Mop is eerste, Pop tweede en Bop derde. Rooie kom eers ’n hele paar sekondes later by sy vriende tot stilstand.
Die Boksombende gaan sit mismoedig op die gras onder ’n boom. Die drieling het besluit om nog ’n entjie met die perde rond te ry.
Trompie sug en kyk na Dawie: “Hoe lank bly daai meisiekinders nog hier?”
“Nog drie dae.” Dawie se stem is hol en moeg. Drie dae. Dit voel soos drie eeue!
Die seuns dink aan hoeveel moeilikheid hulle al gehad het vandat die drieling hier op Kwaggaberg kuier. Die meisies eet ook verskriklik. Hulle vlieg deur die geld wat Dawie se ma vir hom gee om almal mee te trakteer. Mop, Bop, en Pop eet keer op keer twee roomyse elk en die seuns kry net elkeen een.
Verder voel die seuns die hele tyd asof die Darling-drieling op ’n baie slim manier met hulle gekskeer.
Trompie het ’n reëling gemaak dat wanneer een van hulle met een van die meisies wil praat, hy net haar naam noem en dan steek sy haar hand op. Dan praat hy met haar, want dit is dan mos die regte een. Maar die seuns het so ’n idee dat die meisies hulle kul. As Trompie byvoorbeeld “Mop” sê, gaan ’n hand op en hy praat dan met Mop. Maar dan begin die meisies giggel en “eina” sê, en Trompie kan sweer hy het nie met Mop nie, maar met Bop of Pop gepraat.
Die Boksombende se Grootkaptein sit ingedagte en kyk na sy skoenpunt wat al so ingeduik is van al die klippe, blikke en graspolle wat hy gedurig loop en skop. Dawie sug mismoedig. Blikkies sit agteroor met sy hande agter sy kop gestut en kou. Net sy roerende kake wys hy slaap nie. Rooie kyk stip na sy wikkelende tone.
Mop, Bop en Pop het die perde terug stal toe gevat en kom nou laggend na Trompie-hulle toe aangestap.
“Hier kom die moeilikhede al weer,” sug Rooie.
“Julle weet,” sê Trompie nadenkend, “Adam het ons ’n lelike streep getrek. As hy nie so ontevrede was om alleen daar in die Paradys rond te hang nie, sou ons nie nou in hierdie gemors gewees het nie.”
Die meisies grynslag vir die seuns wat maak of hulle die drieling nie sien nie.
“Wat doen jy, Rooie?” vra Pop wat aandagtig na sy wikkelende tone staan en kyk.
“Ek probeer my groottoon wikkel sonder om my ander tone te beweeg,” brom Rooie.
“Ag, dis konfyt,” sê Pop en sy gaan sit op die gras. Sy trek die skoen en sokkie aan haar een voet uit. Almal hou haar aandagtig dop. Die seuns hoop tog net nie sy gaan dit regkry nie, maar Pop doen dit speel-speel. Sy beweeg haar groottoon en die ander tone staan doodstil.
Rooie se oë is groot. Hy sukkel al hoe lank om dit reg te kry! “Hoe doen jy dit?” vra hy afgehaal.
“Ag, dis konfyt,” sê Pop en trek weer haar sokkie en skoen aan. Trompie-hulle voel nou nog meer mismoedig. Dit lyk of daar niks is wat hulle beter kan doen as hierdie drieling van Darling nie.
Trompie besluit dis goed en wel dat die meisies sy drie manskappe al elkeen uitgestof het, maar hulle het hóm nog nie met iets oortref nie. Hy begin spog en vertel hoe hy nou al jare lank die Boksombende se Grootkaptein is, hoe hy eenkeer ’n klomp gevaarlike fietsdiewe gevang het, hoe baie hy al baklei het en hoe hy nog altyd net gewen het, hoe hy ’n seuntjie genaamd Jantjie Patat van ’n vlammedood gered het, hoe hy ’n roekelose bende wat die hele kontrei die skrik op die lyf geja het, in ’n spookhuis gevang het, hoe hy klaskaptein, én kaptein van die boksklub én kaptein van die beroemde Hoërskool Kwaggaberg se rugbyspan is, hoe hy altyd die meeste vrugte uit oom Stravrinos se vrugteboord gaps en hoe hy die verste kan spoeg.
