Skemeraand ry ek dertig myl na die plaas van die afgetrede skoolhoof se broer. Hy is ’n gesellige man met ’n rooi vel en hare wat nog steeds rooiblond tussen grys is. Ek verduidelik, en die Mentz-kêrel sê: “Laat ek eers vir ons ’n dop kry.” Hy gooi die glas halfvol Klipdrift en vul dit op met Coke en ys. “Nou kan ek op my gemak praat,” sê hy.
“Ek hoop,” sê hy, “dat jy kan sien ek was ons laatlam. My broer in Krugersdorp, die een wat jou hierheen gestuur het, is in sy laat sewentigs. Ek self is nou eers in my vroeë sestigs.
“Ek weet dus uiteraard minder as my broer se geslag oor dié tydperk waarin jy belang stel.”
Hy gooi nog ’n brandewyn en skreeu agtertoe: “Gertie, is die bed oorgetrek vir die meneer? Nee, nee, dis nie moeite nie, met al die kinders die huis uit op hulle grond …” beduie hy terwyl hy die brandewyn met die oog meet, want ’n maatglas kan so ’n dop nie meet nie.
“Man,” sê die rooiblonde boer, “as jy my vra, is jy omtrent twintig, dertig jaar te laat.” Dit is ’n antwoord waaraan ek reeds gewoond is, maar met verloop van tyd meer dikwels sou hoor.
Die boer wys my ’n twaalfsitplektafel van Oregon pine met stinkhoutpote wat die oorlog oorleef het. Hier was ’n Engelse kamphospitaal en die tafel is as ’n operasietafel gebruik. “Hulle het geen nut vir die ander meubels gehad nie. Dis eenkant op ’n hoop gegooi en verbrand.” Teen die een hoek van die tafelblad is die buitelyne van ’n ru gekerfde dambord nog sigbaar. “Dis ná jare nog so duidelik omdat die bloed die grein kleur.”
Die volgende oggend sê die rooikop: “En ja, daar is my neef Kobus. Hy is die oudste van ons hier wat nog lewe, al in sy laat sewentigs. Sy ma, tant Lizzie, is verlede jaar dood nadat sy ’n heupbeen gebreek het – en só wil ek nie gaan nie. Jy het so ver gery dat jy maar net sowel by hom kan aangaan. Ry verby Smithfield tot oor die Caledon, en dan draai jy onmiddellik regs sodra jy oor die brug is.”
Die neef is ’n haastige man, altyd op ’n drafstap. Op-die-plekdraf drink ons tee. Hy is ’n jintelmanboer, dra ’n das by sy gestrykte kakiebroek en ’n vilthoed (net so effe windmakerig skeef met ’n klein, onopsigtelike pouveer in die band). As ’n veteraandrawwer is sy voete uiteraard vir hom van belang. Hy wys na sy veelkleurige Reeboks, honderde rande werd. Verskoon die tekkies, sê die veteraandrawwer, jintelmanboer, maar op sewe en sewentig, spog hy, betrek rumatiek nou die voete. Draf saam lande toe, dan kan ons praat.
Selfs op ’n stewige drafstap blyk hy ’n ingeligte, welbelese man te wees. Ja, uit sy kinderdae weet hy van Mannetjies Mentz. Wat weet hy van generaal Mentz? Maar net wat ek seker weet, want die ou mense het tot op ’n punt oor die generaal gepraat en dan stilgebly – soos ek behoort te weet as ek goed na die stories oor die generaal luister.
En dié stilbly …?
Daar was nie onvoorwaardelike goedkeuring vir die doen en late van Mannetjies Mentz nie, daarvan getuig die onverwagte stilbly so midde-in ’n storie, sê hy so al drawwende. En soms praat ’n ou mens net ’n sin of twee te veel. Bevestiging van versweë blaam, dalk? Dit laat ’n mens dink die generaal was ’n soort Henri Slegtkamp, maar net slegter, nè?
Nee, hy het ook in oorlogsboeke nooit die naam van generaal Mannetjies Mentz teëgekom nie.
Vind hy dié stilte in geskrewe geskiedenis oor generaal Mentz nie eienaardig nie, as die stories uit sy kinderdae waar was?
Eienaardig, ja, as ’n mens op die uitkyk vir die naam bly. Kyk, iedere keer dat hy ’n boek oor die oorlog oopmaak, kom hy op nuwe name af – ’n oorlog met meer generaals as manskappe, dit is altyddeur die storie van onse geskiedenis.
