“Tsk, tsk, nog een,” sê Jan Witsie dikwels met dié lamtyd. Soms red ons die ooi; soms, wonder bo wonder, ook die lam. So sny ons dan tog minder ooie keelaf gedurende die tweede seisoen.
As die ooi die lam nog wil hê, ná al dié pyn: goed so. Ons weet daar is moeilikheid as ’n sterk lam tot uitkeertyd agter sy moer aanloop met ’n sak wat aan sy lyf droog word. Die weggooi-ooie word in sulke rye vasgemaak aan wawiele en nog wat.
Oom Japie loop ál agter Jan Witsie aan. “Voel,” sê hy as hy die ooi hard oor die neus slaan, iedere keer dat sy haar lam wegskop. Ons kry elke swakker weggooilam, waar die ooi hom ook al los, agter bos of klip, en maak hom hans groot langs ons eie of ’n Witsie se vuurherd.
Ons bly vir drie plant- en oesseisoene teen die Skuiltes. Selfs die bobbejane betoon hulle respekte. Ander wit mense praat dikwels van uintjies eet in die berge. Maar aan dié raak g’n Uitkyk- of Hoekmens uit hongerte nie. Uintjies los ons vir die bobbejane. Mens en bobbejaan gaan elk sy eie pad, behalwe af en toe as ’n ou mannetjie verlei word om van die kranse af te kom en ’n lam oopskeur om by die melkpensie uit te kom.
Ons plant, skoffel en oes. Mielies, koring, kafferkoring. Ons kweek veral die groentes wat ’n groeiseisoen kan oorlê na die winter toe. Soetpampoen, butter squash, ertappels en patats, witwortels en beesraap. Elke gelyk stukkie grond in die klowe word gebruik vir boerbone, botterbone en suikerbone. Die droë groenertjies loop deur my vingers, en ai Eliza se gesig word in elke ertjiepit vermenigvuldig.
Nie dat Eliza oud is nie. Sy is eerder ons maat as dié van ander Witsievroue en Ma. Dit is die Boesmanbloed, sê aunt Anne, of dalk Griekwabloed, dat ai Eliza al die rimpels soos ’n ertjie het. Dit sou haar nie verbaas as die Witsies haar as kleinding uit hierdie selfde Skuiltes weggevoer het nie – Boesmanvroue was van groot waarde, sê aunt Anne, nie ’n lui haar op daardie halwe bleskoppe van hulle nie. En oorlams, kyk nou maar net na Eliza, nie ’n ding waarmee ons Ma haar nie vertrou nie, en sy is maar nog so half kind, sê aunt Anne. Griekwa is beter as Boesman, en vir haarself én ons was ai Eliza ’n Griekwa.
Jan se eerste vrou is dood in ’n veldbrand wat handuit geruk het. Dan sê Jan Witsie Eliza is die vrou “van my kindsheid”. Sy is, sê Jan Witsie, na hom gestuur soos Abisa na Dawid, om die koue uit sy lendene te weer. En as Jan Witsie so sê, dan lag Eliza: “Kier, kier, kier. Hy sal hom wat verbeel, eerder Batseba as Abisa.” Dit weergalm ál met die Skuiltes langs, op en af deur die klowe tot dit teen rotshange vasslaan: “Kier, kier, kier.”
Ná meer as drie jaar, toe ons in 1903 teruggaan Uitkyk toe, moes die waens meer as een keer omdraai Skuiltes toe om die oeste uit die oorlog in te bring. En ons had almal skoene aan ons voete – wat meer is as toe ons in 1900 kaalpoot in die skimmelsneeu teen die Skuiltes aangekom het.
Nee, dit is moeilik om die vinger presies te lê op hoe Ma verander te midde van ons welvaart.
Boonop het Ma nog met die mans ook te make: Pa en oom Giep daag die eerste week van Julie by die Skuiltes op. Vanuit die staanspoor is dit duidelik hulle is moeg van die oorlog, want hulle kla net steen en been. Aunt Anne sê: In for a penny in for a pound, sonder dat ons weet wat sy presies bedoel.
Die oormag, sê Pa en oom Giepie, en wat van ploegtyd? En dan is daar Hunter se vyfduimkanonne teenoor die halfgewapende burgers. Waar’s julle Vrystaatse Mausers, mompel aunt Anne, waarmee julle voor die oorlog op wapenskoue so geloop en spog het?
Toe maar, sê Ma, ons hou hulle onder ons oë. Laat hulle maar ’n dag of twee rus, hoor ons Ma vir aunt Anne sê, dan kry ek hulle hier weg, terug Kommando toe waar hulle hoort.