Trompie loer onderlangs na die drieling om te sien watter uitwerking hierdie toespraak van dapper dade uit die verlede op hulle het. Dit lyk egter vir hom of hulle nie veel belangstel nie.
“Al daai dinge,” sê Mop verveeld, “is sommerrr konfyt.”
“Wie is jy?” vra Trompie kwaad. Hy wil weet wie hom so beledig.
“Ek’s Mop.”
“Wel Mop, is daar enige van daai dinge wat jy miskien kan doen?”
“Ja,” sê sy en kyk na haar twee susters en hulle begin lag. Trompie kners op sy tande. As hulle nou weer gaan “eina” sê, spring hy sowaar hier op en praat nooit weer met een van hulle nie!
“Wat!” sê Trompie sissend. “Wat kan jy doen?”
“Jy bedoel van al die goeterrrs waarrrmee jy kastig so wonderrrlik is?”
“Ja!”
“Spoeg.”
“Wat?”
Trompie frons en wikkel sy neus.
“Is jy ernstig?” vra hy stadig. “Jy kan spoeg?”
“Ja.”
“Verder as ek?”
“Ja.” En dan voeg sy daardie woorde by wat nou al so onheilspellend vir die Boksombende klink: “Dis konfyt.”
Die seuns spring uitgelate op en trek ’n streep op die grond. Hulle lag nou lekker. Dawie sê ’n paar keer: “Eina!” Nou gaan die meisies voel hoe dit smaak om aan die verloorkant te wees. Trompie sal wen, sommer maklik ook.
Trompie staan op die streep. Hy trek los en spoeg met ’n hoë boog. Dawie trek ’n streep op die grond.
“Hoe’s daai?” sê Trompie trots.
“Ag, dis konfyt,” sê Mop. Sy neem posisie in en dan spoeg sy. Sy wen Trompie met ’n goeie dertig sentimeter.
“Tevrrrede?” vra die meisie.
Die seuns knik net kop. Hulle moet maar tevrede wees. Soos Rooie sê: “Ek het dit met my eie oë gesien.”
Dit is vir die Boksombende die grootste vernedering nóg op hierdie dag van vernederings. Hulle wens hierdie moeilike tydjie wil nou verbygaan.
Een middag neem die seuns die drieling fliek toe. Hulle gee nogal nie om nie, want hulle wil self ook graag die prent sien en dit kos hulle natuurlik niks nie, want Dawie se ma betaal vir alles.
Dit is ’n goeie fliek. Trompie sit langs een van die meisies. Hy dink dis Mop.
Hy dink deesdae baie aan haar. Hy is vies dat sy verder as hy kan spoeg, maar hy kan darem ook nie help om haar prestasie te bewonder nie.
Wanneer die held in die fliek met liefde in sy oë na die beeldskone heldin kyk en vir haar sê hoe innig hy haar liefhet, verander Trompie se gevoel van bewondering vir Mop se spoegprestasie in ’n gevoel van innige teerheid. Dit is of hy hom vereenselwig met die held op die doek, en dis asof Mop wat so stil hier langs hom sit skielik al die beeldskone heldin se wonderlike eienskappe besit.
Trompie draai sy kop na die meisie en sê sag en teer: “Die liefde is ’n snaakse ding, maar darem ook wonderlik, nè, Mop?”
“Ja, Trrrompie,” kom die meisie se stem sag, maar dan begin sy giggel en sê: “Eina!”
“Watse ‘eina’ is dit nou weer?” brom Trompie. “Waarvoor lag jy?”
“Ek is nie Mop nie,” sê sy. “Ek is Bop. Maar ek sal vir Mop sê hoe jy oor haar voel …”
“Sê jy net iets, dan draai ek jou nek soos ’n kuiken s’n om.”
Trompie skuif so ver as moontlik van Bop af weg. Hy kyk nou weer na die fliek. Die held vertel nog steeds vir die kastige heldin hoe mal hy oor haar is. Trompie sug verveeld. Dis sommer ’n simpel fliek dié.
Ná die fliek stap die vier seuns en die drie Darling-meisies kafee toe. Hulle het nog geld oor om lekkers of roomys te koop.
Trompie loop met sy hande diep in sy broeksakke na