’n Afwesigheid uit die geskrewe geskiedenis is “eienaardig” indien Mannetjies Mentz werklik so ’n prominente rol in die oorlogsgebeure gespeel het as wat hulle ons as kinders wou wysmaak. “Eienaardig” beteken egter nie “onverklaarbaar” nie. So, byvoorbeeld, kon die geskiedenis self (vroeër as die geskiedskrywers) ’n oordeel oor generaal Mentz uitgespreek het deur te besluit om te swyg. “As die prys van swye dié van openbaarmaking oorbie, dan is dit nie meer só eienaardig nie,” sê die man op ’n drafstap. “Kyk,” sê hy ietwat uitasem, “wat ek bedoel, werk só:
“Kom ons veronderstel dit was moontlik om Hans Dons5 uit die geskiedenis te sny. Sal die vertellers van ’n geskiedenis wat skatpligtig is aan sogenaamde volksideale, en nie blote verhaal sonder ‘boodskap’ is nie, nie verkies het om voor te gee dat Hans de Lange nie bestaan het nie?
“En,” vra die man wat deur sy golwende lusernlande draf, “dalk het die Boereleiers met die tyd slimmer geword, deur ’n vrot plek betyds uit te sny? Generaal Mentz het nie so ’n sleutelrol gespeel dat hy onmisbaar was nie. Daarbenewens was hy jonk genoeg om te verdwyn: hy verskyn asof uit die niet op die toneel te midde van verwarrende omstandighede – omstandighede in die Brandwaterkom waar die akteurs nie eens weet wie die hoofrol speel nie. Om net so weer in die niet te verdwyn, is nie so moeilik nie. Van nêrens na nêrens.”
Die man, wat draf-draf koes vir die water uit sy besproeiingstelsel, vra: “En wat sou die apologete van volksmoraal, volksedes, volksideale, die volksdit en volksdat wou gee om iemand anders as Freek Bezuidenhout6 te kry om oor die varkhokmuur na die Pandoere te skiet?
“So ’n plaasvervanger vir Freek Bezuidenhout moes liefs ’n stewige Boervrou aan sy sy hê om gereed te wees om sy geweer te laai en die kruit vas te stamp. In plaas daarvan besluit die geskiedenis dat sy ’n wilde en wulpse Hottentotwyfie was wat Bezuidenhout na sy eie wellustige en harde hand geleer het.
“Die waarheid moes eenvoudig uit, en so verander ’n volksmite in die verontskuldigende oë van die eerbiedwaardige volksvadere in ’n stinkstorie,” sê die veteraandrawwer terwyl hy ’n stewiger pas aangee terug huis toe.
“In die geval van Bezuidenhout en De Lange kon dit nog weggesteek word. Wys my ’n skoolboek wat die waarheid vertel! Wyle ou Uys7 het ek geken. Die volksvadere vergewe of vergeet die ou oproermaker nooit vir die waarheid nie.
“Dis nie noodwendig dat Mannetjies Mentz sleg was dat ons so min weet nie,” sê die drawwer, “ás hy inderdaad sleg was – dit beweer ek nie. Dit is alles ’n voorveronderstelling om te verduidelik waarom die geskiedenis Mannetjies Mentz moontlik kon vergeet het. Waar daar een moontlikheid is, bestaan ’n hele lot ander moontlikhede daarnaas,” sê die drawwende man.
Is daar ’n moontlikheid dat hy en generaal Mentz familie was?
Die man staan skielik botstil. Nee, sy ma het dit altyd ten sterkste ontken, en sy was ’n kenner van al die kinkels en kabels in hulle familie, binne en buite die huweliksbed. Hy is skielik uitasem, en stil soos in dié stories waarteen hy waarsku.
Nooit voorheen en ook nooit daarna erken enigiemand aan my ’n familieverwantskap met generaal Mannetjies Mentz nie – al is dit waarskynlik dat ek in my soektog op die een of ander veraf familielid sou afkom.
Opsommenderwys kan ons ons posisie aan die begin van ons soektog na generaal Mannetjies Mentz soos volg verduidelik: Ons het nóg ’n naam wat ons kan lei na spesifieke gebeure, nóg het ons die sekerheid van spesifieke gebeure wat ons uiteindelik kan lei na ’n persoon, met so-en-so ’n naam.
Dié onbenydenswaardigheid kan ons illustreer aan die hand van dr. Jan Ploeger se biografiese inskrywing oor kolonel Hendrik Mentz in die Biografiese woordeboek, waarvolgens dit onbekend sou wees wie kolonel Mentz se moeder was.
Kolonel Mentz was ’n publieke figuur. Volgens die inskrywing in die Woordeboek lei hy ’n besige huislike lewe: Hy was twee keer getroud. Hy het twee van sy vyf kinders uit die twee huwelike oorlewe. Dit laat ons met verbasing dat niemand, niemand in die relatiewe kort vyftig jaar ná sy dood enigiets oor sy moeder weet nie.
Ek vra my af of daar nooit ’n geleentheid is waarbinne dié inligting ter sprake kom nie? Was daar nooit ’n geleentheid om byvoorbeeld te sê: “En dit was my moeder se geliefkoosde gereg” nie?
Sê