

      “Hmm, baie diepsinnig. En ek dog jý’s die pessimis.”

      “Net omdat iemand ’n begrafnis gatecrash op soek na ’n gratis ete, beteken nie dat hy nie vir sy medemens omgee nie. Kyk hoe het Fanny vandag uitgehelp.”

      “Ek dink nie dit gaan goed met haar nie,” sê Dulcie en skud haar kop. “Terloops, het jy gesien hoe Rose vasbyt? Sonder histerie, net koel en kalm. Sy het ’n bietjie woes gelyk, maar sonder klagtes.”

      “Ja, wie sou dit kon dink?”

      “Ek moet vir Doll bel voor ek gaan slaap, haar vertel van die ongeluk.”

      “Sê sommer vir antie Doll hulle moet weer ’n slag kom kuier.”

      “Ja, ek mis my suster. Kaapstad voel soms so ver.”

      Dulcie wonder wat Doll van Roxy en die groot huis sal dink. Hier is oorgenoeg plek vir haar suster as die kinders die dag besluit