Tussentyd ry oom Japie perd op Pa se knie. Oom Giepie vertel oorlogstories en stop nou soos ’n danige grootmens sy pyp voor Ma.
Aunt Anne knipoog en sê: “Onse dapper helde!”
Hulle het hulle kwalik tuis gemaak teen die Skuiltes, of Ma keer hulle een oggend om die koffievuur vas. Hulle is gevlei deur haar skielike belangstelling in mansake.
Sy tel ’n lang tak op en teken ’n groot perdehoef in die as. “Dis nou die Kom?”
“Ja.”
“Al met die hoef langs is dit sowat honderd myl, of verder?”
“Ja.”
“Ons is hiér. Slabbertsnek lê dáár onder, die middelste van die Poorte, en agter Slabbertsnek kry ons Retiefsnek, geskei deur die Brandwaterrivier se boloop? Behalwe vir ’n Kakieverkenner, so nou en dan, lê Slabbertsnek onbewaak? En in die noordooste, oor die Roodebergen, lê Noupoort? En Golden Gate is hier, in die ooste waar die Klein-Caledon ontspring? Golden Gate lê oop, en is in die regte rigting.”
Pa sê: “Ja, maar wat is tog nou ‘die regte rigting’?”
Ma sê: “ ‘Die regte rigting’ is die rigting om uit die Kom te breek voordat Hunter julle daar vastrap. Om by Golden Gate te kom, moet julle oor Slaapkransnek.” Pa en oom Giep het nou minder rede om gevlei te voel. Hulle praat aansienlik minder, behalwe om te beaam.
“En in die weste, hiér, hier lê Witnek,” teken Ma in die as. “En hier byna by Ficksburg en teenaan die Basothogrens, lê Kommandonek? Hier kan julle nie oor nie, want Rundle se mag is hier buite die Kom saamgetrek,” gee Ma vir hulle ’n uitkomkans.
“Ja, daar sal ons nooit kan oor nie.”
“Maar dit gee ons vier oop Poorte wat wyd oop lê, gereed vir julle om uit die Kom te ontsnap? En dis nie al nie; reg wes van Fouriesburg, reg binne die Kom, lê Generaalsnek, hiér …
“… en as dit moet, dan kan julle Nelspoort na die oostekant probeer, al kan die waens nie daardeur nie. Wat soek ’n wa met vrouens en kinders in ieder geval op ’n gevegsfront?”
Uit die berge, met hul sneeuspikkels in die klowe, wys sy na onder. Dan teken sy stokkiesmannetjies in die koue as wat mekaar in die Brandwaterkom oorswerm en verdruk, met party wat diekant toe loop en ander deuskant toe. “Dis nou julle,” sê Ma, “wat nou hier lê.”
“Ja,” sê Pa, “hier het ons ons ingegrawe.” Hy kom nie agter dat Ma “lê” sê soos ons dit in “lê en sleg word” sê nie.
“Hier, by Fouriesburg, het julle julle ‘ingegrawe’? Reg?”
“Reg,” sê Pa.
“Reg,” sê oom Giepie.
“Fouriesburg is binne-in die Kom, tussen die Wittebergen en die Roodebergen. Hier is president Steyn en generaal De Wet, met die Republiek se regering? Hier, buite die Kom, is Bethlehem …”
Waar Fouriesburg en Bethlehem is, sit sy klippies neer.
“… en die voorhoede van generaal Hunter se kolonne is op pad hierheen, net buite die Kom vanuit Bethlehem? Reg?”
“Reg,” sê Pa.
“Reg,” sê oom Giepie.
Uit die Bethlehem-klip marsjeer Hunter se stokkiesmannetjies in enkelgelid, netjies vir stokkiesmannetjies.
Ons ander het reeds agtergekom wat aangaan, waar ons in ’n sirkel rondom die koue as gehurk sit. Maar Pa en oom Giepie is nou stuurs en raak al meer onwennig om Ma te beaam as sy met die stokkie in die as teken. Hulle hou nie daarvan dat Ma kinders en Witsies as getuies teen hulle roep nie. Aunt Anne knipoog. “Onse dappere Boerehelde.”
“En julle moet uitbreek. Julle het hoeveel Poorte om uit te kies. Wat se ge-‘huis toe’ is dit met julle? Lyk dié vir julle na ‘huis’? Daar is geen huis meer nie, net ’n murasie op Uitkyk. As julle na dié ‘huis’ toe wil gaan, gaan julle alleen.”
Later