Die seuns kyk met groot oë na mekaar. Is hierdie drieling van Darling besimpeld of iets? Hoekom praat hulle so snaaks? Hulle bry die “rrr” en praat van “doerrr” en “Bóéland” in plaas van “daar” en “Bóland”. En hoekom sê hulle sommer so vir niks “eina” en dan lag hulle?
Trompie kyk die drie meisies fronsend aan. Dawie sit en glimlag. Blikkies kou ingedagte. Rooie sit met sy bene lank voor hom uitgestrek en sy voete rus op sy hakskene. Hy wonder wanneer kom die koek.
Trompie dink hierdie stilte is nie ’n goeie ding nie. Hy het mos goeie maniere. Hy moet darem nou begin gesels.
Hy glimlag vriendelik en sê: “Julle weet, ek is nes Dawie. Ek weet sowaar nie wie van julle is wie nie …”
“Ek is Mop.”
“Ek is Bop.”
“Ek is Pop.”
Trompie sluk.
“Reg, nou het ek dit.”
As die meisies nou net nie van posisie verander nie, sal hy darem weet wie is wie.
Dit is weer stil.
“Sê jy nou iets,” brom Trompie vir Blikkies langs hom.
“Wat moet ek sê?” wil Blikkies weet.
“Enigiets. Moenie soos ’n houtpop sit nie. Maak oop jou mond!”
Blikkies bêre die stukkie kougom in sy kies met sy tong. “Is … is die dorp waar julle vandaan kom ’n groot plek?”
“Taamlik,” sê Mop.
“Taamlik,” sê Bop.
“Taamlik,” sê Pop.
Blikkies sit weer gemaklik agteroor en haal sy kougom uit die bêreplek en begin weer kou. Hy het mos nou sy plig gedoen. Dawie se ma kan die eetgoed nou maar bring.
Trompie en Blikkies gluur vir Rooie. Hy moet mos ook sy deel bydra om die gesprek aan die gang te hou!
Rooie sluk en dan brom hy: “In watter klas is julle?”
“Graad agt,” sê Mop.
“Graad agt,” sê Bop.
“Graad agt,” sê Pop.
En dan bars die drie weer uit van die lag.
“Eina!” sê Mop.
“Eina!” sê Bop.
“Eina!” sê Pop.
Die seuns kyk agterdogtig na mekaar. Dieselfde gedagte registreer in almal se oë. Is dit die moeite werd om hier te sit soos swape wat niks verstaan wat die meisies sê nie? En dit net om van die lekker koek wat Dawie se ma gebak het te kry?
Trompie besluit om weer ’n geselsie te probeer aan knoop.
“Is julle slim?” vra hy.
Die drie meisies kyk na mekaar en giggel. Dan sê Mop: “Ja, skoolwerk is vir ons konfyt.”
“Konfyt, ja,” sê Bop.
“Ja, konfyt,” sê Pop.
Trompie begin hom nou stadigaan vererg. Hy kry die ongemaklike gevoel dat hierdie giggelende drieling met hom en sy vriende gekskeer.
“Dink julle miskien julle is snaaks?” Trompie wikkel sy neus op en af om hulle te laat verstaan hy word nou moeilik.
Nee, skud hulle giggelend saam kop, hulle dink nie hulle is snaaks nie. En dan bars hulle weer uit van die lag.
“Eina!” sê Mop.
“Eina!” sê Bop.
“Eina!” sê Pop.
Die seuns kyk met nors gesigte na mekaar. Hierdie meisiekinders is besig om te mors met hulle, die lede van die beroemde – of is dit berugte? – Boksombende.
Trompie besef hy as die Grootkaptein moet iets aan die saak doen.
“Hoekom lag julle en dan sê julle ‘eina’?” vra hy vies. “As ’n mens ‘eina’ sê, kry jy mos seer.”
Die drieling kyk na mekaar en dan antwoord Mop: “Dis sommerrr ’n manierrr van prrraat wat ons het. As ons lag, sê ons ‘eina’.”
“Hoekom?” wil Trompie weet.
“Daar is twee rrredes,” sê Mop. “Wil julle altwee hoorrr?”
“Ja,” brom Trompie. Hy besluit in sy stilligheid hy hou niks van hierdie Mop, Bop en Pop nie.
“Wel,” begin Mop hooghartig verduidelik, “ ’n ‘funnybone’ in ’n mens se arrrm is ’n ‘einabeentjie’ in Afrrrikaans. ‘Funny’ beteken mos snaaks, so as ons iets snaaks sien wat ons amuseerrr, dan sê ons ‘eina’. En verrrderrr sê die Maleierrr-mense doerrr in die Kaap altyd ‘eina’ wanneer hulle lag.”
Trompie, Rooie en Blikkies en Dawie dink ernstig hieroor na. Dit klink vir hulle maar na ’n belaglike affêre en Trompie sê dit ook sommer reguit vir die drie meisies.
“Jy bedoel ’n ‘eina’-affêrrre?” sê Mop.
Trompie besluit om haar nie te antwoord nie. Hy brom net: “En hoekom sê julle skoolwerk is vir julle konfyt?”
Die drieling kyk mekaar verbaas aan en dan lag hulle.
“Hier kom dit weer,” sê Trompie met ’n sug en hy is heeltemal reg.
“Eina!” sê Mop.
“Eina!” sê Bop.
“Eina!” sê Pop.
Die seuns rol hul oë en wag dat die drieling se simpel gelag moet endkry.
“Julle is darrrem vrrreeslik onnosel,” sê Mop uiteindelik. “As iets doerrr in Darrrling maklik is, sê ons kinderrrs altyd dis konfyt.”
“Dis belaglik,” sê Trompie.
“Jy bedoel dis ‘eina’,” sê Mop.
Gelukkig kom Dawie se ma by die sitkamer in met ’n skinkbord vol koeldrank en ’n groot roomkoek.
“Oe, ons hou baie van rrroomkoek, Tannie,” sê die drieling feitlik gelyktydig.
“Ons hou ook van rrroomkoek, Tannie,” sê Trompie vinnig en bry onwillekeurig ook.
Mevrou Theron sny die koek voor sy by die vertrek uitgaan. Die seuns tel vinnig met hul oë. Daar is twee stukke koek vir elkeen. Maar die meisies sal natuurlik net een stuk elk vat, so die seuns kan elkeen drie stukke kry. Dit is die moeite werd om vir sulke lekker roomkoek na die giggelende meisies se simpel ge-eina te luister.
Trompie spring galant op en hou die bord koek voor die drieling. Die meisies vat elkeen ’n stuk – die drie grootstes op die bord!
Trompie is vies. Dit lyk nie of hierdie meisies van Darling goeie maniere het nie. Mop het daardie een ekstra groot stuk wat hy wou gehad het, vir haarself opgeraap.
Dit is stil in die sitkamer. Almal eet roomkoek en drink koeldrank. Mop, Bop en Pop het eerste koek gekry en hulle is ook eerste klaar. Hulle staan soos een man op en vat elkeen ’n tweede stuk.
Trompie-hulle eet nou vinnig. Hulle is bekommerd. Die meisies het nie net elkeen twéé stukke koek gevat nie, maar daar is ook ’n goeie kans dat hulle elkeen nóg een gaan vat!
Almal eet nou vinnig, baie vinnig. Die drieling is ’n sekonde of twee voor die seuns klaar. Hulle staan weer soos een man op en glimlag vriendelik.
“Julle gee nie om as ons elkeen nog ’n stukkie vat nie? Ons hou só van rrroomkoek,” sê Mop en hulle voeg sommer dadelik die daad by die woord.