“Ek vertel nooit ’n leuen nie,” sê Johan en kyk Rooie reguit in die oë.
Trompie twyfel nie ’n oomblik aan Johan se eerlikheid nie, maar hy is lus om uit die kamer te kom, so hy staan op en sê: “Nou kom, weg is ons.”
Die seuns staan op. Johan vra mooi: “Asseblief, belowe my julle sal nie vir my ma of my boetie van die geld sê nie.”
“Ons belowe,” sê Trompie plegtig namens homself en sy vriende.
Die seuns stap met die straat af na die heuwels buite die dorp. Johan loop ’n paar tree voor hulle.
Die Boksombende praat nie veel nie. Trompie sê net een keer: “Jissie, om te dink ’n ou wat so goed kon hardloop en swem en boomklim en alles lê nou in ’n bed en sal nooit weer kan loop nie!”
Die seuns stap stil na die huisie waar Johan, sy ma en sy bedlêende boetie woon.
5
Trompie die denker
Trompie-hulle kom by die armoedige plek op die verwaarloosde stukkie grond aan.
Hulle wag effens selfbewus op die stoep terwyl Johan gou by die huis ingaan.
Hy is skaars in, toe kom hy weer uit. Sy ma is by hom. Sy is ’n gesette vrou met grys hare. Daar is ’n sagte uitdrukking in haar oë.
“Johan sê julle is vriende van hom en julle kom vir Boetie kuier. Ag, maar dis baie gaaf van julle.”
“Dis Trompie dié, Ma,” sê Johan. Hy stel ook vir Rooie, Blikkies en Dawie aan sy ma voor.
“Aangename kennis, Tannie,” mompel Trompie.
“Noem my sommer tannie Alice. Ek is tog so bly om julle te sien. Ons is al ’n jaar hier op Kwaggaberg en ons ken nog bitter min mense. Boetie kry nooit kuiergaste nie. Ag, hy sal so bly wees julle het gekom. Kom binne, seuns, kom binne.”
Die Boksombende voel effens skuldig wanneer hulle by die huis instap.
Trompie sien die sitkamer is baie armoedig gemeubileer. Daar is net drie stoele en ’n tafeltjie. Maar alles is so silwerskoon, dit blink.
Die seuns gaan by die kamerdeur in.
“En dit,” sê Johan sag, “is my boetie.”
Op die bed lê daar ’n maer seun. Sy gesig is bleek en dit lyk of sy kop te groot vir sy lyf is, veral omdat hy nog bakore ook het. Maar sy bruin oë skitter. Hy glimlag toe hy na die seuns kyk.
“Hallo,” sê hy.
“Hallo,” sê die seuns en hulle kom staan langs die bed.
Johan sê: “Boetie, dis Trompie, Rooie, Dawie en Blikkies. Hulle’t sommer ’n bietjie vir jou kom kuier.”
“Heng, dis gaaf van julle,” sê die outjie opgewonde. “Ek het al baie van jou gehoor, Trompie.”
“So?”
“Ja, Johan vertel my altyd van jou. Jy’s mos een van die groot kokkedore by die skool.”
Trompie stoot sy bors effens uit, maar sê nederig: “Ag wat, dis sommer niks.”
Johan se boetie wys die seuns moet sommer op sy bed sit en hulle maak so. Hulle begin met die outjie gesels.
Die ma kom by die kamer in en glimlag vriendelik.
“Ek gaan vir julle koffie maak,” sê sy, “maar ek het nie suiker nie. Gelukkig maak die kondensmelk dit darem soet.”
“Moenie moeite doen nie, Tannie,” sê Trompie.
“Dis niks moeite nie.”
Trompie het gesien hoe Johan bloos toe sy ma sê hulle het nie suiker in die huis nie. Maar net daarna het hy regop gekom asof hy besef ’n mens hoef nie skaam te wees as jy arm is nie en toe het hy reguit na Trompie gekyk.
Trompie-hulle vertel vir die bedlêende seun van die dorp, die skool – en ook van die Boksombende en al hul kaskenades.
