Trompie besluit om tot by drie te tel, dan sal hy begin dink. Hy tel en dink dan fronsend. Hoeveel kos ’n mondfluitjie? Hy het geen benul nie. Maar een ding is seker: Bakore moet ’n goeie mondfluitjie kry en nie sommer ’n goedkoop een wat niks beteken en nie lank hou nie.
Rooie, Blikkies en Dawie sal natuurlik moet help. Hulle vier gaan saam die geld vir die mondfluitjie insamel. Hulle kan in die dorp rondloop en vra of hulle nie vir mense teen betaling werkies kan doen nie.
Trompie hou egter nie te veel van hierdie idee nie en hy is seker dit sal ook nie Rooie, Blikkies en Dawie se goedkeuring wegdra nie.
Die Boksombende hou nie eintlik van werk nie. Buitendien, dink Trompie, die mense betaal ’n ou te min. Jy werk jou dood en dan kry jy maar net ’n paar rand.
Trompie besluit dit sal die beste wees as hulle vier die hele kwessie oor hoe om genoeg geld te kry, saam bespreek. Hy sal ’n amptelike vergadering belê. Hy en sy manskappe het lanklaas só bymekaar gekom. Rooie, Blikkies en Dawie sal naderhand vergeet hy is hul Grootkaptein. Hy gaan mooi dink wat om te sê. Hulle sal weer sy woordeskat bewonder en dankbaar en bly wees dat hulle so ’n goeie leier soos hy het.
Voor Trompie met sy rooi fiets na sy vriende toe ry om vir hulle te gaan sê van die middag se amptelike vergadering in hul fort, ry hy eers by die winkel aan. Hy wil uitvind hoeveel ’n goeie mondfluitjie kos. Hy wil by die vergadering weet presies hoeveel die winkel vir so ’n ding vra sodat hulle kan weet hoeveel geld om in te samel.
By die winkel is daar verskillende mondfluitjies – allerhande groottes, soorte en pryse. Trompie weet nie veel van die goed af nie, maar hy probeer tog op ’n paar speel.
Daar is een waarvan hy sommer baie hou. Die ding lyk en speel vir hom soos hy sê “sommer ekstra eksie-perfeksie”.
“Hoeveel kos hierdie een, Oom?” vra hy vir die ou man agter die toonbank.
Trompie skrik toe hy die prys hoor.
“Jislaaik, Oom,” sê hy spontaan en lyk terneergedruk, “dis darem baie geld.”
Die oubaas bied vir die seun tien persent afslag vir kontant aan.
“Dankie, Oom, ek is binne ’n dag of twee weer hier,” sê Trompie vriendelik, maar hy stap met ’n swaar gemoed by die winkel uit. Hy wonder of hy binne ’n dag of twee weer hier by die winkel sal wees.
Hy ry na Rooie, Blikkies en Dawie toe en sê vir hulle om hom later in hul fort te ontmoet. “Dis ’n baie belangrike vergadering,” deel Trompie hulle mee en wikkel sy neus effens. Hy sê nie vir hulle waaroor dit gaan nie.
Dié middag ná ete stap Trompie deur die veld na die vervalle ou waenhuis wat as die Boksombende se fort dien.
Boesman draf lui langs hom. Dit is warm en sy hond se tong hang uit.
Trompie se pet sit skeef op sy kop, sy kouse lê op sy skoene en sy hemp hang by sy broek uit.
Trompie se hande is diep in sy broeksakke en hy loop ingedagte na graspolle en skop. Hy berei die toespraak voor waarmee hy Rooie, Dawie en Blikkies gaan ompraat om nes hy vuur en vlam te wees om vir arme Bakore ’n mondfluitjie te kry. Hy moet só goed praat dat hulle uit hul eie bereid sal wees om enigiets op te offer.
Toe Trompie naby die fort kom, gee hy ’n uitgerekte fluit. Dit is ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een, die Boksombende se sein. Iemand in die vervalle ou waenhuis fluit op dieselfde manier terug.
Blikkies en Rooie sit al klaar in die fort op kissies.
“Haai,” sê Trompie en kom sit ook op ’n kissie.
“Haai,” sê Rooie en Blikkies.
Boesman draai ’n paar keer in die rondte en plof dan in die muur se koelte neer.
