Die Silberstein-trilogie. Etienne le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798167413
Скачать книгу

      Etienne Leroux

      Die Silberstein-trilogie

      HUMAN & ROUSSEAU

Sewe dae by die Silbersteins

       Daar bestaan nie ’n plaas soos Welgevonden nie.

       Alle karakters is denkbeeldig.

       Die gebeurtenisse is onwaarskynlik.

       “Ons is nie alleen nie,” sê Jock Silberstein.

       “Ons besef aldag meer ons gesamentlike aandeel in die lot van die mensheid. Die eensaamheid is die verlange, die pyn by aanskouing van die valse beeld van die enkeling wat stuksgewys met ons nuwe insig verdwyn.”

      OPGEDRA AAN

      MARIANNA EN ALEXANDER PODLASHUC

      HOOFSTUK I

      Dans van die rykes

      I

      Die Van Eedens het gevoel dat dit haas tyd is dat hulle enigste seun in die huwelik moet tree met iemand wat in ander opsigte hulle stand waardig is. Die jongman is, goddank, wêreldwys genoeg grootgemaak om te besef dat liefde slegs as ’n laaste instansie op die spel kom. Die naam Salome is genoem en na openhartige oorweging as aanneemlik verklaar. ’n Oom van die betrokke spruit is gekies om die nodige aanvoorwerk te doen en, waar nodig, behulpsaam te wees in hierdie delikate kwessie van ’n sosiale kontrak teen die agtergrond van onvoorspelbare menslike verhoudings. Die naam van die oom is J.J. van Eeden, ’n vrygesel en boulevardier; die naam van die jongman, Henry.

      Hulle is op hierdie oomblik op pad na die Silbersteins, waar hulle ’n week sal deurbring. J.J. het ’n tweedpak aan met bypassendhede soos pyp, tabak, sysakdoek en serp. In sy onmiddellike nabyheid is daar die geur van dennenaalde. Henry bestuur die Riley met ’n argloosheid waarin dit moeilik is om geluk van behendigheid te onderskei. Die Bolandse landskap van wingerde, berge, bome en gesellige riviertjies dra alles by tot die décor. Hulle nader spoedig die landgoed wat aan die bo-ent van ’n vallei geleë is.

      Die ingangspoort bestaan uit twee enorme, wit geverfde pilare, aan weerskante verbind met ewe wit geverfde ringmure wat soos twee arms die aardse besittings van die Silbersteins tot teenaan die horison omhels. Die plaas se naam is op ’n raamwerk van vlekvrye staal aangebring, die letters is van yster, die letteraard Goties, die legende: Welgevonden. Die pad na die huis is geteer en slinger berekend tussen ou Kaaps-Hollandse Jonkheerhuise aan die een kant en ou Kaaps-Hollandse stalle aan die ander kant. Die deure lyk op stinkhout, die dakke is vars gedek en opgeslaan, die gewels trapsgewys met rondings bo, die versiersels druiwemotiewe, Eros-babas en horings van vrugbaarheid. Die gewel van die herehuis self is ’n gedig van krulle, golwings en wit kalk. Daar is interessante hoekies en gangetjies wat nêrens heen lei nie, en leertjies van ou hout wat na solderkamers wys, en kolossale betonblokke met dwarsbalke vir druiwepriële, en swaar houtdeure met swaar bronsknoppe en ornamentele kloppers. Daar is groot palmbome, sipresbome, eikebome, lukwartbome, perskebome, beukebome, rubberbome en okkerneutbome. Daar is bougainvillae, watervalle van pers en rooi oor muurtjies wat onverwags verskyn en meteens vasloop teen lantern-ligte van gegote yster. Daar is voetpaadjies wat onloopbaar ’n wentelweg deur oorhange volg, ’n tennisbaan behang met klimop, ’n roller in die hoek, ’n net vertoiing, strepe verweer, ’n pagode volkome toegegroei, en daar is artistieke klein fonteintjies van onreëlmatige vorm met kabouters en maniese muurtjies. Die Riley hou swierig stil en J.J. en Henry klim uit, effens verlore soos mens maar alte verlore voel as jy meteens op iemand anders se werf aankom – ’n oomblik van besinning, van insinking, van wat doen ek hier? waarnatoe gaan ek?

      ’n Ornamentele sleutelgatplaat blink in die laatmiddagson teen die voordeur met ’n blaarmotief. “Dit lyk soos ’n baarmoeder,” sê J.J. Hy lig die swaar drakeklopper en tik-tik met die regte fermheid wat aan die een kant nie té luidrugtig klink nie en aan die ander kant nie té beskeie nie – soos dit hoort by ’n man van stand wat van kleins af ingestel is op die beskaafde musikaliteit van selfaankondiging.

