Klassiek reeks: Op soek na generaal Mannetjies Mentz. Christoffel Coetzee. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christoffel Coetzee
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624078234
Скачать книгу
neem. Die Here, sê aunt Soph later, kyk lank na die klei. Hy brei dit in sy hand. Hy druk hier en druk daar. So speel-speel maak die Here die beeld van ’n man uit die klei, al is dit net om te kyk of Hy nie intussen sy ou slag verloor het nie. Toe laat die Here die kleipop val, per abuis. Die Here tel dit op om reg te maak wat verbrou is. Hy probeer om die klei van klippies, stof en gras skoon te blaas. So kom dit dat die Here sy konkelwerk laat lewe: toe Hy nog so blaas-blaas om die gemors uit te kry wat met die val in die klei weggesink het, toe blaas die Here mis, reg binne-in die mismaakte kleipop se neusgate in. En dit was te laat vir trane, want die Here se skepping is sterk. Hy is uit oefening om sy skepping tot orde te roep soos destyds in die tuin. Die man dreig die Here om hom te laat gaan. Toe die Here nog die saak oordink, laat spaander die kleipop Boereoorlog toe om kommandant Mannetjies Mentz se linkerhand te word, so vertel aunt Soph.

      Waar die woorde “as ons ons nie haas nie” in die mond van ’n ander na ’n versoek sou klink, is dit hier ’n dreigement om liefs in te val by wat hulle planne mag wees. Die manierlike man sit sy Mauser-jagmodel met die Duitse silwerbeslag en graveerwerk van allerlei jagtonele (’n legendariese wapen, met die verloop van tyd) teen ’n klip neer om sy goedgunstigheid te bewys. Die reus, daarenteen, klou sy Lee-Metford styf vas, kneukels wit om die loop, gereed om dit te lig, sou ons nie gehoor aan sy dreigement gee nie – wat dié planne ook al mag blyk te wees.

      “Ekskuus, tante,” sê die netjiese man, “dit is Niemann en ek is veldkornet Voss.”

      “Wat bring julle hier?” vra Ma.

      Veldkornet Voss kom tot die punt. “Tante,” sê hy, “een van ons manne, om die waarheid te sê, ons kommandant, lê swaar gewond onder in die Nek, ’n skouerwond. Ons is bevrees dat hy dit nie deur nog ’n nag sal maak as hy nie dringend versorg word nie.”

      “En wie sê ek sal iets aan sy welsyn kan doen?” vra Ma.

      “Tante,” sê veldkornet Voss, “tante het die reputasie hier rond dat tante nie sommer die dood by die voordeur innooi nie …”

      Dit is woorde wat Ma wil hoor: dat sy teenkantig teen die dood is, sê aunt Soph later. Ma durf nie gewone vyande aan nie; hulle order sy soos sy wil. Maar dalk is aunt Soph nie heeltemal reg nie, want die veldkornet is nog nie klaar nie – en wat hy verder sê, mag die finale deurslag gee.

      “… en tante se seun Frans is saam met ons. Hy’s aan ’t waak by die kommandant …”

      “Laat ons nie praat van ‘waak’ alvorens die tyd ryp is nie. Sien julle kans om julle kommandant, kommandant …?”

      “Mannetjies Mentz,” sê Velkornet Voss.

      “Verbeel jou,” sê Ma, “Frans is aan ’t veg saam met Mannetjies Mentz! Ek het van julle klomp gehoor. Julle lê die Engelse begeleide in die Nekke voor en laat die krygsgevangenes vry? Julle dwing hulle om hulle weer by die kommando’s aan te sluit?”

      Veldkornet Voss sê: “Nie dwing nie, tante. Ons gee hulle net ’n tweede kans om die skandalige besluit van Martiens Prinsloo in heroorweging te neem.”

      Ma sê: “As julle hulle dwing, maak nie saak hóé nie, dan is dit ook goed genoeg vir my!” Niemann gryns Ma goedkeurend toe, terwyl twee druppels kwyl in die vroeë oggendson op sy deurmekaar baard blink.

      “Sien julle kans om kommandant Mentz hier bergop te kry?”

      “Ja,” sê Voss. “Ons sal hom hier kry.”

      Ma waarsku: “Gebruik ’n harde draagbaar. Skuif dit onder hom in, soos hy daar lê. Strêp hom dan styf oor die komberse vas, sodat hy hom nie kan roer nie. Ons wil nie meer kwaad as goed doen, noudat die kwaad reeds gedoen is nie.”

      Op pad na die Nek om ’n sterwende kommandant Mentz teen die Skuiltes te kry, sny hulle die ongelukkige wag los. Hy vertel hoe Niemann hom van agter bekruip, en die oop mes voor teen sy keel gehou het terwyl hulle hom met rouriem vasmaak. Hy was stewig vas, toe sê Niemann hy’t iets vir die wag om hom aan dié oggend te bly herinner. Die wag wys ’n lelike stippellyn van bloed, soos die mes plek-plek oor sy keel gevat het – en toe slaan hulle hom uit sodat hy nie kon skreeu om alarm te maak nie.

