“Waar gaan jy nou, mevrou?” Die verpleegster leun vorentoe net toe Vera oor die tweede stopstraat ry. Die kar kreun die steilte uit, verby die huise wat diep agter in hulle erwe lê, die lang grasperke wat voor uitstrek tot waar die sypaadjies begin. “Ek moet vyfuur weer by die hospitaal wees, mevrou. Ek moet nog by die OK kom.”
“Ek moet geld by die huis gaan haal,” sê Vera. “Het jy jou pasboek by jou? Ek wil nie in die moeilikheid raak met jou in my kar nie.”
Die verpleegster antwoord nie, sy sit net weer terug en kyk by die venster uit. Haar ken is nog hoër gelig. Vera trap die pedaal dieper in. Sy is bly sy het dit genoem, sy skuld haar niks.
By die huis stop sy voor die dubbelgarage. “Bly sit, ek’s nou terug.”
“Lekker plek, nè?” sê die vrou langs haar. “Kos seker ’n fortuin elke maand, só ’n plek. En dan wil hy niks betaal vir sy eie kind nie.”
“My man betaal ook nie,” kom dit van agter af. Vera en die ou vrou kyk vir mekaar voor hulle omdraai. “Hulle is almal dieselfde, swart en wit, hulle wil net seks, seks, seks en dan, net so, split hulle, vat die pad.” Sy klap haar vingers, kyk nog steeds by die venster uit. “Hoor nie eers of daar ’n baby is nie.”
Die twee kyk weer vorentoe.
“Gee my handsak aan, asseblief,” sê Vera en maak die deur oop. Sy het sigarette nodig. Die dag het nie einde nie.
“Hier, tannie.” Vera druk die note in haar hand. Hulle staan buite Oase se ingang.
“Dankie,” sê die ou vrou. “Jammer oor ek jou by die werk kom pla het.” Sy vroetel aan die rek om haar ken. “Jy’s self ’n ma, ek het gedink jy sal verstaan.”
Die verpleegster maak haar keel hard skoon en toe hulle omkyk na waar sy agter hulle uitgeklim het, groet sy vinnig en stap weg.
“Ek gaan terug Randfontein toe,” sê Vera terwyl sy die verpleegster agterna kyk. “Na my ma toe.”
“Gaan jy hom los?”
“Ek dink so, ja.”
“Ek moet OK toe.” Die ou vrou lyk skielik kriewelrig. “Weet jy wat daai swart verpleegster se naam is?”
Vera skud haar kop.
“Ek’s Magda,” sê die ou vrou en glimlag vir Vera voor sy ook vinnig koers vat.
Vera kyk vir die soveelste keer op haar horlosie. Dit maak nie saak nie, sê sy vir haarself. Dis verby. Hy kan doen wat hy wil, seks hê met wie hy wil. Sy’s klaar met hom. Sy’t besluit. Net daar toe sy voor die ou vrou gestaan en gesê het sy gaan terug Randfontein toe. Niks wat hy doen, traak haar meer nie. Dis verby. As haar hande net wil ophou bewe, haar hart net nie so vinnig wil klop nie.
Sy swaai haar bene van die bed af en sit met haar hande op haar knieë. Dis donker. Oorkant sien sy iemand in die huis beweeg, die staanlamp in die sitkamer brand. Sy staan op, kyk deur die kantgordyne. Hulle het nooit weer ná Maryna se dood gepraat nie. Dis amper drie maande. Wat is daar in elk geval om vir hom te sê? Dat sy seergemaak is omdat sy nie die enigste ander vrou in sy lewe was nie? Dat sy dink hy is ’n liegbek, nes haar man, of dat sy jammer is, jammer dat sy op haar manier skuld dra oor Maryna.
Sy kyk op haar horlosie, outomaties. Moet weer kyk om seker te maak sy het reg gesien. Dis tweeuur in die oggend.
Sy gaan sit weer op die kant van die bed. Haar ma wou vroeër niks weet toe sy haar gebel het nie. Maar sy moes iemand vertel.
“Hy verneuk my, Ma. Weer. Ek kan nie meer so aangaan nie.” Sy kon dit nie uitkry nie, vir haar ma sê daar’s ’n kind ook nie.
“Ek het jou van die begin af gesê hy is moeilikheid, maar jy’t mos nie ore nie.”
Vera was moeg. Sy wou nie stry nie. “Kan Ma nie net met die myn reël vir blyplek nie? Asseblief. Ma het tog nog kontakte daar.”
