My naam is Prins, ek slaap met die lig aan. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798179713
Скачать книгу
dit dan agterlaat vir wat dit wás, sal jy saam met die regte persoon, onder die regte omstandighede, die man kan wees wat jy altyd bedoel was om te wees.”

      Hy kyk sydelings na haar en sy ontmoet vir ’n oomblik sy blik. Langs sy neus loop diep vertikale lyne tot by sy mondhoeke. Ouderdomslyne, sonder dat hy werklik oud is. Verdrietlyne. Sy oë kyk met ’n soort verering na haar, die persoon wat hom aandag gee. Sy voel byna skuldig – geen mens durf soveel op ’n ander vertrou nie.

      Daniël het koning Nebukadnesar se droom vir hom uitgelê: die beeld met die kop van suiwer goud, die arms en bors van silwer, die maag en heupe van brons. Die bene was nog van yster, maar die voete deels yster, deels klei … Die klip wat afgebreek het, het die voete van klei verbrysel, en die beeld het homself te pletter geval.

      “Onthou,” sê sy saggies, “ek gaan saam met jou omdat jy veiliger voel met my in die nabyheid. Maar Liezl is ook hier – en haar ondersteuning is van onskatbare waarde. Ek is eerder hier as ’n vriendin as ’n terapeut.”

      Die afgelope twee jaar het sy haarself probeer dwing om nie meer aan haar pasiënte te dink nie, maar sy kon net nie die raakpunte tussen Deon en Frank se verlede uit haar kop kry nie. Mag die goeie Vader in die hemel gee dat wat ook al gebeur, dit vir hom, en vir Frank, en vir sovele ander mense, anders sal uitwerk as vir Linette – die vrou wat sy gefaal het.

      ’n Paar jaar gelede was sy België toe na ’n sielkunde-en-psigiatriekongres. Dit was in die tyd toe sy Deon gesien het, en sy’t gewens hy kon daar wees. Dat hy kon hoor wat die omvang van hierdie praktyke is, kon weet: hy staan nie alleen nie, en dit het ook nie net met ’n klomp seuns op ’n dorpie in Suid-Afrika gebeur nie.

      Die hoofspreker by die kongres was die kinderpsigiater wat met die slagoffers gewerk het nadat die seksskandaal in 2010 in die Katolieke Kerk losgebars het.

      * * *

      November 2013 – Antwerpen

      Corinne sit op die punt van haar stoel, vasgevang deur die woorde van die lang Vlaming op die podium. Hy tik op die lêer voor hom: “Hiér is die getuienis van meer as aghonderd mans …” ’n Sagte roesemoes van stemme vul die ouditorium. Die ontsetting wil haar onder ’n tafel laat inkruip. ’n Kleindogtertjiewegkruip, weg van dit wat sy liewer nie wóú hoor nie.

      Hemelse Vader? Waar was Jy terwyl jou afgesante daardie kindertjies wat Jy na Jou toe roep, agter toe deure van kloosters en kerke bevoel het, verkrag het, gebruik het om hul eie dierlike drange te bevredig?

      “Skandalos!” Die woord beier deur die ouditorium. “Skandaal! Dié woord met sy oorsprong uit die Grieks is ’n steen waaroor jy struikel. Dít is die ware skandaal! ’n Samelewing wat sy oë toeknyp. Die kerk beskerm sy binnekring, en gewone lidmate en die publiek word gebreinspoel. Ons swyg; ons is lafhartig.” Die Vlaming se laaste woorde is sag; ’n fluisterende aanklag.

      Sy sit versteen. Die bloed klop in haar ore. Elkeen wat versuim, is net so aandadig.

      Op pad stasie toe haal sy hom in. Op die verhoog was hy regop, fier; van agter af sien sy nou hoe vermoeid, hoe tam sy skouers hang. Iemand wat twyfel of sy woorde ’n impak het?

      Sy haal hom in, roep uitasem: “Professor, kan ek saamstap?” Hy beduie met sy hand: Kom, ek wag vir jou! Die Antwerpse wind waai snerpend koud. Hy haal sy jas se kraag op, slaan sy serp digter om sy nek.

      Sy vra hom uit, sien hoe die krag terugstroom wanneer hy praat. “Ja, doktor Prinsloo, ons is grootgemaak in tye waar ’n kind net ’n ding was; gehoorsaamheid was alles. Die priester, die skoolhoof, die dokter, die polisie – wat hulle gesê het, was wet; die res moes maar ja en amen sê. Die waarheid is weggeweer deur die einste instansies wat die mense en hulle kinders moes beskerm.”

      Sy asem blaas wolke koue koolstofdioksied. “En die hoogste gesag – die Vatikaan – was sy hande in onskuld.”

