Hulle verlaat die kelder, en namate hulle na bowe terugkeer, maak die mistieke lig in Jock se oë plek vir die komplekse alledaagse wat van oomblik tot oomblik en prikkeling tot prikkeling wissel.
Hulle stap by ’n groot gebou verby waar ’n hele reeks kleurlinge besig is. Almal is vrolik en uitgelate en die atmosfeer het nou gewissel van die bonatuurlike tot die alledaagse. Hulle kyk astrant na Jock en Henry met die superieure besef van menslike swakheid wat alle stand uitwis en almal herlei tot alledaagse menswees: die bekwaamheid ten opsigte van seks, liefde, bevrediging van materiële behoeftes en die vermoë tot oorlewing in die rottejag wat die lewe is. ’n Jong Slamaaiermeisie kyk direk in Henry se oë en lag meteens as hy wegkyk.
Maar Jock lei Henry by hulle verby. Langsaan is ’n kleiner gebou, verdwerg deur twee voorwerpe wat soos reusagtige lokomotiewe lyk. Groot hope steenkool is aan weerskante van die gebou gestapel. Die oonde is oop, en naturelle, hulle gesigte blink van die sweet, is besig om vyandig die smeulende mae van die kolosse te vul.
Jock loop voor tot in ’n kamertjie wat van kant tot kant met koperpype bevleg is. Hy trek ’n deurtjie agter hom toe en ’n kliniese stilte heers in die vertrekkie. Hy kyk na Henry, beduie vir hom iets met sy vinger, en draai meteens ’n kraan oop. ’n Helse stoomgesuis vul die vertrek sodat alle ander geluide uitgewis word. Eenkant in die hoek staan ’n ysterhamer. Jock tel dit op en slaan met kragtige hale teen ’n stuk staal sodat die hamer met blitsvinnige protes terugspring terwyl die spiere in sy arms swel om die yster te tem. Maar daar is geen geluid behalwe die gesuis nie. In uitbundige vervoering spring Jock op en af, smyt die hamer weg, skop teen die mure, slaan met sy vuiste teen die pype – en daar is steeds geen geluid nie behalwe die oorheersende stoom wat op eie manier, namate hulle daaraan gewoond raak, ’n stilte van sy eie skep.
Nou draai Jock die stoomkraan toe en opeens kom sy stem duidelik en helder tot Henry.
“Dit is my kamer van afsondering,” sê hy. “In hierdie gedruis is die volkome stilte.” Hy vat dringend aan Henry se arm en trek hom nader, sy een hand op die kraan, sy stem in vervoering onder die aanslag van sy besondere verdowingsmiddel. “Gee jy om om mee te doen? Sodra ek die kraan aandraai, wil ek hê dat jy so hard moet skree as wat jy kan. Vloek, laster en huil soos jy wil – protesteer hardop soos jy alleen ander tye in jou gedagtes kan protesteer, beskerm soos Job jou onverdiende menslike lot, want hier praat jy direk tot jou Skepper; niemand anders kan jou hoor nie.” Sy oë is spierwit met die blink lig van fanatisme. “Hier is jy alleen soos jy nog nooit alleen was nie, maar dis nie die impotente stem van jou gedagtes nie, dis die volle, liggaamlike stem wat skreeu teenoor die Heelal; dis jy self in volle beheer van jou sintuie; dis jy, Job, wat van voor af die vraag teen die Almag uitbulder. Dis jou reg, as mens, om met alles in jou vermoë jou protes aan te teken in die tussenwêreld van stilte wat nie stilte is nie.”
Hy draai die kraan meteens oop, die stoomgesuis oorweldig alles, verdoof alle ander geluide en gaan oor tot die nuwe stilte wat uit die eenklank gebore word. Dis net Jock se mond wat oop- en toegaan. Henry kan die are in sy nek sien swel – sy magtige bors wat dein met die krag van sy onhoorbare krete. Sy oë is na die dak gehef, sy arms gekrom in die lug, sy hele liggaam sidderend in die geluidlose ontboeseming. Vir die eerste ruk is Henry verslae voor hierdie sonderlinge bieg, dan begin iets in homself ontwaak, in hierdie oorverdowende stilte – ’n gevoel van ganse alleenheid, asof hy in ’n verlate landskap staan, in die eensaamheid van die wildernis, en in die afsondering van diep binne hom die oerkreet opwel, die verlange, die ontketende protes teen die magteloosheid, die weeklag van sy verlatenheid, die vrye, gans ander formulering van sy diepste begeertes, die ontlediging van sy hart self. Hy voel ’n klammigheid op sy wange en besef dat dit trane is. Hy vee hulle met sy hand af en ontdek in die proses dat sy mond wawyd oop is. Daar is iets wat in sy keel prikkel, iets in sy bors, iets in sy longe, en hy besef dat hy homself ook oorgegee het. Nou eers begin hy dink en die aard van sy versugtings en protes formuleer, maar spoedig besef hy dat die gewone formulering nie nodig is nie. Sekere woorde, sekere begrippe, sekere geluide, waarvan hy self nie seker is nie, skreeu hy ten hemele; slegs die kern van gevoel du op, die halfgebore gedagtes kom en gaan en niemand weet wat te voorskyn kom nie. Dis meer as die stilswyende wens, verlange of weeklag, want dit is geartikuleer sonder die beperktheid van gewone artikulasie. Dis ’n volkome vrye uiting sonder die bande van selfoordeel, want hy weet nie wat hy sê nie. Dis die grootste, die alleromvattendste kommunikasie met die Almagtige wat hy nog ooit ervaar het.
