Trompie lek met sy tong aan die potloodpunt. Dan skryf hy op een bladsy in die sakboekie: Help. ’n Entjie onder dit skryf hy: Nie help nie.
So ja, nou is hy reg.
“Dié wat sê ons is met ’n doel hier op aarde en ons moet ander ouens help en nou veral vir Bakore …”
“Hoe moet ons Bakore help, Kaptein?” val Blikkies Trompie in die rede.
“Deur vir hom ’n mondfluitjie te koop. Ek het ’n baie mooie by die winkel gesien … Maar nou moet ons eers stem. Dié wat sê ons moet Bakore help, steek jul hande op.”
Al drie lig hul hande – en Trompie steek syne ook op!
Hy tel versigtig. “Daar is vier,” sê hy en onder “Help” skryf hy 4.
“En nou dié wat stem dat ons Bakore nie moet help nie. Steek hande op.”
“Dis onnodig,” brom Blikkies.
Trompie ignoreer hierdie aanmerking. Hy kyk rond. Daar is geen hande om te tel nie. Onder die opskrif “Nie help nie” maak hy ’n 0.
“Reg manne, so ons het soos een man besluit – en ek is trots op julle – dat ons Bakore gaan help. Ons gaan vir hom ’n mondfluitjie koop.”
“Dis goed,” kom Blikkies se lui stem, “en dit sou nog beter gewees het as ons geweet het waar ons die geld vandaan gaan kry.”
“Ons moet sommer nou dadelik begin planne maak,” sê Trompie ernstig. Hy gaan sit. Hy word moeg van so staan terwyl hulle almal lekker gemaklik op kissies sit.
Die seuns is stil. Almal dink aan planne om geld te maak.
Vir Rooie lyk dit na ’n saak van onmoontlikheid, so hy probeer nie eers daaroor dink nie. Sy kop is by die dam in die kloof. Dit sal lekker wees om nou te gaan swem.
Trompie kyk na Blikkies. Hy wonder of sy vriend besig is om aan ’n plan te dink. As dit nie vir sy kouende kake was nie sou ’n mens gesê het Blikkies slaap. Sy sitvlak rus op die kissie, sy rug is teen die muur en sy bene is lank voor hom uitgestrek. Sy oë is halfpad toe.
Nou kyk Trompie na Dawie wat homself besig hou deur Boesman te kielie. Hy wil sien hoe ’n hond lyk as hy lag.
Trompie kom wyslik tot die besluit dat hulle nie veel sal uitrig as hy moet wag dat sy vriende praktiese voorstelle maak nie. Hy is die Kaptein en hy moet die leiding neem.
Hy lek sy potloodjie weer nat. Hy blaai na ’n skoon bladsy in die sakboekie op sy skoot.
“As ons geld wil bymekaar maak,” sê Trompie met ’n belangrike stem, “moet ons eers dit wat ons het opoffer en dan planne beraam om die balans te kry.”
Die ander kyk na hom. Te oordeel aan hul gesigte het hulle nie veel om op te offer nie.
Trompie sit reg om te skryf.
“Hoeveel geld het jy?” vra Trompie vir Rooie.
“Niks,” sê die skoenmaker se seun met ’n sug.
“Jy, Dawie?”
“Niks. Ek’s platsak.”
“Jy, Blikkies?”
“Ook so.”
“Ook so – wat?”
“Ek het ook niks nie.”
Met ’n sug sê Trompie: “Ek het ook niks nie.”
Hy sit reg om te skryf en hy wil so graag skryf, maar daar is niks om te skryf nie. Die vier is platsak. Hulle het nie ’n enkele sent nie.
“Miskien,” sê Trompie nadenkend, maar dit is duidelik aan die afkeurende uitdrukking op sy gesig dat hy nie van die gedagte hou nie, “kan ons werk vir geld …”
Rooie kreun. Dawie maak of hy nie hoor nie en bly kyk net vir die hond wat nie wil lag nie, al word hy ook hóé gekielie. Blikkies lê nog luier uitgestrek en sy oë is nou heeltemal toe. Hierdie voorstel – dat hulle moet werk – vind duidelik hoegenaamd geen byval nie.