Dirk geniet hul stories terdeë, maar dan sê hy: “Dit lyk my Johan het nie baie vriende nie. Die ou sit die hele dag net hier by die huis en leer.”
Trompie dink aan Johan by die skool. Hy het nie enige vriende nie. Hy staan altyd eenkant met sy verwaarloosde klere – verstote en alleen. Trompie sluk. Hy sal sorg dat dit volgende jaar anders is.
Toe Trompie-hulle vertel van die dam in die kloof en hoe hulle saam met Boesman daar baljaar, sê die seun in die bed met verlange in sy helderbruin oë: “O, ek wens ek kan eendag saam met julle en jul hond soontoe gaan!”
Die koffie is uiteindelik gedrink en dit was lekker, selfs sonder suiker. Dawie staan op en sê met ’n elegante buiginkie: “Tannie Alice, dis die lekkerste koffie wat ek in jare gedrink het.”
Trompie, Rooie en Blikkies beaam wat Dawie sê.
“Ek is bly,” sê die vrou. “Ag, julle moet tog baie kom kuier.”
Die seuns gesels lank en opgeruimd met Dirk. Hulle is sy vriende. Trompie vergeet aanhoudend sy naam en hy kan die outjie mos nie Boetie noem nie, want hy is mos nie sy boetie nie. Toe noem Trompie hom sommer Bakore. Dirk Geel, oftewel Boetie, oftewel Bakore, soos hy van nou af sal heet, glimlag breed.
Trompie vra Bakore uit oor sy mondfluitjie. Daar is ’n hartseer uitdrukking op die seun se gesig toe hy sê: “Ja, hy’t gebreek, so ek sal maar moet leer om sonder hom klaar te kom. My ma sukkel te veel; ek kan haar nie vra om vir my een te koop nie. Sy het nie die geld nie.”
Heelwat later is Trompie-hulle daar weg. Hulle het Bakore belowe hulle sal weer vir hom kom kuier.
Johan stap tot by die hek saam met hulle. Daar aangekom, sê hy: “Baie dankie dat julle gekom het. My boetie gaan nou vir dae oor jul kuier gesels.”
“Vergeet dit, Johan,” sê Trompie, “en vergeet ook van die storie met Rooie se geld. Ons het dit lankal vergeet, reg ouens?”
Rooie, Blikkies en Dawie knik saam kop.
“Dankie,” sê Johan. Sy oë blink skielik. Hy draai vinnig om en stap weg.
Dit is duidelik dat Johan net vir sy ma en sy boetie lewe.
“Hy is ’n goeie ou,” brom Rooie.
Trompie knik ingedagte kop. “Ons kan baie by hom leer.”
“Ons moet weer vir Bakore kom kuier,” sê Dawie.
Blikkies pluk ’n halmpie uit ’n graspol en sê: “Ek skaam my dat ons Johan so sleg behandel het. Ons moet van nou af vriende met die lang lel wees.” Dan begin hy lui kou.
Wanneer Trompie by die huis kom, gaan sit hy in sy kamer. Hy voel sleg oor Bakore. Om te dink die outjie wat altyd so aktief was, sal nooit weer kan loop nie!
“As ’n mondfluitjie hom gelukkiger gaan maak,” prewel Trompie by homself, “dan moet ons vir hom een kry.”
Nou sit Trompie ernstig en dink. Dit gaan geld kos om vir Bakore ’n mondfluitjie te koop en geld is maar ’n skaars artikel by die Boksombende.
Trompie sit met sy vuil hand onder sy ken, presies net soos daardie brons beeld van Die Denker in sy pa se studeerkamer.
Meer as een keer in die verlede wanneer Trompie iets moes uitpluis, het hy hierdie houding ingeneem en dan het hy nog altyd ’n oplossing vir sy probleem gekry.
Trompie se voorkop is gefrons. Hy dink mos nou ernstig. Hy loer darem na die groot spieël om te sien hoe hy lyk as hy so diep sit en dink. Hy is tevrede met wat hy sien.