Ma verdedig generaal De Wet deur te sê sy manne laat hom in die steek. Hulle is saam met die vroue en kinders deur die Nek, op pad Fouriesburg toe, nog voordat die beslissing oor Bethlehem gevel is.
“Nogtans,” kry aunt Soph die laaste woord in.
Dis nie net Ma en aunt Anne, Pa se jongste suster, wat die erns besef nie – ek is groot genoeg en lê snags wakker.
Aunt Anne doen haar bes om die bekommernis weg te steek. Sy word so eenkant van ons groot – neus in die lug, dink ons, met uitspattige klere en baie boeke, wat Soph tog in die geheim lees. Hoe verkeerd ons was, dit kom ons dié winter en halfsomer agter toe sy tot ons redding kom, gedurende die stukkie somer voordat ons haar teen die Skuiltes sou begrawe.
Toe ons ons verstand kry, was sy reeds op die Seminary. Sy het net lang vakansies uit die Boland teruggekom, met stories wat ons in ieder geval nie geglo het nie. Sy was ’n mooi meisie, met so ’n deurskynende vel, peaches and cream soos hulle op Engels sê. Omdat sy alleen grootgeword het, het liefde moeilik tot haar gekom. Maar toe sy dit gee, dag ná dag teen die Skuiltes toe dit nodig was, toe géé sy dit: As jy jou knie nerfaf val, troos sy. Word jy uit ’n nagmerrie wakker, klim jy teen haar rug in.
Deur die oorlog deur bly haar dood ’n rou seer, en daarna ’n letsel wat ons lewenslank sou dra.
Selfs arme oom Japie verstaan iets is nie pluis nie, met dié dat Ma so al in die pad af kyk of sy die Witsies nog nie sien nie.
En oom Japie? Waarheen is oom Japie, die ou dikkertjie met sy waggelstap, nou weer op pad, kwaad-kwaad omdat Ma meer in die pad as in hom belang stel? Hy is uitasem, met die armpies wat heen en weer woer-woer, handpalms na agter en die kort vingertjies wyd gesper.
Maar oom Japie kon waggel waar ons al vergeet het om te loop. En onthou hy iets wat ons reeds vergeet het, wanneer hy so apart in sy eie stiltes sit? Verlang hy terug na ’n ander herkoms, ver anderkant die rede en die redelikheid? En as hy só skree, soos net oom Japie kan skree, sien hy daardie allervreeslikhede wat nog net in nagmerries aan ons openbaar word? Wie sou kon raai teen watter horisonne hy sy oë op skrefies rig, elke uur van die lang dag? Wie weet watter probleme sy yl wenkbroue deurentyd plooi? Welke vinnige verwisseling van uitsig oor vreemde landskappe laat hang sy mond permanent in verbasing oop?
Die Witsies sê oom Japie wandel in die Lig van Genade en die Engel Gabriël hou sy vlerke altyd so ligweg om oom Japie gevou, net ingeval. En, snaaks, dit is kompleet of jy in sy teenwoordigheid ook onder die vlerkspan van die Seën skuil. Al daardie baie jare dat hy vir ons gespaar gebly het.
Soph gee voor die oorlog is ’n groot avontuur. Soph met die bos blonde krulhare wat sy net in bedwang hou deur hulle agter haar kop vas te maak, sy was soos ’n ma vir ons nadat ons aunt Anne teen dié middelsomer begrawe het.
Ons het iemand nodig gehad om ons gedrag en ons gedagtes te stuur, al was dit dikwels in die verkeerde rigting. Soph het dit met haar lopende kommentaar gedoen. Ek twyfel of ons jou aunt Soph altyd reg verstaan het, maar haar ontoegeeflike oordeel het die brûe verskaf tussen gebeure wat andersins sonder onderlinge verband sou bly.
Al het ons dit nie tóé geweet nie, het aunt Soph ook haar vrese gehad, en dit was groter vrese as ons s’n en dalk net so groot soos Ma se onbekende vrese. Soph kon verder as ons ander kyk, met dié dat haar harde uitsprake onverwagte samehange oor lang tye, ver plekke en uiteenlopende ervarings gelê het. Sy het ons teen dié vrese beskerm deur verduidelikings te gee en in te gryp in ons verwagtings. Selfs ek, maar veral die tweeling, jou aunt Joey en jou aunt Miemie, was nog ongevormde kinders en al was ons eiewys sou ons dié vrese en teleurgestelde visies nie kon verwerk nie. En Ma was so onvoorbereid om dié funksies te vervul.
As ek nou terugdink, dan sien ek die oorsprong van die ding tussen Ma en aunt Soph. Soph het Ma verkwalik omdat sy vir Soph ingedruk het in ’n rol waarvoor Soph self nog onvoorbereid was – ongeag hóé goed sy dié rol vervul het. Soph sou langer Ma se kind wou bly.
