Rooie kyk die seun wat sy geld gevat het ook nie meer so woes aan nie. Dit lyk of daar iets is wat hom ook pla.
Johan stap voor en Trompie en Rooie volg so twee tree agter hom. Hulle gaan hom nie weer ’n kans gee om weg te hardloop nie.
By die winkel gaan Rooie gou in en betaal vir die goed. Dan vat hy die pakkie huis toe vir sy ma.
Trompie neem Johan Geel solank na die Toeriens se huis toe. Rooie sal hulle daar ontmoet.
Trompie stap effens agter sy gevangene. Hy kyk na die gelapte klere, die kaalvoete en die maer, tingerige lyf. Trompie kry Johan skielik bitter jammer, maar hy wil dit nie wys nie. Hy sê bars: “Moenie links of regs kyk nie. Kyk net voor jou en stap reguit aan.”
Johan maak soos Trompie hom beveel.
Toe hulle by die Toeriens se tuinhekkie instap, is Rooie weer by.
“Hy’t nie probeer ontsnap nie?” vra Rooie.
“Nee, hy’s te veel van ’n papbroek.”
Dawie en Blikkies sit op ’n bankie onder die skaduboom in die tuin.
“Haai,” groet die seuns mekaar.
“Ons het gewonder waar’s julle,” sê Dawie. Dan wys hy na Johan en vra: “Wat doen julle met daai maer derm?”
Rooie vertel vinnig hoe die “maer derm” sy geld probeer steel het.
“So!” sê Dawie en sy ondeunde oë vonkel. Hy doen danspassies voor Johan en slaan met sy vuiste in die lug. “So jy’s ’n dief! Wel, vandag gaan ons jou ’n les leer!”
Johan sê niks nie. Daar is nog steeds ’n vreemde, hartseer trek om sy mondhoeke.
“Bring hom in, bring hom in!” sê Dawie manhaftig en sy regtervuis trek naby Johan se kop verby. “Laat ons hom gaan vonnis!”
Die vier lede van die Boksombende en hul gevangene sit in Trompie se kamer. Johan Geel sit in die middel van die vertrek en staar strak voor hom uit.
Trompie sit op ’n stoel wat hy omgeswaai het sodat sy bolyf oor die rugkant kan leun. Hy kyk peinsend na sy ingeduikte skoenpunt.
Dawie sit op die tafel en praat aanhoudend, al luister niemand juis nie. Hy vertel hoe ’n lelike ding dit is om iemand anders se geld te steel. Hy sê as ’n ou so iets begin doen, is jy al ’n goeie ent op pad verderf toe.
Blikkies sit op die bed met sy rug teen die muur. Sy kake beweeg ritmies op en af soos hy aan ’n grashalmpie kou.
Rooie sit langs Blikkies en as hy nie woes na die gevangene gluur nie, wikkel hy sy tone. Hy probeer nog steeds om sy groottoon te roer sonder dat die ander beweeg. Hy wens daardie meisie van Darling het vir hom die geheim van hierdie kuns vertel.
Net toe Trompie vir Dawie sê: “Bly nou stil, ek wil die ou bietjie ondervra,” klop sy suster aan die deur.
Anna glimlag vriendelik.
“Ek wil net sien hoeveel julle is,” sê sy, “want ek wil vir julle koeldrank bring en van die koek wat ek gebak het.”
“Dankie, Anna!” sê Trompie ingenome. “Ons is net vier. Ons tel hierdie ou nie by nie.” Hy wys na Johan.
Maar dan sien Trompie weer daardie hartseer uitdrukking op Johan se gesig en sê vinnig: “Of toemaar, bring maar vir hom ook.”
Wanneer Anna weg is – Dawie het opgespring om haar te gaan help, want hy dink mos hy is die enigste ordentlike ou met maniere – vra Blikkies: “Wat is dit met haar dat sy so vriendelik is?”
“Ek weet nie,” sê Trompie, “maar dis nou al van gister af so. Sy stap heeltyd met ’n glimlag op haar bakkies rond. Toe ek haar vra hoekom sy lyk of sy droom, het sy net geglimlag en gesê sy’t ’n groot geheim en sy gaan niks sê voor ons ouers terugkom nie.”