“Waar’s Dawie?” vra Trompie. Voor iemand kan antwoord, loer Dawie se ondeunde gesig om die muur.
“Haai,” sê hy.
“Haai,” antwoord die ander terwyl hy kom sit.
En hier is Trompie en sy Boksombende weer amptelik bymekaar vir ’n belangrike vergadering.
Trompie het sy sakboekie en ’n kort, stomp potloodjie by hom. Hy blaai ernstig deur die boekie en daar is ’n frons op sy voorkop. Hy doen eintlik niks nie, maar hy voel tog hierdie gefronsde voorkop en die geblaai deur die boekie is indrukwekkend. Sy drie vriende hou kom aandagtig dop.
“Wanneer begin die vergadering?” brom Rooie. “Dis warm. Ons wil gaan swem.”
“Stil, Rooie,” sê Trompie en lig ’n vuil hand. “Kan jy nie sien ek’s besig nie?”
Trompie blaai weer deur die boekie om te wys hoe besig hy is.
Toe dit later vir Trompie lyk of Blikkies aan die slaap gaan raak, staan hy op. Hy maak keel skoon en sê: “Is ons almal hier?”
Daar is ’n snork van minagting.
“Kan jy dan nie sien nie?” brom Rooie.
“Luister, manne,” sê Trompie kwaai, “dis ’n amptelike vergadering dié. Ek wil nie nonsens hê nie. Alles moet stigtelik en volgens die regte prosedure geskied.”
Trompie tel of hulle voltallig is, al kan ’n mens met een oogopslag sien hulle is. Uiteindelik is hy tevrede. Al vier van hulle is teenwoordig.
“Manne van die Boksombende,” sê Trompie en hy laat sy stem effens tril om te kenne te gee dat dit ’n baie ernstige saak is, “ons vergader vandag hier onder die blou hemel om oor ’n groot ding te praat. Ons moet altyd onthou dat ons as mense met ’n hoër doel op hierdie tranedal is. Ons moet nooit van daardie doel vergeet nie. As ons nie met daardie doel voor oë lewe nie, kan ons maar net sowel twee meter onder die grond wees, want dan beteken ons niks vir die wêreld in die geheel en die samelewing in die besonder nie.”
Drie verbaasde gesigte kyk na Trompie. Dan sê Dawie: “Jissie Trompie, dit klink of jy ’n woordeboek ingesluk het.”
“Wie’s jou Trompie?” Trompie is altyd daarop gesteld dat sy manskappe hom tydens ’n amptelike vergadering as Kaptein moet aanspreek.
“Orraait dan – Kaptein,” sê Dawie, “maar van watse doel praat jy?”
“Die doel wat ons altyd voor oë moet hou!”
“Maar wat is dié doel … Kaptein?”
“Kan jy nie wag tot ek daarby kom nie?”
Dawie is nou stil. Trompie sien sy manne sit aandagtig na hom en kyk en dan begin hy weer: “Soos ek sê, ons is met ’n doel op hierdie ou tranedal en ons moet dié doel nooit uit die oog verloor nie. Julle wil weet wat hierdie doel is?” Trompie hou sy hand weer voor hom, maar toe hy sien hoe vuil dit is, laat sak hy dit gou weer. “Ek sal julle sê wat hierdie doel is. Dit is om jou medemens te help – om tot die beste van jou vermoë hulp en bystand te gee aan iemand wat minder bevoorreg is!”
Die Boksombende kyk verbaas na hul Grootkaptein.
Dawie ook. “Jissie, ou Tr- … ag, ek bedoel Kaptein, jy’t sowaar twéé woordeboeke ingesluk.”
Trompie hou ook so baie van sy laaste sin dat hy dit nou weer herhaal: “Soos ek sê, hier onder die blou hemel, is ons doel op aarde om ons medemens te help, om tot die beste van ons vermoë hulp en bystand te verleen aan dié wat minder bevoorreg is. Dit is wat ek sê.”
“Ek sê ook so.” Blikkies spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog uit. “Maar wat’s jou punt? Vir wie moet ons hulp en bystand en daai klas van goeters gee?”
“As julle net jul verstand wil gebruik – die bietjie wat julle het – sal julle weet van wie ek praat.”
Die seuns kyk ernstig na Trompie. Dan