Trompie
Omnibus 4
Trompie die mooi seun
Trompie die leier
Trompie die rugbyreus
Topsy Smith
Human & Rousseau
Voorwoord
Omtrent 30 kilometer van Johannesburg af, aan die voet van ’n berg, lê die dorpie Kwaggaberg. Die mense wat op pad is na Gauteng jaag vinnig hier deur en dink dit is ’n mooi plekkie, maar darem té afgeleë. Min weet hulle!
Wanneer ou inwoners hoor hoe reisigers wat soms in die hotel oornag, smalend praat van Kwaggaberg wat so stil en dood is, skud hulle net kop, kyk veelseggend na mekaar en sê met ’n sug: “Hulle weet nie van Trompie nie …”
1
Trompie die mooi seun
Die vyftienjarige Trompie Toerien sit lui in sy kamer. Hy het besluit om vanoggend deur sy tafel se laai te gaan en al die gemors wat hy gedurende die jaar daarin geprop het, weg te gooi.
Trompie dink aan die lang somervakansie wat voorlê. Hy en sy vriende gaan baie pret hê.
Hy dink ook daaraan dat sy ouers die laaste twee weke van die vakansie weggaan en dan gaan hy en sy vriende nog méér pret hê! Sy suster, Anna, sal wel hier by die huis wees, maar hy steur hom mos nooit veel aan haar nie.
Trompie is deesdae baie gewild by sy ma-hulle. Hulle was so bang hy gaan nie graad nege deurkom nie. Maar hy hét – en boonop sommer maklik!
Maar, dink Trompie, dit het werk gekos. Dis nou maar wors. Hy is ’n ou wat sy plig ken, ’n ou wat weet wanneer dinge begin druk en hy moet begin leer. Die laaste tien dae – nee, dit was die laaste elf dae – voor die eksamen het hy vir homself gesê: “Trompie, jy moet nou alles insit, anders dop jy!”
En toe hét hy alles ingesit. Hy het daardie hele elf dae net twee middae by die dam in die kloof gaan swem en net een middag by sy drie vriende ’n draai gaan maak. Hulle was egter self ook besig om te leer en hy is maar weer terug na sy kamer toe om verder te leer.
Trompie glimlag by die gedagte dat selfs sy ma later bekommerd geraak het oor haar seun wat so hard werk. Sy het hom aangemoedig om uit te gaan en ’n bietjie vars lug te kry, maar hy het net gesê: “Nee, Ma, daar is nie tyd vir my om te speel of vars lug te soek nie. Ek moet werk. Ek wil julle nie teleurstel nie. Ek wil deurkom en góéd deurkom!”
Sy ma het met simpatieke oë na hom gekyk en dit was nie lank nie, toe is sy terug in sy kamer met ’n glas gemmerbier en ’n bord soetkoekies.
Ja-nee, dink Trompie, hy het die elf dae toe hy hom amper dood geleer het, nogal baie gemmerbier en soetkoekies weggepak.
Sy vriend, Dawie, wat slim en hardwerkend is, het hom eenkeer daarop gewys dat hy nie so hard sou hoef te geleer het as hy van die begin van die jaar af sy plig gedoen het nie. Trompie het hom egter nie veel daaraan gesteur nie. Hulle toets ’n mens nie op daardie klas goeters nie, maar op jou kennis. En hy het genoeg kennis gehad – oorgenoeg, want hy het goed geslaag.
Dawie, Blikkies en Rooie, die ander lede van Trompie se beroemde – of dalk eerder berugte – Boksombende, het ook almal geslaag. Hulle gaan volgende jaar almal saam in graad tien wees.
“Ons het al ver gevorder in die lewe,” sê Trompie sag. “Dis nou maar wors.”
Hy dink aan al die jare wat hulle vier al sulke boesemvriende is. Hulle het sommer op laerskool al begin saamstaan teen die buitewêreld. Dis toe dat hulle die Boksombende gestig het.
Trompie sitlê op sy bed. Sy hond, Boesman, snork ’n paar keer, verander van posisie en lê dan gemakliker op die vloer aan die bed se voetenent.
Trompie dink aan sy drie vriende en al die pret wat hulle al saam gehad het – soveel ontberinge en avonture.
Hy dink aan Dawie wat twee jaar jonger as die ander drie is, maar ook ongelooflik slim is. Hy is ’n ondeunde karnallie en altyd bereid om enigiets te probeer wat Trompie voorstel.