“Ons sal maar net moet sien hoeveel ons binne ’n dag of twee kan bymekaarmaak,” sê Trompie.
Hy draai na Blikkies wie se een oog nou agterdogtig oop is.
“Wat kan jy opoffer?” vra Trompie. “Wat het jy wat jy kan verkoop om geld in die hande te kry?”
Blikkies se oë is nou albei oop en hy sit regop.
“Nee, ek kan aan niks dink wat ek het wat iemand graag sal wil koop nie.”
Die seuns het nou skoon vergeet van die kastige amptelike vergadering en hulle noem Trompie nie meer Kaptein nie.
Trompie kyk streng na Blikkies wat effens ongemaklik van posisie verander.
“Wat van jou duiwe?” vra Trompie.
“Ek het maar net twee,” mompel Blikkies.
“Wel, jy sal nie niks vir hulle kry nie. So dan het ons al ’n paar rand.”
Blikkies kou stadig aan die grashalmpie in sy mond.
“Onthou,” sê Trompie en sy stem is sag, “Bakore lê daar in sy bed en hy kan nie eers loop nie!”
Vinnig sê Blikkies: “Ek weet nie waarom ek nog wonder nie. Dit moet vreeslik wees om nooit weer te kan loop nie!” Blikkies skud sy skop. “Natuurlik sal ek my duiwe verkoop. Ek gee môre vir jou die geld, Trompie.”
Trompie lek die potloodpunt en skryf in sy boekie:
Blikkies -- twee duiwe verkoop (mo^re)
Rooie en Dawie sit albei ernstig en dink. Hulle is heeltemal bereid om iets op te offer. Maar wat?
“Ek kan nie aan iets dink om te verkoop nie,” sê Dawie, “maar ek sal my pa vra om my sakgeld môre vir my te gee, in plaas van die einde van die maand. En miskien kan ek nog ’n ietsie ekstra ook uit hom kry.”
Trompie skryf in sy sakboekie:
Dawie se sakgeld (môre)
Rooie kyk ingedagte na sy wikkelende tone. Hy het twee pare skoene – ’n nuwe paar en ’n ou paar. Twee pare skoene is natuurlik heeltemal oorbodig vir Rooie. Hy dra nooit eers een paar nie!
“Die tuinman wat by die mense langs ons werk, het nou die dag gevra of ek nie vir hom skoene het om vir sy seun te koop nie. Ek sal my ou skoene aan hom verkoop en môre vir jou die geld bring, Trompie.”
“Dankie, Rooie.”
Trompie skryf in die sakboekie:
Rooie – skoene verkoop (môre)
Nou wonder Trompie wat hy kan opoffer. Hy besit niks wat waardevol genoeg is nie.
“Ek sal ’n bietjie met Anna praat,” sê hy ná ’n rukkie. “Sy sweef mos deesdae daar by die huis rond asof sy in ’n droom is. Ek gaan haar vir geld vra. Ek is seker sy sal vir my iets gee. Ek moet net aanhou kerm sodat sy van my wil ontslae raak.”
Trompie skryf in sy sakboekie:
Trompie – Anna se geld (môre)
Dan sê hy: “Dit behoort darem vir ons ’n goeie paar rand in te bring. Maar vir ingeval dit nie genoeg is nie, moet ons maar ons ore en oë oophou. Bring enigiets anders wat julle kan kry vir my. Ek sal boekhou en sodra ons genoeg het, koop ons Bakore se mondfluitjie.”
“Kom ons gaan swem nou,” sê Rooie.
“Ja, laat ons weg wees,” sê Trompie.
Die Boksombende stap vinnig deur die veld na die dam in die kloof.
Toe hulle die water in die