“Wat van werk? Hoe gaan jy vir jouself sorg? En die kinders?” het sy gesê. “Het jy al daaraan gedink? Daar’s nie werk by die hospitaal nie. Dis vol.”
“Ek sal ander werk kry, Ma.”
“Daar’s altyd Brenda,” het haar ma skielik sagter gesê. “Ek is seker sy’t ’n kamer of twee.”
“Ek’s nie een van Brenda se charity cases nie, Ma. Ek het nog my trots. Ek kan nie sak en pak met die kinders daar aankom nie. Dis nie reg nie. Willem se pa sê ook dinge raak al hoe erger in Johannesburg. Hy sê dis gevaarlik vir die wittes. Ek ken Randfontein.”
“Jy gaan hom in elk geval weer terugvat, Vera, jy weet dit. Dis nie die eerste keer nie.”
“Dis verby, Ma.” Sy het die trane voel kom. “As Pa geleef het, sou hy my gehelp het.”
“Sou hy? Regtig?” Haar ma se stem was koud.
Vera kon nie verder praat nie.
“Selfbejammering kry mens nêrens in die lewe nie, Vera. Jy’t jou eie bed gemaak. Jy kon jou bietjie geleerdheid verder gevat het as jy net jou kop gebruik het, nie geval het vir die eerste, beste man se mooipraatjies nie.”
Toe klink haar ma skielik moeg, moeg vir haar. “Jou pa is dood en ek het my hande vol met jou broer-hulle se nuwe baba. Sanet is sieklik na die geboorte.”
Vera moes die foon toedruk sodat haar ma nie die trane wat weer begin loop het, in haar stem kon hoor nie.
“Hoekom probeer jy nie eers weer kyk of jy jou huwelik kan uitsorteer nie, my kind,” het sy gesê toe Vera lank stilbly. “Gee dit nog ’n rukkie, toe, dan praat ons weer.”
Iemand loop skielik vlak verby die kamervenster buite. Dit voel of al die bloed in haar lyf in haar voete opdam, sy kan nie vorentoe of agtertoe nie. Haar hart klop in haar ore. Toe sy begin loop, is dit stadig die gang af, by die kinders se kamers verby waar die gordyne dig toegetrek is.
Sy gaan staan voor die voordeur, buk af, loer deur die vis-ogie, sien Simon se erf van hoek tot kant, wit in die lig van die maan en die straatlamp. Sy sien die gholfbalposbus wat reg in die middel rond uitbult so duidelik asof dit amper voor die deur staan.
’n Swart gesig doem skielik in die ogie op. Sy gil agter haar hand en gee ’n paar treë terug.
Toe haar asemhaling bedaar, kyk sy weer deur die ogie. Die gholfbalposbus is terug. Als lyk stil.
Toe hoor sy dit. ’n Sagte klop. Dit kom van agter af, die kombuis. Sy draai om, loop stadig op haar tone tot vlak voor die deur tussen die gang en die kombuis en loer om die kosyn. Behalwe vir die maan is die venster bokant die wasbak donker. Weer ’n sagte klop.
“Wie’s daar?” Haar stem is hard.
Sy loop tot voor die wasbak en kyk op haar tone deur die venster. Toe sien sy haar in die buitelig op die trappie sit, ’n swart vrou met ’n kind op haar rug. Vera maak die venster oop, die vrou draai om en kyk op in haar oë.
“Mevrou,” sê sy, die swart verpleegster van vroeër.
Vera skud haar kop, so asof dit die vrou weer op haar regte plek terug sal sit, uit haar lewe, waar sy hoort.
“Wat maak jý hier?” Sy sluit die agterdeur oop en staan eenkant toe. “Kom in!”
Die vrou staan op, loop in en gaan sit skeef op ’n stoel. Vera maak die kombuisdeur toe en gaan staan voor die vrou. Sy lyk vreemd sonder haar wit uniform, meer soos haar soort. Anders as sy.
“Ek’t jou gevra, wat maak jy hier? Ek het my amper doodgeskrik!”
Die vrou lyk bang en haar oë is moeg. “Ek soek plek om te bly vir ’n paar dae, mevrou. Asseblief.” Haar vingers speel met die onderste knoop van die kombers om haar lyf. “Ek’t gehoor die ou mevrou sê jy’t kinders, jy sal verstaan.” Sy kyk vir Vera. “Vandag. Buite voor Oase.”