Dan is daar die rustige, ewig kouende Blikkies. Dit lyk of sy kakebene nooit rus nie. As hy nie geld het om kougom te koop nie, kou hy grashalmpies. Blikkies praat nooit veel nie. Hy dink dit vat te veel energie. Maar lui ofte nie, die lang, skraal Blikkies is ’n blitsige vleuel op die rugbyveld en hy het al baie drieë aangeteken.
Rooie is die derde lid van Trompie se Boksombende. Trompie dink aan hoe sy vriend se aspirasies om hul leier te word, verskiet het saam met die sterretjies wat hy gesien het toe Trompie hom eendag ’n blouoog gegee het. Maar dit was lank gelede. Vandag is Rooie ’n lojale ondersteuner.
Trompie besluit om nie nog langer so te sit en droom nie. Hy sal die laai nou deurgaan en alles wat hy nie meer wil hê nie uithaal en weggooi.
Hy trek die laai uit, keer dit op die tafel om en sit die leë laai op sy bed neer. Nou kyk hy ingedagte na wat alles op die tafel lê.
Daar is nie veel nie. Trompie dink daaraan dat ’n mens selfs met geweldige verbeeldingskrag, nie sal kan sê hy is ryk nie.
Daar is ’n plakboek vol foto’s van boksers wat hy uit koerante en tydskrifte geknip het. Die boek is vuil en plek-plek verfrommel soos wat baie vuil hande dit in die verlede al hanteer het.
Trompie het lanklaas nuwe uitknipsels ingeplak of selfs na die boek gekyk, maar hy sit dit nogtans terug in die laai op sy bed. Hy kan dit darem nie weggooi nie.
Nou tel Trompie die volgende voorwerp op. Dit is ’n kettie. Al wat daarmee fout is, is dat die houtmik gebreek het. As hy ’n ander mik aansit, sal die ding weer goed kan skiet. Trompie sit die kettie terug in die laai. Hy gaan nog eendag weer baie pret daarmee hê.
Volgende aan die beurt is ’n uitgedroogde padda. Trompie onthou hy het die padda in die laai gegooi omdat hy dit in ’n fles paraffien wou sit om te sien of die paraffien die padda sal preserveer. Maar hy het nooit so ver gekom om dit te doen nie.
Hy bekyk die padda peinsend en wonder of die ding nog verder sal krimp. Miskien moet hy dit maar hou en kyk wat gebeur. Die ding ruik gelukkig nou ook nie meer so sleg soos toe hy hom gekry het nie.
Trompie sit die uitgedroogde padda versigtig langs die stukkende kettie en die vuil plakboek in die laai. Hy gaan hierdie drie besittings van hom definitief hou.
Hy kyk weer op die tafel, sien ’n hopie uitgedroogde lemoenskille en begin aan een kou. Dit smaak nogal glad nie sleg nie. Die droë skille word langs die verkrimpte padda terug in die laai gesit. Hy sal die skille hou, dan kan hy mos as hy honger is daaraan kou.
Nou tel Trompie ’n klomp vuil, geskeurde strokiesprente op. Hy kyk weer vlugtig deur al Die Skim se opwindende avonture. Nee, besluit Trompie, al is hierdie strokiesprent-boeke feitlik al flenters, kan hy hulle darem nie weggooi nie. As hy hier in sy kamer is en hy het niks om te doen nie, kan Die Skim hom mos lekker besig hou.
Die strokiesprentboeke word langs die ander besittings wat hy gaan hou – die verkrimpte padda, die verweerde plakboek, die stukkende kettie en die hopie uitgedroogde lemoenskille – in die laai gesit.
Trompie kyk peinsend na die goed wat nou nog op die tafel oorbly. Daar is ’n klomp klippies, ’n paar albasters, twee velle papier waarop geskryf is, ’n kort, stomp potloodjie, ’n paar droë perskepitte en ’n ou liniaal.
Trompie huiwer ’n oomblik, dan bring hy die laai nader en vee alles op die tafelblad met sy voorarm weer terug in die laai. Hy voel daar is niks wat hy kan weggooi nie. Hy hou die klippies, want dan sal hy ammunisie byderhand hê wanneer hy die kettie se mik reggemaak het. Die albasters sal hy weer gebruik wanneer dit albastertyd is. Daar is nou wel al op die velle papier geskryf, maar daar is darem nog oop deeltjies. En hy wat Trompie is, is mos ’n spaarsame outjie. As die