      Maar Ma is in ’n vergewensgesinde bui. Eerste in haar gedagte is die voorbereiding vir die gewonde man. Jan Witsie sê die wag is ’n gelukkige man. Dis selde, sê Jan, dat Niemann en sy maats so ligtelik met mense werk. Jan Witsie weet iets wat aunt Soph vermoed, en haar vae vermoedens is voldoende rede tot bekommernis.

      So kom dit toe dat Mannetjies Mentz se pad die eerste keer met ons s’n kruis. Daarna was ons lewe nooit weer dieselfde nie.

      ’n Paar uur later bring hulle Mannetjies Mentz, vasgegord op ’n breë plank, teen die Skuiltes op. Daar is sowat ’n dosyn van sy manne saam met hom, onder wie oom Frans. Hulle is almal jonk, oor die algemeen nie veel ouer as oom Frans nie. Hulle is soos veldkornet Voss aangetrek – nie só uitgevat nie, maar nogtans so dat dit na ’n soort uniform lyk. Anders as Niemann, lyk hulle ook skoon. Aunt Soph sê die vuilste klad onder hulle is die streep onder oom Frans se neus waar hy ’n snor probeer kweek.

      Oom Frans kom skaars groet voordat hy teruggaan vuur toe. Hy groet ons plegtig met die hand. Hy lyk skaam dat hy ons ooit raakloop, asof ons mekaar net van verlangs ken, en ons vorige ontmoeting skandelik was, en hy nie meer presies kan onthou waar en wanneer dié vlugtige ontmoeting plaasgevind het nie. Of waar hy die eerste keer van ons gehoor het nie. En nou’s hy bang ons sal dié bykans vergete geleentheid weer ophaal, met ’n stinkstorie of twee daarby, indien daar inderdaad so ’n ontmoeting was, en hy ons nie net van hoorsê ken nie.

      “Aangenaam om u weer te ontmoet,” sê aunt Soph. “Van waar ken ek u nou weer, meneer?”

      By die vuur wag Mentz se manne Ma se oordeel af. Ons bly uit die pad. Dis net aunt Anne en aunt Soph wat binne vir Ma help, maar ek kyk skelmpies binnetoe. Veldkornet Voss en Niemann is saam met hulle by die gewonde kommandant.

      Kommandant Mentz lê en hyg hoog teen die kussings. Wat ek van hom onthou, is dat hy só doodgewoon was, nie oud nie en nie besonder jonk nie, ’n eerste grys haar in sy stoppelbaard en ’n kortgeknipte militêre snor. As jy my nou na die kleur van sy hare en snorbaard vra, dan het dit my ontgaan. Dis maar net hare en stoppels. Hy is die soort man by wie jy in die straat sal verbystap – en juis dit sal die straat vir jou ’n veilige plek maak. Nie ’n aantreklike man nie, maar ook nie onaantreklik nie – een wat juis daarom vertroue inboesem, al ken jy die man van g’n Adamskant nie. Ek kan my nie eens die kleur van sy oë herinner nie – maar dit was nóg innemende, nóg kil of afwysende oë. Dit was net oë, dié soort oë wat ongerymdhede raaksien en waaronder jy rustig verder sal stap in die straat, as jy hom dan om die een of ander rede sou opmerk.

      Hy gee inhoud aan die uitdrukking “die man in die straat” as die gemiddelde man wat jou eie oordele en vooroordele deel en tot jou beskerming sal kom as dit moet, dink ek dikwels in die jare daarna.

      Dis slegs later dat ons besef het die doodgewone en die vertroulike en oënskynlik betroubare is dikwels onskeibaar van die ondeurgrondelike gesig van ons onbegrip.

      Dis ’n wonder dat pyn nie ’n merk op dié gewone, doodgewone gesig laat nie, want daar binne, in die allenigheid rondom die siekbed, blyk dit dat Mannetjies Mentz meer as sy deel pyn het waarmee hy daagliks saamlewe. Dis die pyn van ’n vroeëre marteling, meer uitgerek as waartoe ’n koeëlwond in staat is. Dis ’n pyn wat op onwaarskynlike wyse toegedien is, en om ondenkbare redes. Dis ’n pyn wat só langdurig moet wees dat jy sal verwag om dit in sy vertroude gelaatstrekke veruiterlik te sien.

      Nogtans is die gesig van kommandant Mannetjies Mentz vry van enige sprekende uitdrukking, van pyn of nie pyn nie. Vergeefs soek ons in sy gesig na ’n opgekropte wraakgier om ons te herinner aan die duistere aanleiding tot dié fyn beplande aftakeling: dit moes jare gelede gebeur het, maar dun, rooi, opgehewe striemhoue golf oor sy rug en skouers. Dit laat die rug- en skouervel met ’n diep pers kleur, soos die geplooide, papierdun, gelooide vel van iemand wat die ergste brand oorleef het.

      Maar sy rug en skouers moes ná dié allervreeslike en langsame ontsteking sonder enige versorging genees het –