Dié aand op die stasie staan Dawie se ouers, Dawie, Trompie, Rooie en Blikkies by Mop, Bop en Pop op die perron. Hulle wag vir die trein.
Trompie-hulle is opgeruimd en vol grappe. Die gevreesde drieling is op pad – die seuns se moeilike tydjie is uiteindelik verby.
Een meisie staan naby Trompie en Blikkies. Sy druk haar neus toe en staan ’n entjie weg.
“Sjoe,” sê sy, “ek het nog nooit sulke slegte haarolie geruik nie!”
“Dit wys net hoe min weet jy,” snou Trompie haar toe. “Dié haarolie is gemaak van Spanje se mooiste, rooiste rooi rose!”
“Miskien – maar ek sê nog steeds dit ruik sleg. Moenie te naby my staan nie.”
“Wie dink jy wil miskien naby jou staan?” brom Trompie.
Hy wens die trein wil nou kom.
Trompie voel aan die sjokolade in sy sak. Hy wonder weer of hy dit vir Mop moet gee of dit eerder self moet eet. Hy besluit om dit maar vir Mop te gee. Sy gaan mos nou weg en hy sal haar nooit weer sien nie. Snaaks, die gedagte hieraan maak hom so half hartseer.
Hy kyk na die drie meisies. Hulle lyk presies eenders.
“Wie’s Mop?” vra hy.
Een meisie steek haar hand op.
“O,” sê Trompie, “ek wou maar net geweet het.”
Almal lag en praat. Trompie hou Mop nou noukeurig dop. Hy staan nader aan haar. Toe hy langs haar is, sê hy sag: “Dè, Mop, hier is vir jou iets.”
Sy kyk na die sjokolade in sy hand en begin giggel.
“Ek sal dit grrraag wil hê, Trrrompie,” sê sy, “maarrr ek is nie Mop nie. Ek is Bop.”
“Huh … huh,” lag Trompie verleë. “Jammer, my fout.”
Hy staan weg van haar met die sjokolade nog in sy hand. Hy voel die meisies het weer met hom die gek geskeer. Toe hy gevra het wie Mop is, het dié een haar hand opgesteek – en nou is dit Bop!
Die trein kom by die stasie ingestoom.
Trompie het weer oor die saak gedink. Hy het besluit hy gaan tog maar vir Mop die sjokolade gee en hy is nou vasberade om dit te doen.
Hy sê vinnig vir die meisie naaste aan hom: “Dè Mop, hier is vir jou iets.”
“Ek sal dit grrraag wil vat, Trrrompie,” sê sy laggend, “maarrr ek is nie Mop nie. Ek is Pop.”
“Huh, jammer, my fout.” Trompie kyk nou vasbeslote na die derde meisie. Sy móét Mop wees. Hy wil egter nie weer ’n fout maak nie en vra: “Is jy Mop?”
“Ja, Trrrompie.”
“Dè, hier is vir jou iets.”
“Baie dankie,” sê sy en begin lag, “maarrr ek het maarrr sommerrr gespeel. Ek is nie Mop nie …”
“Maak nie saak nie!” brom Trompie. “Vat net die vervlakste ding en kry klaar!” Hy stop die sjokolade in die meisie se hand.
Die drieling skater soos hulle lag.
“Hier kom dit weer,” sê Trompie sugtend, “maar dis darem seker die laaste keer!”
En toe kom dit ook weer.
“Eina!” sê Mop.
“Eina!” sê Bop.
“Eina!” sê Pop.
Die meisies klim laggend in die trein. Die eerste een sê: “Dis konfyt!” toe sy haarself aan die arms van die perron af optrek sonder om op die trappies te trap.
Die trein fluit en stoom by die stasie uit. Trompie-hulle waai vir die laggende meisies van Darling. Die laaste wat hulle nog hoor, is drie “einas” na mekaar.
“En dit,” sê Trompie met ’n sug van verligting, “is die einde van Mop, Bop en Pop.”
Die Boksombende stap opgeruimd van die stasie af weg. Die moeilike tydjie waardeur hulle is, is vergete.
“Julle weet,” sê Rooie peinsend, “ek kan nog nie verstaan waarom hulle ’n boom ’n “boem” noem en van iets wat hoog is, praat as “hoeg” nie!”
“En al die gebrrry!” sê Blikkies laggend.
“Hulle praat so omdat die mense in die Boeland – ag, ek bedoel Boland – so praat,” sê Dawie en voeg dan by: “Julle behoort dit te kan verstaan. Dis konfyt.”
Die seuns lag hard.
“Eina!” sê Trompie vrolik.
“Eina!” sê Rooie brommend.
“Eina!” sê Blikkies kouend.
“Eina!” sê Dawie grinnikend.
Die seuns se hande is nou agter die rug en hulle stamp-stamp mekaar soos hulle in die straat afloop.
Mop, Bop en Pop, die gevreesde drieling van Darling, is iets van die verlede.
4
Die Boksombende se gevangene
Die volgende twee weke baljaar Trompie en sy vriende nog meer as gewoonlik. Hulle vang selfs nog meer kattekwaad aan, indien dit moontlik is, op die dorpie Kwaggaberg aan die voet van die berge.
Trompie se ouers is vir twee weke weg Kaapstad toe. Sy pa is die bankbestuurder op Kwaggaberg en hy moet ’n konferensie bywoon. Trompie se ma is saam en hy en sy suster, Anna, bly alleen by die huis agter. Trompie steur hom nie veel aan haar nie en sy steur haar nie veel aan hom nie. Dit is ’n reëling wat albei uitstekend pas.
Anna en Trompie sit net een keer vas.
Sy en haar kêrel, Jan, gaan kuier die aand by mense. Rooie, Blikkies en Dawie kom sit in die tuin by Trompie. Hulle word naderhand honger en stap kombuis toe.
Trompie wil vir sy vriende wys hoe ’n goeie kok hy is. Hy wil vir hulle wat hy noem ’n Trompie-special maak.
Die Trompie-special word gemaak van botter, brood, koue vleis en eiers. Alles word saam in die pan gegooi, deurmekaar gewoel en gebraai.
Die botter is in die pan, ’n paar snye brood word fyn gekrummel en die koue vleis word in blokkies opgesny. Alles is, soos Trompie sê, eksie-perfeksie.
Maar toe ontdek hy daar is nie eiers in die kombuis nie.
“Kom saam met my, Rooie!” Trompie en Rooie loop haastig na die hoenderhok agter op die werf om te gaan eiers haal.
Trompie dink vir ’n oomblik daaraan dat die eiers al oud is, want hulle lê al lank daar buite in die neste, maar dan besluit hy hulle sal niks makeer nie.
In die kombuis gryp elkeen ’n eier en kap die doppe stukkend. Skielik steier almal terug. Daar is ’n aaklige swaelreuk in die vertrek.
“Die goed is vrot,” sê Dawie.
“Moenie simpel wees nie,” sê Trompie. “Dit ruik net so bietjie sleg. Dis maar al.”
Nóg eiers word oopgebreek en in die pan gegooi. Die reuk in die kombuis word al hoe erger.
Dan kry Trompie ’n dooie kuikentjie in ’n eier wat hy oopbreek en Dawie skrik só groot dat hy die bak eiers wat hy in sy hand het op die grond laat val.
Die seuns hou hul neuse toe, want die slegte reuk is nou oorweldigend. Trompie kyk na die slymerige vloer. Daar lê drie dooie kuikentjies. Selfs Trompie moet nou erken die eiers lyk of hulle vrot kan wees.
Terwyl