Trompie, Rooie en Blikkies dink nou na oor wat die geheim kan wees. Wat kan ’n meisie van een-en-twintig laat verander van iemand wat gedurig op hulle pik en hulle as ’n oorlas beskou, na iemand wat nou vir hulle koeldrank en koek aanbied?
“Ek dink ek weet wat dit is,” sê Trompie. “Sy’s verlief.”
“Op daai prokureur, Jan van Dyk?” vra Blikkies.
“Ja. Hy boer mos deesdae hier. Ek dink hulle’t besluit om verloof te raak. Dis wat dit is – dís haar groot geheim.”
Die ander twee stem saam met Trompie. Rooie sê: “Dis goed so. As hulle verloof raak, sal daar ’n partytjie wees met baie kos en koek en goeters – ons gaan ons dik eet aan alles!”
Anna en Dawie bring die koeldrank en ’n hele paar snye koek in. Trompie, Rooie en Blikkies kyk Anna goed deur. Ja-nee, dis nou maar wors: sy lyk heeltemal anders. Haar oë skitter en daar speel ’n soet glimlag om haar mondhoeke. Sy lyk beslis soos ’n verliefde kalkoen – soos iemand wat gaan verloof raak.
Elkeen gryp ’n koeldrank. Trompie gee een vir Johan Geel wat nog steeds die hele tyd moedeloos voor hom uitstaar en glad nie na hul gesprek oor Trompie se suster geluister het nie.
“Gee ook vir hom ’n stuk koek,” sê Dawie. “ ’n Ou wat gehang gaan word, kry mos altyd eers iets om te eet.”
“Dankie,” sê Johan sag toe Trompie vir hom koek gee. Hy eet dit vinnig.
Toe almal een stuk koek weggepak het, gryp hulle ’n tweede sny.
Johan kyk met verlangende oë na die orige koek op die bord.
“Kry nog,” sê Trompie. “Vat soveel soos jy wil hê.”
“Dankie,” sê Johan en hy neem nog ’n stuk. Trompie is bang die ander dink miskien hy is te saggeaard omdat hy die gevangene so bederf en sê bars: “Sodra ons klaar geëet het, neem ons jou onder kruisverhoor en reken met jou af.”
Die seuns verslind die koek. Die gevangene ook. Maar die Boksombende verslind die koek omdat dit so lekker is, terwyl Johan dit doen omdat hy honger is.
Toe hulle klaar is, vat Dawie die glase en die leë bord waarop daar nie ’n enkele krummel meer oor is nie kombuis toe.
“Wag tot ek terug is,” sê hy, “voor julle met die ou begin.”
Daar is vrees in Johan se oë wanneer hy na Trompie-hulle kyk en sien hoe woes hulle hom aangluur.
Dawie kom terug en gaan sit weer op die tafel. Trompie maak keel skoon en begin met die ondervraging.
“Het jy of het jy nie Rooie se geld gesteel nie?” Trompie se vuil wysvinger is reg onder Johan se neus.
“Jy weet mos hy het,” brom Rooie. “Ons het die geld dan by hom gekry.”
“Bly stil,” sê Trompie. “Ek weet wat ek doen. Ek ken die regte prosedure met hofsake en sulke klas van goeters.”
Trompie draai weer na die gevangene en wikkel sy neus woes op en af sodat die ou kan sien hoe moeilik hy nou is.
“Het jy of het jy nie?”
“Ek het die geld op die vloer gekry,” sê Johan bot.
“Het jy gesien hoe dit uit Rooie se sak val?” vra Trompie en hy loer vlugtig na sy vriende om te sien watter indruk sy briljante ondervraging op hulle het. Dit lyk nogal of hulle beïndruk is, want hulle leun almal effens vorentoe en wag vir Johan se antwoord.
“Ja,” sê Johan skaars hoorbaar.
“Wat?” kom Trompie se stem bulderend.
“Ek het gesien hoe die geld uit Rooie se sak val.”
Trompie kyk triomfantelik na sy vriende.
“Jy is dus skuldig aan diefstal!” verklaar hy.
“Ja, seker,” mompel die gevangene.