      Die koue kruip tot in haar murg. Suid-Afrika is nie anders nie. Junkies en skollies, ja, hulle word aangekeer, verhoor, geoordeel, maar die sogenaamde gesiene mense, die celebs, die sporthelde en politici – vir hulle word die onreg dikwels gerieflik onder ’n dik tapyt van aansien en roem ingevee. Dis die kind wat lieg.

      Met sy voet op die treinwa se trappie tree die man ’n oomblik terug, lê sy hand op haar arm: “Dalk lê dit dan aan ons? ’n Paar wat dapper genoeg is om op te staan, te veg vir die waarheid – vir die kinders?”

      Hoofstuk 6

      September 1971 – Skuilkranz/Morganbaai

      “Dankie vir die kos, liewe Heer, wat U aan ons voorsien het. Dankie dat U spesiaal voorsien vir dié wat ver van die huis is; dat U my ’n pa vir hulle gemaak het, hulle aan my sorg toevertrou. En dankie, Heer, vir dié liewe man, hierdie boer se genadegawe, dat hy sy plaas beskikbaar stel vir ’n seevakansie vir die kinders sonder heenkome.”

      Klaar gebid in die eetsaal van die koshuis, klap Pa Pietie sy hande: “Nou moet ons regmaak vir die rit na die plaas by die see!”

      Daar is ’n helder lig wat in die eetkamer skyn. ’n Ware pa is hy, reguit uit die hemel uit na hulle gestuur.

      In die sinkskuur op die plaas by Morganbaai is ’n matras, ’n kombers en kussing vir elkeen van hulle nege wat nie huis toe kan gaan vir die tiendae-Septembervakansie nie. Hulle spring en jil – jong, uitgelate rifrughondjies, wild en vol energie; spring en stoei en lag, jaag resies met mekaar. Skop die rugbybal kopkant-gatkant teen die skuinste af. Hol! – keer voor dit in die see daar onder beland! Die see wat onder klots en bruis.

      Pa Pietie pak ’n vuur buite; die boer het wors gegee vir die eerste en tweede aand. Wie moet uie skil vir die braaibroodjies? Jan en Dawid, die oudste van die tuisblyers, pik op hom, kies hóm uit. Sy neus en oë traan. Hy vee dit met die agterkant van sy hand af, maar sy oë brand net erger en erger.

      Meteens is Pa Pietie by. “Julle maak darem nie mooi met Deon nie. Hy’s nog vreemd hier; julle wat ouer is, moet van beter weet, maar julle gee die slegste werk vir hom! Wag, gee vir my, ek sal self die uie sny. Begin julle solank toutjies bind om die klaar toebroodjies – het julle al sout en peper op die tamaties gegooi?”

      Hulle sing om die vuur. Pa Pietie leer vir hulle liedjies wat nie in die Hallelujaboek staan nie. Dis so mooi; Pa Pietie se stem is die mooiste singstem wat Deon al gehoor het.

      Hulle was hulle blikborde, dan gaan baljaar hulle weer saam met Pa Pietie in die laaste daglig op die strand. Hy tel hulle op teen die branders, lig hulle uit die water en bring hulle weer af teen sy lyf.

      Maar Deon staan ver weg. Daardie skuimwit blikslaan van die brander toe hulle net daar aangekom het, het sy asem uit sy longe gegryp.

      Terug by die skuur roep Pa Pietie hom terwyl die ander gaan stort: “Deon! Help gou die kartondose uitpak! Kom sommer net so in jou swembroek, ek gee vir jou ’n droë handdoek.”

      Bottels ingemaakte perskes, blikkies baked beans en sardyne in tamatiesous, raspberry-aanmaakkoeldrank, kaas en piesangs. Kort-kort moet hy die spoeg in sy mond wegsluk.

      Hy voel meteens Pa Pietie wat agter hom kom staan, sy sterk armspiere om sy skouers. “Maggies, jy word groot en sterk, Deon! Jy is ’n baie spesiale seun, Donnie, onthou dit altyd. Kom, droog jou eers af, waar’s daai handdoek?” Die skaamgeit stoot oor sy nek en ore, hy voel hoe dit rooiwarm in hom gloei. Hy staan sonder swembroek voor Pa Pietie – Pa Pietie kyk nie weg nie. Dan vat hy met sy groot hand die handdoek en vryf daarmee teen sy rug; oor sy arms, sy bene, nog hoër op – sy ma het altyd gesê hy moet goed afdroog daar.

      Pa Pietie sit sy arm om sy skouer – dis lekker, louwarm, so in die kring van sy arms. Só het sy ma hom laas vasgehou …

      * * *

      Deon het lankal opgehou praat; hy’t hom weggedraai van Corinne af, en hy sit al ’n hele tyd so.

      Corinne kyk na Liezl in die truspieëltjie, lees vir die eerste keer bekommernis in haar oë. Onsekerheid, vrae.