      Eers gaan die bodeur oop en ’n kleurlingmeisie, met gestyfde kappie en witgestyselde nekkragie wat haar smal, half Oosterse gesiggie nog smaller laat lyk as wat dit werklik is, kyk uitgelate na die twee mans wat behoorlik onbelangstellend hulleself verblind in die strale van die ondergaande son. Dan gaan die onderdeur oop en hulle wandel onder die barok-bolig deur tot in die gang waar ’n besonderse binnenshuise panorama hulle tersluikse aandag tref, voordat hulle netnou regs sal draai na die voorhuis op die hakke van die sywaarts-dansende meidjie. Tiggelsteen, wit en blou, strek die hele lengte van die gang tot by ’n uitswaaivenster wat met elegante ruitjies violetkleurig die lig inlaat. Vier Persiese matte, fyn geweef van sy, intensief beblom, dek die hele vloer vierkantig, langwerpig, vierkantig, langwerpig. ’n Kaapse armoire van geelhout, houtvere op die boonste ronding, staan regs teen die muur; ’n concavo-convex muurkas links; ’n beeldjie van Epstein op ’n tafeltjie verder af en dan ’n paar riempiematstoele met Kwaker-eenvoud aan weerskante.

      In die voorhuis hou almal op met praat as die twee inkom – daardie oomblik van belangrike stilte wanneer die raakste opsommings gemaak word en balans getoets word na die denkbeeldige middellyn tussen onbeskofte onverskilligheid en onderdanige eerbiedigheid. Op ’n hoekstoel, haar arms op haar skoot gevou, sit die lelikste vrou wat Henry al gesien het. ’n Vierkantige ken, versier met ’n swart moesie waaruit ’n enkele haartjie krul, korrel in sy rigting onder die visier van twee ebbehoutogies wat hom waarneem en vir die res van die aand orals sal volg. Langs haar staan ’n slank vrou, geklee in ’n swart aandrok versier met silwer “sequins”, haar hals swaanwit, haar borste half ontbloot, haar oë verlig deur intense plesier as sy met uitgestrekte arms J.J. nader en haarself om sy hand drapeer.

      “J.J.,” sê sy. “Ten lange laaste. Is julle moeg? Is julle dors?” Sy gee vir hom ’n glas gevul met ligte wit wyn vanaf ’n tafeltjie langsaan. “Iemand sal julle spoedig na julle kamers neem. Maar eers ’n drankie. Verkies jy wit of rooi? Ek het al té veel gehad, maar wat anders is daar hierdie tyd van die aand te doen as die son ondergaan en die verveeldheid oor mens kom … Is dít Henry?”

      Henry word aan Mrs Silberstein voorgestel. Die Alice in Wonderland-hertogin grom iets vanaf haar stoel en hy word voorgestel aan ou mev. Silberstein. Sy gryp hom met al twee haar hande, trek hom nader en los hom meteens. “Jy is klein en skraal. Ek het gedink jy was langer. Misgewaste klein goy.” “Mammie, Mammie!” sê die slank Mrs Silberstein, nog steeds vasgekleef aan J.J., “Jock … Henry,” en Jock kom na vore, ses voet vier, swierig in ’n aandpak, ’n gloed op sy gesig, sy hande breed en tog sag as hy Henry s’n sensitief soos ’n pianis omklem. “Juffrou Silberstein, Juffrou Silberstein,” en twee muisagtige vroutjies wip op en af van hulle stoeltjies eenkant in die hoek, omring deur bottels, vervrolik deur ligte wyn wat hulle soos water uit die kelkies drink.

      “So,” sê Jock. “Nou het jy die hele Silberstein-ménage ontmoet.”

      “Behalwe Salome,” sê een van die vroutjies en hulle krul dubbel op hul stoeltjies van uitbundige plesier.

      “Dis waar,” sê Jock en hy omarm Henry wat soos ’n kind voel wat deur sy vader omhels word. “Kom sit by my.” Hy loer by die venster uit. “Is dit jou motor? Lekker, lekker.” Hy stamp Henry in die ribbes en bly meteens stil.

      J.J. en die slank Mrs Silberstein, in ’n ligkol onder ’n Martinus Smith-kandelaber, geniet die wyn en mekaar se geselskap terwyl die ander, die hertogin met glurende ogies, en die twee vaal vroutjies met prettige houdinkies, elke beweging en reaksie van Henry volg.

      “Dis ’n pragtige huis,” sê Henry.

      “Vyftien jaar gelede van die oorspronklike eienaars gekoop,” sê Jock. “Honderdduisend rand spandeer net om die plek in orde te kry. Hou jy van die wyn?”

      Hy tel een van die bottels op; dis driehoekig met die naam, Welgevonden Riesling, op ’n driehoekige etiket aangebring.

      “Welgevonden se wyne kom nou weer tot hulle reg. Hierdie selfde Riesling het ons in ’n gewone bottel teen veertig sent verkoop en daar was geen mark nie. Nou …” hy sit die bottel neer, “driehoekig en teen honderd-en-vyftig sent verkoop dit soos soetkoek. Dis