Uitgeput, intens gereinig, snak hy na asem en sien hoe Jock meteens sy vinger na sy lippe bring. Dan word die kraan toegedraai en neem die ander stilte oor wat slegs deur hulle asemhalings onderbreek word. Hulle kyk na mekaar maar met die gevoel van mense wat ’n ervaring gedeel het, en tog geïsoleer was van mekaar; met die kameraderie wat spruit uit die volkome deelname, en tog met ’n kern van geheimhouding wat onaantasbaar is. Dis die volmaakte broederskap, en hulle verlaat die heiligdom in volkome swye.
II
Hulle wandel in die sonskyn terug na die huis. Kort-kort loer Henry na die groot man langs hom wat opgewek voortstap en sigbaar sy behae in die heerlikheid van die natuur openbaar. Sy hemp is oopgeknoop en sy bors is ontbloot. Hy het sy hoed in sy hand en beduie met ’n wye swaai van die arm alles wat hy mooi vind. Sy gedagtes borrel uit; dis asof sy genot direk tot woorde herlei word. Toe hulle in die middel van ’n klawerland kom, in hulle kortpad na die huis, vlei hy hom meteens neer.
“Kom ons rus ’n bietjie,” sê hy vir Henry, “voor ons mekaar netnou in die gedrang verloor.”
Nou kan Henry hom goed beskou. Hy merk op dat Jock se oë nie altyd dieselfde kleur het nie. Hierdie keer is die blou donkerder. Al sy ledemate, tesame met sy gelaatstrekke, is ’n bietjie groter as die normale. Dit strook met sy emosies wat ook die normale grense oorskry. Hy lê op die gras, kouende aan ’n sprietjie, en Henry voel dat hierdie oomblik van rus en langsame gesprek die voorteken is van ’n ewe groot swye wat spoedig weer oor Jock sal kom.
“Onthou jy wat ek gister gesê het?” vra Jock. “Omtrent die gesigloosheid van die Syn?” Hy draai hom op sy rug en kyk na die lug. “Dis omdat die enkeling sy dramatiese beeld verloor het. Daar is te veel mense in die wêreld. Daar is ’n wesentlike onverskilligheid oor die lot van die enkeling, daar is slegs ’n deernis vir die groep, die groter eenheid.” Nou lê hy plat op sy rug, onrustig in sy gedagtes. “Daar is nie meer enkele karakters nie; ons is almal bloot geleibuise. Ken jy byvoorbeeld vir Salome?”
“Dis wat ek al lankal probeer uivind,” sê Henry. “Ek weet nie wie Salome is nie. Niemand het nog vir my gesê wie sy is nie. Ek soek nou al twee dae na haar.”
“Presies,” sê Jock. “Niemand stel werklik belang in die enigheid van die ander se karakter nie. Ons is ’n samestelling van gesigte en ons besef die futiliteit om iets wys te word van die veelsydige patrone. Die ware self is totaal, is deel van die naamlose menigte. Elkeen van ons is bloot ’n geleibuis van die stroom van opgegaarde kennis. Dis ’n benouende gedagte. Ons het geen enkele beeld meer van enige aard nie.” Hy sit meteens regop. “Henry! Henry! Dink daaraan! Dink aan die ontsettende ramp van die verdwyning van die enkele mens hoe nader ons aan die wesenswaarheid kom!” Hy bring sy enorme hande saam en pers sy gedagtes uit. “Voel jy die eensaamheid, die alleenheid?” Hy kyk angstig in die gesig van die jongman langs hom, bevrees dat wat hy probeer oorbring, verlore sal gaan. “Weet jy wat hierdie alleenheid en eensaamheid is?” Hy vat aan albei Henry se skouers. Sy woorde kom sag en nadruklik. “Dis net die presiese teenoorgestelde. Ons is nie alleen nie. Ons besef aldag meer en meer ons gesamentlike aandeel in die lot van die mensheid. Die eensaamheid is die verlange, die pyn by aanskouing van die valse beeld van die enkeling wat stuksgewys met ons nuwe insig verdwyn. So verlang ons altyd na die vorige tyd wanneer ons in die nuwe tyd gebore word. Jou soektog na Salome is gedoem tot mislukking.”
Hy staan meteens op en begin loop, gedryf deur daardie iets in hom wat hom steeds aanjaag. Hy beweeg nou so vinnig dat Henry moeite vind om by te bly.
Die komplekse stel geboue wat Welgevonden is, doem voor hulle op.