Pa, oom Giepie en oom Frans is op kommando. Aanvanklik veg al drie in die Bethlehemse kommando onder generaal Swart Migiel Prinsloo, die bittereinder-broer van ou Martiens. Dis veral oom Blink Frans wat ’n rol het in die storie wat ek hier vertel, van Mannetjies Mentz se ingryping in ons lewe teen die Skuiltes. Van Frans, my lieflingbroer, se vreeslike kant van die saak weet ek eers meer as veertig jaar later ten volle, toe hy sy gladde pen opneem – en tóé ook weet ek eers van sy skuldgevoelens en sy vertwyfeling deur die baie jare heen. En tóé eers weet ek van sy onvermoë om dit, sy skuld en twyfel, tot ’n balans te bring. Dis Frans se storie en Frans het dit beter vertel. Dis nie ’n maklike of ’n mooi storie nie, maar ek sluit dit hierby in.
Ma en aunt Anne, wat ons teen middelsomer sou begrawe, staan saans met verkykers om brandende plaashuise te eien. “Gert Griffiths se vrou en kinders soek vannag ander slaapplek.” “Vanaand brand Nooitgedacht se opstal.” “Dis ook maar ’n geluk tant Annie lê met die kanker by haar suster op Senekal.” En die naam van generaal Hunter word ’n vloek, veral omdat hy selfs die dorpe nie spaar nie. Wanneer Ma-hulle nie teen die horison na rook soek nie, kyk hulle pad-af of die Witsies nog nie aan die kom is nie.
Vroue en kinders in waens, allerhande soorte Kaapse karre en selfs ’n spaaider met ses osse ry oor ons plaas van hulle afgebrande plaashuise na die dorpe toe. Bedags is hulle uitgelewer aan kaffers en, erger, hensoppers en joiners. Ma gee oornag en sop en troos, en stop in menige verslae hand ’n verleë emmertjie dun wintersmelk en ’n brood toegedraai in ’n klam gaasdoek vir die pad.
Hoe meer Ma sien, des te meer vasberade is sy dat ons ons nie hier soos muise in ’n waenhuishoek sal laat vastrap nie.
“As daar af te brand is, dan brand ek my eie werf af,” sê Ma. “Ek sweer, as Jan Witsie nie kom nie, dan verraai ek sy leeftyd van smokkel aan al wat Kakie is.” Aunt Anne bevestig haar geloof in die Witsies: “Hulle sal kom.”
En die Witsies kom! In die loop van drie dae kom hulle in groepe: die vroue en kinders op ’n wa; die mans te perd agter drie troppe vee. “As die Engelse twee opkommandeer, dan is een trop oor,” sê Jan Witsie van sy troppe vee. Dieselfde dag nog verdwyn twee troppe beeste in ’n kloof op, na die Skuiltes. “Net die allersterkstes, Jan. ’n Tweehonderd stuk goeie Uysbees, een van ons vir een van julle syne, tot die getal vol is.” Die tweeling tel sing-sing af: “Een vir Uitkyk, een vir die Witsies.” ’n Groot hoeveelheid vee bly agter om op Uitkyk deur Witsies opgepas te word. Daagliks daarna volg troppie vir troppie skaap bergop.
Jan en sy groot seuns praat op die agterstoep met Ma, koue hande om warm bekers koffie. Tot laatnag ghries hulle die waens in die lig van ’n lantern.
Daar is net dae oor voor die vertrek. Ek kom om die hoek waar Ma, oorlede aunt Anne en die Witsievroue waterdigte seilsakke vir mielie-, boontjie- en ertjiesaad op die agterstoep stik terwyl hulle gesange en Hallelujaliedere op Sesotho en Hollands sing, heupe swaai en hande klap. Tussenin rook hulle hul lang rietpype en Ma stuur haar snuif om. Party neem dit deur die neus, maar ander sit die knippie snuif so onder die lang onderlip.
Vir my lyk dit onsedelik, soveel so dat Ma dit raaksien. Sy sê: “Eerder ’n Wederdoper of ’n Sionser met ’n lied in die hart as ’n Dopper om in die oorlogstyd deur die oog van ’n naald te gaan.”
Ma sê: Prijs den Heer. Die Witsievroue antwoord in ’n koor: Alleluja, alleluja! Prijsenheer! Amen, Amen!
Daar is iets vals aan die uitbundige godsdiensuitinge, ál asof dit die trane moet afweer en die vroue gereed maak vir ’n tyd dat hulle sal weier om Prijs den Heer saam met Ma te sing. Onrustige nagte deur hoor die kinders hoe grootmense by die waens stry oor wat moet bly as vuurmaakgoed vir die Kakies en wat moet saamgaan Skuiltes toe. In die bitter koue van die eerste lig word ons lomerig wakker met dieselfde “dit gaan saam, maar dat bly” waarmee ons die vorige aand aan ’t slape geraak het. Niks is ooit deur die lang nagte beslis nie, so voel dit vir ons.
Ons kinders sink pekelbalie ná pekelbalie met klippe in die gronddam sodat die hout dig kan uitswel teen die hoepels. Môreoggend slag ons vark.
“Jou hansvark